Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons leef in 'n tyd waarin die waarheid nie meer hoog geag word nie maar die enkeles wat nog graag in die waarheid wil leef kan saam met Dawid sê: "Toets my HERE, want... ek wandel in u waarheid, Ek sit nie by valse mense nie, en met slinkse mense gaan ek nie om nie. Ek haat die vergadering van kwaaddoeners, en by die goddelose sit ek nie... my voet staan op gelyk grond; ek sal die HERE loof in die vergaderings."
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (23)
Bella het die afgelope tyd getransformeer vanaf die vlugtelingmeisie met die swakbeplande ekskursie die berge in, na ‘n vrou in beheer van haarself, al lyk die omgewing onbeheerbaar.
Waar sy hoog in die Drakensberg, ver weg van die Swartberge waar sy voorheen was, afkyk, is die heuwels en berge laer as die een waar sy nou staan, en valleie duidelik sigbaar, asof voor haar uitgesprei.
Teen die horison, baie kilometers na die noorde, ooste en gedeeltelik die suide, is die mistigheid van die vroeë oggend nog aan die hang, asof dit die son wil weerstaan. Die berge is blou teen die newels en die valleie nog ‘n vaalgroen in die vroegoggendson. Hier en daar is die amper-blou van spruite en die een groot rivier – sy weet nie wat die naam is nie – soos snye deur die gras van die veld.
Dit gaan nie baie warm word vandag nie en sy is dankbaar vir die dik baadjie, langbroek en sokkies onder haar stewels. Die oggendbriesie het nog ysvingers wat teen haar streel. Sy trek die baadjiekraag effens op teen haar nek en wange, teen die koue windjie, haar hare, wat nou langer gegroei het, waai teen haar gesig vas en sy haal een hand uit die baadjie se sakke en vee die klossie weg. Dis asof die gebaar haar oë helder laat sien en sy is geskok om te sien hoeveel mense aan die beweeg is.
Hier en daar ry ‘n motorvoertuig agter en verby die lang rye mense. Waarheen is hulle almal op pad? Hoe gaan hulle weet as hulle hul bestemming bereik het? Hoeveel gaan sterf op pad, veral met die koue van die winter wat onverbiddelik aan die inkom is? Waar gaan hulle almal kos kry?
Bella staan vir meer as ‘n halfuur haar en verkyk na die skouspel onder haar. Onwillekeurig dink sy aan Moses en die Israeliete op pad deur die woestyn. Wie kan hierdie mense se Moses wees, of het hulle nie een nie?
Een ding is vir haar baie duidelik en dit is dat sy nie tussen hulle in kan beweeg nie. Sy sal ‘n ompad moet kry en dit gaan deur die berge en hoë plekke wees, waar daar minder mense is. Sy het natuurlik geen idee waarheen Max en sy mense op pad is nie, behalwe dat dit noord is. Sy bid dat sy hom betyds in die hande kan kry. Betyds waarvoor? Sy weet nie, maar hoop inniglik dat gebed help.
*
Maggel is ‘n produk van die ou adel van die omgewing, met haar oupa-grootjie wat reeds net na die Boereoorlog homself kom tuismaak het op die uitgebreide plase, sy verraaiersloon, nadat hy talle vroue en kinders wat gevlug het vir die Engelse, uitgewys het. Die ou man, sonder gewete of hartseer het soos sy Bybelse voorganger vanouds gereken die Boere gaan in elke geval verloor en daarom kan hy net sowel geld maak uit die episode. Hy het egter nie, soos Judas, homself opgehang nie, maar het hoogs tevrede sy grond in gebruik geneem, sy skape en beeste gaan haal in Lesotho en tuis geraak in die hange van die Berg.
Die Bergadel, soos die mense bekend geword het, het op vele plekke die septer geswaai, in die Landbou-unie, in die bestuur van die destydse klein munisipaliteit, die kerk en natuurlik op sosiale vlak. Niks maak so vinnig vriende as groot plase en baie geld nie. Op politieke terrein was hulle vurige stryders vir die einde van apartheid, bloot omdat die Europese markte vir hulle vrugte die loon was. Verraad draai altyd om geld en rykdom.
Die wiel het egter begin draai saam met die eeuwisseling en dinge was nie meer so maklik nie. Die vrugtepryse het gedaal, droogtes en nogmaals droogtes het misoeste voorgebring en die vuur wat deur die plaas geloop het, het miljoene rande se verlies tot gevolg gehad.
Een na die ander plaas is verkoop om die hoofplaas lonend te hou. Myne het minder bloekomhout aangekoop, neute se pryse het geweldig gestyg, na byna R240 per kilogram, maar skielik gesak na rondom R50. Verband is na verband en lening na lening op die plaas geneem, maar die een na die ander terugslag het die grootte van die grond en die inkomste laat krimp.
Minimumlone, grondbesetting (waaroor hulle reeds in 1990 gewaarsku is) het die plaas se produktiwiteit verder geknou, maar die mense – hoofsaaklik die vroue – het vasgebyt en aangegaan met boer. ‘n Ruk gelede het ‘n haelstorm die laaste sê gehad en dit was net ‘n kwessie van tyd voordat die banke beslag sou lê op die oorblywende deel van die plaas. Die wiel draai stadig, maar seker. In hierdie geval net minder as een en ‘n kwart eeu.
Natuurlik het die val van Eskom en die gepaardgaande chaos gedreig om die banke te verhoed om hulle verbande en lenigs op te sê, en as dit plaaslike banke was, sou dit dalk so gewees het. Maar met die vier groot banke wat in oorsese hande is, gebeur dit nie so nie.
Maggel is uiters verbitterd. Hoe kon die regering hulle nie help nie, nadat hulle so ywerig die Ou Suid-Afrika beveg het? Waar sy en haar familie die mees invloedryke mense in die omgewing was, is alles nou uit hulle hande geruk. Sy was self betrokke by die ou regering se intelligensie-eenhede – die Buro vir Staatsveiligheid - en sy weet wie om te nader.
Niks onder die blankes help nie en sy word met leë hande en die spreekwoordelike stert tussen die bene weggestuur. Sy besef ook dat geld, eiendom en invloed hand aan hand loop en eertydse vriende antwoord nie meer die oproepe en teksboodskappe nie.
‘n Bitterheid wat sy reeds jare mee loop, nadat haar oorlede man ‘n verhouding met die kerk se kantoordame aangeknoop het, borrel nou na die oppervlak. Sy besef dat sy onaantreklik, vier en sestig jaar oud, oorgewig en mannetjiesagtig is. Hierdie bitterheid moet ‘n uitlaatklep hê en die mense onder die Berg is die maklikste teiken.
Maggel het die uitmekaarvallende GWM-bakkie gevat, onder haar regterarm vasgeknyp soos ‘n Louisiana Mack-drywer en die Vendakaptein gaan sien. Sy weet presies wat om te doen.