Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Here Jesus, u graf en kruis was nie die laaste woord oor U nie. Dankie dat die donkerte van ons ellende ook nooit die laaste woord oor ons is nie omdat U uit liefde vir ons gesterf en opgestaan het. U weet dat die lewe 'n manier het om ons te breek sodat ons nooit weer dieselfde kan wees nie Maar dankie, Here Jesus, dat U in staat is om ons situasie en onsself so te verander dat ons bokant die donker kan uitkom.
VOORTREKKER- PIONIERS (18)
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Ohrigstad word verlaat (1)
Soos in die vorige hoofstuk uiteengesit was die onvermoë van die Voortrekkerstaat om ‘n suksesvolle handel met die buiteland oor Delagoabaai op te bou, die oorsaak dat die nedersetting te Ohrigstad eintlik geen bloeiperiode beleef het nie, nieteenstaande die beste pogings deur hoofkommandant Potgieter en die volksraad daartoe aangewend. Afgesien van hierdie groot struikelblok het die inwoners spoedig na hul aankoms bevind dat die weiveld nie aan dieselfde vereistes voldoen het as wat die Potchefstroomse gebied en die Magaliesbergstreek aan hulle kon bied nie. Aangesien die veeboerdery op hierdie stadium die vernaamste middel van bestaan vir die emigrante uitgemaak het, het baie ingesetenes spoedig in die versoeking gekom om hul nuutaangetekende plase net so te laat lê en na die weste terug te keer.
Die gevreesde malaria het alreeds gedurende die somer van 1845-1846 sy verskyning gemaak, sy eerste slagoffers geëis en daartoe bygedra om die onsekerheid wat daar op hulle in Ohrigstad gewag het, by die emigrante in te skerp.
As gevolg van die ongunstige handelstoestand was Ohrigstad nou nog meer van die buitewêreld geïsoleer as wat die geval met Potchefstroom was, veral omdat handelaars vanuit die suide die nedersetting moeiliker kon bereik. Gevolglik was noodsaaklike lewensmiddele haas onverkrygbaar en baie duurder as wat dit byvoorbeeld in Pietermaritzburg was. Koffie het 2/6 (25 sent) per pond en tee 10/6 (R1-05) per pond gekos. Die produkte van die boere het ook minder waarde as in Pietermaritzburg gehad. Die prys van ‘n buffelsvel was maar ‘n halfkroon (25 sent) en ‘n elandsvel was maar ‘n sjieling (10 sent) werd, sodat die waarde van ‘n pond sterling in Ohrigstad maar op 13/6 (R1-35) vasgestel is.
Hierdie ongunstige ekonomiese toestande het ‘n geleidelike eksodus uit Ohrigstad aangewakker wat selfs so vroeg as aan die einde van 1845 ‘n aanvang geneem het, soos wat die geval was met Louis van Wyk, die desen maatschapey heef verlaten, naa allen waarscheynlykheyd om niet weder om te komen. Sy geval is spoedig opgevolg deur Gert en Casper Kruger en verskillende ander persone wat teruggegaan het om hulle agtergelate gesaaides te gaan oes.
Omdat die agtergeblewenes bevrees was dat hierdie persone wat met al hul besittings verhuis het nie weer na Ohrigstad sou terugkeer nie en op hierdie manier die veiligheid van die nedersetting deur die uitdunning van sy geledere onnodig in gevaar gebring het, het hulle baie sterk vertoë tot die volksraad gerig om hierdie terugtog met streng maatreëls die hoof te probeer bied.
Vier-en-vyftig inwoners van Ohrigstad wat op hierdie stadium nog geen plase in hierdie omgewing besit het nie, het by die volksraad daarop aangedring om die plase van persone wat die nedersetting verlaat het aan hulle toe te ken en het druk op die raad probeer uitoefen deur die dreigement om andersins self Ohrigstad te verlaat indien hulle nie geholpe sou raak nie.
Die volksraad het die erns van die toestand besef en op 20 Januarie 1846 besluit om aan alle persone wat weggetrek het om te gaan oes of om ander redes hulle plase verlaat het, geleentheid te gee tot 1 Mei 1846 om weer met al hul besittings terug te keer en hul plase te kom bewoon of anders sou die verlate gronde aan ander aanspraakmakers toegeken word.
Of die mense wat nog van voornemens was om ook te trek, hulle nie aan die raadsbesluit gesteur het nie en of hulle nie eers van die besluit bewus was nie, is moeilik om vas te stel, maar op 21 Februarie 1846 skrywe 26 ondertekenaars in ‘n brief aan Potgieter persoonlik dat er een grootte deel van menschen is die zeg terugwaarts op trek wilt begeven. Hulle het die hoofkommandant versoek om hulle met gesag te beklee om die trekkery teë te gaan wat Potgieter dan ook gedoen het.
In aansluiting hierby het die volksraad daarna besluit om enige trekkery verder as Magneetshoogte te verbied en het ‘n beroep op al die inwoners gedoen om die uittog te probeer keer. Persone wat genoodsaak was om te verhuis, moes hulle redes voor die raad kom verstrek.
Ten einde te voorkom dat die persone wat gedreig het om te trek indien hulle nie aan plase gehelp word nie, ook by die geledere van die verlaters sou aansluit, het die volksraad sy maatreëls nog verder verskerp en besluit om die reg op verlate gronde maar te laat verval en om die plase maar aan bogenoemde persone toe te ken.
Daar is besluit om aan persone wat sonder verlof na Magaliesberg toe gaan, ‘n boete op te lê. Verder is besluit dat persone wat sonder verlof met al hul besittings deur die Olifantsrivier wegtrek, hul gronde verbeur het. Selfs persone wat tydelik na die Kaapkolonie afgereis het en hul vee op hul grond agtergelaat het, sou binne ses maande moes terugkeer of anders sou hulle hul reg op hulle plase verbeur.
Nadat die mense wat weer na Magaliesberg teruggetrek het met die verskoning om te gaan oes, verneem het van die raadsbesluit dat hulle plase te Ohrigstad vervalle verklaar is, het hulle heftig beswaar gemaak teen die feit dat daar wet op wet en gebot op gebot uitgevaardigt word daar den meesten deel van het publiek onbewust van is, maar hulle het geensins hulle voorneme te kenne gegee om weer na Oos-Transvaal terug te keer nie. Die volksraad het dus magteloos gestaan om die uittog te verhoed. Teen die winter van 1846 moes ‘n aansienlike getal huisgesinne Ohrigstad reeds verlaat het om na Wes-Transvaal terug te keer.