Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die beste leier is die een wat altyd die oorkoepelende prent kan sien. Sulke leiers fokus hulle volgelinge se aandag op die groot doelwitte en weerhou hulle so daarvan om vas te val in onbelangrike besonderhede.
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (2)
083 444 7672)
“Het jy ‘n baadjie?”
“Ek het nie gedink ek sal een nodig kry nie.”
“Komberse? Slaapsak, stewels, Kos, drinkgoed, bekers, ‘n bord?”
“Nee, ek was op pad na my ma toe, met ‘n Mercedes. Ek sou by ‘n hotel, motel of gastehuis slaap en Wimpy-kos eet, of Steers of so iets.”
“Kom ons kyk waarmee kan ons help.”
Op die ou einde is die Land Cruiser gepak met sy reissak, ‘n ou koelboks met water en aanmaakkoeldrank, ‘n paar blikkieskos, ‘n sakkie mieliemeel, een sakkie koekmeel, bakpoeier, kookolie en ‘n klompie kruie. In ‘n 25 kilogram skoon voersak is ‘n hele arm vol droë wors. Hans het ‘n ou weermag slaapsak opgeoffer en ‘n kort baadjie wat hy as soldaat gedra het, ‘n sogenaamde “bunny jacket”, ‘n paar ongebruikte stewels en ‘n groen beret met ‘n bokkoppie voorop.
Hulle loop weer voorkamer toe, waar die hele familie bymekaar is.
“Die Cruiser is vol brandstof, maar hy gaan dors wees. Jy sal iewers langs die pad nog petrol moet kry. Sê my nou, waarheen gaan jy as jy hier weggaan en dis nie Kaap toe nie?”
“Ek dink Noorde toe. Ek langs die pad gehoor daar is ‘n hele groep mense wat weerstand bied.”
“Ek dog dan jy weet nie wat aangaan in die land nie”?
“Nee, maar wat hy vir my gesê het, maak nou sin.”
“Waar hoor jy dit?”
“Een van die mense by ‘n padversperring het gesê hulle is juis op pad daarheen.”
Paul kyk ‘n ruk lank van een na die ander van die familielede. Hy probeer agterkom wat aan die gang is, maar hy kan niks vreemd sien nie.
“Nou goed. Ek verstaan dat jy die Mercedes wil hê, en ek dink jy kry die beste uit die transaksie, maar daar is iets wat nie sin maak nie. Julle is ‘n hele groep mense hier bymekaar, wat vir ‘n onbepaalde tyd moet oorleef. Julle kan net so min as ek, of vir wat dit mag beteken, enigiemand, weet hoe lank hierdie storie sal aangaan. Julle gaan moontlik elke krieseltjie kos nodig kry voordat die land weer na normaal gaan terugkeer. En intussen gee julle vir my, ‘n vreemdeling, baie van julle kos, sonder om iets terug te kry. Waarom?”
Die groep kyk na mekaar en dan praat Hans.
“Ons het ‘n probleem. Hannie moet ook daar in die verre Noorde kom. Sy sal jou later verduidelik waarom. Jy kan nou maklik vra waarom neem nie een van ons haar daarheen nie, en glo my, ons het al oor en oor hieroor gepraat, maar nie een van ons kan dit doen nie. Ek weet jy is nie op pad daarheen nie, want jy wou jou ma gaan soek in die Kaap. Jy het gesê jou boetie sal haar gaan haal. Die probleem is waarheen? Waarheen gaan ‘n mens gedurende so ‘n tyd soos hierdie? Jy het mos gepraat van die Noorde. Waar in die Noorde?”
“Ek weet nie. Anderkant Pietersburg, dink ek.”
“Was jy al daar?”
“Waar die klomp mense is? Nee, ek weet net van hulle, maar ek was nog nie daar nie.”
“Nee, ek bedoel Pietersburg.”
“Ja, ek was daar saam met my ouers, maar dit was lank gelede. Ek onthou dis ‘n paar honderd kilometer anderkant Pretoria”.
“Jy weet jy sal nie met die hoofpad, die N1, kan ry nie?”
“Ja, ek besef dit en ook nie ander groterige paaie nie.”
Hans sit agteroor en kyk vir die plafon.
“Paul, het jy enige plan gehad, behalwe om net anderkant Pietersburg te kom? Het jy aan die gevare gedink? Jy het nie eens ‘n wapen gehad nie. Waar sou jy oornag, of dink jy dit gaan sommer net ‘n paar ure se ry wees?”
Hy kyk na Hannie, wat eenkant sit.
“Hannie, kom ons wag vir iemand anders. Ek dink Paul is eerlik en basies ‘n goeie ou, maar ek dink nie hy gaan veel beteken nie. Asseblief, my kind – kom ons wag. Iemand sal wel opdaag, of miskien moet jou boetie Riaan jou maar wegvat.”
“Nee. Ek wil nie wag nie en julle het vir Riaan hier nodig. Ek ken vir Paul net so lank as wat julle doen, maar iets sê ek kan hom vertrou. Die groot vraag is of hy vir my kans sien?”
“Julle weet ek sit hier, nê?” sê Paul verleë.
“Ja, askies Paul. Kan ek asseblief saam met jou gaan? Ek belowe ek sal my gedra.”
“Ek kan julle nie glo nie! Hoe kan julle vir my, wat vir alle praktiese doeleindes ‘n vreemdeling is, vra om julle weerlose dogter of suster saam te vat, wie weet waarheen en hoe?”
Vir ‘n oomblik is daar stilte in die woonkamer en dan bars almal saam uit van die lag.
“Wat is dit? Wat het ek gesê wat so snaaks is?”
“Jy het gesê Hannie is weerloos. Daar is baie maniere om haar te beskryf, maar ‘weerloos’ is nie en van hulle nie. Sy is ‘n kampioenskut, sy ken selfverdediging en sy is landloop-fiks.”
Paul kyk opnuut na Hannie, maar al wat hy sien is ‘n skraal, mooi vrou met donker hare en blou oë.
“Julle speel seker.”
“Wel, jy kan iets probeer, maar moenie hier kom huil nie.”
*
Dis nog donker as Paul die Land Cruiser by die hek uit bestuur. Hannie is warm aangetrek en sit met ‘n geweer langs haar op die sitplek. Haar bagasie is saam met syne agterop die voertuig onder ’n seil toegemaak. Hy kan nog nie aan die idee gewoond raak dat die meisiekind so ‘n wilde vegter is as wat die spul sê nie, maar hy wil nie vir haar enige rede gee om dit te bewys nie. Hy ry stadig tot by die grootpad en draai regs, in die rigting van Newcastle. Hy kom gou agter dat die voertuig baie kragtig is, maar hy ry steeds versigtig. Hy het geen idee waar hy brandstof kan kry nie en hy weet nie hoe ver die tenk petrol sal hou nie.
“Watse geweer is dit?” vra hy, meer om sy ongemaklikheid te verberg as wat hy werklik belang stel.
“Dis ‘n Ruger Model 44, wat ook genoem word ‘n “Deerfield’ karabyn. Hy vat vier en veertig Magnum ammunisie, dieselfde as my rewolwer.”
“Jou rewolwer?”
“Ja, Paul, ek dra altyd een. En ‘n mes. Maar jy kan ophou om so ongemaklik te wees – ek is regtig nie so erg as wat my mense uitmaak nie; dis net om myself te verdedig, nie om moeilikheid te maak nie. Vertel my eerder van jouself. Jy is nie getroud nie, of ‘n meisie iewers?”
“Nee, ek was verloof, maar sy is dood aan hartversaking, iets wat ons nie een verwag het nie. Sy was maar vier en twintig. Dit was ‘n hele paar jaar gelede.”
“Was sy baie mooi?”
“Ja, sy was. Sy was klein en effens mollig, blonde hare en groen oë, het baie gelag en elke mens rondom haar laat goed voel.”
“Ek is jammer.”
“Dis okay. Ek het geleer om daarmee saam te leef.”
Daar is stilte totdat hulle onverwags by ‘n T-aansluiting kom. Voor hulle is ‘n groot groen padbord wat met ‘n pyl na regs wys: “Newcastle”.
Dis amper vreemd om weer teerpad te ry. Die groot, rowwe bande raas en fluit op die teer, maar Paul kan die spoed opstoot en hy voel later dat as hy so tussen negentig en honderd kilometer per uur ry, die kar omtrent op sy beste voel. Die toere is nie baie hoog nie en die wind en koue min of meer hanteerbaar. Hannie het haar twee voete op die paneelbord gesit en Paul merk op haar voete is skraal binne die opgerygde stewels. Hy aanvaar so, want die stewels is maar klein, hy skat so nommer vier of vyf.
Na ‘n entjie is daar ‘n stywe opdraand en die groot enjin voel dit nie eens nie, maar amper teen bo sien hy ‘n aantal voertuie wat van die pad afgetrek het, die heiningdraad geknip het en teen ‘n smal, kronkelrige pad langs die teer staan. Daar is ‘n hele aantal mense rondom die voertuie en as hy naderkom en effens snelheid verminder om te sien wat aangaan, loop een van die mans na die kant toe en waai met sy arms en hande, amper soos ‘n man wat die vliegtuie wys waar om te parkeer. As hy sien hy het Paul en Hannie se aandag, wys hy vorentoe, oorkant die bult en maak dan ‘n snybeweging oor sy keel.
“Wat probeer hy sê?” roep hy na Hannie se kant toe.
“Ek dink hy wys daar is moeilikheid vorentoe, of dat die pad af is; ek is nie seker nie, maar ek dink jy moet stadiger ry.”
Sodra hulle bo-op die bult kom, hou Paul stil, nie net omdat hy luister na die waarskuwing nie, maar omdat die pad letterlik onbegaanbaar is. Iemand het ‘n TLB in die hande gekry en ‘n diep, breë sloot oor die teerpad gegrou, wat weerskante met brandende bande en stompe versper is. Die uitgebrande wrakke van twee vragmotors en drie kleiner voertuie staan naby die sloot. Dis duidelik aan die lang remstrepe dat die twee lorries nie betyds kon briek nie en het in die betogers vasgery. Rondom die padversperring, so ver as wat hy kan sien, is daar letterlik honderde, miskien duisende mense wat spring dans, kieries, byle en stokke swaai en duidelik die hele petalje geniet.
“En nou?”
Paul sit vir ‘n volle minuut stil, terwyl hy na die mense en hulle dade voor hom kyk. ‘n Warboel gedagtes loop deur sy kop. Is daar nie onder hulle die besef dat niks goeds hiervan sal kom nie? Die lorrie wat jy met vreugde vandag verwoes het, is dalk net die een wat brood of meel, water of blikkieskos by jou naaste winkel moes aflewer. Die drywers wat jy uitgepluk en doodgeslaan het, het ‘n familie gehad om te onderhou, anders sou hulle nie in hierdie doodsgevaarlike situasie nog die lorries bestuur het nie. Wat gaan julle doen as julle moeg en honger en dors vanaand van uitputting omval? Wie gaan julle versorg? Die vroue onder julle – wie gaan keer dat die manne se opgewonde drifte nie vanaand op julle uitgehaal gaan word nie, of maak dit nie saak nie?
Paul antwoord nie, nie uit ongeskiktheid nie, maar bloot omdat hy nie sy eie stem vertrou nie. Hy draai die Land Cruiser om en ry terug na waar die ander voertuie langs die pad staan. Die heining is platgedruk op ‘n plek en die voertuie se spore loop daaroor, die hoogtetjie in. Paul ry tot naby die agterste voertuig, ‘n enkelkajuit Toyota bakkie, vat sy geweer en klim uit. Hy gaan nie weer ‘n treë beweeg daarsonder nie.