Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Is teënspoed en smart ’n voorwaarde vir geestelike groei? Moet ’n mens swaarkry om vir God iets te beteken? Nee, dis nie ’n absolute voorwaarde nie. Nogtans praat die Here dikwels duideliker met ’n mens in tye van teënspoed. As dit net goed met jou gaan, kan ’n mens later dink dat jy God nie meer nodig het nie.
DIE BELEG VAN MAFEKING (6)
Lees reeks by Die Beleg van Mafeking
Dr JP Botha
BADEN-POWELL DIE "HELD"
Op 11 Februarie 1900 het ‘n versoek van lord Roberts, Baden-Powell bereik waarin hy gevra word om te probeer om die verdediging van die dorp vol te hou tot teen die helfte van Mei wanneer hulp uit die suide sou opdaag. Baden-Powell het nog kans gesien om hieraan te voldoen, ten spyte van die haglike toestand van die dorp se voedselvoorsiening op daardie stadium, maar hierdie versoek van lord Roberts was vir die geteisterde troepe en burgerlikes ‘n ware jobstyding.
Die vasgekeerdes het in berigte wat sporadies uit Mafeking uitgesmokkel is, hul lot teenoor die buitewêreld beklaag, bykbaar begerig dat hul volksgenote in Engeland moes weet hoe groot die ontberings was wat hulle hulself getroos het ter wille van die belange van die Empire en van die Koningin. Gevolglik het die Engelse in die moederland hul die lot van die “lydendes” in Mafeking so sterk aangetrek dat daar selfs druk op die Engelse Regering uitgeoefen is om die ontset van die beleërde dorpie te help bespoedig.
Die publiek in Engeland se belangstelling in die beleg van Mafeking het nie net alleen uit hul simpatie met die lot van die beleërdes gespruit nie, maar is deur die Britse nasionale gevoel aangewakker. Hulle was teleurgesteld omdat die magtige Britse leër nie volgens algemene verwagting daarin geslaag het om die twee Republieke binne enkele weke te verpletter nie en het voortdurend uitgesien na berigte uit Suid-Afrika wat moes bewys dat die Britte in staat was om hul eer te handhaaf. Sulke berigte is oor die beleg van Mafeking gereeld in Engeland ontvang en het die Engelse onder die indruk gebring dat Baden-Powell en sy garnisoen in hierdie verafgeleë dorpie besig was om ‘n verbete stryd teen ‘n baie swaar en oorweldigende Boeremag te voer, wat egter met alle militêre middele tot hul beskikking en ten spyte van vasberade en meedoënlose aanvalle, nie daarin kon slaag om die Britte tot oorgawe te dwing nie.
Namate die beleg voortgeduur het, het die Engelse in die moederland se trots en bewondering vir die heldhaftigheid, moed en deursettingsvermoë waarmee Baden-Powell homself in Mafeking sou gehandhaaf het, ten toppunt gestyg. Hulle het intense bevrediging - of diepe teleurstelling - geput uit elke berig wat uit dië geweste ontvang is. Selfs ‘n beriggie soos dié een wat in Mei 1900 in die Londense koerante verskyn en gelui het: One or two small field guns are shelling the town. Nobody cares, was vir almal in Engeland die bewys van Baden-Powell se tipiese, nonchalante Britse moed. Hulle het geglo dat die Bevelhebber van die garnisoen se rooskleurige skildering van die toestand in Mafeking slegs ‘n aanduiding was van die benarde toestand waarin hulle verkeer het. Niemand het dit eienaardig gevind dat Baden-Powell so maklik kon slaag om uit ‘n beleërde dorp soveel berigte die wêreld in te stuur nie. Gardner verklaar dat Baden-Powell’s “plucky”, almost gay messages had been printed throughout the world. They had created a great impression. The more they had insisted that all was well in Mafeking, the worse the world had been convinced that it really was.
Gevolglik het die militêre drama wat besig was om in ‘n verafgeleë Suid-Afrikaanse dorpie af te speel, die belangstelling en die gemoedere van nie net alleen die Engelse volk nie, maar van al die volke in Europa en dié van Amerika gaande gehou. Dat Baden-Powell en sy garnisoen in staat was om teen die aanslae van die Boerekommando’s om Mafeking staande te bly, het die Britte se nasionale gevoel gestreel, sodat hulle Baden-Powell in hulle harte tot ‘n dapper held verhef het.
Ten spyte van die vrees in Engeland dat die troepe reeds in ‘n baie haglike toestand verkeer het, was Baden-Powell in April 1900 nog vol vertoue dat die beskikbare voedselvoorraad nog twee maande lank in hule behoeftes sou kon voorsien. Om dit te kon bewerkstellig, moes die rieme vanaf April nog heelwat dunner gesny word. Daar is ook pogings aangewend om onaantreklike rantsoene met toevoeging van allerlei middele ‘n bietjie meer smaak te gee.