Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hulle wat nie bid wanneer die son skyn nie, sal ook nie weet hoe om te bid wanneer die wolke saampak nie. As jy in goeie tye getrou in jou verhouding met God wandel, sal die wolke nooit so dik pak dat jy nie sy Ligstrale daardeur sal kan sien nie.
BROKKIES UIT DIE BOEK KLEINSKEER (30)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die mens is in inherent ‘n progressiewe wese. Dis nie net omdat hy werk voortdurend makliker wil maak nie, maar ook meer effektief. Tereg is daar al gesê jy moet altyd ‘n taak vir ‘n lui man gee, want hy sal iets ontwerp wat dit makliker en vinniger sal maak. Saam met nuwe uitvindings kom ook noodwendig vooruitgang, nie net in hulpmiddels nie, maar ook denke.
Die metode om klippe te gebruik om skuilings te bou in plaas van stokke en velle en water te lei, was een van die groot faktore wat daartoe gelei het dat mense in stede veilig kon bly, eerder as in die veld of in afgeleë huise.
Soos die inwoners van nedersettings en dorpe meer word, het dit geverg dat daar iemand sou wees om hulle te beheer en leiers is aangestel, aangewys en nog later verkies. Orde moes gehandhaaf word en daarvoor is die sterkste, mees bekwame of gevreesde man en manne aangestel. Mettertyd sou hierdie man(ne) begin wonder waarom hulle nie die leiding kan neem nie en intellek het plek gemaak vir spierkrag. Leierskap was nie meer ‘n diens aan die gemeenskap nie, maar ‘n posisie wat die leier en sy kaders bevoorreg het.
Die moderne samelewing is grootliks gebasseer op die stryd tussen die konserwatiewes, wat sou wou sien dat stelsels wat in die verlede gewerk het, bewaar moes bly en aan die ander kant die progressiewes, of liberales (vrydenkers) wat die bestaande stelsel eerder wil opoffer vir iets wat moontlik sou kon werk. Natuurlik is daar baie meer faktore wat in die kookpot saamgegooi word, maar die uiteinde is dat elkeen net die beste vir homself en sy naaste vertrouelinge wil hê. Vir die konserwatiewes werk die bestaande stelsel en vir die progressiewes ‘n nuwe en dikwels onbeproefde een.
Die natuurlike verloop van die samelewing is egter sodanig dat daar altyd na iets teruggekeer word. Reeds 5000 vC het die Chinese musiek kon skryf, ‘n vaardigheid wat mettertyd verlore geraak het. Die Egiptenare het, met die bou van die piramides en die sfinks ingenieursvaardighede bemeester wat vandag nog ‘n blote raaisel is. Einstein het gesê hy weet nie waarmee die Derde Wêreldoorlog geveg sal word nie, maar die een daarna met stokke en klippe.
Dit lyk dus uit die gekiedenis dat die mensdom se lot dieselfde as Icarus sal wees, dat hy te hoog sal wil vlieg en met gesmelte vlerke op die grond val. Hoe hoër die vlug, hoer harder die val en hoe meer progressief hy in sy denke raak, hoe meer primitief in sy optrede. Die afgelope twee jaar se gebeure in Oos-Europa en in Gaza is ‘n bewys daarvan.
In Suid-Afrika, wat soos die res van die wêreld hoogs afhanklik geraak het van fossielbrandstof en met die fokus op die opwekking van elektrisiteit om ‘n hoë beskawingsvlak te handhaaf en progressief te dink, sal die ontneem daarvan die terugkeer na primitiewe oorlewingsdrange eensklaps teweeg bring.
*
Beweeg, beweeg en nogmaals, beweeg. Dis natuurlik waar dat beweging makliker raakgesien kan word as wanneer ‘n objek doodstil sit of lê, maar in hierdie geval lê veiligheid, of ‘n greintjie daarvan, in beweging.
Die Berg is baie ongelyk en besaai met lae struike, geharde bome, en natuurlik klippe, rotse en afgronde. Iemand wat die plek nie ken nie, kan homself maklik laat inperk tussen hoë, steil rotse en kranse of afgronde aan die ander kant. Nie net put dit ‘n mens se liggaamskrag nie, maar ook is daar voortdurend die gevaar om te struikel of enkels, knieë en gewrigte te verstuit as jy ‘n val sou keer. Hoe meer ‘n mens moeg word, verslap nie net jou waaksaamheid nie, maar ook is jou gang meer opsigtelik en hoorbaar. ‘n Uitgeputte mens sal nie sy voete hoog genoeg optel nie en klippe noodwendig rondskop. Iemand op jou spoor hoef net stil te staan om te hoor waar die groep beweeg.
Natuurlik buit Maya hierdie situasie uit, waar sy voor die manne uitbeweeg, moeiteloos en geluidloos, en in plaas van moeg word, bevind sy haarself in haar element, met al die faktore teenwoordig wat haar are laat bruis van opwinding. Nie net leef sy saam met die omgewing en natuur in plaas van daartéén nie, maar sy word amper deel daarvan. Daarby kan sy haar fiksheid en paraatheid nou optimaal aanwend en les bes, die wete dat sy met ‘n uiters gevaarlike speletjie besig is, verhoog die opwindingsvlak tot ‘n klimaks.
Weer en weer lei sy die agtervolgers in ‘n hinderlaag, waar sy skuiling, hoogte en vaardigheid optimaal aanwend. Alhoewel die Suid-Afrikaanse Weermag Spesiale Magte die room van die leër is, waar slegs die bestes kwalifiseer om valskerm te spring en slegs die mees bekwames uit hulle geledere spesmagte keuring sou deurloop, waaruit natuurlik net ‘n klein persentasie uiteindelik die reg het om deel van hierdie elite-eenheid te word, bly hulle steeds mens. Ja, taai en gehard, fiks en met wat meeste oud-soldate, hetsy dienspligtiges of staandemag, “vasbyt” sou noem, is daar steeds onder alles, die menslike vrees vir die dood. En die dood het deel van hulle geword, met Maya Pentz wat geen misstap, onoplettendheid, ongedissiplineerde oprede of ongeërgdheid onuitgebuit laat nie.
Waar mense tot die besef gebring word dat die dood ‘n nabye moontlikheid word, beweeg die brein verby waaksaamheid na vrees en die groep soldate wat op Skeer, Arno en die ander se spoor loop, is nou baie bang. Daar is min dinge wat soveel vrees so vinnig kan inboesem as ‘n skerpskutter, ongesien, ongehoor, wat ter enige tyd jòù binne hulle kruishare kan kry nie.
*
Net buitekant Phalaborwa hou ‘n drietal luukse weermagsedanmotors by die hoofkwartier van kolonel Lesiba stil. Die drywer van die voorste Mercedes hardloop om die motor as dit tot stilstand kom om die deur oop te maak en te hou vir die man wat uitklim. Hy is oorgewig en lomp, maar die drie nege-punt sterre van ‘n Luitenant-generaal bokant die gekruisde swaard-en-skede dra nòg meer gewig as sy lyf. Feitlik onmiddellik, as hy moeisaam uit die lugversorgde kajuit van die motor kom, oorval die uiterse hitte van die omgewing hom en hy begin sweet.
Nog voordat hy by die trappe na die gebou kom, moet hy sy voorkop en gesig met ‘n sweetdeurweekte sakdoek afvee. Hy hoop die vergadering, of te wel konfrontasie, gaan nie lank aanhou nie en hy wens hy het nog ‘n sakdoek of twee saamgebring. Of, soos dit nou gaan, dalk eerder ‘n handoek. Hy is dankbaar dat hy na hierdie vergadering by ‘n duur gastehuis in die dorp kan tuisgaan, waar daar sekerlik ‘n baie effektiewe lugreëling sal wees. En dalk ook ‘n swembad. Onwillekeurig dink hy daaraan dat die beste gastehuis ‘n paar maande gelede afgebrand het, en nog nie herbou is nie.
Generaal Petros Mbejane is nie meer jonk nie en het inderdaad sy konneksies gebruik om in sy pos aan te bly, reeds nadat hy aftree-ouderdom bereik het. Hy het nie werklik die geld nodig wat hy “verdien” het deur sy rang nie, maar hy hou van die mag wat daarmee gepaard gaan. Hy hou van die feit dat almal hom salueer, voorrang in verkeer en op die snelweg gee aan sy ampsmotor, die lyfwagte, drywer en die vrees wat sy teenwoordigheid inboesem by sy ondergeskiktes.
Dit kon dalk anders wees indien hy deur die range moes gaan, soos ‘n normale SA(N)W soldaat, maar hy was deel van die geïntegreerde magte, en met klem, vanuit mKhonto weSizwe, oftewel die ANC se gewapende vleuel, wat reeds in 1960 deur sy edele Nelson Mandela op die been gebring is, met die uitsluitlike doel om blankes te terroriseer en nie te veg nie. Die feit dat Petros nie vorming of offsiersopleiding deurloop het nie, is sprekend van sy optrede.
Dit alles ten spyte, het hy ‘n brief in sy binnesak van die hoof van die leër self, en mede-onderteken deur die staatspresident, Cyril Rmaphosa. Daar is ook ‘n meegaande, bevestigende brief, opgestel (in baie swak Engels) deur die sekretarisgeneraal van die ANC, Fikile Mbalula.
Petros staan opsy as sy adjudant die bevelvoerder van die eenheid se kantoordeur sonder aankondiging of enige formaliteit oopmaak. Die kolonel agter die lessenaar kyk gesteurd op. Hy het pas die berigte ontvang van dit wat met sy kompanie uitgesoekte manne gebeur en is natuurlik hoogs ontsteld daaroor. Hy gee nie werklik om vir die lewensverlies nie en het inderdaad geen werklike kontak met die onderoffisiere of troepe gehad nie, maar slegs met die senior offisiere, en daarom is hy nie oor hulle gesteld nie, maar hy besef dat die mislukking van die operasie – en dit blyk een te wees – negatief op hom en sy leiding gaan reflekteer. En hy is nie “connected” nie.
Hy vlieg op as hy die generaal in sy kantoor sien binnekom. Hy salueer lomp, die feit dat hy nie ‘n hoofdeksel op het nie, vergete, asook die gebruik dat daar nie binne kantoorure in die HK gesalueer word nie.
“Good morning, Sir!”
“At ease, Colonel.”
“How may I be of service, Sir? vra hy, eensklaps bewus daarvan dat hierdie nie noodwendig ‘n hoflikheidsbesoek is nie. Hy wonder of hy tee moet bestel.
“Colonel, I am not here to make chit-chat. I am here to relieve you of your command!”
Hy haal die twee briewe uit sy binnesak en as hy hulle tevoorskyn bring, besef hy hy moes dit eerder in ‘n aktetas of iets gebring het. Dit was egter vir hom lekker om hierdie bitsige en kursiewe briewe aan sy lyf te voel. Sy deurnat-beswete tuniek het die briewe deurtrek met liggaamsweet en die koeverte, alhoewel indrukwekkend met stempels en logo’s op, is klam en verkreukeld. Die ink bo-op is gesmeer en hy weet dat die handtekeninge onderaan elkeen ook so sal lyk. Nogtans handig hy dit aan die ongelukkige kolonel, wag dat hy dit oopmaak en lees, en praat dan weer.
“Colonel, you are ordered to present yourself to the general commanding Northern Cape Command tomorrow morning. Would you be so kind as to remove all your belongings from this office and your quarters? And Colonel – when you leave, do it with your own private vehicle and not the official one. I thank you. You may leave.”
Voordat Petros die gebou verlaat, haal sy adjudant uit ‘n aktetas die vlerkies en weerligbeslaande swaard, die kentekens van nie net ‘n valskermsoldaat nie maar ook spesmagte, en heg dit aan die generaal se tuniek. Petros Mbejane is nou ‘n “operator”.