Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dankie Almagtige Vader, dat ek nie my brandstof van mense hoef te kry nie maar dit direk by U deur u liefde ontvang. U liefde dra my, maak my kragtig, soveel so dat ek dit ook aan my medemens kan uitdeel.
AS DIE SOUT LAF WORD
Ds A.E. van den Berg
“Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie” (Mat.5:13).
Soos wat sout kos smaak gee, gee gelowiges smaak aan 'n smaaklose Godsvyandige wêreld. In Jesus se tyd was sout klipsout en uit die Dooie See se omgewing afkomstig. Weens onsuiwerhede daarin het dit 'n slegte nasmaak gehad. As dit nat geword en opgelos het, is talle onsuiwerhede vrygestel. Om dit dan weg te gooi, sou die grond waarop dit val onbruikbaar gemaak het. Daarom is dit eerder op openbare paaie gegooi om deur mense vasgetrap en so die pad harder te maak.
Jesus gebruik die voorbeeld van die onmisbaarheid van sout om gelowiges en die kerk op hul roeping in die wêreld te wys. Met wêreld bedoel Hy nie aarde nie, maar 'n geordende sataniese sisteem van mense wat teen God opstaan: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Ps.2:2,3).
Kos sonder sout is smaakloos. So ook die wêreld sonder gelowiges. Soos wat sout mense dors maak, moet gelowiges die wêreld vir die waarheid van God se Woord dors maak. Sout werk ook verrotting teen – ook mense met sonde-verrotting.
Jesus sê nie in Mat.5:13 dat gelowiges sout moet wees nie, maar dat hulle dit ooreenkomstig hul uitverkiesing is. Hulle kies nie of hulle sout wil wees nie; hulle is dit kragtens hul wedergeboorte. Gevolglik is die ware kerk altyd met die wêreld besig en nooit met haarself opgeskeep nie. Die kerk van Jesus mag haar nie van die wêreld onttrek om 'n tipe van klooster-geloofsbestaan te voer nie. Om haarself in 'n kokon toe te spin en die wêreld aan sy eie lot oor te laat, sou baie liefdeloos wees.
Die ware kerk het net een bestanddeel – sout. Die valse kerk het weer net suiker en is 'n werktuig in die hand van die satan waarmee hy die wêreld versuiker in plek van God se wil dat dit gesout moet word. Sulke versuikering begin altyd uit vrees vir moontlike kerkskeuring deur kompromieë met drukgroepe binne die kerk aan te gaan.
Daar word nie meer oor God se geregtigheid, oordeel oor sonde en eise vir 'n heilige lewe gepreek nie. Leraars hou Jesus eerder voor as die Een wat almal liefhet, alles vergeef en selfs sekere gruwels verdra. En so word soutkorrels dan suiker-korrels.
Die versuikering van sonde is die gevolg van kerke se drang om by die wêreld aan te pas en dit vir mense aanlokliker te maak. O, die wêreld het 'n soettand vir sonde! Daarom bars kerke wat mense met godsdiens-suiker voer, uit hul nate. Sout is egter 'n suiwer element met geen plaasvervanger nie. Dit raak egter onbruikbaar as dit met onsuiwerhede vermeng word. So ook kerke wat versuiker.
Kerklike suikersiekte neem ernstig toe. Kerke se wettiging van selfde-geslag huwelike is een voorbeeld van geestelike insulien-weerstand. Die aanvaarding van gruwels waarteen die Bybel waarsku, dui op geestelike krankheid. Gedienstigheid aan die een-wêreld kerk wat vir die heerskappy van die Antichris voorberei word, word al meer sigbaar.
Lank voordat kerke gruwels begin ontsondig het, het hulle willens en wetens die wêreld 'n voet in die deur laat kry. Hierdie deure is spoedig oopgedwing en van sy skarniere laat afval. Gemeentes se stilswye oor die ontsporing het op 'n blindelingse goedkeuring neergekom!
Wêreld-gelykvormigheid is 'n groot vyand van die kerk. Dis egter belangrik om te weet wat dit presies is. Baie kerke verstaan dit nie. “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Joh.2:15-17).
Twee kernwoorde is hier ter sprake – liefde en wêreld. Gelowiges kom in die versoeking om in wêreldse dinge verstrengel te raak: “ Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie ...” Hierdie liefhê gaan nie oor dinge waarvan mense hou of nie, maar oor 'n wilsbesluit en selfopoffering ten gunste van iemand.
God verbied nie gelowiges om die lewe te geniet nie. Solank as wat hulle die dinge van die wêreld nie die fokuspunt van hul lewe maak nie. En dis tweërlei van aard. Dit gaan oor die begeerlikheid van die vlees en die grootsheid van die lewe.
Die begeerlikheid van die vlees verwys na 'n hunkering na sonde; dit wat die liggaam ten koste van die siel bevredig. Die grootsheid van die lewe verwys na 'n spog met eiewaarde. Gelowiges se lewenswaardes is egter nie tydelik nie, maar het ewigheidswaarde.
'n Kerk wat mense gee wat hulle wil hê in plaas van wat hulle geestelik benodig, word deur die wêreld-stroom meegevoer en het geen bestaansreg nie. Om sonde goed te keur net om mense in die kerk te hou, is 'n ontsouting en versuikering van dit wat vir God heilig is!
Jesus se bediening was buite die kerk van sy tyd. Die kerk het Jesus nie ondersteun nie maar laat kruisig omdat Hy nie kompromieë met die valse uiterlike vertoon van die kerk van sy tyd aangegaan het nie. Alhoewel die Skrifgeleerdes deeglik in die Skrifte opgelei was, het hulle menslike bepalings rondom die gebooie hoër geag as God wat dit gegee het. “Toe het Jesus die skare en sy dissipels toegespreek en gesê: Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op die stoel van Moses. Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en (maar) doen nie “ (Mat.23:1-3).
Jesus se lewe en bediening is 'n sprekende voorbeeld van hoe die ware kerk in 'n Godsvyandige wêreld moet optree. Sodra 'n kerk van Skrif-waarhede afdwaal, moet lidmate die meester en die kerk nie verder volg nie!
Plaaslike kerke spoed in doodloop-strate voort. Daar is net een geneesmiddel en dis terug na die Bybel. Hulle moet soos Efese omdraai. “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Open.2:4,5). 'n Doodloopstraat is altyd die beste plek om om te draai.. “En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Open 18:4).
Skrif-getroue kerke moet soos salms stroom-op swem om te verhoed dat die wêreld hulle in 'n gietvorm druk en Satan hul wêreldbeskouing met sy filosofieë inkleur. “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom.12:2).
Die wêreld het 'n nood aan kerke met 'n opregte liefde vir Jesus en wat die Evangelie van sy kruisdood en verlossing duidelik aan sondaars oordra sodat hulle hul bekeer en heilig lewe. “... en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon....” (1 Pet.2:12).
Kerke moet sonde duidelik aanspreek en bewustelik daarteen optree. Jesus het by geleentheid selfs die tempel met 'n sweep gaan reinig. In sy getuienis voor die Joodse Raad het Stefanus die kerk nie heuning om die mond gesmeer nie. Hy het reguit gepraat al het dit sy lewe gekos.
As die wêreld eers in 'n kerk se murg beland, word dit uitskot-produkte. Daarom durf kerke hul deur nie eens op 'n skrefie vir die wêreld oopmaak nie. Dit beteken egter nie dat die kerk die wêreld as geheel moet vermy nie. Dis juis haar roeping om die sonde-verrotting met die genesende sout van die Woord teen te werk. Daarom durf 'n kerk nie soos die wêreld lyk en optree nie, maar eerder altyd vreemd opval. Die verval van ons eens trotse kerke is een van die aller droewige gebeure aan die suidpunt van Afrika. Sinode-uitsprake en ontspoorde teoloë voer die botoon. Skrif en belydenisskrifte is nie meer ter sake nie. Die geloofslewe het versuiker.
Die ware kerk sal toenemend aangeval en sy kernboodskap bevraagteken word. Dis 'n duidelike teken dat daar net een waarheid is. En dit staan lynreg teenoor Satan se planne om kerke te ontsout en te laat versuiker. Die ware kerk daarenteen het Jesus lief, dien Hom alleen, leef suiwer volgens sy Woord en gaan geen kompromie met die wêreld aan nie. Hulle is die sout waarvan Jesus in ons teksverse praat.