Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gelukkig is jy, o land (Suid-Afrika!) as jou koning 'n edele is, en as jou vorste op die regte tyd maaltyd hou soos manne en nie soos drinkers nie. – Prediker 10:17... O weë!
OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (1)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Inleiding
1. Baie aktueel
Omdat Openbaring ons daaglikse bestaan raak, stel mense vandag baie meer in hierdie ietwat vreemde Bybelboek belang as ooit tevore. Ons verneem daagliks van oorlog, opstand, hongersnood, aardbewings en ander natuurrampe en ons wonder waar God in hierdie opset inpas? Ons hele bestaan en voortbestaan is in gedrang! Is dit moontlik om in Openbaring gerusstellende antwoorde te vind?
Een ding moet ons weet: Openbaring gee nie klinkklare antwoorde op vrae nie. Talle sektes het al deur die jare berekeninge oor die eindtyd en einddinge uit Openbaring gemaak en telkens op hul neuse gekyk! Dit het so vroeg as die tweede eeu na Christus begin toe die Montaniste op grond van gegewens uit Openb.21 en 22 berekeninge vir die wederkoms gemaak en na ʼn nabygeleë woestyn vertrek het om te sien hoe die hemelse Jerusalem aarde toe neerdaal. Alle menslik bekende verwagtings het telkens tot groot teleurstelling gelei.
Al hierdie verwagtings was ongesond. As ons Openbaring reg verstaan, sal ons met gesonde verwagtings na die wederkoms uitsien. Dis immers die doel van hierdie boek – gesonde leer! Dis nie ʼn boek waarin ons die toekoms kan naslaan nie, maar ʼn boek wat ons help om die werklikhede van die hede beter te verstaan. As ons insig in die hede het, sal ons ook begrip vir toekomstige gebeure hê.
Openbaring gee vir ons antwoorde op twee aktuele vrae: Wie is in beheer van hierdie bitter moeilike wêreld waarin ons leef en wat is die betekenis van die ellende waarvan ons daagliks kennis neem? Die eerste vraag het te doen met God en die tweede met Sy rol in die geskiedenis. Ons sal later hierby stilstaan.
2. Die lesers
Openbaring is aanvanklik teen die einde van die eerste eeu na Christus aan gelowiges in Klein-Asië gerig om hulle in hulle moeilike omstandighede te bemoedig. Benewens die verwêreldliking van hul waardes en vervolging se Openbaring vir hulle om moed te hou en by hul geestelike beginsels te staan. Dit verseker hul dat God tot die einde toe in beheer van die geskiednis is. So ook van ons huidige bestel. Hoeveel mense in nood het nie al in Openbaring nuwe insig en moed vir die hede sowel as die toekoms verkry nie.
3. Verstaan dit reg
Dis uiters belangrik dat Openbaring reg verstaan moet word. Dis nie bloot profeties nie, maar ook ʼn apokalips, ʼn bepaalde literatuursoort wat as verborge literatuur bekend staan. Dis nie verhalend soos bv. Die Evangelies en Handelinge nie, maar geheimsinnig om mense te boei. Dit handel egter nie net met die toekoms nie maar is ook op die hede gerig om gelowiges op pad na die toekoms te bemoedig. Dit moet net soos die res van die NT gelees en verstaan word. Dit voorsien ons nie van ʼn geheime tydtafel om die wederkoms te bereken nie. Dis ook nie net vir geleerdes bedoel nie maar vir alle gelowiges. Omdat dit verborge literatuur is, moet dit anderste verstaan word.
Openbaring is egter nie net apokalipties nie, maar ook profeties (1:3; 22:7, 10, 18-19). Alhoewel Johannes onder sy eie naam skryf, sê hy telkens dat daar na die woorde van die Gees geluister moet word (2:7). Openbaring is dus ook profeties. En soos ʼn profeet maak Johannes God se oordeel en verlossing bekend. Openb.1:1 is tipiese openingswoorde van ʼn Hebreeuse profesie. Vergelyk dit met Jes.1:1; Amos 1:1. In Openb.10:8-10 kry Johannes n profetiese roeping wat net soos die roeping van Esegiël klink (Eseg.3:1-3). Die uitdrukking “deur die Gees meegevoer” getuig ook van ʼn profetiese openbaring wat ontvang is (1:10; 4:2; 17:3). Omdat Johannes God se wil vir die hede sowel as die toekoms bekend maak, is sy profesie deur apokaliptiese visioene gevoed.
4. ʼn Brief
Openbaring is ook ʼn brief wat aan die sewe gemeentes in Klein-Asië gerig is. Hierdie gemeentes het in die vorm van ʼn perdeskoen gelê. Die volgorde waarin die gemeentes genoem word, hang saam met die roete wat die boodskapper wat by Patmos begin het gevolg het. Die sewe gemeentes het die universele kerk verteenwoordig en die situasie wat in hierdie gemeentes voorgekom het voorbeelde van moontlikhede in die kerk as geheel. Elke gemeente wat genoem word, is verteenwoordigend van die hele kerk van Christus.
5. ʼn Profesie en apokalips
Openbaring is egter ook ʼn profesie (1:3). Johannes was ʼn profeet wat die gemeentes van Klein-Asië deurreis en gepreek het. Hoofstuk 10:8-11 beskryf sy roeping. Net soos wat God in die OT aan profete verskyn het, het Hy hom ook in Openbaring aan Johannes bekend gemaak. Openbaring is ook apokalips; ʼn onthulling deur ʼn bonatuurlike bemiddelaar aan ʼn aardse ontvanger. Wat word onthul? ʼn Verlossing wat nie uit die wêreld maar buite hierdie wêreld kom! Dit gaan in Openbaring oor die einddinge en die verlossing wat van buite kom.
Die gelowiges het destyds na verlossing gehunker. Die samelewing het hul stief behandel sodat hulle hul daaraan onttrek het. Hulle denke vind in Openbaring neerslag (6:9-10). Dis ʼn noodroep van gelowiges dat God reg aan hulle moes laat geskied.
Openbaring leer dat die hede nie maar net boos is en dat gelowiges die dae na die wederkoms moet aftel nie. Gelowiges kan nou alreeds die verlossing geniet wat die offer van die Lam gebring het. In Christus is hulle alreeds van oorwinning verseker. Dis ʼn stryd waarvan die uitslag alreeds beken is – oorwinning! In hierdie lig gesien, moet gelowiges wat swaarkry in die wêreld se pessimisme wegval. Christus se dood en opstanding is die keerpunt in God se verlossingsverhaal en moet gelowiges optimisties vir die toekoms maak (11:15). Verlossing is nie net iets van die toekoms nie, maar het met die Christusgebeure reeds ʼn werklikheid geword. Lyding en swaarkry moet as iets tydelik gesien word.
Johannes se visioene kom nie uit sy eie ervarings nie, maar het n goddelike oorsprong. Daarom dra Openbaring goddelike gesag. Die boodskap van hierdie boek moenie geheim gehou word nie maar eerder bekend gemaak word. Christene moes hulself as gelowiges sien wat reeds verlos is en nie soos die Jode wat met n pessimistiese oog na hul hede gekyk en maar gehoop en gebid het dat die toekoms verlossing oplewer nie! Daarom is Openbaring n dramatiese vertelling aan gelowiges om hulle moed te laat skep. Dis gerig op die eindtyd sonder om die hede te verwaarloos. Dit bemoe3dig Christene wat in krisis verkeer en skerp hulle op met die oog op die einde.
6. Tekens van die tyd
Gelowiges moenie Openbaring as ʼn naslaanwerk beskou om te probeer bepaal of dinge wat vandag gebeur nie daarin voorspel is nie; die tekens van die tyd - die tydperk wat Jesus se wederkoms vooraf gaan Praat Openbaring oor die tekens van die tyd,? Ja, nogal baie! God is besig om die wêreld vir die volmaakte wat gaan aanbreek voor te brei. Met Jesus se menswording het die eindtyd vir ons aangebreek. Gelowiges moet egter teen sensasionele geskrifte en praatjies waak. Dwaalgeeste probeer die Woord dwing om te sê wat werklik nie daarin staan nie! Openbaring begelei eerder gelowiges om die eindtyd reg te beleef. Alles stuur op die dag af wanneer die heerskappy van God oral volkome erken sal word. Hy word alreeds as alleenheerser in die hemel erken. Dit moet nog net op aarde gebeur.
Omdat die oordeelsvoltrekking alreeds aan die gang is, sien ons van hierdie tekens van die naderende einde gebeur. Natuurrampe is beslis deel van God se oordeel waardeur Hy besig is om die wêreld vir die groot en finale einde voor te berei – die wederkoms van sy Seun. Ons moet hierdie rampe nie noodwendig as straf verstaan nie, maar ook as deel van God se endprogram. Daardeur herinner Hy die mensdom aan hul afhanklikheid van God.