Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ek het my hande die hele dag uitgebrei na 'n opstandige volk wat wandel op 'n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan, 'n volk wat My gedurigdeur in die aangesig terg... Ek sal nie swyg nie, tensy Ek dit vergeld het... Ek sal doen ter wille van my knegte, om nie alles te verniel nie... maar julle wat die HERE verlaat... Ek sal julle bestem vir die swaard, en julle almal sal buig om geslag te word - Jesaja 65.
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (22)
Die dorp is in ‘n hele paar dele verdeel, nog lank voordat die aanval plaasgevind het. Omdat die meeste mense die ou Transvaalse Oos-Rand geken het, is dit volgens daardie omgewing se name ingedeel. Vanaf die groot sirkel aan die suidekant, oos en wes, is bekend as Withok. Net noord daarvan aan die oostekant, is Springs, wes is Boksburg in die industrieë, die industriële gebied aan die westekant is Germiston, die middedorp Kempton, oos van die N1 Benoni, tot by die Levubupad en die laaste gedeelte, ook waar die kamp is, Bapsfontein. Die roepseine is Whiskey Een, Sierra Een, Bravo Twee en Drie (dis effens verwarrend) en so aan.
Jac, ‘n ou eks-sammajoor van die lugmag, tree die manne en vroue aan. Nicodemus wag dat almal op parade is en sien dan iets vreemd.
“Martie, wat maak jy hier?”
Martie, die kostannie, het haar voorskoot verruil vir bosdrag en sy het ‘n ou, maar oënskynlik diensbare .303 oor haar regterskouer en ‘n R5 in haar hande. Sy lyk vasberade en doelgerig.
“Ek gaan nie, as my kleinkinders eendag vra wat het ouma gemaak in die oorlog sê: ‘kos’ nie. Ek dink dis tyd dat Dawid, Tim, Jac en ander se vroue dit hierdie keer doen. Ek gaan saam fight.”
Nicodemus wil eers teëpraat, maar hy besef dis nie nou tyd daarvoor nie. Dis wragtig die tweede vrou in twee dae wat so met hom maak!
Nadat hy seker gemaak het die groep en seksieleiers verstaan alle bevele, verdaag hy hulle en binne drie minute is al die manne en vroue op hulle bakkies en na hulle onderskeie poste. Daar bly genoeg mense in die kamp oor, tesame met voertuie, dat dit lyk asof die plek normaal funksioneer, indien die vyand verkenningshommeltuie sou stuur.
*
In plaas daarvan om uit te stres, angstig te wag vir die tyd om verby te gaan, te wonder wat alles verkeerd gaan of kan loop, of hy die geveg gaan oorleef of Tamar, Martie of enige van die ander, lê Nicodemus en dink.
Normaalweg is dink iets wat die meeste mense vermy, aangesien dit inspanning verg. Hulle sal eerder ‘n video of fliek kyk, waar iemand anders klaar vir hulle gedink het, hetsy die skrywer van die boek waarop dit gebaseer is, die draaiboekskrywer, die akteurs of die regisseur, maar Nicodemus hou van dink. Hy kom nie altyd by ‘n gevolgtrekking uit nie, of ‘n oplossing nie, en dikwels sal hy knaag aan ‘n probleem asof dit ‘n enigma is, en as hy uit sy gedagtes moet uitbeweeg indien iets opduik, soos ‘n vraag wat gevra word, iemand wat naderkom, selfs sy oor wat jeuk, sal hy die gedagtegang onderbreek, om later, as die geleentheid hom voordoen, weer te hervat.
Onwillekeurig dink hy aan die doel van die mens en mensdom, hier waar hy agter die ou Mauser wag vir die vyand om nader te kom. Hulle het inderdaad skielik tot by die weegbrug so ‘n paar kilometer buitekant die dorp beweeg en nou wag hulle. Vir wat?
‘n Stadigbewegende hommeltuig kom aangevlieg, eers as ‘n stippeltjie na die suide, maar gaandeweg al duideliker. Ongeveer vier honderd meter vanaf hulle skuilings, hang dit vir ‘n paar oomblikke stil en begin dan omdraai om weg te beweeg. ‘n Skoot knal skielik en duidelik so ‘n ent weg van Nicodemus af. Die hommeltuig spat aan stukke. Nicodemus hervat sy gedagtegang ‘n minuut later.
‘n Amper-paniekbelaaide stem kom oor die Radio:
“Alfa Een, kom in vir Bravo Twee!”
“Alfa Een, stuur.”
Die man aan die ander kant vergeet vir die omblik van alle radioprosedures.
“Oom, ons is vasgekeer. Die spul het ‘n masjiengeweernes gemaak van die spaza op die hoek van Bantjies en Eerstestraat. Ons lê in ‘n vlak sloot en ons kan nie ons koppe oplig nie!”
“Hou vas, Bravo Twee, ek is nou daar!”
“Nicolaas, kom saam met my!”
“Wat van ons?”
“Julle bly net hier, Tamar en Martie!”
Daar is ‘n vasberadenheid in sy stem en die twee vroue praat nie hierdie keer teë nie. Nicodemus sit sy Mauser neer en tel die ou R1 op. Hy maak seker die magasyn is vol, die wapen gespan en die drie spaar magasyne ook vol. Hy toets die spanning van die magasynvere en tevrede dat dit reg voel, sit hy dit in die webbing-sakke.
“Nicolaas, los daai lang geweer by Martie en ruil haar vir die R5, asseblief.”
Die twee manne loop die trappe vinnig af, versigtig by die deur en dan vinnig oor die oop agterplaas van die gebou, al langs die mure van die res van die geboue, totdat hulle die veraf gestotter van die RPD-masjiengeweer hoor.
Aan die aanhoudende vuur is dit seker dat die geweer vanaf ‘n band skiet en nie die ronde drommagasyn nie. Selfs die band hou net ‘n honderd rondtes en as die vuur vir ‘n oomblik staak, soos die skuts ammunisiebande ruil, hardloop Nicodemus en sy groot neef, Nicolaas, oor die slaggatgeblomde teerpad. Hiervandaan kan hulle sien dat Koos Beetge en sy vyf makkers vasgekeer is deur die masjiengeweervuur. Die naaste skuiling is vir hulle te ver om te wag vir die tyd wat die wapen ophou.
“Kom! As ons oor die heining aan die linkerkant is, kan ons hulle van die kant af nader.”
Die twee hyg oor die muur. Uiteraard is Nicodemus heelwat ouer as sy groot neef, maar gebukkend hardloop, vinnige beweging en blote adrenalienbruise maak dat ‘n mens gou moeg word.
Anderkant die sinkplaatheining is daar ‘n dooie Rottweiler-hond aan ‘n kort ketting. Iemand het hom op kort afstand geskiet. Sonder dat hy dit kan beskryf, maak hierdie insident hom intens woedend. Watse tipe mense is hierdie?
Die RPD het weer begin met sy dodelike vuur. Dis duidelik dat wie-ookal dit gebruik, nie behoorlik opgelei is nie en in plaas van kort, vyf en sewe skoot-sarsies, skiet hulle die band feitlik leeg. Natuurlik word die lope nie geruil nie en as hulle so voortgaan, sal die loop vinnig uitgeskiet wees.
Hulle sluip al langs die betonheining af, totdat hulle reken hulle is reg oorkant die spaza vanwaar die geweervuur kom. Deur ‘n effense skrefie tussen die sementblaaie kan Nicodemus sien dat die geboutjie in wese perfek is vir ‘n masjiengeweernes. Die dubbele baksteenmuur maak dit relatief bestand teen kleingeweervuur – behalwe vir iets swaars soos ‘n .50 Browning-rondte - dit staan so geleë dat dit nie van agter af bekruip kan word nie en daar is vuurdefiliasie na weerskante toe en natuurlik vorentoe.
Die geboutjie staan ook alleen op ‘n groot erf en Nicodemus kan nie verstaan dat hulle nie vroeër die gevaar hiervan ingesien het en daarvoor beplan het nie. Hoe die manne ongesiens daarin gekom het, sal hy ook nie weet nie. Hy kan die loop van die wapen sien uitsteek en die flitse van elke skoot, maar hulle kan nie regop kom en oor die muur skiet nie, daarvoor is dit te gevaarlik.
“Wat nou?”
Sonder om te antwoord, haal Nicodemus ‘n viertal vreemde voorwerpe uit sy broeksak.
“Hoe ver kan jy gooi, neef?
“Jy bedoel by daardie venster in?”
“Ja, dis wat ek bedoel.”
Nicolaas vat een van die goeters wat Nicodemus hom aanbied.
“Wat is dié?”
“Dis tuisvervaardigde rookbomme. Salpeter en suiker, opgekook soos ‘n toffie en in papier, wat in parafien geweek is, toegedraai.”
Terwyl Nicolaas een van die goed beskou, trek Nicodemus ‘n vuurhoutjie en na ‘n oomblik raak die een punt, wat gekonkel is om ‘n lont te vorm, aan die brand.
“Gaan dit nie ontplof nie?”
“Nee, gooi!”
Die eerste een trek regoor die geboutjie, die volgende een te laag en tref die muur onderkant die vensterspleet, maar die derde een val binne die gebou. Al drie begin nou rook. Sonder dat hulle dit so bedoel het, borrel die tweede rookbom, wat onder teen die muur vas is, genoeg rook dat hulle ongesiens oor die muur kan kom en nader hardloop.
Die een wat binne die gebou geval het, het nou ook begin rook spuit en dit peul by die venster, onder die deur en bo, waar die sinkplate effens van die dakbalke afgetrek het, uit. Die masjiengeweer het opgehou vuur en van binnekant is onbedaarlike hoesbuie hoorbaar.
“Nou, neef!”
Nicolaas skop die deur amper van sy skarniere af, met die slot wat padgee en dit swaai skerp na binne met ‘n slag. Nicodemus hou die R1 op sy regterheupbeen, sy regterhand op die pistoolgreep daarvan en met sy linkerhand druk hy die voorste handgreep van bo af ondertoe.
Hy tree tot in die opening van die deur en trek op vol-outomaties los in die klein geboutjie in. Binne sekondes is die magasyn leeg en hy laai ‘n vars een. Sodra hy hiervan ook leeg is, gryp Nicolaas hom aan die arm, kyk hom van effens hoër af – hy is immers byna twee meter lank - in die oë.
“Dis nou genoeg!”
Nicodemus pluk sy arm los uit Nicolaas se greep, maar alhoewel hy die derde magasyn laai, hou hy op skiet. Sodra die rook genoeg bedaar, kan hy in die geboutjie inkyk. Die sewe manne daarbinne is stukkend geskiet.
“Is dit nou uit jou sisteem, Neef?”
“Wat bedoel jy?”
“Ek sien nou al vir ‘n paar dae dat jy besig is om iets binne te hou wat aan jou vreet. Is dit nou uit?”
Nicodemus staan vir ‘n halfminuut stil. Inderdaad voel dit asof daar ‘n swaar bol woede in sy maag was, amper soos hy baie jare gelede ervaar het, toe sy vriend, Skoene Spies langs hom doodgeskiet is, in ‘n lokasie, daar ver in die Oos-Rand, met ‘n koeël wat vir hom, Nicodemus Verwey bedoel is, maar dis nou weg. Nadat hy die skut bo-op die dak van die Hostel, die behuisingseenheid geskiet het, met hierdie selfde R1, het hy ook hierdie selfde verligte ervaring gekry.
“Ja, dis uit.”