Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons leer in die Woord dat die tong baie maal onheil beraam, soos 'n geslypte skeermes, 'n werker van bedrog, woorde wat mens verslind deur 'n bedrieglike tong, sê Dawid (Ps 52). As ons elke woord wat ons elke dag spreek eers goed deurdink het met die gevolge daarvan, sou ons dalk heeltemal ander woorde gekies het...
GOUE STRATE HET NIE STOF NIE (1)
Ds.Andrè van den Berg
Die lewe na die dood
"Is jou lewe op stuk van sake net ‘n asemtog? Nee, goddank, nee! En hieroor is die Bybel baie duidelik. Die dood is nie net ‘n eindpunt nie, maar ook ‘n nuwe beginpunt."
1. Die skepping
“In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Gen.1:1). So begin die Bybel. En daarmee neem God verantwoordelikheid vir alles wat bestaan. Lewe begin dus by God. En daarom maak die lewe slegs sin indien die ontvanger daarvan God sentraal in sy lewe stel. Wie so leef, is geseënd, want Hy wat die lewe gee, gee aan so ‘n persoon sielerus en lewensvreugde.
Gen.2 vertel die verhaal van hoe God die mens uit die stof van die aarde geskep en daaraan verbind het. Gevolglik durf die mens die lewe nooit as ‘n reg beskou soos wat menseregte-aktiviste doen nie. Die lewe is ‘n gawe uit die hand van God en geen reg waarop die mens durf aandring nie. Die mens het geen regte nie, maar slegs voorregte!
Gen.1:31 meld dat God met die skepping tevrede was. Waar kom die dood dan vandaan? Die dood staan in skrille kontras met die ganse skepping wat mooi en volmaak geskape is. Die Bybel leer ons dat die dood aan die sondeval in die tuin van Eden te wyte is. Paulus sê tereg dat die loon van die sonde die dood is. Die eerste mensepaar was aan God ongehoorsaam en het van die verbode vrugte geëet, vir God gaan wegkruip en van Hom vervreem geraak.
Hulle ongehoorsaamheid is sonde genoem wat alle ander verhoudings daarna versteur het. Sonde het bv.die gemeenskap tussen broer en broer so versteur dat Kain sy eie broer doodgemaak het. Dat sonde ook die gemeenskap tussen kinders en ouers versteur het, kan duidelik in die verhaal van Noag en sy seuns (Gen.9) gesien word. Gen.11 vertel vir ons die verhaal van die toring van Babel waar die mens in sy sondeversteurdheid die hemel probeer bestorm het.
God duld egter nie sonde nie. Daarom het Hy die eerste mensepaar onmiddellik uit die tuin van Eden verdryf. En buite die tuin van Eden het die dood soos ‘n rower op die mens gewag. Ons moenie dink dat die dood net aan einde van ons lewenspad ‘n werklikheid word nie. Dis nòu al ‘n werklikheid en veroorsaak daaglikse rimpelings op ons lewenspad wat ons lewensgehalte laat inboet. Die mens leef bv.elke dag in die skadu van honger, siekte, ontberings, lewensgevare en armoede. En aan die einde van die dag lê die dood finaal op sy lewe beslag wanneer hy sy laaste asem uitblaas.
2. Die lewe gaan voort
Die lewe het egter nie by die sondeval opgehou nie, maar voortgegaan. God se genade was groot. Ongeveer ‘n duisend jaar na die skepping het sonde so toegeneem, dat God besluit het om ‘n einde aan die mensdom te maak. Die watervloed wat Hy oor die aarde laat kom het, het alle mense op agt na, laat omkom. Noag en sy gesin het ‘n dobberende teken van God se redding te midde van ‘n verskriklike oordeel geword. God het gesorg dat die mensdom nie heeltemal tot niet gaan nie.
In die Nuwe Testament staan God se reddingsboodskap weereens sentraal wanneer Hy sy eie Seun na die aarde stuur om te soek, te vind en te red. Jesus het God se reddingsdaad kom uitvoer deur sy lewe aan die kruis te verloor sodat die mens die ewige lewe kon vind.
Ons moet egter nie aan die dood bloot as ‘n straf van God dink nie. Die dood is ook die voltooiing van ‘n lewenspad. Ongelukkig ervaar die meeste mense dit as ‘n donker skaduwee wat hul ganse bestaan bedreig. Die mens moet liewer daarmee vrede maak dat sy liggaam vir die dood bestem is. Ons geboorte is die begin- en ons dood die eindpunt van ons aardse lewe.
Mense dink nie graag oor die dood nie omdat dit lewens ontwrig en ontwortel. Daarbenewens beëindig dit die lewe onherroeplik en skeur mense uit lewende verhoudings los. Jy blaas jou laaste asem uit om nooit weer asem te haal of in enige menseverhouding te staan nie. Maar beteken dit dat jou lewe in een asemuittog eindig? Is jou lewe op stuk van sake net ‘n asemtog? Nee, goddank, nee! En hieroor is die Bybel baie duidelik. Die dood is nie net ‘n eindpunt nie, maar ook ‘n nuwe beginpunt. Die dood beëindig wel jou aardse lewe, maar baan ook die weg vir ‘n nuwe bestaanswyse.
Elke mens het twee beginpunte. Een aards en een hiernamaals. As die aardse een afgesluit word, neem die hiernamaalse een onmiddellik in aanvang, amper soos ‘n kind wat met laerskool klaarmaak, net om in die hoërskool ‘n nuwe begin te maak. God is by die begin van ons aardse sowel as ons hiernamaalse lewe teenwoordig. Ons is nooit sonder sy sorg nie!