Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Bybel maak dikwels melding van kwaadsprekery onder mekaar wat soveel broederlike twis en onmin veroorsaak. Onder kwaadsprekery verstaan ons haatlike beskuldigings, gebore uit kwaadwilligheid, en die lus om mekaar se goeie bedoelings te ondermyn. Ons moet daarteen waak om die goeie wat God in iemand gewerk het met woorde te verdraai.
OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (15)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Die geopende deur (Deel 1)
Openb.4
1. Die groter eenheid
Openb.4 en 5 vorm ʼn eenheid en dien as ʼn inkleding vir die res van die boek. Openb.4 begin met die tweede groot visioen. Die eerste was Openb.1:9-22 die van die verheerlikte Christus. Openb.4 teken God as Skepper en hoofstuk vyf as die Verlosser. Hy sit op ʼn troon en is in beheer van die geskiedenis. Daarbenewens het Hy mag om te oordeel, wat deur seëls, trompette en bakke uitgebeeld word. Openb.4 en 5 gee aan lesers ʼn besondere blik op God en Christus. Oordeel en verlossing word afgewissel en leer ons een ding – God is besig met die mensegeskiedenis!
2. Die hemelse troonsaal
Die indrukwekkende beskrywing van God se troonsaal in beide hoofstukke staan in teenstelling met die troon van die Romeinse keiser. Dit leer die lesers wat swaarkry wie in werklikheid regeer – slegs God! En slegs die Lam, Jesus Christus, kan verlossing bring. Slegs God is waardig om aanbid te word. Daar is ʼn stryd tussen God en Satan, maar die uitslag is reeds bekend – God is die oorwinnaar. Die toekomsgebeure word deur die troon (God se heerskappy) bepaal.
Daar is ook ʼn aanbiddingstema – eers aanbid die lewende wesens (4:8), dan die 24 ouderlinge (4:10-11), dan beide groepe (5:8-9, daarna die engele (5:11,12), Dan volg die hoogtepunt – die hele skepping (5:13). Johannes se beskrywing van hierdie aanbidding herinner aan die verskyning van God aan Jesaja en Esegiël.
3. Die geopende deur
Johannes ryg die gebeure wat volg soos op ʼn sosatiestokkie in. Dit moenie chronologies verstaan word nie. Baie van die gebeure is gelyklopend. As Johannes die geopende deur in die hemel sien, hoor hy ʼn stem wat hom oproep om te kom kyk. Hy verkry toegang in God se woning. In die Bybelse tyd het deure toegang tot gebiede van groot geestelike belang gebied. Dink maar aan die allerheiligste plek in die tempel waar die hoëpriester net een maal per jaar toegang gehad het. ʼn Geslote deur het buitestaanders uitgehou. Goddeloses sal voor ʼn toe deur te staan kom (Luk.13:25). Die geopende deur kan ook as ʼn geestelike toegang verstaan word. (Joh.10:9). Paulus gebruik ook die beeld van ʼn deur om die besondere geleentheid om die evangelie te verkondig te verduidelik (Kol.4:3).
Die hemel wat oopgaan, is toegang tot die heiligdom van God (Mt.3:16). Die teenoorgestelde kan ook gebeur – die hemel kan weens sonde toegesluit wees. Dink aan die droogte in die tyd van Elia. In Openbaring het Christus vir gelowiges ʼn onbelemmerde toegang tot God bewerk. Die stem soos ʼn basuin is die stem van Christus wat Johannes oproep om die bekendmaking te beleef. Basuine was of van ramshoring of metaal gemaak en in die Bybelse tyd nie as musiek-instrumente gebruik nie. Daarvoor was die klank te skril. Dit is net vir aankondigings gebruik soos die oproep tot oorlog (Jer.4:19) of die aankondiging van ʼn militêre aanval (Rigt,3:27). In die NT word dit veral gebruik om die wederkoms aan te kondig. Dooies sal ook daarmee opgewek word (1 Kor.15:52). Christus sê vir Johannes dat Hy hom iets gaan wys – ʼn visuele openbaring.
4. Die troonkamer
Johannes sien Iemand op ʼn troon sit – God self! Die troon simboliseer heerskappy en oordeel. Dis die erkenning van die alleenheerskappy van Christus op die aarde soos wat dit reeds in die hemel bestaan. Dit laat ʼn mens aan Jes.6 dink waar God in die tempel sit met engele rondom Hom. Esegiël sou ook later so ʼn ervaring hê (Eseg.1:26-28).
Die term troon kom 66 keer in die Bybel voor en het gesag, heerskappy, prag en voorspoed voorgestel. Dit het koninklike heerskappy voorgestel. Omdat Hy in beheer van die geskiedenis is, is God se troon, so anders as die keiser s’n, egter vir altyd. Die edelstene van die troon dui op hemelse luister en heerlikheid wat met die van die Nuwe Jerusalem verbind word.
5. Die ouderlinge
Johannes sien 24 ouderlinge op 24 trone rondom God sit – ʼn aanbiddingstoneel. Die ouderlinge vorm die eerste konsentriese sirkel. Die lewende wesens, verteenwoordigend van die skepping, vorm die tweede kring. Die ouderlinge dra wit klere met goue krone op die kop en sit op goue trone en verteenwoordig die kerk – 12 stamme en 12 apostels. In die OT het die oudstes die volk voorgegaan. In die NT het die ouderlinge sterk leiding in die gemeentes geneem en die kudde versorg en bestuur (Hand.15:4,6,23). Volgens Openbaring is die ouderlinge aanbidders en lofprysers en bring die gebede van gelowiges voor die aangesig van God.
Hulle wit klere is die goddelike kleur en hul sit op trone wat God aan hulle verleen het. Die weerligstrale, dreunings en donderslae asook die vlammende fakkels dui op God se dinamiese teenwoordigheid. Dink aan die gebeure by Sinai met die ontvangs van die wet. Die sewe brandende fakkels simboliseer nie net God se teenwoordigheid nie, maar ook sy oordeel. Die kristal see beklemtoon God se oneindigheid, heiligheid en geskeidenheid van sy skepping. Hierdie see weerkaats die edelmetale wat uit die troon straal. Dit beskryf God se hemelse grootheid en heiligheid. Dis egter so groot dat geen mensewoord dit na reg kan beskryf nie!