Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar kom ’n dag van afrekening:“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het…” (2 Kor.5:10). Daar is ’n verband tussen wat ons op aarde doen en ons hiernamaalse verblyf. ’n Mens kan nie ergerlik leef, maar verwag om op ’n verebed die hemel ingedra te word nie!
EK HET GESTERF ! (13)
Hierdie naby-dood ervaring is in Afrikaans vertaal en neergeskryf
deur Anita Joubert
Jesus het in my oë gekyk en gesê: “My volgelinge dink die verassing van die liggame van die mense vir wie julle lief is, is sommer net ʼn keuse van die tyd en kultuur waarin julle leef.”
Ek het nooit kon dink dat Jesus Christus op ʼn dag self vir my hierdie vraag sou vra nie. Hy het gesê: “ Kom ek wys vir jou wat in die geesteswêreld gebeur.”
Sy woorde het my geruk, want in al die jare wat ek getrou kerkdienste bygewoon het, het ek nog nooit enige prediker hoor sê dat verassing iets met die siel, die liggaamlike opstanding of ʼn mens se ewige bestemming te make het nie.
My naam is Daniël, en ek het grootgeword in ʼn fatsoenlike Christenfamilie in die Amerikaanse platteland. My vader was ʼn skrynwerker, my moeder ʼn verpleegster en ek is grootgemaak in die gebruik om Sondae kerktoe te gaan, te bid voor ek gaan slaap en ons het die bekendste Bybeltekste in die Sondagskool gememoriseer. Ek het in God geglo, ja, maar as ek eerlik moet wees, was my geloof oppervlakkig.
Ek het gedink dat om ʼn goeie mens te wees, genoeg was. Ek het aangeneem dat die dood vir my nog ver was – ʼn probleem wanneer ʼn mens oud word en nie vir iemand soos ek in die fleur van sy lewe nie. Wat dan nog van wat met ʼn mens se liggaam na sy dood gebeur en of hy veras of begrawe moet word? Ek het nie vir ʼn sekonde daaraan gedink nie.
Toe het my dood vinniger gekom as wat enigeen ooit verwag het. Een doodgewone aand, het ʼn knellende pyn my bors vasgegryp en my teen die vloer gegooi. My vrou se histeriese stem het weerklink terwyl sy ʼn noodnommer gebel het. Die res van die gebeure wat ek kan onthou, was die verblindende rooi en blou ligte van ʼn ambulans, paramedici wat hard op my bors gedruk het en die hulpelose onsteltenis in my kinders se oë.
In die noodeenheid het dokters rondgeskarrel en hul bes probeer, maar ek het gevoel hoedat die lewe uit my uitsyfer. Masjiene het gebiep, verpleegsters het geskreeu, maar alles het vervaag in ʼn algehele stilte.
Toe het dit gebeur – ek het gesterf. Ek het my liggaam verlaat en in ʼn geesteswêreld ingegaan wat meer duidelik en ontstellend werklik was, as die aardse lewe.
In daardie plek, agter die sluier, het ek vir Jesus Christus ontmoet. Hy het nie na my toe gekom met sagte oë en vae gerustellende woorde nie. Hy het gekom met die waarheid: ʼn deurdringende, onbetwisbare waarheid.
Dít wat Hy aan my geopenbaar het oor verassing, laat my nou nog bewerig voel. Dit wat ons doen met ons liggame na die dood, is nie skadeloos nie; dit is nie neutraal nie; dit is nie so ʼn persoonlike besluit as wat daar vir ons vertel word en wat ons glo nie.
Daar is ʼn skokkende, geestelike dimensie, ʼn waarheid wat deur die moderne kerk vermy word en Jesus het aan my die opdrag gegee om hierdie waarskuwing aan sy kerk terug te bring.
Ek het buite my liggaam gestaan en kyk hoedat dokters veg vir ʼn liggaam wat nie meer myne was nie. My vrou se snikke het deur die hospitaalkamer weerklink, tog het dit gevoel asof ek van hulle geskei was deur ʼn onsigbare muur waardeur ek kon sien. Ek was egter nie meer deel van hulle wêreld nie.
Toe het alles verdwyn en iets onsigbaar het my in ʼn ander dimensie ingetrek. Ek was nie meer in die hospitaal nie. Ek het deur ʼn tonnel van gewigloosheid en stilte, sonder enige moeite, beweeg.
Skielik was daar ʼn lig voor my. Dit was nie ʼn gewone lig nie, maar ʼn skitterende lig met ʼn Teenwoordigheid. In daardie heerlikheid, het ek vir Jesus gesien. Sy gesig was nie soos die prentjies wat ons dikwels sien nie. Dit was onbeskryflik, vorstelik, tog sag en teer, brandend van liefde en gesag. Sy oë kon dwarsdeur my kyk. Op daardie oomblik het ek gestroop gevoel van alle voorgee, valsheid en grootdoenerigheid. Daar was geen goeie dade om agter te skuil nie, geen verskonings, geen maskers. Ek het voor die Koning van die konings gestaan – en sy stem! O, sy stem! Dit het geklink soos bruisende waters, tog was dit só intiem soos ʼn fluister in my borskas.
Hy het gesê: “Daniël, daar is iets wat my mense nie vestaan nie. Dit is iets wat geen prediker waag om oor te praat nie, tog bedroef dit my hart geweldig. Kom ek wys vir jou wat dit is.”
Die volgende oomblik het die toneel verander. Wat ek gesien het, het my tot in my diepste wese geskud. Dit het my meer geruk as die realiteit van die dood self.
Jesus het begin om vir my die weggesteekte geestelike werklikheid oop te maak van dit wat ons ‘verassing’ noem. Dit is die waarheid – só ontstellend, só ver van wat daar vir ons gesê is. Ek het op daardie oomblik geweet dat my visioen nog slegs begin het.
Hy het sy hand na my toe uitgesteek en skielik het ek visioene gesien. Die eerste een was van vuur, ʼn liggaam wat deur vlamme verteer word en tot as verbrand – binne enkele oomblikke. Ek het geweet dit is verassing. Die familie het daar rondom gestaan en huil, sommige het getroos gevoel deur die gedagte dat dit darem waardig was.
Tog, soos wat die vlamme die vlees verteer het, het ek iets anders gesien – donker skadu’s, geestelike wesens wat bymekaar kom, vol vreugde asof die gebeurtenis vir hulle ʼn deurgang gegee het. Dit was afgryslik.
“Here,” het ek gefluister, “wat sien ek?” Jesus se oë het my deurdringend aangekyk. “My mense, my volgelinge, is mislei om te dink dat die liggaam betekenisloos is wanneer die gees dit verlaat het. Het Ek nie vir Adam uit stof geskep nie. Het Ek nie my asem in sy liggaam ingeblaas en gesê dat dit goed was nie. Die mens se liggaam is nie vuilgoed wat weggegooi en verbrand moet word nie. Terwyl ʼn mens lewe, is dit die tempel van die Heilige Gees. Selfs na die dood, is die manier waarop dit behandel word, ʼn getuienis van eer of oneer.”
Sy woorde het deur my gesny. Dwarsdeur my lewe het ek gedink dat die liggaam sommer net ʼn dop is, ʼn leë omhulsel wanneer die gees eers vertrek het.
Tog staan ek hier voor die Seun van die lewende God en Hy vertel vir my dat die manier waarop ons ons liggame ná die dood behandel, ewigheidsbetekenis dra!
Die visioen het weer verander. Ek het grafte sien oopgaan; die finale opstanding aan die einde van hierdie tydperk waarin ons nou lewe. Ek het liggame sien opstaan, verheerlik word, geklee word in onverganklikheid.
Ek het ook ʼn eindelose hoeveelheid mense gesien wie se oorblyfsels gestrooi is; as wat deur die wind weggewaai is. Ek het verwarring aangevoel, versplintering, asof iets onderbreek is.
Jesus het weer gepraat: “Daniël, Ek het die mag om elke mens op te wek, al is sy liggaam ook al hóé vernietig. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Niks is vir My te moeilik of onmoontlik nie. Wat vir My saakmaak, is gehoorsaamheid, eerbied, ontsag vir my Woord en om in lyn met my bedoeling vir die mensdom op te tree. Om begrawe te word, getuig van opstanding. Verassing getuig van verwoesting. My mense sien nie die verskil raak nie en hulle herders verduidelik dit ook nie vir hulle nie.
Net soos wat Ek in my Woord vir julle gesê het om gereeld Nagmaal te gebruik, sodat dit julle kan herinner aan My, en wat Ek vir julle gedoen het, net so herinner ʼn liggaam wat begrawe word, julle daaraan dat daar ʼn opstanding gaan wees. Dit is hoe Ek julle geskep het – dit is hoe julle geloof versterk word. Dit is die manier waarop die hoop wat in julle is, lewend gehou word, sodat julle te alle tye daarvan kan getuig. (1 Pet. 3:15)
Hierdie woorde het in my gees weerklink. “Met begrafnis word ʼn saad in die grond geplant wat die dag van opstanding afwag. Om iets te veras, te verbrand deur vuur, iets wat God goed genoem het, laat niks anders oor as as en verbrande stukkies nie. Die een getuig van hoop, die ander van finaliteit.”
My oë was vol trane: “Here, waarom het niemand dit ooit vir ons vertel nie? Waarom het al die predikers net stilgebly?”
Hy het met hartseer oë na my gekyk. “Omdat die vrees vir mense die vrees vir God vervang het. Omdat kultuur in my kerk ingekruip het. Omdat gerief aanbid word bo waarheid. Ook omdat baie min bereid is om hulle gemeentes aanstoot te gee met woorde wat té hard klink. Maar Ek sê nou vir jou, Daniël. Ek is die weg, en die waarheid en die lewe. Hulle wat My volg, moet van My getuig, selfs op die manier waarop hulle hul dooies se liggame behandel.”
Op daardie oomblik het ek verstaan dat verassing nie net oor koste, kultuur of voorkeur gaan nie. Dit is ʼn geestelike verklaring, een wat meer in lyn is met vernietiging as met opstandingshoop. Elke gelowige se begrafnis is ʼn profetiese vooruitskaduïng van die hoop wat in ons leef. Jesus het aan my die verantwoordelikheid opgedra om hierdie waarheid aan Christene oor te dra, maak nie saak hoe ongemaklik dit hulle ook al laat voel nie.
Die visoene het vervaag en Jesus het my na ʼn plek geneem wat soos ʼn uitgestrekte biblioteek gevoel het, gemaak van lig. In plaas van die boeke, was daar lewende Skrifgedeeltes wat asem gehaal het. Hy het sy hand gelig en verse vanuit die Ou Testament het voor my verskyn, skitterend en lewendig.
“Daniël,” het Hy gesê: “Die getuienis van my Woord was nog altyd baie duidelik, maar mense sien dit nie meer nie.”
Ek het die begrafnisse van Abraham, Isak en Jakob gesien. Elkeen is sorgvuldig in ʼn grafkelder geplaas, eervol, met hulle families teenwoordig. Hulle liggame is met eerbied hanteer, nie soos vuilgoed verbrand nie. Die visioen het aangeskuif na Josef in Egipte. Sy gebalsemde liggaam kon daar in ʼn vreemde land agtergebly het, maar hy het opdrag gegee dat sy beendere saamgeneem moet word na Kanaän. Selfs na sy dood het sy liggaam die getuigskrif van die beloftes van God gedra. Ek het die begrafnis van Moses gesien, nie deur mense nie, maar deur God self. Hy het die aartsengel Migael gestuur om Moses se liggaam te gaan haal waar hy op Neboberg gesterf het sodat Hy hom self kon begrawe. (Die woorde in Deuteronomium het lewendig geword, en Hy het hom begrawe in die vallei in die land van Moab. (Deut. 34:6; Jud. 9).
Jesus het na my gekyk en gevra: “Sien jy nou? Selfs wanneer geen mens dit kon doen nie, het my Vader self die liggaam van sy dienskneg Moses, begrawe. Was Moses se liggaam onrein sodat dit verbrand moes word? Nee. Begrawe was nog altyd die getuigskif van eer – die wag op die opstanding.”
Skielik het die toneel weer verander. Hierdie keer het ek verbranding gesien, nie van die regverdige nie, maar van die goddelose stede, Sodom en Gomorra, wat deur vuur verteer is. Die liggame van hulle wat in die stede agtergebly het, was onder oordeel. Hulle is deur die vlamme verteer.
Jesus se woorde was soos donderweer: “Vuur is altyd verteenwoordigend van my oordeel. Begrafnis is die simboliese handeling van my belofte.”
Ek het gebewe. Nog nooit het ek hierdie ooreenkoms raakgesien nie. Reg deur die Ou Testament was vuur God se oordeel, maar begrawe was ʼn belofte van hoop.
Jesus het my toe in die Nuwe Testament laat sien. Ek het gesien hoedat sy eie liggaam van die kruis afgehaal word, in linne toegedraai word en in ʼn graf neergelê word. Hy het na my toe gedraai en gevra: “Daniël, as die Seun van die Mens, die Lam van God, begrawe is en nie verbrand is nie, waarom dink my volgelinge dan, hulle wat my Naam dra, so min van ʼn liggaam?”
Trane het oor my wange gestroom. Natuurlik is die evangelie self verbind aan ʼn begrafnis. Paulus het dit duidelik gestel: “Christus het vir ons sonde gesterf, volgens die Skrifte. Hy is begrawe en op die derde dag opgewek volgens die Skrifte” (1 Kor. 15:3-4). Begrafnis is deel van die evangeliese patroon: Dood, begrawe, opgestaan. Verwyder nou die begrafnis uit die prentjie en dit is nie meer volledig nie.
Jesus was egter nog nie klaar nie. Hy het vir my vroeë Christene gewys wat vervolg word en letterlik hulle lewens gewaag het om hulle dooies te begrawe. Die grafkelders het stille getuies geword van hierdie gelowiges wat vasgehou het aan die hoop van die opstanding, selfs toe die wêreld probeer het om hulle almal uit te wis.
Jesus se stem het strenger geword: “Verassing gaan nie oor as nie – dit gaan oor ʼn getuienis. Wat is die storie wat dit vertel? Begrawe getuig van om te wag vir die heerlikheid. Verassing getuig van finaliteit en oordeel. My mense het die gebruike van die heidenvolke begin navolg en dan bedek hulle dit met woorde soos ‘gerieflik, veiliger, goedkoper.’ Ek het julle so duidelik gewaarsku om nie die gebruike van die heidenvolke na te volg nie. (Lev. 20:23)
Ek voel ʼn diep pyn in my siel, want ek het nog nooit so daaraan gedink nie. Soos die meeste ander mense, het ek aangeneem dat God nie omgee nie. Maar nou, terwyl ek voor Jesus staan, sien ek die erns daarvan in. Ons keuses weerklink nog na ons dood, getuig teenoor die geesteswêreld.
Jesus het nog een ding gesê wat my diep getref het. “Daniël, wanneer Christene die getuienis van begrafnis verloor, dan verloor hulle ook die getuienis van opstanding. Dit is waarom die vyand so hard probeer om die waarheid weg te steek.”
Nadat Jesus vir my die patrone van die Skrif gewys het, het sy gesigsuitdrukking nog meer intens geword. Die atmosfeer het swaar geword – so asof onsienbare magte rondom ons beweeg het.
“Daniel, Ek wou nie net vir jou my bedoeling en beplanning met die mensdom wys nie. Ek wil ook vir jou die vyand s’n wys en al sy vervalsing van dit wat Ek goed genoem het. Satan se planne is al eeue lank versteek.”
Skielik het ek ʼn ander visioen gesien. Ek het antieke volke gesien, nasies en stamme, koninkryke, wat almal hulle dooies verbrand het. Ek het afgodsrituele rondom vure gesien, temerige sang, offers en donker seremonies. Die vuur was nie net daar om van die liggaam ontslae te raak nie. Dit het gegaan oor die oproep van geeste en om die almagtige Skepper van hemel en aarde te bespot. Demone het oor die vlamme gesweef om daaruit krag te trek. Hulle het hulself daarin verheug.
Jesus se stem het soos donderweer geklink: “Die vyand het nog altyd begeer om dít wat Ek geskep het, te skend en te ontheilig. Die menslike liggaam, my tempel, is sy teiken. Om te veras, is nie ʼn neutrale besluit nie. Dit het geestelike wortels wat teruggevoer kan word na afgodsaanbidding, rituele en vernietiging.”
Die toneel het weer verander en ek het moderne krematoriums gesien – steriele geboue met blink vloere. Elektriese oonde het die rituele vure vervang. Families kom bymekaar met sagte woorde van waardigheid en effektiwiteit. In die geestewêreld het ek egter donker wesens sien ronddraai. Hulle juig wanneer die liggame in as verander. Elkeen is vir hulle ʼn oorwinning, nog ʼn getuienis van vernietiging in plaas van opstanding. Ek het gesidder.
“Here, sê U vir my dat verassing ʼn deur vir die demoniese oopmaak?”
Sy antwoord was ferm: “Wanneer my mense die praktyke van die heidennasies navolg, dan gee hulle altyd plek aan die vyand. Verstaan mooi, Ek het die outoriteit om verlossing te gee en opstanding uit die dood. Tog dra elke handeling van julle op aarde, ʼn getuienis in die geesteswêreld. Verassing skreeu vernietiging uit, en dit is die vyand se geliefkoosde lied en simboliek. Hy verheug hom daarin wanneer my mense onwetend dinge doen wat in lyn is met sy simboliek.” (Hos. 4:6)
Ek het geween terwyl ek na alles kyk en gedink aan al die Christenfamilies wat verassing gekies het omdat dit gerieflik is en nooit besef het wat die geestessimboliek daarvan is nie. Ek het gedink aan al die predikers wat die onderwerp vermy het uit vrees dat hulle dalk sou aanstoot gee.
Toe het Jesus vir my nog iets skrikwekkends gewys. Ek het geeste gesien wat in die ore van gelowiges fluister: “Dit maak nie saak nie, God gee glad nie om nie. Dit is goedkoper, makliker.” Daardie gefluister het deur die gemeentes versprei totdat verassing die algemene norm geword het. Ek het besef dat die vyand se strategie nie was om opstanding te ontken nie, maar, om die getuienis uit te wis. Een sterfgeval op ʼn keer.
Jesus se stem het my hartseer onderbreek: “Daniël, my kerk het ʼn ewigheidsgetuienis verruil vir tydelike gerief, gemak. Begrawe wys vorentoe – dis ʼn saad wat in hoop gesaai is. Verassing sny daardie prentjie af, lyn dit op met vernietiging. Dit is waarop die vyand onverpoosd werk om dit te ‘normaliseer.’”
Toe Hy weer begin praat, het ʼn ander visioen voor my verskyn. Ek het ʼn veld gesien waar baie saad geplant is. Dit was in die grond, bedek en afwagtend. Die saad wat geplant is, het in lewe uitgebars, groen spruite het uitgeloop. Ek het ook ʼn klomp saad gesien wat in vuur gegooi is. Dit het onmiddellik verbrand en net ʼn klomp rook agtergelaat.
Die boodskap wat ek moes kry, was onmiskenbaar. Begrawe is om te plant, verassing is om uit te vee.
Jesus het met vlammende oë na my gekyk. “Vertel vir my mense, die manier waarop hulle die liggaam hanteer na die dood, is nie redding opsigself nie, dit is ʼn getuienis. Dit verklaar wat hulle glo oor die opstanding. Die vyand weet dit. Dit is waarom hy dit so wegsteek.”
Die gewig van Jesus se woorde het my op my knieë gedwing. Ek het besef dat Hy my met ʼn waarheid vertrou het wat net enkeles sal wil hoor, maar baie het dit uiters nodig. Soos wat ek voor Hom gekniel het, steeds bewend oor wat ek gesien het, het Jesus se stem sagter geword, alhoewel dit nog meer gewigtig was.
“Daniël,” het Hy gesê: “Hierdie waarheid gaan nie net oor simbole in die gees nie, dit raak families, geslagte, volke. Wat my mense besluit oor die liggaam na die dood, gaan veel verder as die graf.”
Die visioen het weer verander en ek het ʼn treurende familie gesien wat bymekaar was in ʼn begrafniskapel. Hulle het met ʼn blink gepoleerde kissie gestaan wat vol as was. Hulle gesigte was gevul met hartseer en pyn, maar ook met ʼn finaliteit. Die atmosfeer was swaar, sonder enige verwagting.
Toe het Jesus vir my ʼn ander familie gewys. Hulle het langs ʼn graf gestaan terwyl die kis stadig afgesak het. Trane het gevloei, maar hoop was in hulle woorde hoorbaar. “Ons gaan hom weer sien. Sy gees is by die Here en hy gaan weer opstaan uit die graf.”
Selfs in hulle rou, voel die grond swanger van belofte. Die teenstelling het my getref. Jesus het verduidelik: “Begrafnis preek vir die lewende. Elke graf getuig dat die dood nie die einde is nie. Verassing daarinteen, is ʼn keuse. Dit dra stilletjies ʼn ander boodskap oor – een van vernietiging. Kinders wat daarmee grootword, verloor hulle opstandingshoop sonder dat hulle dit besef.”
Ek het gesien hoedat generasies verby gegaan het. In die visioen het die families wat gekies het om te begrawe, se nasate dikwels van die hemel gepraat, van die opstandingsdag, van ʼn hoop anderkant die graf.
By dié families waar verassing die algemene gebruik geword het, het die geslagte se geloof afgeneem, hulle hoop op ʼn opstanding al hoe minder en dood was ʼn groter finaliteit in hulle gedagtes.
Jesus se oë het van hartseer gebrand. “Sien jy nou Daniël? Dit gaan nie oor die een wat dood is nie, dit gaan oor diegene wat nog lewe. Dit gaan oor die getuienis waarmee hulle agtergelaat is.”
Toe het Hy vir my nasies gewys. Ek het volke gesien waar begrawe die norm was, gekoppel aan hulle Christelike nalatenskap. Begraafplase vol grafte getuig van hulle opstandingsgeloof. Geleidelik het verassing al hoe meer populêr geword en kissies met as het op rakke gestaan. Die getuienis van opstanding het verswak en daarmee saam ook hulle geloof in die redding van Jesus Christus.
Toe het die visioen meer persoonlik geword en Jesus het vir my my eie kinders gewys. Ek het hulle by my begrafnis gesien staan. As ek veras sou word, sou hulle ʼn kissie met as vasgehou het, verskrik en leeg, met baie min om aan vas te hou. As ek begrawe sou word, sou hulle my liggaam gesien afgaan het in die graf – ʼn saad wat geplant word, ʼn getuienis van hoop wat hulle weer aan hulle kinders sou oordra.
Ek het finaal besef dat hierdie nie teologie was nie, dit was ʼn nalatenskap. Dit is ʼn stille preek wat ons vir ons families preek wanneer ons sterf.
Ek het na Jesus gekyk, met bewende lippe: “Here, maar wat van families wat reeds verassing gekies het? Wat as hulle nie geweet het nie?”
Jesus het sy hand op myne gesit. Sy aanraking het beide vertroosting en vuur uitgestraal. “My genade is groter as hulle onkunde. Ek veroordeel nie hulle wat nie geweet het nie, maar jy weet nou, Daniël, en my mense moet dit ook weet. Wat hulle dan kies, sal die getuienis van opstanding òf versterk, òf verswak.”
Die verantwoordelikheid van hierdie taak druk swaar op my. Hierdie is nie ʼn geringe saak nie. Die visioene het vervaag en ek het weer eens voor Jesus gestaan. Sy Teenwoordigheid was oorweldigend, tog was daar in sy oë ʼn sagtheid. Dit was die kyk van ʼn Herder wat sy skape liefhet en nie wil toelaat dat die wolwe hulle verder verlei nie.
“Daniël,” het Hy gesê: “Ek vertrou jou met ʼn boodskap wat baie mense nie sal wil hoor nie. Jy moet my kerk gaan waarsku. Jy moet vir hulle vertel wat jy gesien het.”
Ek het my kop gebuig in eerbied. “Here, wie is ek om sulke dinge te gaan sê? Ek is nie ʼn profeet nie; nie ʼn prediker nie; net ʼn gewone man.”
Jesus het sy hand op my skouer gesit. Die gewig daarvan was skrikwekkend, maar tog ook vertroostend. “Dit is waarom ek jou gekies het. Vir te lank het die kerkleiers stilgebly. Hulle vrees mense se aanstoot meer as wat hulle My vrees. Hulle het die goedkeuring van mense liewer as wat hulle die waarheid van my Woord liefhet. Daarom stuur Ek jou as ʼn getuie. Jy het nou met jou eie oë gesien wat hulle weier om te preek.”
Op daardie oomblik het tonele van kansels voor my verby geflits. Predikers het mooi, strelende woorde oor die lewe na die dood gesê, mense getroos met woorde van vrede. Wanneer die onderwerp van verassing egter ter sprake gekom het, is dit eenkant toe gestoot; beskou as onbelangrik.
Jesus se stem het weer soos donderweer geklink: “Stilswye is medepligtigheid. Wanneer my herders die waarheid weerhou, dan laat hulle my skape in misleiding rondwei. Die tyd het gekom dat hierdie leuen beeïndig moet word.”
Ek het op my knieë geval. “Here, hulle gaan my bespot; sê ek is te erg. Hulle sal sê dit maak nie saak nie? Jesus het my ken opgetel sodat ek Hom in die oë kon kyk. “Hulle het vir Noag gespot tot die reën gekom het. Hulle het vir Jeremia bespot tot die oordeel geval het. Hulle het My bespot tot die steen weggerol is. Moenie vir bespotting vrees nie. Vrees My alleen. (Deut. 6:13; Matt. 10:28) Dit is nie jou taak om hulle te oortuig nie. Jy moet net gaan getuig. Gaan sê vir hulle Ek sê nie dat verassing hulle redding kan steel nie, maar Ek roep my volgelinge om te besef wat die getuienis daarvan is. Elke optrede, elke keuse wat my kinders maak, is ʼn getuienis van lewe en dood.
Om te begrawe, is om ʼn saad te saai in die hoop wat in lyn is met my opstanding. Om te veras, word vernietiging verkondig. Watter een van hierdie getuienisse wil my kerk uitdra?
Jesus het nie die talle siele wat reeds veras is in onkunde, veroordeel nie, maar Hy het diegene wat nog lewe, geroep om anders te kies – om die getuienis van opstanding te herstel in ʼn wêreld wat al daarvan vergeet het.
Jesus het sy hande na my toe uitgesteek, hande waarin die littetekens so duidelik is, brandend met glorie. “Daniël, jy sal teruggaan en hierdie gebeure gaan vertel. Baie sal dit weerstaan, maar baie sal luister. Hulle wat luister, sal die getuienis van hoop in hulle families herstel, in hulle kerke, in hulle volke. Moenie stilbly nie.”
ʼn Vuur het in my ontketen, ʼn heilige las wat te swaar gevoel het om te dra, te dringend om te ignoreer. Ek het geweet dat my lewe nooit weer na normaal toe sal terugkeer nie. Vir my is dinge gewys wat bitter min lewende mense ooit sal sien en ʼn waarheid is aan my toevertrou wat ek geen prediker nog ooit hoor preek het nie.
Jesus se woorde het in my gees weerklink en alles het begin vervaag. Ek het gevoel hoedat ek teruggetrek word na my aardse liggaam. My groot taak het begin.
Toe ek my oë in die hospitaalbed oopmaak, was die eerste ding wat ek gehoor het, my vrou se ontstelde gehuil. Die dokters was geskok dat ek terug is. Hulle het dit ʼn wonderwerk genoem, maar ek het van beter geweet. Ek is teruggestuur. Die vuur in my gees was onmiskenbaar. Ek het visioene gesien. Die boodskap het in my gebrand: “Waarsku my mense.”
Ek het begin praat, eers aan etenstafel met my familie. Ek het hulle vertel wat ek beleef het en my kinders het grootoog geluister. My vrou was in trane. Hulle het onmiddellik verstaan dat ons nooit weer vir onsself of enigeen vir wie ons lief is, verassing kan oorweeg nie. Wat my laat breek het, was toe my jongste kind saggies gesê het: “Pappie, ek wil soos Jesus begrawe word sodat ek saam met Hom kan opstaan.” Selfs ʼn kind kon dit sien wat al die predikers misgekyk het.
Soos wat ek my ervaring buite my huis begin deel het, het ek weerstand begin kry. Vriende het hulle koppe geskud, vir my vertel dat ek oorreageer. Sommige predikers het net beleefd geglimlag en nie daarop ag geslaan nie. “Broer, maar God kan as mos net so maklik opwek soos bene.”
Ek het probeer verduidelik dat Jesus self gesê het dit gaan nie oor sy vermoë nie, dit gaan oor ʼn getuienis – dit wat ons keuses verkondig in die geesteswêreld. Baie het geweier om te luister. Tog was daar ander wat wakker geword het in klein groepe en Bybelstudiegroepe; in een tot een gesprekke. Daar was harte wat gebrand het wanneer hulle gehoor het. Sommige het gehuil wanneer hulle besef dat hulle so mislei is. Sommige het dit bely. Hulle voorgeneem om te begrawe as ʼn handeling van geloof. Ek was onpopulêr en het vriende, uitnodigings en selfs my reputasie verloor, maar ek kon nie stilbly nie. Jesus het vir my te veel gewys.
Ek het ʼn belofte gemaak. Solank as wat ek lewe, sal ek die waarheid verkondig dat begrawe getuig van opstanding en verassing is in lyn met vernietiging.
Of mense geluister het of nie, ek het my waarskuwing, oorgedra. Vandat ek uit die dood teruggekeer het, was ek nie meer dieselfde mens nie. Die man wat eens net vir besigheid en roetine geleef het, se oppervlakkige geloof is saam met Jesus gekruisig. Elke dag voel soos geleende tyd wat aan my toevertrou word vir ʼn heilige doel.
Wanneer ek na my vrou en kinders kyk, dan weet ek dat ek nie net vir hulle gespaar is nie, maar vir ʼn boodskap wat die wêreld desperaat nodig het om te hoor. Die vrees vir mense wat my eens op ʼn tyd stilgemaak het, is vervang met ʼn heilige vrees en respek vir God. Ek sien begrawe nie meer as ʼn tradisie nie. Ek sien dit as ʼn saad wat in geloof gesaai is – ʼn verklaring aan die wêreld en die koninkryk van die duisternis, dat ons wag op die opstandingsdag. Hierdie openbaring het my gebede verander – my prediking, my hartklop.
Ek het gesterf, maar is teruggestuur. Ek kan nou met elke asemteug verklaar: “Dood is nie die einde nie. Die graf is nie ʼn nederlaag nie, en die liggaam wat neergelê word, is ʼn getuienis en ʼn profesie van die Koning wat gaan kom.”
“My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet” (Hos. 4:6 – Afr 33/53 Vertaling)
“My volk gaan onder omdat hulle nie aan My toegewy is nie. Omdat jy jou taak om hulle aan My toe te wy, verwerp het, verwerp Ek jou as my priester” (Hos. 4:6).