Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
O wederstrewige volk van God, luister nou na my onvervalste Woord! Julle het vir julle menige drêkgode bymekaar gemaak! Ek sal al hierdie sondes van julle eis. In die gloed van my toorn sal Ek dit eis van julle wat al julle geloftes aan My vergeet het...
DIE BELOOFDE LAND (1)
GESKIEDKUNDIGE BETEKENIS VAN DIE HEILIGE LAND
Dr JP Smuts
"Indien die volkie Israel in sy geskiedenis nie telkens van sy staatkundige vryheid beroof is en dan onder die hiel van een of ander vreemde moondheid beland het nie, sou hy stellig nooit die draer van die verlossingsgedagte geword en so vurig uitgesien het na die koms van die Messias-Verlosser nie."
Alhoewel Palestina, ook genoem Kanaän of die Beloofde Land, 'n heel klein landjie is, nie eens halfpad so groot as 'n distrik soos Pietersburg of Calvinia nie, het dit in die geskiedenis miskien 'n belangriker rol as enige land ter wêreld gespeel.
Dit beslaan 'n oppervlakte van hoogstens 6 000 vk.myl en is in die lengte, dws, van Berseba in die suide tot Dan in die noorde, maar 144 myl. In die breedte wissel dit van 90 myl in die suide oor Berseba, tot 55 myl oor Jerusalem vanaf die Middellandse See tot aan die berge van Moab, en 40 myl oor die suidpunt van die See van Galilea, terwyl dit in die verre noorde slegs 25 myl breed is.
Sy groot geskiedkundige rol moet eerstens toegeskryf word aan die feit dat hy die ontmoetingspunt van drie kontinente, Europa, Asië en Afrika vorm, en tweedens dat hy die tuiste was van die volk uit wie die Christendom, die grootste krag in die geskiedenis, spruit.
As die korridor van drie kontinente, geleë tussen die Middellandse See aan die een kant en die Arabiese Woestyn aan die ander, was hy die aangewese handelsweg en krygspad tussen die groot moondhede van die oudheid, nl Egipte, Babilonië en Assirië. Die besit van Palestina was dus van toeka se tyd af van ontsaglike strategiese betekenis. Langs hierdie karavaanweg het die smouse destyds vir Josef na Egipte geneem – dieselfde pad waar die leërs van Totmes, Ramses en Nego vroeër teen die lande van die Tigris en die Eufraat opgeruk het en waar die strydmagte van Alexander die Grote in later tye teen Egipte en Indië opgetrek het.
Nadat die Romeinse adelaar in die dae van Christus se omwandeling op aarde oor die land gewapper het, word Palestina in 637 nC deur die Mohammedane verower wat vervolgens hul Rotsmoskee opgerig het op die plek van die verwoeste tempel van die Jode. Vir die Mohammedaan is Jerusalem ná Mekka, die heiligste plek op aarde.
In die noorde word Palestina begrens deur die Libanon en die Hermongebergte, in die weste deur die Middellandse See, in die suide deur die dorre streek van Negeb, en in die Ooste deur die woestyn. Binnekant hierdie bakens kan ons die land verdeel in vier smal stroke wat van noord na suid loop:
- Die kusvlakte
- Die sentrale bergketting
- Die Jordaanvallei met die Dooie See
- Oos-Palestina
In die weste was Palestina beskut deur 'n onherbergsame seekus met slegs een hawe, nl Joppe (of Jaffa), wat by onstuimige weer nogal ontoeganklik was; in die suide deur die karoo van die Negeb, en in die ooste deur die woestyn. Daardeur was die ligging van die land bepaald afgesonderd. Maar andersyds was dit omrede van al die verkeersweë wat hier gekruis het uiters sentraal.
Langs hierdie verkeersweë het die invloede van die buitewêreld tot hom deurgedring. So 'n ligging was besonder gunstig vir 'n volkie wat enersyds afhanklik was van buitelandse strominge en andersyds weer geroepe om homself aan die wêreld daarbuite te onttrek en tyd en rus te vind ten einde hierdie dinge op unieke wyse te verwerk en op die wêreld te laat terugstraal.
Geweldig moes hierdie volkie stry om aan sy hoë roeping getrou te bly. Gelukkig of ongelukkig het sy krag nie op politieke of militêre gebied gelê nie, dog – ten minste in die ou tyd – op geestelik-godsdienstige terrein, met die gevolg dat hy telkens onder die hiel van een of ander vreemde moondheid beland het. Maar juis daardeur kon hy, namate sy politieke aspirasies vernietig is, die draer word van die idee van verlossing. Dog helaas! Toe hierdie droom in die volheid van die tyd in die Persoon van Jesus van Nasaret werklikheid geword het, het Israel die ideaal in 'n politiek-aardse sin geïnterpreteer. Daardeur het hy met die voete vertrap wat tot sy vrede sou dien.
Die klimaat van Palestina is net so afwisselend as die landskap met sy vlaktes, sy heuwels en vrugbare valleie, sy dorre en woeste streke en sy berge, sommige waarvan (soos die Hermon, amper 10 000 voet hoog!) ewig met sneeu bedek is. Daarnaas kry ons die merkwaardige verskynsel van die Jordaan-skeur wat die See van Galilea (670 voet onderkant seespieël) verbind met die Dooie See (1 300 voet benede seespieël) en wat aan sy benede-loop erg onderhewig is aan malaria.
Wat die klimaat betref is daar in die Bybel sprake van slegs twee jaargetye, nl die reënryke winter en die droë somer. Die reën kom van die kant van die see, dws uit die weste. Baie onwelkom en gevrees is die warm, uitdorrende woestynwind uit die suide of suidooste, nl die sirocco. Die reëntyd is tussen Oktober en Mei, en drie periodes kan onderskei word:
- Die vroeë reëns in Oktober en November
- Die gewone winterreëns in Desember
- Die laat reëns wat so onmisbaar is vir die rypword van die gesaaides.
Gelukkig kry die land darem ook nog vogtigheid in die vorm van die nagmis of dou wat so baie vir die plantegroei beteken. Snags kan dit maar goed koud word – in Galilea darem minder as elders. Daarom lees lees ons so dikwels in die Nuwe Testament van skares wat hier in die buitelug oornag. Oordag is die warmste tyd kort na twaalf. Dan is dit feitlik onmoontlik om buitekant iets uit te rig en vlug elkeen maar na die koelte van 'n huis of die skaduwee van 'n boom. Maar gelukkig laat 'n verfrissende seebries nie lank op hom wag nie.
Ook in sy klimaat is Palestina 'n land van teenstellings. Binne 'n straal van ongeveer twintig myl kry 'n mens die grootste verskeidenheid van klimaatsomstandighede en plantegroei. In die woestyngebied van Berseba kry jy die tipiese woestynklimaat en woestynflora; en kort digby, in die Vlakte van Saron, myle en myle lemoenboorde en koringlande aanmekaar, onderbreek deur die woeste, onvrugbare berglandskap van Judea met sy diep ravyne. Tussen Jerusalem en die Jordaanvallei met Jerigo, die palmstad, kry jy weer subtropiese plantegroei en klimaat. Elkeen van hierdie streke het sy eie spesifieke klimaat, flora en fauna.
Jerusalem lê slegs vyftien myl van die Jordaandal af en oor die 3 000 voet hoër, en tog sal jy in Maart te Jerusalem heerlike lenteweer beleef en tegelykertyd in die Jordaandal vergaan van die somerhitte. Daarom verhuis soveel Jerusalemmers vir die winter na Jerigo, net soos baie mense in Transvaal die Bosveld opsoek.
Van die plantegroei gesproke: aan die oewers van die riviere kry ons benewens sierlike struike en turksvye ook dadelpalms, so bv te Jerigo, die palmstad, digby die Jordaan geleë. In die moerassige streke is daar weer biesiesriet. Op die berge groei die olyf, die koning onder die bome van Palestina; en op die heuwels die eik en die terpentynboom. Op die laer heuwels kry ons die vyeboom en langs die hellings van die koppe die wingerde, omring deur 'n klipmuur en voorsien van 'n wagtoring waarin die wagter in die parstyd kan woon.
In waterryke streke kry ons in die nabyheid van wingerd en vyeboom ook granaatbome. Op die vrugbare vlaktes word koring en gars gesaai. In die reëntyd tooi allerlei struike en blomme die karoostreke, maar as die reëntyd verby is, is daar net dorings en distels waar die oog kyk.
Met betrekking tot vrugbaarheid word Palestina in die Bybel geroem as die land wat "oorloop van melk en heuning." (Num 13:27), of ook wel as 'n land "van koring en gars." (Deut 8:8). Hierdie voorstelling word gestaaf deur 'n mededeling van ene Sinoehe uit ongeveer 1950 vC. Hy was 'n vername Egiptenaar wat verruk was deur die skoonheid van die land en die "volop vye en druiwe, koring en gars, om nie te praat van die heuning en olie nie!"
Dit wil egter nie sê dat hierdie loflief op die hele land van toepassing was nie. Verre daarvandaan. Daar word in die Bybel genoeg melding gemaak van die woeste plekke waar alles in die somer verdor.
Hoe dit ook sy, in vergelyking met die Bybelse tye is Palestina vandag 'n arm land, wat ook te wyte is aan verwaarlosing veral onder Turkse bewind. Vervalle terrasse en verbrokkelde wingerdtorings is bewys genoeg van hoe die bebouing van die grond agteruitgegaan het. Hoofsaaklik ten gevolge van armoede en gebrek aan energie, van primitiewe metodes van bewerking en die afwesigheid van bemesting en besproeiing, is die opbrengs uiters power in vergelyking met dié van Duitse nedersettings en die huidige Sionisties-Joodse ondernemings.
Ten slotte 'n paar opmerkings oor die invloed van die aardrykskundige gesteldheid van Palestina op die godsdiens van die volk.
Indien die volkie Israel in sy geskiedenis nie telkens van sy staatkundige vryheid beroof is en dan onder die hiel van een of ander vreemde moondheid beland het nie, sou hy stellig nooit die draer van die verlossingsgedagte geword en so vurig uitgesien het na die koms van die Messias-Verlosser nie. En hierdie geskiedenis staan in die nouste verband met die aardrykskundige ligging van die land, gekeil tussen die see aan die een kant en die woestyn aan die ander kant, die see as die beeld van wêreldverbinding en –onbestendigheid, en die woestyn as die sinnebleed van afsondering.
Dit was dan ook die lot van Israel om te midde van 'n see van heidene (teen wie hy staatkundig én militêr nie opgewasse was nie) aan sy Godsidee getrou te bly en hom nie te laat assimileer deur oppermagtige bure nie, al moes dit geskied teen die prys van verstrooiing oor die hele aardbol. En wat die bodemgesteldheid van Palestina betref, was die bewerkbare grond weliswaar baie vrugbaar, maar 'n aansienlike deel van die land was òf woestyn òf bergagtig. Buitendien is die hele land van tyd tot tyd geteister deur droogtes, aardbewings, uitdorrende woestynwinde en, les bes, sprinkane en pestilensies. Hierby kom dat die riviere waarmee hy bedeel was, in die reël so diep gevloei het dat hulle vir besproeiing feitlik nutteloos was.
Dit alles het gemaak dat die Israeliet voortdurend afhanklik was van faktore waaroor hy geen beheer gehad het nie. Sy militêre oorwinnings was so te sê almal te danke aan direkte ingryping van God; en vir sy watervoorsiening was hy aangewese op die seën van Bo. Omring deur vyande links en regs en geplaas onder natuuromstandighede waarteenoor hy magteloos gestaan het, moes Israel vroeg al leer om nie op uiterlike dinge staat te maak nie, dog om sy hoop op die Here en Hom alleen te vestig.
Die aanvang van sy geskiedenis, beginnende met die uittog van Abraham, was 'n geloofsdaad, en hierdie gawe of eienskap het die toonaard gevorm van sy hele toekomstige ontwikkeling – al sy volkshelde was tegelykertyd geloofshelde (lees maar Hebr 11.) Soos teen ander volk ter wêreld nie het Israel hierdie dimensie van die geesteslewe, nl die geloof, ontgin en uitgebou. Waar in die geskiedenis is so 'n woord al ooit in die staatkunde gehoor: "As julle nie glo nie – voorwaar dan sal julle nie bevestig word nie." (Jes 7:9), soos die Here Jesaja destyds in die krisisuur van die volk se bestaan aan koning Agas laat sê het? Uit geen ander volk kon so 'n geloofsheros as Jesus Christus dan ook gespruit het nie.
Waar selfs in die Paradys die eerste mens, Adam, behoefte gehad het aan die geselskap van 'n medemens, 'n metgesel, so gaan in die eensaamheid van die woestyn en die aangesig van verhewe berge as die voetbank van die ewigheid, die gedagtes van die sterweling uit na die troon van die Almagtige. En 'n volkie soos Israel, wat vroeg al geleer het om sy hele geskiedenis vanuit die oogpunt van 'n goddelike Voorsienigheid te betrag, dié kom mettertyd daartoe om die dinge van sy omgewing as sinnebeelde van ewige waarhede op te vat: al die positiewe in sy bestaan word 'n onderpand van die ewige trou en goedertierenheid van die Heer.
Die onwankelbare berge rondom Jerusalem is vir hom 'n beeld van die onwrikbare trou van Jehova (Ps 125:2) Net so "die arend wat sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels." (Deut 32:11). In vergelyking met die onbetroubare huurlingwagters snags tydens die daelange reis na die feeste te Jerusalem verseker die psalmis: "Die Here is jou Bewaarder."
"Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie." Selfs die gitige sonstrale bedags en die maanlig snags sal hom geen kwaad doen nie (Ps 121). Ja, die Here is ook sy Herder (Ps 23). En die verlange van die siel na gemeenskap met God word vergelyk met die hert wat smag na waterstrome (Ps 42). En waar die siel oorstelp is van al die weldade van die Heer, roep hy uit: "Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval." (Ps 16:6) Omgekeerd word groot rampe en teëspoed vergelyk met lig wat uitgedoof word. So sê Job: "Die lig van die goddelose gaan dood... Die lig in sy tent word duisternis." (Job 18:5-6).