Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ongelowiges is nie goeie politici nie, veral nie as hulle belang by heidense rituele het nie. Daarom is Afrika agterlik. Sy leiers verskil slegs in grade van boosheid van mekaar! Politici wat egter voor die Koning van alle konings buig en sy Woord liefhet, is 'n volk se juwele.
OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (16)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Die geopende deur (Deel 2)
Openbaring 4
1. Die vier lewende wesens
In die hemelse troonsaal sien Johannes in die eerste konsentriese sirkel vier lewende wesens baie naby aan die Skepper rondom en in die middel van die troon staan. Twee dinge val Johannes op – hulle is vol oë en elkeen het ses vlerke. Die beeld van die oë herinner aan Eseg.1:18 en simboliseer onophoudelike waaksaamheid. Hulle dien ook as die oë van God. Die ses vlerke laat ons aan Jes,6:2 dink. Hierdie vlerke beklemtoon die ratsheid, spoed en opmerksaamheid van die vier lewende wesens. Hulle lyk soos ʼn leeu, bul, het die gesig van ʼn mens en lyk ook soos ʼn arend wat vlieg; ʼn beeld waarskynlik aan Eseg.1:5,6,10 en 11 ontleen.
Die Kerkvaders het die vier lewende wesens met die vier Evangelies geassosieer. Mattheus die leeu (koninklik), Markus die bul (diensbaar), Lukas die mensegesig, (menslikheid) en Johannes die arend (Goddelikheid). Die vroeë Rabbi’s het dit met die hele skepping in verband gebring as uitbeeldings van die edelste (leeu), sterkste (bul) slimste (mens) en vinnigste (arend). Al wat Johannes by sy lesers wil tuisbring, is dat die vier lewende wesens die hele skepping verteenwoordig. Hulle sien alles raak (die oë) en is oral teenwoordig (die vlerke).
2. Die hemelse aanbidding
Die vier lewende wesens aanbid God dag en nag en besing sy lof 24 uur van elke dag; basies 'n heeldag-taak! Aanbidding sluit in om eer te betoon en hulde te bring. Omdat God nie gesien kan word nie en dus nie liggaamlik op aarde teenwoordig is nie, vereer gelowiges Hom deur aanbidding en verkry hulle ʼn hegte omgang met die heilige God. Toe Job van sy familie se dood hoor, het hy op die grond neergeval en aanbid (Job 1:20). Volgens Openbaring is aanbidding die hoofbestanddeel in die hemelse troonsaal.
Die vier lewende wesens besing drie dinge – God se heiligheid, almag en ewigheid. Die drievoudige heilig laat ʼn mens aan Jesaja se troonkamertoneel dink (Jes.6:3). Dit beklemtoon God se heiligheid. Heiligheid lei tot God se almag. In Openbaring word God nege keer Almagtige genoem. Hy het mag en volle beheer oor sy skepping. Ja, Hy heers oor sy skepping; nie soos die keiser wat slegs oor ʼn ryk geheers het nie. Die derde eienskap wat besing word, is dat God was, is en kom. God beheer die verlede, hede en toekoms. Samevattend beklemtoon vers 9 dat God vir altyd lewe. Hy is nie aan die wetmatigheid van lewe en dood onderhewig nie. Wanneer die wesens God aanbid, doen die 24 ouderlinge dit ook.
Daarna vind daar vyf beurtsange in hoofstukke 4 en 5 plaas. Die eerste twee (4:8,11) word aan God gewy. Die volgende twee word aan die Lam gewy (5:9,10,12) en die laaste een aan die Vader en Seun gesamentlik (5:13).
3. Die gesag
Die ouderlinge val nie net neer nie maar verrig ʼn simboliese daad – hul sit hul krone voor die troon neer en erken so die gesag wat God aan hulle gee. Dis net verleende gesag. Die kerk erken dat sy haar gesag van God ontvang. Die inhoud van die ouderlinge se lied fokus op God se waardigheid - Hy is Skepper en ontvang dus heerlikheid, eer en mag.
Die begrip waardig is in die Grieks-Romeinse wêreld vir ʼn weldoener gebruik (Luk.7:4,5). Iemand kon dus waardig genoem word op grond van dade. In hierdie geval is God waardig omdat Hy skepper is en sy skepping goed.
Die dubbele aanspreekvorm Here, onse God moet teen die agtergrond van die Romeinse keisers gesien word wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle gode was. In die eerste eeu na Christus het slegs twee keisers hulle as gode voorgedoen – Kaligula (37-41nC en Domitianus (81-96nC) Laasgenoemde het daarop aangedring dat hy as dominus et deus noster (ons here en god) aangespreek word.
Die woord heerlikheid (:11) is alleenlik vir iemand met uitsonderlik hoe status gebruik. Hier beskryf dit God se grootheid soos dit in sy skepping en verlossing duidelik geword het. Heerlikheid en eer word saam gebruik om agting vir God uit te druk (Rom.2:7; Heb.2:7). Die twee uitstaande eienskappe is dat God op die troon sit en alles beheer en dat Hy vir altyd lewe en regeer.
In die laaste twee versreëls kom drie werkwoorde voor – geskep, ontstaan en geskep. Die eerste geskep beklemtoon die boodskap van die skepping in die algemeen en benadruk die verskil tussen God en die Romeinse keiser. Slegs God kan lewe skep en sy geskape lewe onderhou. Die tweede werkwoord sê iets van God se wil. Almal en alles het hul bestaan aan God se besluit om te skep te danke. Die derde werkwoord geskep herhaal die eerste werkwoord – God beheer alles en almal vanuit sy troonposisie.
4. Die fokus van Openb.4
Hierdie is een van die aangrypendste hoofstukke van die ganse Skrif! Johannes sien God op sy troon en in beheer van die geskiedenis sit. Wat ook al in hierdie deurmekaar wêreld van ons gebeur, God is groter as enige regeerder omdat Hy die Skepper is. Daarom moet God alleen in ootmoed geloof en aanbid word. Hierdie hoofstuk herinner ons aan ons wesenlike taak as gelowiges – om God te aanbid, te verheerlik en te dien.