Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons weet dat daar eintlik net twee keuses in die lewe is sal ons meer betrokke raak by die dinge wat gedoen moet word: ons kan kies om betrokke te wees en die pyn daarmee saam verwerk; of ons kan kies om onbetrokke by dinge om ons te wees en die verveling daarvan verduur.
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (24)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Juan Mentz is vasgekeer, of so vasgekeer as wat ‘n mens met kaal hande ‘n luiperd of rooikat in ‘n hoek kan dryf en verwag dat jy hom gaan aankeer of oortuig tot oorgawe. Soos die twee roofkatte geen sin vir humor toon in so ‘n geval nie, is dit dieselfde met Juan.
Die dertigtal manne het hom in die verwoeste en geplunderde winkelsentrum gewaar, hom na alle kante gekeer en die net al stywer gespan, totdat hy in die parkeerarea verdwyn het.
Wat weggeraak het, kan gevind word en met nog vyf en twintig makkers wat bygekom het, deursoek hulle elke voertuig, onder die voertuie, in die hoeke van die parkerings, op die trappe, oral. Uiteindelik gewaar een van hulle die vlietende gedaante van die man, waar hy op hardloop, tot binne in ‘n groot, verlate supermark.
Met die besef dat hulle ‘n oormag is, is daar geen plan wat beraam word nie, maar eerder ‘n ongekoördineerde frontaanval. Hulle hardloop in saamgepersde bondels deur die vier naaste rye as waar Juan hom bevind, met sommige van hulle wat klaar begin skiet na waar hulle reken hy moet wees. Dit veroorsaak aan die een kant ‘n verlies aan enige vorm van nugtere denke, en aan die ander kant die moontlikheid dat hulle mekaar kan raakskiet.
Soos gewoonlik met ‘n man wat neig na psigopatie, ervaar Juan geen vrees nie, net ekstase. Die feit dat hy self doodgemaak kan word, kom by hom op, maar as sy psige daaraan proe, is daar geen smaak van angs nie, eerder opgewondenheid. Hy dink nugter en helder, met elke detail van die supermark se binnekant wat in sy sintuie vasgevang word.
Met adrenaliengedrewe vlugvoetigheid spring hy teen die kante van die leë rakke op, net aan die ander gangetjie vanwaar die manne hulle bevind. Die eerste gewaarwording wat hulle het, is wanneer hy minder as twee meter van die bondel af en ‘n meter en ‘n half hoër as die langste man se kop, bokant hulle verskyn. Die volgende is wanneer hy begin lostrek met die pompaksie haelgeweer.
Op hierdie afstand het die swaar SSG-ladings verwoestende effek. Natuurlik is daar geen spasie om te sprei nie, maar die 16 .32 kaliber balletjies vermorsel vel, been en weefsel.
Die sewe skote uit die wapen volg baie kort op mekaar, soos hy die voorste handgreep span na elke skoot en die oomblik as dit weer vassteek aan die voorkant, trek hy die sneller. Hy versit net effens van teiken na elke skoot en as die wapen leeg is, spring hy van die rak af, hardloop om die vérpunt van die ry en met die Walther trek hy opnuut op die bondel los, wat nog half verdwaas staan.
Met die nou-leë pistool voor in sy broek gedruk, mik hy in die algemene rigting van die aanvallers met die 30-06 en trek eweneens los. Op hierdie afstand het die 180 grein spritzer koeëls nog niks van die aanvanklike trompsnelheid van bykans 900 meter per sekonde verloor nie en het ewe dodelike effek as die haelgeweer, behalwe dat dit deur meer as een lyf per skoot trek.
Die bondel is verskrik, verward en angstig. Van hulle begin skiet na waar Juan was, maar hy is eenvoudig nie meer daar nie. Hy het om die punt van die ry gehardloop, en die Walther gelaai met ‘n vars magasyn. Op ligte tred hardloop hy die lengte van die ry af, totdat hy naby die uitgang is. Hy skiet eweneens die pistool op die manne en dan is hy by die deur uit en weg. Verergd kyk hy na sy linkervoorarm, waar ‘n koeël uit ‘n AK hom skrams getref het.
*
“War is 99.9% boredom and 0,1% unmitigated horror”
*
Baie soldate sal eerder die klein gedeelte van angs en uiterste benoudheid ervaar as die lang periodes van wag. Dis wanneer die onbekende aan jou senuwees begin knaag en jou van binne af opvreet; hetsy dit die lê in ‘n loopgraaf is, die wag op ‘n bult, of, soos in die meeste gevalle, in donkergehoude onkunde, op wag vir die besluite van die senior-offisiere.
Die gesoute soldate sal hierdie tussenpouses gebruik om briewe te skryf, hulle toerusting na te gaan, gewere en ammunisie skoon te maak, gate in uniforms toe te werk en, indien die situasie dit toelaat, koffie of tee te maak en oor die bekers daarvan te sit en gesels. Diegene sonder ervaring sal sit en bang wees.
*
Na die geveg is daar ‘n paar ure stilte. Onwillekeurig hervat Nicodemus sy gedagtes van ‘n paar uur gelede.
Hy dink terwyl hy na die manne se nuutste uitvinding kyk. Dis in werklikheid ‘n baie ou patent, wat hulle weer nuutgemaak het. Van ‘n paar ou 210 liter dromme het hulle die een kant geseël met ‘n dikkerige plaat wat stoomdig kan vasmaak met ‘n enkele groot vlerkmoer. Dis gemonteer op twee tweepoot-staanders en kan met ‘n slinger gedraai word. Met vuil wasgoed aan die binnekant, word kookwater uit die donkie daarin getap, met tuisgemaakte waspoeier en as die slinger gedraai word, tuimel die hele affêre. Die stoom en die waspoeier maak dat die vuilgoed loskom. Dis primitief, maar die wasgoed kom skoon daaruit.
“Pennie?”
Hy kyk op na die vraag in Tamar se oë.
“Vir my gedagtes? Ek dink maar aan die sin van ‘n mens se lewe.”
“Oe, dis diep. Is dit nie waarmee die meeste filosowe en teoloë hulleself besig hou al vandat die mensdom sy oë oopgemaak het nie?”
“Ja, maar hulle sien dit anders as ek. Ek dink in elk geval so.”
“Waarom sou hulle?”
Nicodemus bly ‘n rukkie stil, diep in gedagte.
“Ek weet dwarsdeur ‘n mens se lewe is jy besig om spore te laat. Jou opvoeding, kinders, opleiding, werk, gemeenskap, oral is jy besig met menswees. Maar uiteindelik gaan dit oor die einde en ek praat nie net van die dood en die lewe hierna nie, maar hoe, waar en wanneer jy dood gaan. Elkeen van ons, maak nie saak hoeveel jy in die bank het nie, hoeveel eiendom, selfversekerheid, vermoëns, kontakte of wat ookal jy jou toekoms op baseer nie, elkeen van ons is bang ons eindig sonder kos of geld onder ‘n brug in die koue.”
“Dis maar baie donker, swartgallig en pessimisties, weet jy?”
“Ek weet. Maar vat nou die afgelope tyd. Kyk daar na Bartel en Maggie Myburgh. Hulle het ryk geboer anderkant Mara. Hulle moes in die vroegoggend met feitlik die klere aan hulle lyf vlug. Hy sê vir my toe hy terugkyk, het hy sy hele lewe in die kar se spieël gesien afbrand. Ons moes vir hulle kos, slaapplek en klere gee.
“Sien jy daardie maer man daar anderkant die vuur, met die suur uitdrukking op sy gesig? Hy het alles verloor, sy vrou inkluis. Hy het voorlaasjaar as ‘n ryk man afgetree. Dan is daar Oom Barney, daar anderkant die eerste tente. Hy het nog nooit werklik iets gehad nie en hy is glad nie daaroor gepla nie. So kan ek aangaan. Feitlik elkeen wat jy hier sien sal hulle lewens moet begin terugbou van niks af, sodra daar vrede kom. Eendag. En intussen is dit belangrik hoe elkeen van ons sal doodgaan.”
“En jy?”
“Ek het vir jou, my kinders en kleinkinders.”
“En jou huis.”
“Ja, en my huis. Waaraan dink jy?”
“Ek kom net agter dat soos omstandighede verander, verander mense ook. Nie net wat aanpasbaarheid betref nie, maar ook waardes, ingesteldheid en selfs liefde.”
“Hoe bedoel jy?”
Tamar wys na ‘n paartjie wat styf teen mekaar sit oorkant die oopte.
“Kyk nou vir Joppie en Arlene. Sy was nog altyd ‘n mooi, aangename en vriendelike jong vrou, met baie kennisse, vriendinne en half sorgeloos, of so het sy voorgekom. Joppie is maklik twintig, vyf en twintig, miskien dertig jaar ouer as sy. Was altyd eenkant, nie nors nie, maar nie ‘n mens-mens nie en soos jy kan sien, nie juis iets vir die oog nie. Een nag het sy benoud gebel – toe die selfone nog gewerk het – en gesê daar is mense in die huis. Rowers en hulle het die plek aan die brand gesteek. Joppie was binne ‘n halfminuut daar, net in sy slaapbroek, tekkies en ‘n groot rewolwer in sy hand. Hy het vier van die spul doodgeskiet, haar en een kind uit die brandende huis gesleep, maar haar man, Hein, was reeds dood. Van daar af is sy en hy onafskeidbaar. Onder die ou normaal, sou dit nooit gebeur het nie.”
“Hoe ken jy hulle?”
“Sy is my oorlede neef, Hein, se weduwee.”