Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer daar pyn in jou lewe opduik kan jy seker wees dat dié God wat jy liefhet 'n doel daarmee het en dat Hy jou nooit bo jou kragte sal versoek nie. Jy kan vashou aan God se beloftes in sy Woord dat Hy altyd by jou sal wees in daardie pyn. Jy kan ook weet dat God baie maal pyn in jou lewe toelaat om jou te laat besef dat jy nie sonder Hom kan voortgaan nie, dat jy totaal van Hom afhanklik is.
OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (24)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Getuies tot die dood toe
Openb.10
1. Die rol van die gelowiges
Die oorkoepelende tema van Openb.10 +11 is: Gaan maak die Woord van God bekend. In die vertelling van die sewe seëls (Openb.6) word die verloop van die vertelling na die sesde seël onderbreek deur die rol van die gelowiges uit te spel voordat daar na die sewende seël beweeg word. Dieselfde patroon word daarna ook met die sewe basuine gevolg. Ná die sesde basuin word daar eers aandag aan die posisie en plek van die gelowiges gegee voordat die sewende basuin geblaas word.
Wie is hierdie gelowiges? Diegene (144,000) wat simbolies verseël is en waardeur God bevestig dat hierdie gelowiges sy kosbare eiendom is. Hulle speel ʼn betekenisvolle rol in die eindtyd want hulle maak die Woord van God aan die nasies bekend. Hierdie rol word uitgebeeld deur die eet van die boekrol en die optrede van die twee getuies wie se getuienis die ruggraat van God se bekeringsplan van die nasies vorm. God gee deur hulle die nasies ʼn laaste kans om tot bekering te kom. Openb,11 brei op die optrede van die getuies uit. Hulle getuienis lei tot ʼn martelaarskap wat 42 simboliese maande duur - die groot verdrukking.
2. Die boekrol in die engel se hand
Johannes sien ʼn sterk engel uit die hemel afkom. Die eerste sterk engel waarvan ons gelees het, was in 5:2 ; die een wat gevra het wie waardig is om die boekrol oop te maak. Die twee boekrolvisioene vertoon ʼn verwantskap met mekaar. Later in 18:21 lees ons weer van ʼn sterk engel wat ʼn groot klip in die see gooi. Wie is hierdie sterk engel van Openb.10? Sommige verklaarders meen dat dit Gabriel kan wees, die engel van vermoedelik Dan.12:7. Ander meen dat hierdie engel dalk Christus self kan wees en verwys na (Openb.1:12-16). Die probleem is dat die Bybel nêrens na Christus as ʼn engel verwys nie. Engele is geskape hemel wesens, wat Christus nie is nie. Die beste is om dié engel as ʼn openbarings-engel te sien.
Sy beskrywing is met betekenis gelaai – hy kom uit die hemel (van God af). Wanneer hy verskyn, is hy deur ʼn wolk omhul net soos wat God in ʼn wolk van heerlikheid op Sinai verskyn het. Hierdie engel het die wolk as kleed aan om God se teenwoordigheid aan te dui. Tweedens is daar ʼn reënboog bo die engel se kop net soos God in Openb.4:3 en derdens skyn sy gesig soos die son net soos Christus se gesig in Openb.1:16 geskyn het. Vierdens is sy bene soos vuurpilare net soos Christus s’n in Openb.1:15. Dis duidelik dat hierdie engel Goddelike heerlikheid en krag uitstraal al is hy nie Christus nie.
Die engel het ʼn boekrol in sy hand. Sommige verklaarders sien die twee boekrolle (Openb.5 en 10) as twee verskillende boekrolle omdat die eerste een oor God se oordeelsvoltrekking terwyl die een in hoofstuk 10 net die inhoud van 10:1-13 bevat. Nee, dis dieselfde boekrol net uit twee verskillende hoeke beskou. Gevolglik is die boekrol van Openb.5:1 in 10:2 oopgerol in die engel se hand. Dit gaan in wese oor die ontplooiing van God se oordeel en verlossing en raak die lot van al die nasies.
Die sterk engel sit sy een voet op land en die ander een wat God se omvattende mag oor die hele wêreld uitbeeld. ʼn Veroweraar sou na ʼn oorwinning sy voet op die verowerde grondgebied neersit om sy eienaarskap sigbaar uit te druk. Daarna roep hy met ʼn harde stem sodat almal kan hoor en dit klink soos ʼn leeu wat brul. Gesaghebbende uitsprake is met die gebrul van ʼn leeu vergelyk (Hos.11:10). Daarna volg sewe donderslae as antwoord. Toe Johannes die antwoorde wou opskryf, is hy verbied. Dit moes geheim gehou word. ʼn Mens wonder wat hierdie sewe donderslae voorstel? Miskien ʼn verdere reeks plae of oordele?
Feit is: Die lesers was diep onder die indruk van God se almag in die hemel en op die aarde.
3. Tyd verstreke
Die sterk engel lig daarna sy hand op en sweer dat tyd verstreke is. Dit was reeds van vroeg af die algemene gebruik om die regterhand op te lig wanneer ʼn eed afgelê is (Gen.14:22,23). Deur ʼn eed maak jy ʼn belofte voor God en plaas jou onder die krag en oordeel van Hom om die belofte uit te voer. Die engel se eedswering gaan oor die einde van alles. God wat almal en alles skep, beëindig dit ook op sy tyd. Hy inisieer, volhou en voleindig alles. Die tyd van die finale einde het aangebreek waarmee God sy verborge bedoeling met alles bereik. Sy plan word ten volle uitgevoer.
Die dramatiese vervlegting van God se oordeel en verlossing loop op ʼn hoogtepunt uit – die erkenning van God se alleenheerskappy. Dit wat Hy deur die eeue aan sy profete opgedra het, gaan nou in vervulling. Dis ʼn blye tyding (:7). Die einde van die einde beteken ook die hoogtepunt van die mensegeskiedenis. God het mense geskep, gestraf, verlos en verheerlik.
4. Johannes eet en verteer die woorde van God
Johannes kry die opdrag om die boekrol in die engel se hand te neem. Hier word die plek en rol van die kerk en sy getuienis-taak beeldryk uitgespel. Johannes moet die boekrol eet. Dis geen vreemde gedagte in die OT nie (Jer.15:16). Om die boekrol te eet, beteken om die inhoud en boodskap daarvan figuurlik ter harte te neem. Johannes moet die inhoud van die boekrol bekend gaan maak. Die boekrol is aanvanklik aangenaam om te eet. Dit dui op die verkondiging van die Evangelie. Die effek (vertering) daarvan het egter ʼn bitter effek. Dit dui op die gevolge van die boodskap – lyding, vervolging en martelaarskap ( 1 Pet.4:13).
Johannes kry opdrag om die Woord van God weer bekend te gaan maak. Dis ʼn goddelike móét t.s.v. teenkanting. In Openb.11 word Johannes se profetiese optrede saam met die profetiese rol van die kerk in besonderhede omskryf. Laasgenoemde word met die optrede van twee getuies uitgebeeld.