Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Magsmisbruik lei dikwels tot selfverryking. ‘n Slegte leier leer geen kuns gouer aan as om die staatskas te plunder nie. Eers raak hy van die reëls van ‘n ordelike gemeenskap ontslae waarna hy sy land op die glybaan van korrupsie en verkwisting laat beland. Daarna word hy soos room - ryk en dik!
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (25)
5)Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Dis nie uit moedswilligheid of ‘n gebrek aan simpatie dat die kinders laat opdaag nie. Hulle moes inderdaad vir elke kilometer wat hulle gery het, vanaf Kleinbrak tot Porterville, hulle pad oopveg – hier en daar teen gewapende bendes, verskrikte en moedelose mense vanuit plakkerskampe en uiteindelik teen die stormweer. Die feit dat Mandie en haar man met ‘n tweewieldryf dubbelkajuit Mazda ry, het nie gehelp nie en hulle moes ‘n paar maal deur Koot en Lena se Land Cruiser gesleep word. Die derde voertuig, ‘n Volkswagen Touareg, het self oor die weg gekom.
Die oomblik wat hulle stilhou by die smeulende opstal, hardloop ‘n tiental manne uit boord na hulle toe, duidelik nie om enige ander rede as om hulle te dood nie.
Koot spring onmiddellik en sonder huiwering by die Land Cruiser uit, neem met beide hande dooierus oor die voertuig se dak en skiet vinnig, maar doeltreffend na die aanstormende spul. Hy ignoreer die skote wat op hom afgetrek word, wissel vinnig van teikens en as die 1911A Colt .45 se sluitstuk na die agt skote – een in die loop en sewe in die magasyn – agter stil staan, lê daar drie gesneuweldes en een probeer homself regop kry na ‘n skoot laag in sy abdomen.
Peet kniel voor sy Touareg en skiet met sy eie wapen op die ander manne. Die res van die aanvallers hardloop in verskillende rigtings weg. Na die intense klap van skote is alles nou onheilspellend stil. Mandie spring uit en wil dadelik na die huis hardloop, maar Koot keer haar.
“Wag! Ek sal eers gaan kyk wat aangaan.”
Die agterdeur is gebrand, maar vreemd genoeg, staan dit nog in die kosyn. Koot skop dit twee maal en staan dan terug as die houtdeur oopslaan, maar met vonke wat nog spat.
Hy loop versigtig na binne, bang dat daar ‘n deel van die plafon of dakbalke op hom kan val, deur die kombuis en gang, waar hy by elke slaapkamer inkyk. Hy hoop steeds dat sy skoonouers veilig uitgekom het, maar wanneer hy by die hoofslaapkamer inkyk, kan hy, selfs as leek op die gebied, sien dat die brand hier ontstaan het. Die groot dubbelbed het inmekaargesak, met net die yster katel, kopstuk en voetstuk wat nog oorbly.
Feitlik op die vloer is daar die oorblyfsels van twee verbrande mense. Hy weet dis twee, want daar is twee verbrande skedels, maar verder is daar net ‘n hopie as. Koot staan vir ‘n oomblik geskok in die deur, terwyl die trane oor sy wange loop. Op die grond langs die bed lê die ou Star pistool. Die sluitstuk staan agter vasgeslaan na ‘n laaste skoot uit die magasyn en, ten spyte van die vuur, het slegs die grepe geskroei, maar die wapen is origens klaarblyklik ongeskonde, waar dit op die teëlvloer lê.
Koot loop die kamer binne, asof in ‘n dwaal en tel die wapen op. Dis nog warm van die vuur, maar brand hom nie. Hy hoor die gebrande planke op die gangvloer kraak en as hy omkyk, staan Mandie en Lena agter hom.
“Wag eers!”
“Is dit Pa en Ma?”
“Ek dink so, maar julle moet liefs nie inkom nie.”
*
Die wolke het vir ‘n oomblik weggetrek en Bella kan ver af in die vallei sien hoe die plaashuis brand. Daar is niks wat sy kan doen nie, behalwe om te hoop en bid dat die mense, die oom en tannie by wie sy toestemming gekry het om hier te kom bly, veilig is.
Sy het maar gesukkel om uit die Toyota te kom en hier op die rots te kom sit, maar sy het nie meer kans gesien vir die beperkte en bedompige binneruim van die kar nie.
Verbeel sy haar…? Sy luister mooi, en ja, sy hoor iets… die geluid van ‘n kar-enjin wat van lae na hoë omwentelinge wissel. Soms is dit stil, maar ander kere, soos nou, kan sy dit duideliker hoor.
Haar hart begin bons. Is dit dalk net Max wat aankom, wat sy woord gehou het? Sy het die afgelope jare daaraan gewoond geraak dat mense haar in die steek laat, dikwels mense op wie sy haar vertroue ten volle geplaas het, vriende en selfs familie wat net nooit opgedaag het nie.
Na vyftien minute waarin haar hoop opgevlam en weer getaan het, sien sy veraf, baie laer en na haar regterkant toe, die skielike blink van die enkele sonstraal op die windskerm van die Frontier. Sy spring opgewonde op, net om die skielike, intense skietpyn in haar enkel te ervaar. Hoe kan sy so onnosel wees?
*
Sodra die wolke effens wegtrek, kan Max die weerkaatsing van Bella se Toyota se agterruit sien. Dis soos die kraai vlieg nie ver nie, miskien ses of sewe honderd meter, maar hy is nie ‘n kraai nie en moet ry.
Hy ry verby ‘n rotsagtigheid aan sy linkerkant en skielik, voor hom, is daar ‘n vallei, nie baie breed of lank nie, miskien sowat ‘n honderd by honderd en vyftig meter. Alhoewel hy kyk of daar nie ‘n roete om die water is nie, kan hy nie een sien nie en moet noodgedwonge daar deur.
Onder normale toestande sou dit droog wees en maklik om te oorkruis, maar nou is dit ‘n lang, breë plas water. As hy meer tyd gehad het, sou hy eers die voertuig tot stilstand gebring het, uitgeklim en die dam – wat dit nou is – deurgeloop het, maar instinktief voel hy aan dis nie nou die regte ding om te doen nie.
Hy maak weereens seker die oordrakas se hefboom is gesluit in vierwieldryf laestrek. Hy huiwer vir ‘n oomblik met die voorwiele wat net-net in die water is, haal onwillekeurig diep asem en ry teen ‘n gelykmatige en bestendige spoed die water binne. Indien hy sou snelheid vermeerder, loop hy die gevaar om nie net te vinnig in ‘n diep poel in te ry nie, maar die water kry nie kans om effens weg te stoot voor die sierrooster, buffer en verkoeler nie. Indien hy spoed skielik sou verminder, maak dit ‘n golf wat terugspoel en oor die enjinkap kan vloei en die enjin so versuip. Veral die elektronika sal ingee in so ‘n geval.
Minder as tien meter binne die plas in, is daar ‘n sterk systroomvloei, wat die kar na links druk, en die agterkant effens oplig. Max skrik, maar na ‘n halfminuut is hy deur die systroom en kan die agterkant weer sak.
Hy het ten minste twintig meter kant toe beweeg en hy stuur weer na die plek waar hy meen die maklikste uit beweeg kan word. Stadig, maar seker, beur die voertuig na die oorkantste oewer, waar daar ‘n gelykte in die sandbank is, en hy maklik sal kan uitklim. Net toe hy begin verlig voel, vang ‘n tweede systroom die kar en neig dit in dieselfde rigting, na sy linkerkant. Hy voel hoe die bande uiteindelik vastrap, maar voor hom is ‘n baie skuins en nat rotsbank en alhoewel hy teen die rigting veg, is dit duidelik dat hy hier sal moet uitry.
*
Sodra die skote begin klap, hoor die klein bende dit. Dis nie baie ver van hulle af nie en hulle kan selfs hoor dat daar meer as een wapen gebruik word. Die man wat leiding geneem het, kyk na die ander en hulle knik net instemmend met hulle koppe. Dis nou maar eenmaal so dat waar daar geveg word, iets sal oorbly na die tyd en hulle het al meer as een keer die geleentheid benut om in so ‘n situasie die derde hond te wees wat met die been wegstap.
Hulle beweeg eers op ‘n drafstappie in die rigting, maar besef later die berg het veroorsaak dat die klank ‘n eggo het en hulle moet effens van rigting verander. Die skote is nou meer hoorbaar.
Die groep het oorspronklik uit meer as veertig manne bestaan, maar die afgelope tyd het gevegte en blote uitsifting van die swakkeres, hulle getal verminder tot sewentien; sewentien harde, onsimpatieke manne, gelei deur ‘n kleurling, of te wel bruinman, wat sy tande op vuurwapens in die Kaapse Vlakte geslyp het vandat hy dertien jaar oud was.
Sy tweede in bevel, of assistant, soos hy na hom verwys, is ‘n blanke man genaamd David. Relatief nog jonk, is hy bitter en verstote, vandat hy weggewys is, baie kilometers, baie soos in meer as duisend agt honderd van hier af, in die noorde van die ou Transvaal, of te wel Limpopo, soos dit die afgelope tyd bekend staan.
Hy voel vernederd en het sy koninkrykie sien inmekaartuimel nadat hy kragte gemeet het met ‘n ou man, sekerlik dubbeld sy ouderdom. Hy het skielik alle aanhang verloor en alhoewel hy sy deurleefde Bybel nog steeds saamdra, lees hy nie eintlik meer daaruit nie. Ten spyte van sy tekortkominge, is hy steeds ‘n bogemiddelde goeie skut met ‘n geweer en die ou Lee Enfield .303 met Tasco teleskoop, het hom nog nooit in die steek gelaat nie. Hy het ‘n baie doeltreffende funksie in die groep.
David was nog nooit getroud nie, het inderdaad nog nooit ‘n vaste verhouding gehad nie, nie met ‘n vrou of ‘n man nie, en dit dra by tot sy haat en bitterheid. Hy het hierdie haat al probeer verkoel in die bloed van heelwat van sy rasgenote, maar dit bly brandend. Hy hoop dat, wanneer hulle hierdie geveg gewen het – hulle het nog nooit een verloor nie – dat daar ‘n sappige jong dingetjie vir hom sal oorbly. Hy gee nie om as sy eers deur die ander gebruik is nie; dit dra inteendeel by tot die opwinding.