Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die graf is 'n deurgang; dit gaan toe op die skemer en maak oop op die dagbreek. Jy gaan nie na die donkerte toe nie want God is lig. Jy sal nie alleen wees nie want God is by jou. Dit is nie 'n onbekende land nie want Jesus is daar.
BROKKIES UIT DIE BOEK: EINDSPEL (1)
Daar is ‘n ou gesegde wat lui: “alle paaie lei na Rome”. Nie na die stad nie, maar inderwaarheid na die Rooms-Katolieke Kerk. Dit het mettertyd ‘n spreekwoord geword, met ‘n geheel ander betekenis. Soms werk dit maar net so dat meer as een mens of groep mense die gedagte kry dat dit op ‘n sekere plek veilig gaan wees.
In hierdie geval het dit beteken dat “Rome” eerder die voet van die Drakensberge is, waar dit uiteindelik doodloop naby Tzaneen, tussen Pietersburg en die Noordelike Limpopo-vlakte. Die plaaslike naam vir die plek is die “Wolkberge”.
Hier is die berge hoog, ruig met bloekom- en denneplantasies, verwaarloosde teeplantasies, ‘n hotel, gastehuise, damme, en langs die pad, etlike padstalle en restourante. Die bloekombome is baie hoog en daar is selfs gerugte dat een van hulle die tweede hoogste boom ter wêreld is, met net die enkele rooihoutboom in Amerika wat hoër is.
Hier kan ‘n mens maklik wegraak en menige voetslaner het in die verlede tussen die bome verdwaal.
Arndt loop agter Gab aan. Na ‘n halfuur is hy nie meer seker waar hy is nie, na watter kant toe die grootpad lê nie en net aan die ligging van die son wat nou huiwerig deur die wolke probeer skyn, kan hy min of meer bepaal watter kant noord moet wees.
‘n Uur en ‘n half later hoor hy die gekabbel van water. Hulle loop versigtig om nie te gly op die dik mat van blare, klein takkies en los grond nie, teen ‘n steil helling af. Voor hulle is ‘n smal, vlak stroompie water en ‘n honderd en vyftig meter na hulle regterkant toe staan ‘n soort weergawe van ‘n Amerikaanse houtstomp-huis, oftewel ‘n “log-house”. Die plek lyk so idillies dat Arndt ‘n hele minuut stilstaan en daarna kyk, voordat hy nader loop, agter Gab aan.
“Kan jy visvang, Boetman?”
Sodra hulle binne-in die huisie is, praat Gab:
“Luister mooi. Hier is reëls. Die eerste een is dat ek jou nie hier wil hê nie en daarom kan ek jou enige tyd uitskop as ek so voel. Tweedens, niks geraas nie, nie ‘n gebabbel oor jou hartseer en tragiese verlede nie; ek wil niks daarvan weet nie. Ek is nie ‘n kop-kwak nie. Geen skietery naby die huis nie. As jy met daardie dingetjie wil gaan jag, kan jy. Daar is bosbokke en tarentale en bosvarke, alhoewel ek nie sommer met ‘n punt twee-twee hulle sal aandurf nie. Maar niks van ‘n skoot aftrek binne drie honderd treë van die huis af nie.
“Hier is twee visstokke en daar is vis in die spruit, maar wanneer ek visvang, wil ek nie ‘n geluid hoor nie. Hier is kos, maar ek het nie gaste verwag nie, so ons rantsoeneer alles. Sodra jy onwelkom voel, voel vry om jou geweer te vat en te loop. Het jy my?”
Op ‘n baie rustiger trant praat hy weer.
“Hier is vir jou ‘n bed. Dis nie veel nie, maar sag genoeg, en dis beter as om buite te slaap. Hoe sou jy die winter oorleef het? Dit kan baie koud word hier in die berge. Julle siwwies dink die wêreld skuld jou ‘n lewe.”
Wanneer Arndt die binnekant van die huisie bekyk, is daar net die allernodigste wat ‘n mens nodig het om te oorleef. Die kos is alles uitgesorteer en in rakke teen die muur geberg, die man se klere is min, maar doenlik. Daar is net een half-vergeelde foto van ‘n groep manne teen die muur. Die onderskrif dui aan dit was ‘n seksie Selous Scouts van die ou Rhodesië en langs dit een van die SAS. Wanneer hy die manne een-vir-een deurkyk, is daar ‘n sterkgeboude man in die agterste ry.
“Second Lieutenant Gabriël Oost.”
Wanneer Arndt omkyk, sien hy vir Gab vraend na hom kyk. Van die fris, gespierde jongman is daar net ‘n seningrige, ouer man, met min hare, grys snor en verder skoongeskeerde gesig.
“Ja, dis ek. Baie, baie jare gelede. Voordat Vorster ons uitverkoop het. Toe ons nog geveg het vir ‘n bestaansreg. Lank voordat De Klerk julle uitverkoop het. En nou sal ons die fight voortsit.”
“Hoe oud ìs jy dan?”
“Jou pa sou vir my ‘Oom’ moes sê.”
*
“Ek wil nou nie nuuskierig wees nie, maar wat is jou naam, dame?”
“Dame? Dis baie formeel. My naam is Anne, kort vir ‘Mary-Anne’ Patton. En nee, die ou generaal is nie familie nie, nie eens verlangs nie. En jy is?”
“Len Groenewald. Die ou man – vanwaar ken jy hom?”
“Nee, ek ken hom glad nie.”
“Nou waarom het jy agter hom aangekom. Dit wil sê, agter ons twee aan?”
“Ek was nog nooit so bang nie. Nie een maal in my lewe nie. En ek het bloot saamgekom omdat dit vir my gelyk het na die beste plan op die oomblik.”
“As jy dink jy het verkeerd gemaak, kan ek jou terugvat na jou huis toe?”
Sy huiwer voordat sy antwoord.
“Sê my eers, wat dink jy gaan aan in ons ou landjie en wat gaan gebeur?”
“Weet jy, ek het minder as ‘n maand gelede dit breedvoerig vir my buurman verduidelik. Hy het my nie geglo nie, sy skoonpa is intussen beroof en so geslaan dat die ou man later dood is. Net daarna het buurman self onder inbrekers deurgeloop. Maar ja, in kort is al die land se geld gesteel, die skuld en verpligtinge het te veel geword, die sogenaamde leiers van die land is geteiken deur sanksies, maar dit weet jy alles seker?”
“Ja, maar gaan aan.” Sy het effens herstel van die skok en die bloed kom geleidelik terug in haar mooi gesig.
“Selfs die Bybel sê wanneer daar wanorde is, gryp almal na die koningskap. In ons geval het elke partyleier, groot of klein, hulleself as president probeer verklaar en toe die ekonome die boeke nagaan, het hulle besef die diefstal en korrupsie was veel erger as wat hulle verwag het. Die polisie het ‘n roofbende geword en daarom moes ons vlug uit die Wimpy uit. In kort, die hele spul het nou uitmekaar geval en glo my, die honger, dors en desperate mense gaan die strate invaar en vat wat hulle kan. Niemand sal hulle lewe dan seker wees nie.”
“Waar het jy geleer om so raak te skiet?”
“Ek was lank ‘n staande-mag weermag offisier. Net voordat ek bevordering sou kry na kommandant, wat nou bekend staan as luitenant-kolonel, het ek bedank, want ek het gesien waarheen dit gaan. Ek het gaan studeer en het vir BP gewerk in Midde-Afrika, tot hulle ons blankes daar uitgeskop het binne vier en twintig uur. Die afgelope jare het ek gewerk as ‘n menslike hulpbron kontrakteur, hier in ons dorp.”
“Wat beteken dit?”
“Ek het mense gehelp om werkers te laat gaan en het werkers gehelp as hulle onbillik behandel of afgedank is.”
Anne is vir ‘n hele paar minute stil, soos sy die werklikheid van die situasie inneem. Sy het nie geweet toe sy uit die Kaap Limpopo toe gekom het, dat sy haarself in hierdie situasie gaan bevind nie. En die geskietery in die Wimpy dring nou eers in sy volle werklikheid tot haar deur.
“Jy weet, Len, ek het soos jy maar gehoor en gelees van die mense wat so lostrek in restourante en kerke. Ek het nie besef hoe erg dit is nie. Ek weet nou eers hoe na ek aan die dood was. As dit nie vir die ou man was nie, was ek sekerlik dood. En ek is nie juis reg om te gaan nie.”
“Dis die waarheid, Anne. Niemand van ons is ooit reg daarvoor nie, maak nie saak hoe oud of siek jy is nie. Ek het al meer as een maal by die dood omgedraai en ek praat nie eens van vandag nie. Ek het hartoperasies gehad en selfs ‘n beroerte, maar my tyd was nie verby nie. Ek was ook nie gereed vir hierdie aanval vandag nie en ek sou ook dalk dood gewees het as die ou man nie losgetrek het nie.”
Anne laat sak haar kop en vryf oor haar gesig, voorkop en hare, bloot asof sy haar gedagtes wil orden.
“Waarheen gaan ons?”
“Berge toe. Magoebaskloof se kant toe, as ons daar kan kom. Daar is dalk baie hindernisse in die pad voor ons daar kom.”
“Hindernisse?”
“Dalk padblokkades. Die polisie weet teen hierdie tyd hoe my kar lyk en daar kan selfs mense wees wat van ek en jy en die ou man beskrywings kan gee.”
“Maar... ek het niks gedoen om voor bang te wees nie. Ek was maar net daar. Ek het nie geskiet of enigiets nie. Waarom sal hulle vir my soek?”
“Want jy het weggehardloop en in my kar geklim. Jy is by assosiasie skuldig, of so sal hulle dink.”
Anne se stem is na aan paniek.
“Maar hoe kan dit wees? Ons het net ‘n halfuur gelede nog in vrede gesit en hamburgers geëet. Wanneer het al hierdie dinge gebeur?”
Net anderkant die afdraai na Soekmekaar flits die ou man sy hoofligte en wys Len moet aftrek. Hy klim uit en kom na die Kia toe.
“Hallo, meneer. Dit was nou bietjie sleg, nê. Voor ons verder gaan, het jy ‘n roete, bestemming en plan?”
“My naam is Len en dis Anne. Ek het ‘n plan gehad, voordat hierdie skietery gebeur het. Ek was in elk geval gepak, want ek weet hier kom groot gemors. Wat nou by die Wimpy gebeur het, het ek nie verwag nie, maar dis nie heeltemal vir my vreemd nie. Ek het nie ‘n vaste plan nie, maar ek weet van ‘n huis wat een van my vriende gebou het naby Haenertsburg, diep in die woude. Ek was juis op pad daarheen, maar nie met so ‘n groot spoed nie.”
“Ja, wel, dinge gebeur nie altoos soos ons beplan nie, soos my pa gesê het. In elk geval, my naam is Herrie Maritz. Kan ek saam met julle gaan?”
Dit was ses weke gelede.