Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Toe Jesus een stormnag by sy dissipels in die boot geklim het, het die storm onmiddellik bedaar. Dit gebeur nie altyd met die storms van die lewe nie. Soms klim Jesus in ons lewensboot, nie om die storms te bedaar nie, maar om te sorg dat dieselfde storm ons boot vinniger by sy verlangde bestemming uitbring.
ADINA SE BRIEWE (10)
Dr JP Botha
Lees reeks by Adina se briewe
Hy is almagtig
Na ontvangs van Adina se vorige brief, het rabbi Efraim 'n tyd lank letterlik in 'n tweestryd verkeer. Net soos by die lees van haar vorige briewe, het daar 'n ongekende wrewel in sy hart teenoor sy dogter opgelaai en het hy by tye dit oorweeg om 'n boodskap na die Sanhedrin in Jerusalem te stuur om te vra dat hulle haar uit die sinagoge moet ban, maar dan dink hy weer met teerheid daaraan hoe hierdie liewe kind die groot leemte in sy hart gevul het nadat sy vrou hom tien jaar gelede ontval het.
Hy het 'n tyd lank op twee gedagtes bly hink en dit maar uitgestel om weer aan Adina te skryf, totdat hy tot 'n beslissing sou kom. Intussen het daar in die heilige land sulke merkwaardige gebeurtenisse plaasgevind, wat so 'n groot indruk op Adina se ontvanklike gemoed gemaak het, dat sy 'n behoefte gehad het om dit aan hom mee te deel.
Sy het geskryf:Aan my altyd geëerde en geliefde Vader
Ek het daarna uitgesien om weer 'n brief van u te ontvang, want ek wil graag hoor wat u mening is oor alles wat ek in my vorige brief aan u oor Jesus geskrywe het. Maar tot dusver het ek nog nie weer iets van u verneem nie. Ek hoop nie die karavaandrywers het u brief laat verlore raak nie.
Ek skrywe nou gou weer aan u omdat ek graag wil vertel van die buitengewoon-wonderlike dinge wat die afgelope tyd hier in ons heilige land plaasgevind het. Maar in my vorige brief het ek belowe om vir u te vertel wat van daardie wonderlike profeet Johannes die Doper geword het.
Pappa, hy is beslis deur God gestuur om die volk voor te berei op Jesus se koms. Toe die mense in sulke groot getalle na die Galilese See, al agter Jesus aangegaan het, het Johannes hom al hoe meer teruggetrek, want hy het mos daar by die Jordaan gesê Jesus moet al meer word en hy al minder.
Hy het geweet dat Herodus Antipas, die viervors van Galilea, in sonde leef met Herodias, die vrou van Antipas se broer Filippus, en hy het dit vir Herodus gesê. Hy is daarvoor deur Herodus in die tronk gestop. Herodias was só kwaad dat Johannes hulle immorele lewe so veroordeel het, dat sy hom baie graag uit die weg wou ruim. Die geleentheid daartoe het gekom toe Herodus en ander hooggeplaastes op 'n partytjie taamlik dronk was en Herodias se dogter Salóme vir hulle gedans het. Herodus was só in sy skik met haar vertoning, dat hy beloof het om haar enigiets te gee wat sy begeer. Sy het haar ma gaan raadpleeg, wat gesê het sy moet gaan vra dat die kop van Johannes die Doper op 'n skottel vir haar gegee moet word. Herodus kon die versoek nie weier nie en het vir Johannes laat onthoof. Die meisie en haar ma het hul sin gekry.
Nou hoor ons die "dapper" koning Herodus voel maar baie skrikkerig wanneer die mense hom van al Jesus se wonders vertel. Hy is bang dat dit Johannes die Doper is wat uit die dood opgestaan het om sy dood te kom wreek.
Pappa, as 'n vreemde Edomiet, soos die Idumeër Herodus Antipater, begeer om Jesus om die lewe te bring, omdat hy vir Hom bang is en gehoor het dat Jesus dalk koning van Galilea in sy plek kan word, kan ons dit nog begryp, maar waarom ons eie volksleiers, die geleerdes van die Sanhedrin, Jesus se dood soek, gaan my verstand te bowe.
Toe die Huttefees verby is en Jesus sien hoe vyandiggesind hulle is, het Hy met sy dissipels weer die lang pad na Galilea aangepak. Dit was nie lank nie of hulle was alreeds weer deur honderde mense omring, wat saamgestap het en begerig was om Jesus te sien. Toe hulle naby Jerigo kom, sit daar 'n blinde bedelaar langs die pad. Sy naam is Bartimeus. Hy het gehoor dat dit Jesus van Nasaret is wat daar verbygaan en toe begin hy om net so hard as wat hy kan, uit te roep: "Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!"
Toe hy daarmee aanhou en al harder skree, begin die mense met hom te raas en wil hom stilmaak, maar Jesus het die geroep gehoor: "Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!"
Jesus het gaan staan en gesê: "Roep hom tog vir My nader, asseblief."
Toe sê dieselfde mense wat die bedelaar beveel het om stil te bly, vir hom: "Hou goeie moed! Staan op; Hy roep jou."
Bartimeus het sy bokleed net daar gelos en na Jesus toe aangesukkel. Toe Jesus vir hom vra wat Hy vir hom moes doen, het hy net gesê: "Rabboeni, dat ek kan sien."
Op daardie oomblik klink die mooiste woorde wat hy nog ooit gehoor het in sy ore: "Jy kan nou maar gaan, Bartimeus, want jou geloof het jou gered."
Bartimeus kon onmiddellik sien, en hy sien nog steeds. Is dit nie wonderlik nie? Hy is al juigende saam met die mense op die pad al agter Jesus aan.
Op hierdie jubelende toon het die mense die stad Jerigo binnegestap. Langs die pad staan daar 'n groot wildevyeboom. Jesus het nie soos die ander by die boom verbygeloop nie, maar onder hom gaan staan en opgekyk en gesê: "Saggeus, jy kan nou maar afklim uit die boom, want jy gaan My vandag nog baie sien, as Ek met jou saamgaan na jou huis toe, waar Ek moet tuisgaan." Pappa, hierdie Saggeus wat toe daar bo in die boom sit, was die hoof van die tollenaars en 'n skatryk man, want hy het seker by die tolhek die mense maar gereeld te veel laat betaal. Hy is 'n ou klein mannetjie van postuur. Toe hy hoor Jesus is op pad na Jerigo, het hy in die wildevyeboom gaan klim, met die hoop dat Jesus daarlangs sou kom en hy Hom dan mooi sou kon sien.
Saggeus was byna oorstelp van blydskap toe Jesus hom raaksien en boonop nog sê dat Hy in sy huis moes tuisgaan. Hulle het sommer direk daarheen gegaan. 'n Aantal mense het weer saamgestap, maar baie het omgedraai en hulle eie koers gegaan en geskree: "Daardie tollenaar is 'n sondige man! Hoe kan Hy by so"n mens tuisgaan?"
Maar Pappa, Jesus wou juis vir hulle laat verstaan dat Hy gekom het om mense te soek en te red wat verlore is. Saggeus het daar in sy huis vir Hom gesê dat hy die helfte van sy goed vir die armes gaan gee en dat hy vir elkeen van wie hy te veel geld afgepers het, dit vierdubbel gaan teruggee. Sy geluk het oorgeloop toe Jesus vir hom sê dat daar op dié dag redding vir sy huis gekom het, want hy is ook 'n kind van Abraham.
Van Jerigo af het Jesus met sy dissipels alleen verder in 'n noordwestelike rigting gereis en uiteindelik by Sigar uitgekom, op hulle pad na Samaria. Hier het 'n boodskapper uit Betanië hulle ingehaal. Martha en Maria het vir Jesus laat weet: "Here, hy vir wie U liefhet, is siek."
Lasarus het siek gelê en sy twee susters het gehoop dat wanneer Jesus hierdie tyding ontvang, Hy sou terugdraai en hulle broer kom genees. Dit het egter gelyk of Jesus Hom nie daaraan steur nie, maar Hy het vir sy dissipels gesê dat Lasarus se siekte nie tot die dood sou lei nie, maar tot die openbaring van die mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.
Nadat hulle nog twee dae daar in Sigar gebly het, sê Jesus vir die dissipels: "Kom ons gaan terug na Judea toe." Die dissipels wou nie daarvan hoor nie en sê vir Hom: "Maar Rabbi, verlede week toe ons daar was, wou die Fariseërs U stenig. Ons kan mos nie nou weer soontoe gaan nie." Maar Jesus het vir hulle gesê dit is nog dag en tyd om te werk. Die nag kom aan wanneer daar nie weer gewerk sal word nie. Lasarus slaap, maar Hy sal gaan om hom wakker te maak.
Die dissipels het sterk beswaar aangeteken en gesê as Lasarus slaap, sal hy gesond word. Maar Jesus het geweet dat Lasarus gesterf het en sê dit toe reguit vir die dissipels: "Lasarus is dood, en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie, sodat julle in My kan glo. Kom ons maak nou gereed om na Hom toe te gaan." Die dissipel Tomas het gesê hulle moet tog maar almal saam met Jesus gaan, sodat hulle almal saam met Hom kan sterf.
Met Jesus hulle se aankoms in Betanië, was Lasarus al vier dae in die graf.. Daar het baie mense van Jerusalem af gekom om hul meegevoel met Martha en Maria te betuig oor die afsterwe van hul broer..
'n Week vantevore het ek en Salóme van sy ernstige siekte gehoor en na Betanië gegaan om te sien of ons nie vir hierdie vriende iets kan doen nie. Na sy dood en begrafnis was ons nog steeds daar om met baie dingetjies te help. Ons was saam met Martha en Maria in die groot woonkamer van hulle huis, toe een van Jesus se dissipels binnekom en sê dat Hy op pad was na hulle huis toe. Toe Martha dit hoor, het sy dadelik opgestaan, uitgestap en vir Jesus tegemoet gegaan en vir Hom gesê: "Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra."
Jesus sê vir haar: "Jou broer sal uit die dood opstaan."
Sy sê: "Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan."
Toe sê Jesus: "Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?"
"Ja Here," sê sy, "ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, wat na die wêreld toe moes kom."
Daarna het Jesus haar gestuur om haar suster Maria te gaan roep. Sy het die vertrek by ons binnegekom en vir Maria gesê: "Ons Leermeester is hier en Hy wil graag met jou praat."
Toe Maria opstaan om na Jesus toe te gaan, sê ek vir Salóme: "Kom ons gaan saam met haar om haar in haar groot verdriet by te staan."
Die mense wat buite die huis gewag het, het ons gesien. Baie van hulle het begin saamstap na die plek waar Jesus gewag het. Hy was nog daar waar Hy met Martha gepraat het. Maria het met trane in die oë by sy voete gekniel en ook vir Hom gesê: "Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie."
Jesus het gesien dat al die omstanders saam met haar huil en toe het die wonderlike Seun van God se oë self vol trane geskiet uit meegevoel met hierdie liewe vriende van Hom oor hulle swaar verlies. Ons het gesien hoe bewoë Jesus geword het en ek het gehoor daar word gefluister: "Kyk hoe lief het Hy vir Lasarus gehad." Maar ek het ook iemand gehoor grommel: "Hoe is dit dat Hy, wat die blinde man se oë genees het, toegelaat het dat hierdie man sterwe? Hy kon dit mos verhoed het as Hy wou."
Jesus wou weet waar hulle vir Lasarus begrawe het. Almal was maar te gewillig om vir Hom die plek te gaan wys. Toe ons by die graf kom, het Jesus weer baie bewoë geword. Dit is 'n graf wat uit die rots gekap is. 'n Swaar klip het die ingang daarvan bedek. Jesus het gevra dat die klip weggerol moes word.
Onderwyl dit plaasvind, sê Martha vir Hom: "Here sy liggaam ruik al sleg, want ons het hom vier dae gelede al hierheen gebring."
Jesus sê toe vir haar: "Ja Martha, Ek weet, maar onthou wat ek vir jou gesê het: As jy glo, sal jy die openbaring van God se mag sien."
Daarna het Jesus opgekyk en gesê: "Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het."
Pappa, op daardie oomblik het ek geweet dat daar iets wonderliks gaan gebeur. Almal het ademloos gewag. Jesus het vorentoe getree en met 'n gebiedende stem uitgeroep: "Lasarus, kom uit!"
Ons het 'n geskuifel gehoor en die volgende oomblik het Lasarus uit die graf gestap gekom! Sy twee susters het elk met 'n jubelkreet op hom afgestorm en hom omhels en begin om die grafdoeke om sy kop en hande en voete los te maak.
Toe die groot aantal mense wat daar voor die graf saamgedrom het, van hul verbasing herstel, hef hulle 'n loflied tot eer van die Here aan en begin om God te loof en te prys en te dank vir hierdie grootste van alle wonders wat ons aanskou het. Ek het met tere aanbidding na Jesus gestaan en kyk. Hy het die kleed aangehad wat ek en Salóme vir Hom geweef het. Hy het Lasarus aan die hand geneem en saam met sy twee susters na die huis gestap.
'n Dag of wat later het die nuus van Lasarus se opwekking uit die dood feitlik al deur die hele land versprei. Die lede van die Sanhedrin het goed geweet dat dit werklik gebeur het, maar hulle het nie die eer daarvan aan God gegee nie, maar vir Jesus nog meer gehaat. Hulle het hul vaster voorgeneem om Hom te vermoor, en sommer vir Lasarus ook, omdat hulle gesien het hoeveel duisende mense vir Jesus vereer. Hulle was bang dat die mense Hom dalk wil koning maak, wat hulle in botsing met die Romeine sou bring.
Kan Pappa glo dat ons volksleiers só teen die heilige Seun van die almagtige God kan optree? Ek het gesien dat Hy self almagtig is, want sy Vader het Hom volmag daartoe in die hemel en op die aarde gegee. Daarom moet Pappa weet dat ek Hom aanbid as my Here en my God en graag my lewe in diens aan Hom wil wy.
Ek het nou al só baie aan u oor Hom geskryf. Elke woord daarvan is waar. U kan nou nie meer twyfel nie. Wil u nie ook maar tot geloof kom in Jesus die Christus, in wie ons enigste saligheid lê, en nie in ons mislukte pogings om die Mosaïese wette na te kom nie?
Ek verlang al so baie na u en om weer by ons huis te wees, maar ek wil nie graag nou weggaan nie, omdat Jesus hier is. Oom Simon en tant Hanna en Salóme is so goed vir my. Ontvang asseblief hulle hartlike groete en seënwense. Skrywe asseblief vir my. Ek wil so graag weet wat Pappa dink van alles wat ek vir u in hierdie brief en die vorige een geskryf het.
Van u enigste kind Adina.