Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om die waarde van die anker te besef, moet ons eers die storm ervaar.
DIE GELYKENISSE VAN JESUS (8)
U kan hierdie reeks geskryf deur ds Andrè van den Berg lees by Jesus se gelykenisse
Die eerstes laaste en die laastes eerste
Mt.20:1-16
Al lyk dit op die oog af of hierdie gelykenis maklik verstaanbaar is, moet daar by die verklaring egter met meer as een gedagtegang rekening gehou word. Dis nie so duidelik wat die hoofgedagte daarvan is nie. Dit gaan hier oor twee sake – eerstens die aard van die werk binne die werk van die koninkryk van God en tweedens die loon wat hiervoor ontvang word.
In die voorafgaande Skrifgedeelte (Mt.19) vind ʼn gesprek tussen Jesus en ʼn ryk jongman plaas. Jesus sê vir hom: “As jy volmaak wil wees, gaan heen en verkoop al jou besittings en gee dit vir die armes en jy sal ʼn skat in die hemel hê; en kom hier en volg My”. Nadat die man Jesus verlaat het, kom Petrus na Jesus met ʼn vraag wat hierby aansluit: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar vir ons wees?” Jesus antwoord hom dat hulle 100 keer soveel sal ontvang as wat hulle opgeoffer het; meer nog, dat hul die ewige lewe beërwe!
Daarna waarsku Jesus: “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste” (Mt.19:30). Dis die hoofgedagte van die gelykenis. Daar is ook twee newegedagtes. Die eerste handel oor die aard van die werk en die tweede oor loon wat daarvoor ontvang word.
Oor hoedanig die aard van die werk in die koninkryk van God is, word daar van arbeid in die wingerd gepraat. Arbeiders moes help om met parstyd die oes in te samel. Uit Jesus se woorde dat die oes groot en die arbeiders min is, blyk dit dat arbeid nie te volop was nie. Christus het met hierdie gelykenis hierdie beeld op die geestelike terrein van die koninkryk van God oorgedra. In die Skrif was die wingerd die beeld van Israel. Eers die fisiese en later die geestelike Israel wat uit almal bestaan wat die roepstem van Christus gehoor en daarop reageer het.
Die arbeiders in die gelykenis is eerstens Jesus se dissipels. Hulle het die eerste reageer en begin werk. Daarna ook elkeen wat tot bekering gekom en hulle by die geledere van die dissipels gaan voeg het. Alhoewel Jesus net 12 apostels gehad het, het Hy baie meer dissipels gehad.
Die geestelike oes waarvan Jesus praat, kom op Evangelie verkondiging en alles wat daarmee verband gehou het, neer. Die werkers was soos die slawe van Luk.17 wat hulself daarop ingestel het om deur diens hul eienaar bly te maak. Dit gaan in die gelykenis egter nie uitsluitlik oor die arbeid aan siele nie. Die gelykenis praat van ʼn hele wingerd. Dis reeds daar en lewer sy vrug. Gevolglik gaan dit oor versorging daarvan want as dit ontbreek sal die oes swak wees. In dié opsig verskil kerke van Gereformeerde belydenis van charismatiese kerke wat sterk op die wen van siele ingestel is, maar waar nasorg dikwels ontbreek.
Die werksaamhede binne-in die koninkryk sluit alles in wat gelowiges deur woord en daad doen om die koninkryk van God te bevoordeel. Om met hierdie arbeid te begin is nooit te vroeg of te laat nie. Elkeen in die gelykenis wat ledig op die markplein gestaan het, het die oproep ontvang om te kom werk met die versekering dat hulle die regte loon sal ontvang.
Hierdie gedagte van loon wat ontvang word, kom in die gelykenis sterk na vore. Daar is met die arbeiders wat eerste gehuur is oor loon afgespreek. Diegene wat later in diens geneem is, het die versekering ontvang dat hulle die regte loon sal ontvang. Toe die lone aan die einde van die dag uitbetaal is, het daar by die eerstes ontevredenheid oor die gelyke uitbetaling aan die laat arbeiders ontstaan.
Prof. Bauer, ʼn Duitse teoloog, het ʼn interessante studie oor loon in die Bybelse tyd gemaak en bewyse gevind dat die Jode, Grieke en Romeine nie uurlone betaal het nie, maar deur arbeidswetgewing slegs ʼn dagloon, ongeag hoeveel ure arbeiders gewerk het. Gevolglik kan ons die uitbetaling van gelyke lone nie aan die goedhartigheid van die wingerdboer toeskryf nie. Dit was destyds wet; hulle was op ʼn volle dag se loon geregtig.
Die Bybel praat dikwels van loon, veral in die lig van die komende oordeel. Dit skemer ook in die gelykenis deur wat vir ons iets van die endvergelding laat hoor. Hierdie opsigter is Christus. Uit talle ander Bybeldele weet ons dat Hy as Regter kom om met die mensdom af te reken. In hierdie gelykenis is Jesus egter nie Regter nie, maar die Een wat met werkersloon afreken.
Die beginsels van hierdie loon is nie aan arbeidswetgewing onderworpe nie, maar eie aan die koninkryk van God – dis twee verskillende sake. Jesus leer ons hiermee twee groot waarhede wat in die koninkryk van God geld. Eerstens dat loon nie deur die hoeveelheid werk vir God bepaal word nie. Wat hier van uiterste belang is, is die gesindheid waarmee dit gedoen word. Dink aan die Gelykenis van die Twee Seuns (Luk.17).
ʼn Tweede groot waarheid wat uit hierdie gelykenis spruit, is dat sulke loon geen menslike regsgrond het nie. Jy kan nie by ʼn unie of vakbond daaroor gaan kla nie. Dit word deur Jesus se goddelike beskikking bepaal.
Uit die vraag van Petrus aan Jesus blyk dat die dissipels ʼn uitsonderlike hoë loon vir hul diens in die koninkryk van God verwag het. Hulle het dan alles verlaat, iets wat die ryk jongman nie kon doen nie. Petrus wou dat Jesus vir hom die winsopbrengs bepaal! Jesus het toegegee dat die dissipels ʼn sekere voorsprong bo die ander het, maar dat hulle daarop bedag moet wees dat in die koninkryk van God die eerste laaste en laastes eerste kan wees. En dis waarom die Here nie die hoeveelheid arbeid deurslaggewend maak nie, maar eerder die gesindheid. Hy sien immers wat in die hart aangaan.
Let daarop dat die wingerdeienaar in die gelykenis nie van die werkers eis hoeveel werk hulle vir hul loon moet doen nie. Wat sê dit? Dat dit in die koninkryk van God oor gesindheid en nie oor hoeveelhede werk gaan nie. Daarbenewens gee hy ook geen vooraf aanduiding dat hy aan almal gelyke loon gaan betaal nie.
Die reaksie van die eerste werkers dui daarop dat hulle gesindheid nie reg was nie. Hulle oog was volgens vers 15 verkeerd. Dieselfde uitdrukking word in Mark.7:22 met afguns vertaal. In hul afguns het hulle die ander latere werkers nie ʼn gelyke loon, iets waarop hulle geregtig was, gegun nie. Ook by die uitbetaling het hulle verontreg gevoel t.s.v. die ooreenkoms oor loon. Daarmee het hulle hulself as die laastes in die koninkryk van God gestel. Dit bring ʼn onderskeid tussen selftevrede gewinsoekers soos Petrus en diegene wat hulself verloën en nederig is soos die vrou wat Jesus met haar kosbare salf gesalf het.
Die Gelykenis van die Verlore Seun bevestig ook die waarheid wat Jesus in die gelykenis van Mt.20 onderstreep - dat eerstes laaste en laastes eerste sal wees. Die eerstes is soos die ouer broer wat aan sy vader gehoorsaam was en nooit oortree het nie. Vir iemand wat wel oortree het, het hy geen genade gehad nie.
Die laastes is soos die jonger broer wat hom lelik in die lewe vasgeloop en toe na sy vader terug is om op niks anders as genade aanspraak te maak nie. Sy vader het hom op grond van sy berou vergewe. Dit dui op die vrymagtige beskikkingsreg van die huisheer oor sy eiendom. Hy kan daarmee maak wat hy wil. Niemand sê vir hom wat hy met sy eiendom moet doen nie!
In die koninkryk van God is loon nie meer loon nie omdat die afrekening geen menslike regsgrond het nie. Dan is daar geen verdienste loon nie, maar slegs genade loon. Jesus sê in die Bergpredikasie dat gelowiges bly moet wees omdat hulle weet dat hulle loon groot is in die hemele. Dis God se genadeloon!
Wat beteken hierdie genadeloon? Dis die ewige lewe wat Christus aan elkeen wat tot arbeid in die wingerd toegetree het skenk. Ons kan dit nooit verdien nie. Niemand moet ooit so dink nie. Ongelukkig mislei Satan baie mense om te glo jy wel deur verdienste die ewige lewe kan beërwe. Baie mense glo dat as jy kerktoe gaan, by jou gemeente betrokke is en goeie werke verrig, jy eendag tog hemel toe sal gaan. So ʼn siening is Rooms en hoort nie by Protestante nie! Een van die Hervormingsleuse is: Soli gratia - genade alleen.
Ons moet in hierdie gelykenis ook ʼn bestraffing van die kerklui van destyds sien. Die Fariseërs het geglo dat hulle deur verdienste gered sou word. Vandaar hul misplaaste ywer en Christus sowel as Johannes die Doper se bestraffing daarvan.
As daar dan nou aan almal gelyke loon betaal word, beteken dit dan dat alle menseverskille uitgesluit is? Nee, mense is slegs in een ding gelyk – almal is sondaars voor God en kan slegs deur Christus die ewige lewe verkry. Daarom mag niemand hom bo ʼn ander verhef en reken dat hy beter is nie. God het ons slegs anders gemaak. En omdat Hy in genade mense anders maak, staan sekere mense bo ander uit. Daar is niks om op te roem nie.
Die koninkryk van God is in sy huidige gestalte soos ʼn wingerd en die Meester gaan na al die eeue vandag nog rond om arbeiders te soek. Vir diegene wat dink dat dit veels te laat in die dag is om nog iets vir die Meester te doen, dink weer.