Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God se vergifnis is volledig. Hy hou nie boek van die kwaad nie, waarom hou jy? Wat is jy beter as God?
DIE CHARISMATIESE GEVAAR (4)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar
GEE GOD NOG NUWE OPENBARINGS?
“Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3).
Die charismatiese beweging en die Roomse Kerk glo dat die Bybelse openbaring nie afgesluit is nie en dat God nog steeds private openbarings gee. Daarom hoor ‘n mens hul dikwels sê: “Die Here het vir my gesê....” Jare gelede het Oral Roberts, ‘n baie bekende Amerikaanse charismatiese leier, $8 miljoen geskuld en toe gesê dat God gedreig het om hom 'huistoe' te neem indien hy dit nie teen die spertyd betaal nie. Hierdie doodsdreigement is op die nippertjie nie uitgevoer nie toe ‘n honderesies-eienaar hom ‘n baie groot tjek gegee het. Dis onbeskaamde bedrog!
Charismate se omgang met God se Woord skreeu dikwels ten hemel. Hulle sien die Bybel slegs as ‘n voorbeeld van dinge wat in die verlede gebeur het. Dis derhalwe niks vreemd as iemand vandag nog ‘n gesig of openbaring van God ontvang nie. Dit het dan in die verlede gebeur. God het mos nie verander nie!
Wat sê charismate in werklikheid daarmee? Dat die Bybel nie die finale bron van God se openbaring is nie, maar slegs ‘n getuienis van dit wat alreeds gebeur het. Daar word vandag nog openbarings bygevoeg.
Hierdie siening/dwaling adem die gees van die moderne samelewing wat alles as modelle beskou. Modelle is menslike beskouings van die waarheid. Niks staan vas nie. Alles is oop vir verandering. Niemand maak op die enigste waarheid aanspraak nie uit vrees dat nuwe inligting hulle verkeerd kan bewys. Die mensdom het van die ou benadering van geslote sisteme na die nuwe benadering van oop sisteme beweeg. Die charismatiese beweging getuig baie duidelik hiervan!
Gereformeerdes sien die Bybel as ‘n geslote waarheidsisteem met geen nuwe openbaring deur moderne profete nie. Die charismate beur dit egter met hul model-benadering oop. En dis ‘n gruwelike dwaling!
Laat daar geen onduidelikheid wees nie - die Christendom leer al eeue lank dat God se openbaring tot die Bybel beperk is. Dis ‘n geslote sisteem en kenbron van die waarheid. As God vandag nog openbarings gegee het, sou ons genoodsaak wees om na die moderne profete te luister hoe hulle God se waarheid op ‘n duideliker wyse as in die Bybel verkondig. Ek sidder om daaraan te dink hoeveel miljoene mense in die wêreld die spitsvondigheid van charismatiese predikers as ‘n verbetering op die waarhede van die Bybel beskou!
Nee, die Bybel is ‘n geslote waarheidsisteem waarby niks gevoeg word nie. Die Bybel waarsku duidelik daarteen (Openb.22:18,19). Die Bybel bevat alle geestelike waarhede wat God openbaar wou maak en is deur die Heilige Gees geïnspireer.
Let op die Griekse woord vir inspireer theopneustos. Dit beteken letterlik God se asem. Die Bybel is dus nie mensewoorde waarin God lewe geblaas het nie, maar die werklike asem van God. In die Bybel praat God self! Gevolglik beteken inspireer nie dat die Bybel God se openbaring bevat of dat Hy die skrywers bygestaan het nie. Dit beteken dat die woorde van die Bybel God se eie woorde is. Elke woord in die Bybel is as’t ware deur God uitgeasem!
Na sy roeping sê God vir Moses: “Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê” (Ex.4:12). Vir Jeremia sê Hy: “.....Hiermee lê Ek my woorde in jou mond” (Jer.1:9). 2 Pet.1:21 is ‘n sleutelvers: “want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” Die sleutelwoord is gedrywe d.w.s. deur die Heilige Gees meegevoer.
Te oordeel aan dit wat hulle leer en sê, glo charismate dit nie, maar aan voortgaande inspirasie en opgegradeerde openbaring gelykstaande aan die Bybel. Dit laat die deur vir bedrog en foute wawyd oop! Daarmee skort hulle die uniekheid van die Bybel op en is hulle anti-Reformatories. Hulle doen met een van die sterkste hoekstene van die Reformatoriese kerk weg nl. Soli Scriptura - die Bybel alleen. Reformatoriese kerke glo dat die Woord van God die enigste bron van goddelike gesag is.
As ‘n kerk die geslotenheid van die Bybel ontken, kan die Bybel nooit sy onfeilbare bron van geloof wees nie. Die gevolg is die teologiese chaos; so kenmerkend van die charismatiese kerke! Charismatiese leiers laat mense glo dat hulle nuwe openbaringe ontvang het terwyl hulle in werklikheid hul eie versinsels verkondig. Petrus waarsku dat daar aan die einde van tye “valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer” (2 Pet.2:1). Heimlik dui op iets wat ongemerk ingedra gaan word. Mense gaan voorgee dat dwaalleer die Christelike leer is.
In hul soeke na iets nuuts en opwindend, ontken charismate die uniekheid van die Bybel as die enigste Woord van God. Hulle het die beproefde weë verlaat en op die weg van die Satan beland wat die dinge van God naboots. Dit het verwarring, foute en geestelike afvalligheid veroorsaak. Die charismatiese leer dat die moderne profetiese stem onfeilbaar is, is allermins Bybels of Protestants. Dis Rooms!
In die charismatiese beweging bestaan daar selfs profeteskole waar mense op bedenklike wyse geleer word hoe om te profeteer. “En my hand sal wees teen die profete wat bedrieglike gesigte sien en leuens waarsê....” (Eseg.13:9). Die wet van Moses het baie sterk voorskrifte teen valse profete gehad: “Maar die profeet wat so vermetel is om ‘n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, diè profeet moet sterwe” (Deut.18:20).
Waarom was en is daar vandag nog valse profete? Om mense van die objektiewe, betroubare waarheid van God se Woord te laat afsien. Mense moet op subjektiewe wyse na varser en meer intiemer openbarings buite die Bybel soos privaat gesprekke met God, profesieë, drome en gesigte soek. Nie objektiewe betroubaarheid nie, maar subjektiewe wisselvalligheid!
2 Tim.3:17 sê dat die Bybel voldoende is en gelowiges vir elke goeie werk volkome toerus. Daarom is die Bybel geslote. Toe die kanon (omvang van die boeke van die Bybel) van die OT ná die tyd van Esra en Nehemia gesluit het, was daar vir 400 jaar stilte waarin geen profeet God se openbaring op enige wyse uitgespreek het nie. Diè stilte is deur Johannes die Doper verbreek waarna God verskeie manne gebruik het om die boeke van die NT te skryf. Net soos wat die einde van die OT deur ‘n stilte gevolg is, so ook die NT - diè keer permanent. Ná die boek Openbaring is geen geskrewe of mondelinge profesie ooit deur die Christendom as ‘n nuwe openbaring van God aanvaar nie.
Ons teksvers is beslissend oor die volledigheid van die Bybel (lees). Hierdie stelling wat voor die voltooiing van die NT neergeskryf is, kyk vooruit na die voltooiing van die hele Bybelse kanon. As Judas van die geloof praat, dui dit op die enigste geloof. Dieselfde gedagte word ook in 1 Tim.4:1 gevind: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal raak...” Hierdie geloof staan in die Grieks in die objektief en beteken die somtotaal van dit wat Christene glo.
In Judas 3 lees ons van die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Dit beteken eenmalig. Die Griekse woord hapax verwys na iets wat eens en vir altyd met durende gevolge gedoen is. Wat sê dit vir ons? Dat niks by die geloof wat een en vir altyd oorgelewer is, bygevoeg mag word nie. Presies wat Openb.22:18,19 sê!
Die Christelike geloof is onveranderlik. Wie daarvan afwyk, dwaal. Nog ‘n belangrike woord in ons teksvers is oorgelewer. In die Grieks staan diè werkwoord in die aoristus passief wat op ‘n handeling wat in die verlede afgehandel is, dui. In diè geval dui die passief op ‘n geloof wat nie deur mense ontdek is nie, maar wat God aan hulle gegee het. En hoe het Hy dit gedoen? Deur sy Woord.
God het vir ons ‘n onderwysing gegee wat volledig en finaal is. Ons geloof berus op geskiedkundige, objektiewe openbaring. Gevolglik het ons die volste reg om vir charismate te sê dat hulle profete, profesieë en nuwe openbarings nie van God kom nie. Die Bybel is ons enigste maatstaf. En dis, interessant genoeg, presies wat die woord kanon beteken - maatstaf. Die kanon van die Skrif is die enigste meetstok van die Christelike geloof en ‘n onvervreembare kenmerk van die ware kerk.
Valse kerke het ander boeke. Die Roomse Bybel sluit bv. talle apokriewe boeke in. Dis boeke wat in die tyd van die Bybel geskryf is, maar nie deur die Heilige Gees geïnspireer nie. Dit bevat foute in sake die geskiedenis, aardrykskunde en teologie.
Daarom het die Hervormers (16de eeu) gesê Soli Scriptura – die Bybel alleen!
Die volk van God het geen moeite gehad om die OT kanon vas te stel nie. Hulle het boeke gekies wat deur segsmanne van God geskryf is. Die vroeë Christelike kerk het iets soortgelyks gedoen. ‘n Sleuteltoets was apostoliese outeurskap. Elke NT boek moes deur ‘n apostel of iemand na aan ‘n apostel wees. Markus was bv. nie ‘n apostel nie, maar ‘n medewerker van Petrus. So ook Lukas van Paulus.
‘n Tweede toets wat die kerk gebruik het, was algemene tevredenheid. Het dit wat geskryf is met die apostoliese leer ooreengestem? Dit was baie nodig omdat dwaal-leraars hul in die kerk probeer inwurm het. Hulle leerstellige foute is egter gou uitgewys omdat dit die apostels se leerstellings weerspreek het. ‘n Derde toets was die ontvangs wat die boeke in die onderskeie gemeentes geniet het. As gemeentes dit algemeen aanvaar en gebruik het, is dit as 'n stempel van goedkeuring gesien.
Alhoewel charismate heftig ontken dat hulle by die Skrif probeer byvoeg, kom hulle leer oor profetiese uitsprake, gawes van profesie en private openbarings daarop neer. Iemand het eenmaal gesê dat as ‘n ding soos ‘n eend lyk, soos ‘n eend stap en soos ‘n eend kwaak, kan dit mos nie ‘n hoender wees nie! So ook met charismate!
Wie tot God se openbaring byvoeg, hetsy bewustelik of onbewustelik, ondermyn die uniekheid en gesag van die Bybel. Nuwe openbarings, drome en gesigte is bindend op ‘n persoon se gewete. As ‘n charismaat sê: “Die Here het vir my gesê....” is dit vir hulle net so bindend as ‘n woord uit Mattheus, Lukas of Romeine.
Die charismate ontken baie heftig dat hulle by die Skrif byvoeg. Hulle vertolk dit glo net op ‘n nuwe manier. Daar is ‘n baie dun lyntjie tussen die vertolking en die byvoeg tot die Skrif. Die Skrif word allermins vertolk deur na iemand te luister wat glo dat hy kan profeteer! Die vertolking van die Skrif geskied ná ‘n baie deeglike studie daarvan. Daar is geen kortpaaie na die vertolking van God se Woord nie!
Gelowiges durf nie los en vas met God se Woord omgaan nie. Dis te heilig! Daar moet baie duidelik tussen God en die mens se stem onderskei word. Gelowiges word aangesê om die geeste op die proef te stel. Dis belangrik om God se stem van diè van leuendienaars te onderskei. As ons die genoegsaamheid van die Bybel minag soos wat die charismate doen, is daar geen manier dat ons die stem van God van diè van leuendienaars kan onderskei nie.
Die Heilige Gees werk vandag kragtig in ons Gereformeerde kerkverbande. Daaroor moet ons geen twyfel hê nie. Maar nie op charismatiese wyse nie. Die Heilige Gees bekragtig ons as ons preek, onderrig, skryf, praat, getuienis lewer, dink, dien en leef. Hy doen dit deur God se Woord; nooit los daarvan nie!