Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Meestal roem ons op onsself wanneer ons groot hoogtes bereik het. Eintlik weet ons dat die Here daardie talente en vermoëns aan ons geskenk het maar ons dink nie veel daaraan nie en word graag voor ander mense vereer. God sê in Exodus 28 aan Moses om met die kunsvaardige mense te reël om vir Aäron heilige klere te maak waarin hy die Priesteramp sal beklee; en dan maak God dit duidelik wie daardie kunsvaardige mense is: ...wat Ék met die gees van wysheid vervul het..." Laat ons deurentyd die eer aan God gee vir al ons prestasies, dit kom Hom toe.
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (21)
083 444 7672)
Marcus is eenkant, half onder ‘n boom begrawe. Daar is nie werklik tyd vir rou nie en selfs sy mense help met die moeisame taak om petrol uit die kalfie te tap, in kanne te plaas en dan weer die gevaarlike tog na die bokant van die paadjie met die twee voertuie uit te ry.
Niemand sien kans om daar op te bestuur nie, behalwe Paul en Joe en ook hulle senuwees is later op. Uiteindelik is daar genoeg brandstof vir elke kar en met die merkies op “vol” wag hulle vir skemer, die onafwendbare smart van Marcus se vroue en kinders en uiteindelik die vroeë voor-dagbreek ontbyt.
Daar is nie genoeg plek vir die vier mense, dit is Marcus se vrou Hazel, en die twee kinders in een voertuig nie en daar moet weer geskommel word, totdat hulle al vier in die Syncro Kombi kan pas. Behalwe die baie gevaarlike paadjie na die vragmotor en die Isuzu, is daar net twee roetes. Die een is soos hulle gekom het, en die ander een slinger lui oor die bokant van die berg, totdat dit stadig afwaarts loop, tot in die vallei tussen die twee hange.
‘n Smal riviertjie kronkel in die klofie, tussen bosse, lappies bome en ‘n paar groot rotse. Waar hulle die stroom moet kruis, klim een van die manne uit – hulle maak beurte daarvoor – om deur die water te loop met kaal voete en opgerolde broekspype, om die diepte te bepaal en of daar diep gate of onderwater skerp klippe is. Nadat een van hulle ‘n slegte sny opgedoen het van ‘n ou blik of ‘n gebreekte bottel, besluit hulle om voortaan met sandale of selfs skoene deur te loop. Niemand kan bekostig om so erg gesny te word dat hy steke moet kry of bloedvergiftiging opdoen nie.
Alhoewel hulle ‘n volle dag lank ry, is hulle teen laatmiddag nog nie uit die kloof nie, wat na elke draai in die roete nog net weer aangaan, amper asof dit nooit einde gaan kry nie. By ‘n groot, sanderige kol langs die rivier hou hulle stil en begin kamp maak.
Na aandete loop Hazel na waar Paul en Hannie sit.
“Ek is sò jammer, Hazel.”
“Ja, ek is ook, Paul, maar nie om dieselfde rede as wat julle sou dink nie. Ja, hy was my man en ek gaan sy teenwoordigheid sekerlik mis, hy was die pa van my kinders, maar hy was ‘n gemene, hardkoppige en eiewillige man. Dis wat hom uiteindelik sy lewe gekos het. So, ja ek is hartseer, maar nie omdat hy dood is nie. Eerder omdat hy dertien jaar van my lewe gemors het.”
“Hoe bedoel jy?”
“Ek wou nie met hom trou nie, en ek was nie lief vir hom nie. Ek wou net wegkom van my dronk ma en my vatterige pa af. Dit het so goed gelyk aan die begin, maar ek het later besef ek is nie lief vir hom nie en in werklikheid hou ek nie eens van hom nie. Hy was seker ‘n goeie pa, maar hy was ‘n aaklige man vir my.”
“Het hy jou mishandel?”
“Nee. Dan sou ek hom lankal gelos het. Hy was as mens… afwesig, asof hy net plek opneem, maar nie daar is nie. Julle verstaan seker nie wat ek bedoel nie en en verstaan nie aldag dit self nie. Hy was ‘n leë kol wat my gekeer het dat ek gelukkig kon wees, amper soos ‘n tronk, maar sonder mure en tralies. As dit nie vir my kinders was nie, sou ek kon loop, maar… ai. Julle moet seker dink ek is van my kop af of hardvogtig of so iets.”
Sy staan op om te loop.
“Ek wens ek kon hê wat julle het. Miskien noudat hy dood is, sal ek dit kan kry.”
Hannie staan op en hou vir Hazel vas. Uiteindelik begin die vrou te snik en dis asof sy al die jare se hartseer, wat lank teruggehou is, laat uitstroom. Sy wikkel haarself los uit Hannie se greep, vee haar oë met haar handpalms af en dit maak lang, vuil strepe oor haar wange.
“Laat ek my gesig gaan was. My kinders het my nou nodig.”
*
“Julle weet, daar is geen manier waarop ons van hier af Noorde toe kan ry nie?”
Dit word duidelik dat amper die hele Suid-Afrika op pad na Afrika Noord van die Limpopo is, behalwe vir mense wat rondom Upington en ‘n paar ander onttrekpunte ingegrawe het. Maar die blankes ook en die anderskleuriges, veral swartmense, is aan die beweeg na Zimbabwe, Zambië, Botswana (al probeer hulle die golf keer), selfs Namibië en Angola, waar daar in elk geval nie kos of veiligheid is nie. Mosambiek is in algehele chaos, met Boko Haram, Hamas en ander Moslem-groepe wat daar veg om totale beheer.
“Wat stel jy voor, Diek?”
“Ek stel voor ons ry Oos, na die bokant van Natal, na Zululand en die grens naby Kosibaai. Daarvandaan boontoe en dan ry ons deur Chokwe, na Pafuri en daarvandaan na Anri se mense.
“Hoe ver is dit?”
“Ek skat so duisend vyf honderd kilometer.”
“Nou goed. Het jy al uitgewerk hoe lank gaan dit ons vat, of ons werkbare voertuie het, brandstof, kos, drinkgoed – daar is soveel dinge om aan te dink, ek kan nie eens daarmee begin nie.”
“Ons kan soveel voorsorg tref as wat ons wil, maar ons sal altyd iets kort kom. Wat ons tekort skiet, moet ons langs die pad kry. Ek weet nie hoe of waar nou nie, maar feit is ons kan nie veel langer hier bly nie en hoe langer ons bly, hoe skraler raak ons kanse om te oorleef en anderkant te kom.”
*
Net so skielik as wat hulle die kloof binnegery het, net so onverwags is hulle deur. Die hoë kranse weerskante maak algaande plek vir rollende heuwelagtigheid, en nie baie verder nie, amper onmeetbare vlaktes. Dis vlak na elfuur die oggend, ‘n mooi, wolklose dag, met ‘n sagte wind wat die geure van die veld aanbring.
“Het jy enige idee waar ons nou is, Paul?”
“Ons moet iewers in die Noorde van die Natalse Middelande wees, of selfs nog verder Noord, ek is nie seker nie.”
“Ons is skuins bokant Dundee, net anderkant Bloedrivier.”
“Hoe weet jy dit?”
“Is my kar die enigste een met ‘n GPS in?”
Die manne en vroue kyk vir mekaar, verbaas oor die oorsig wat so ‘n groot deel van hulle lewens die afgelope jare in hulle lewens gespeel het. Almal het aanvaar dat saam met die afskakel van die internet, die selfone en ander kommunikasiemedia, ook die GPS-netwerk tot niet sou gaan.
“Jy bedoel dit werk nog?”
Die besef dat hulle baie ver van hulle bestemming is, amper verder as toe hulle begin het, dring ook deur. Vir ‘n hele minuut is almal stil, besig met hulle eie gedagtes. Net die geslurp van iemand wat ‘n warm beker koffie teen sy lippe hou, is die enigste geluid.
“So, ons het weke lank aanmekaar gery om net verder weg te wees?”
“Dis so.”
“Wat maak ons nou?”
“Kyk, moenie negatief wees nie. Ons is so agt honderd kilometer van die Noorde af, ek weet, maar ons is relatief veilig as ons weg bly van die hoofweë af. Ons kan een van twee dinge doen – ons kan terugkeer na ons ou roete toe en ons pad kilometer vir kilometer probeer oopveg, of ons kan heeltemal ‘n ander een volg.”
Joe weet hy het almal se aandag nou en trek ‘n rowwe kaart van die omgewing op die sand.
“Ons kan, soos ek gesê het, Noord-Weswaarts ry en ons heel moontlik tussen die massas bevind. Dis sowat agt honderd kilometer, soos ek gesê het, miskien ‘n bietjie korter, of ons kan Noord-Oos gaan, na die grens van Mosambiek, hier heel bokant Zululand. Dis so drie honderd en vyftig of vier honderd kilometer.”
“En dan?”
“Dan deur Mosambiek, die Wildtuin en na Hannie se mense toe.”
“Hoe kom ons deur die grens by Mosambiek? Ek dink nie almal van ons het paspoorte nie”.
“Ons gaan deur die Limpopo, wat dié tyd van die jaar droog sal wees. Hulle kan nie al die deurgange dophou nie, veral nie met die onlus wat ook daar aan die gang is nie.”
“En as dit nie droog is nie?”
“Dan wag ons tot dit is.”