Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Wyse volksleier tree nie oorhaastig op nie, maar dink deeglik na alvorens hy reageer. Hy veronagsaam ook nie voor die handliggende feite nie. Wysheid is ‘n gawe van God. “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid.... en dit sal aan hom gegee word” (Jak.1:5)
DIE TORING VAN BABEL
Lees reeks by Aan Stille Waters - Langenhoven
Soos sagmoedige Neelsie destyds gesê het: in die goeie tyd kan ons sonder 'n glimlag klaarkom; laat ons hom dan nou in die swaar tyd soek, anders gaan ons van bedruktheid dood. Maar ook nou is ons swaarste swaar maar net die swaar van ons ondankbaarheid want ons sit nog met dik snye gebotterde brood en huil oor koek, het hy bygevoeg. Laat ons dan sny vir sny van die brood met sy kwinkslae wat net Langenhoven ons kan bied in hierdie reeks met dankbaarheid afglimlag ...
DIE TORING VAN BABEL
"Maar selfs Paul Sauer kan nie 'n horlosie so stel dat hy tegelyk voor-loop en agter-loop nie; en al sê die Sappe die verskil tussen die regterhand en die linkerhand is 'n bloot professorale teorie, dan nog kos dit my die verwarring van 'n droom om 'n oorlog aan albei kante deur te sien, al is dit in die belang van Suid-Afrika en veral van die boere..."
Terwyl ek van tyd praat, een tyd en die ander tyd, val dit my by dat ek reeds, ek onthou nie waar nie, opgemerk het dat 'n man meer hoogmoedig is op die liefhebbery, waar hy 'n knoeier is, as op sy ambag waarvan hy meester is.
Die verband lyk nie dadelik ooglopend nie, maar jy moet meneer Paul Sauer, die Volksraadslid, hoor spog oor sy bekwaamheid om horlosies reg te maak.As iemand my 'n present wil gee (om 'n waarskynlike veronderstelling te maak) moet hy my nie 'n motorkar gee nie, die onderhoud sal my te duur uitkom, en ook nie 'n plaas nie, dié kom nog duurder uit, maar 'n olifant of anders 'n horlosie.
Van albei het ek al 'n groot versameling (almal stilstaandes), maar 'n versamelaar raak mos nooit versadig nie. Ek het gister by menere Fletcher en Cartwright 'n groot yster-olifant gesien, twaalf by nege, teen 'n pond (Unie-pond) te kry, en ek het hom byna gekoop want hy is regtig gaaf. Maar ek dog dis nie reg dat ek 'n pond op 'n olifant uitgee vir skone weelde terwyl ander mense gebrek ly nie. Buitendien, ek twyfel of Vroutjie plek het in haar huis vir nog een. Want sonder speletjies, ek het al 'n aansienlike versameling.Van horlosies het ek nog 'n groter versameling. Maar dié kollekteer ek nie, soos die olifante, net om te kollekteer nie, Hulle kollekteer hulleself, soos een vir een gaan staan. Dan koop ek maar 'n nuwe, wat nog loop. Ek glo nie aan 'n horlosies laat regmaak, selfs deur 'n amateur nie. Daar bestaan nie so 'n ding soos 'n reggemaakte horlosie nie. Hy wou dan nie eens deug soos hy was nie; hoe sal hy nóu deug?
Verlede Donderdag het daar dan weer een gaan staan, en ek voeg hom by die ou kolleksie en ek koop vir my 'n nuwe. Toe die middag-kanon skiet, sit ek hom reg. Die volgende middag, Vrydag, was ek in die wandelgang van die Volksraad, besig om te luister na gesprekke oor die goudstandaard, om tog ook iets daarvan te probeer weet, toe gaan die kanon weer af. Ek haal die nuwe horlosie uit en merk dat die kanon tien minute voor is. Die kanon kan ek nie reguleer nie en ook nie die omwenteling van die aarde om sy as nie – ek moet my by die horlosie bepaal. Paul Sauer sien my na die horlosie kyk en my kop skud, en hy ruk die ding uit my hande uit. Sy oë vonkel toe hy die prooi in sy kloue het.
"Gee dit hier," sê hy, "ek is die man vir hom. Hoeveel het hy verkeerd geloop in die vier-en-twintig uur?"
"Tien minute," sê ek.
"Goed", sê hy, "Dit beteken dan dat hy in ses dae 'n uur verloor, en twaalf maal ses dae, dus in 72 dae, twaalf uur."
"Maar dan sal hy mos oor daardie tyd weer reg wees, Paul" merk ek op, my vernuf deur die goudbesprekings verskerp. "Dan onthou ek maar om ál om die 72e dag weer op hom te kyk, en dan het ek tog by tussenpose die suiwere tyd – suiwerder as wat hy ooit sal wees nadat jy daaraan gepeuter het."
Maar al my praat help niks; terwyl jy nog nie kon dink om te sê mes nie had Paul die agterdop af en sy knipmes oop.
Toe word ek weggeroep na die telefoon – ellendige ding, 'n telefoon, ek hou hom uit my huis weg, maar uit die parlementshuis kan ek hom nie weghou nie want al die ander lede wil hom daar hê om met hulle vrouens en so te gesels. Toe ek weer daar kom sê meneer Sauer die horlosie is nou sekuur-akkuraat gestel, hy sal in my leeftyd, al was ek baie jonger, geen sekonde wen of verloor nie. As 'n mens die graad van afwyking weet, is dit 'n saak van eenvoudige hoër matesis in die vierde dimensie om te bereken hoe ver jy moet gaan met die verstel.
"Nou toe, gee hom dan," sê ek, en die trane kom in my oë, want ek het al meer sulke soort versekerings gehoor.
"Nee, wag 'n bietjie, gestel hy is reg; wat dit betref kan jy hom teen die kronometers van die sterrewag wed. Maar ek moet eers die dop weer aanskroewe; hy wil nie bra vat nie." En hy tik hom 'n paar maal met die hefkant van sy mes en toe op die tafel, sodat daar 'n bediende kom om te vra of ons nog iets wil bestel, en toe teen die muur.
Terwyl hy nog timmer word ek weer na die telefoon geroep. (Ellendige ding, 'n telefoon.) Toe ek die tweede maal terugkom, was Paul weg om te gaan eet en hy had die horlosie aan 'n bediende gegee om aan my te oorhandig. Die dop was nog af – geen mens op aarde sal hom nou ooit weer opkry nie – maar met stukkies gompapier vasgeplak, nes 'n swaar gewonde met baie verbande.
Ek reken dat ek 'n regmatige eis het teen meneer Sauer. Maar al weet ek wat die horlosie kos, ek weet nie wat die prokureur sal kos nie. Miskien kan meneer Sauer die prokureur ook reguleer, en sonder om sy dop af te skroef.
As iemand vir my 'n horlosie wil gee – die wat nie liewer die olifant wil gee nie – moet dit maar nie 'n goue wees nie. Dan vreet die Opposisie my siel op om af te stap.
En dit laat my dink aan 'n snaakse droom wat ek vannag gehad het. Ek droom ons is terug in 1914 en die Opposisie is weer die Regering. En daar breek oorlog uit tussen Japan en China, en die Opposisie,dit wil sê die Regering, ek meen wat toe die Regering was maar nou die Opposisie is, want ek droom mos die Opposisie is die Regering – nou ja, 'n mens is altyd verward as jy droom, en baie mense as hulle wakker is ook – laat ons maar sê ek droom die S.A. Party bring 'n mosie voor die Parlement dat ons die oorlog moet deursien, en Duncan sê ons moet hom aan die Chinese kant gaan deursien.
Daarop maak Charlie Malan die dislojale aanmerking dat die liewe mense daar aan die oorkant van die huis eers moet ooreenkom aan watter kant ons moet gaan veg voor hulle ons kommandeer om die wapens op te neem.
Maar Smuts en Duncan vlieg gelyk op en hulle sê dis 'n skone haarklowery wat Charlie seker van die professore geleer het – aan watter kant ons sal gaan veg is 'n ondergeskikte bysakie; hulle en die wat agter hulle sit en die volk daarbuite, sal nie stof in hulle oë laat gooi om die hoofsaak te verduister nie. Die hoofsaak, en daaroor is die S.A.Party dit soos een man eens, is dat ons dit moet gaan deursien.
Toe ek sover gevorder was met my droom, skrik ek wakker, en ek dog, magtie, maar 'n mens kan darem ongerymde dinge droom. Maar gelukkig, ek het lesse by Freud geneem voor ons nog almal so besig was met die studie van die goudvraagstuk, en daaruit het ek geleer om drome te ontleed en te verklaar waar hulle vandaan kom (ook toevallige skoon drome, soos hierdie). En nou kan ek uitleg gee van die droom.
Die Sappe wil hê ons moet van goud afstap, daaroor is hulle dit almal eens. Maar Smuts sê ons moet aan sterling koppel, en Duncan sê ons moet onafhanklik afstap; en albei sê hierdie verskilletjie tussen hulle is maar 'n niksbeduidende bysakie. Met ander woorde, die hoofsaak is dat ons uit die grootpad moet uitdraai, en die bysakie is dat die een sê ons moet regs uitdraai en die ander sê ons moet links uitdraai. My moeilikheid is dat ek in my eenvoudigheid nie kan begryp hoe ons tegelyk na weerskante toe kan draai nes Paul met my horlosie se dop nie. Maar selfs Paul kan nie 'n horlosie so stel dat hy tegelyk voor-loop en agter-loop nie; en al sê die Sappe die verskil tussen die regterhand en die linkerhand is 'n bloot professorale teorie, dan nog kos dit my die verwarring van 'n droom om 'n oorlog aan albei kante deur te sien, al is dit in die belang van Suid-Afrika en veral van die boere en van die stedelike bevolking en van die myn-maatskappye en van die arbeiders wat in hulle diens is, en van die banke en hulle klandisie, en van kopers en verkopers en invoerders en uitvoerders en skuldeisers en skuldenaars en produsente en verbruikers en die laaste een in die land. Daar word teenswoordig vir ons paaie aangewys wat nie net na weerskante toe afdraend is nie maar na weerskante toe uitdraai. As 'n mens na 'n politieke party soek om aan te behoort, kan jy nie 'n meer tegemoetkomende kry as die S.A.P nie.
Terwyl ons van die goudstandaard praat – 'n mens moenie 'n gegeede olifant in die bek kyk nie, maar was dit nodig vir "Die Burger" om so 'n lofgesang te sing oor my en dr Van der Horst se bekaamgeite net omdat ons gewillig was om as prysregters op te tree in verband met sy wedstryd? Ek sou dink ál daardie aanbevelings was vanselfsprekend. En meer nog, in my geval. Byvoorbeeld, die S.A. Akademie sou my kon gebruik om letterkundige pryse toe te ken. Ek sou maar net hoef te oordeel watter boeke die onleesbaarste is. En dit herinner my dat ek die ander dag my ou vriend prof DF Malherbe van Bloemfontein hier ontmoet het in geselskap van prof Smith (wat vir my kwaad is omdat hy onderkerk is al is ek nie bokerk nie). Ek noem DF Malherbe altyd nog "Klokgrassies" na sy lieflike werkie van jare gelede. Teenswoordig is hy ontevrede met die naam; hy wil liewer onthou word aan sy hoër werke van die later jare. Maar vir my is hulle te hoog. Wat ek eintlik wou vertel is dat hy kwaad is vir my omdat hy ou paaie is al is ek nie soeklig nie. Nou met ons gesels wou ek hom afkoel, want waarom sal ou vrinde dan in vyandskap lewe omdat ander mense dinge gesoek het om oor te twis?
Toe sê ek: "Klokgrassies, jong, my vriend, stel jou hart tog gerus – ek gaan nie met die nuwe liberale skool saam nie. Daar is net een uitleg van hulle wat vir my aanneemlik sou lyk as hulle my nie op so baie ander plekke wantrouig gemaak het nie."
"Watter uitleg," vra DF.
"Hulle uitleg van die verhaal van die Toring van Babel. Hulle sê dit moenie letterlik verstaan word nie maar allegories. Wat daardie mense wou oprig was nie 'n werklike toring van stoffelike bakstene nie, maar 'n geestelike gebou van hoë letterkunde wat tot aan die hemel sou reik. En toe is hulle spraak verwar sodat niemand hulle kon verstaan nie en hulle hulself ook nie, tot vandag toe."
Terwyl ons van verwarring praat – ek het nie geld om 'n prys uit te loof nie, maar hier is 'n probleempie (moenie die oplossing aan my stuur nie, ek sal genoeg te doen hê met "Die Burger" se prysvraag.)
'n Man koop 'n paar skoene vir 14 sjielings en hy betaal met 'n pondnoot. Die winkelier het nie kleingeld nie; hy vra die koper om 'n oomblikkie te wag en hy gaan na die bakker langsaan, en hy maak die noot klein vir 20 sjielings. Toe kom hy terug en hy keer die koper sy kleingeld uit. Toe dié weg is met die 6 sjielings en die paar skoene, kom die bakker ingehardloop en hy sê "dis 'n Engelse noot wat jy my gegee het, hy is maar 14 sjielings werd." Intussen het die winkelier ander kleingeld ontvang, en hy gee die bakker weer sy 20 sjielings en hy vat die noot terug. Toe neem hy die noot na die bank om klein te maak, en daar vind hy uit dat dit 'n valse noot is wat nie een sjieling werd is nie.
Die vraag is: hoeveel skade het die skoenverkoper met die transaksie gely? Reken dat die skoene hom 8/- kos; die res sou profyt wees.
(Die oplosser sal opmerk dat daar op drie plekke 'n verskil van 6 sjielings voorkom. Miskien is dit van gewig vir die oplossing, miskien nie...)