Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Voel jy soms onwaardig om jou mening oor jou geloof te lug omdat jy dink jy is nie geleerd genoeg nie?
Geloof word nie deur boekekennis of geleerdheid verwerf nie – God skenk dit aan elke uitverkorene. Jou geloof is net soveel 'n genadegawe van God as wat die geloofsreus Paulus s'n was.
'N EEU VAN ONREG (4)
Lees reeks by 'n Eeu van Onreg
Een Eeuw van Onrecht — A Century of Wrong, deur F. W. REITZ bied 'n helder beeld van Engeland se politiek van reeds voor die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika waar hulle die Boer se lewe hel gemaak het. Tans word ons volk weer net so verdruk, vermoor en ondergrawe en is hierdie geskrif weer baie aktueel. Dié weergawe is deur J.J. Blom in 1939 uit Nederlands in Afrikaans vertaal.
KONVENSIES VAN 1881 EN 1884
’n Eenvoudige mens sou dink dat die enigste billike manier om dit te doen sou wees dat die Britse Regering hom in die vervolg aan die bepalings van die Sandrivierkonvensie sou hou. As die anneksasie op sigself verkeerd was en nie alleen omdat dit deur Boere-oorwinnings gevolg is nie, dan moes dit met al die gevolge daarvan uit die wêreld gemaak word en daar moes ’n restitutio in integrum van die Republiek plaasvind; dit wil sê, die Boere moes in dieselfde posisie geplaas word as die waarin hulle voor die anneksasie was.
Maar wat het gebeur? Met ’n grootmoedigheid wat die Engelse pers en redenaars nooit moeg geword het om voor ons oë te hou nie, het hulle ons land teruggegee; maar die skending van die Sandrivierkonvensie is nie uit die weg geruim nie. In plaas van soewereine vryheid, het ons vryheid van binnelandse bestuur verkry onder voorbehoud van die susereine mag oor die Republiek aan Haar Majesteit. Dit het geskied in die konvensie van Pretoria, die aanhef waarvan selfbestuur gegee het aan die "Transvaal-Staat” met uitdruklike voorbehoud van die "susereiniteit”, en die artikels waarvan ’n modus vivendi tussen daardie selfbestuur en die susereiniteit probeer bewerkstellig het.
Onder hierdie tweeslagtige reëling is die Republiek drie jaar lank deur twee heterogene beginsels beheer: dié van die volksverteenwoordigende selfbestuur, en die verteenwoordig deur die Britse Resident. Hierdie stelsel moes natuurlik onuitvoerbaar blyk; ook het dit gelyk of dit nie die bedoeling was dat hierdie reëling in 1881 finaal sou wees nie. Veral was die susereiniteit ’n gedrog wat nie met praktiese werklikheid ooreengebring kon word nie. Met goedkeuring van die Britse Regering het daar dus in 1883 ’n afvaardiging na Londen vertrek met die doel om die status van die Republiek verander te kry en die konvensie van Pretoria met ’n nuwe te vervang. Die afvaardiging het voorgestel dat na die toestand onder die Sandrivier-konvensie teruggekeer moet word, en dit sou ook die enigste regverdige en staatsmanlike reëling gewees het. Die ministerie, wat volgens een van die getuies aan Britse kant, eerw. heer D. P. Faure, onder onheilsame vrees vir die Britse Parlement verkeer het, het geweier om hierin toe te stem, en ’n teenvoorstel gemaak (sien Bylae A) wat per slot van sake deur die afvaardiging aangeneem is, en die bepalings waarvan vir ons tans van die grootste belang is. Daardie konsep het bestaan uit die Pretoria-konvensie met wysigings wat bedoel was om dit vir die afvaardiging aanneemlik te maak. Die aanhef, waarin selfbestuur met behoud van die susereiniteit aan die Republiek gegee is, is deur lord Derby, toenmalige Staatsekretaris vir die Kolonies, geheel geskrap en daardeur het natuurlik ook die susereiniteit by die aanname van die konsep verval. Om dit nog duideliker te maak dat die status van die republiek op ’n ander basis gestel was, is die benaming Transvaal-Staat verander tot die S.A. Republiek. Alle artikels in die Pretoria-konvensie wat aan die Britse Regering bevoegdheid in die binnelandse aangeleenthede van die Republiek gegee het, is geskrap.
Wat binnelandse aangeleenthede betref, is daar ook ’n groot, ja ingrypende verandering aangebring. Die konvensie van Pretoria het in artikel 2 bepaal dat "Haar Majesteit vir haar, ens., voorbehou die toesig op buitelandse betrekkinge van genoemde staat, met inbegrip van die aangaan van traktate en die reëling van diplomatieke onderhandelings met vreemde moondhede, en sodanige onderhandelings moet gevoer word deur middel van Haar Majesteit se diplomatieke en konsulêre amptenare in die buiteland”.
Dit is vervang deur artikel 4 van die Londense konvensie wat as volg lui: "Die S. A. Republiek mag geen verdrag of verbintenis met enige staat of nasie behalwe die Oranje Vrystaat aangaan nie, nog met enige inboorlingstam ten ooste of ten weste van die republiek voordat dit deur Haar Majesteit die Koningin goedgekeur is nie. Die goedkeuring sal geag word verleen te wees as Haar Majesteit se Regering nie binne ses maande na die ontvangs van ’n afskrif van sodanige verdrag (wat onmiddellik nadat dit voltooi is aan haar oorhandig moet word) te kenne gegee het dat die sluiting van sodanige verdrag in stryd is met die belange van Groot-Brittanje of van een van Haar Majesteit se besittings in Suid-Afrika.”
Dus is die reg van die Britse Regering om oor al ons buitelandse betrekkinge toesig te hou en om al ons diplomatieke onderhandelings deur sy eie agente te reël, vervang deur die veel nouere reg om ons traktate en konvensies, nadat hulle voltooi is, goed of af te keur, en dit slegs in belang van Groot-Brittanje of van Haar Majesteit se besittings in Suid-Afrika.
Dit was hierdie artikel 4 wat die skyn, dog ook alleen die skyn van waarheid verleen het aan lord Derby se verklaring in die Hoërhuis dat hoewel hy die "susereiniteit” laat vaar het, die substansie daarvan nog bly. Dit sou juister gewees het om te sê dat deur die wegval van die susereiniteit die S.A. Republiek nie langer onder die benaming van ’n half soewereine staat val nie; dat hy ’n vry, onafhanklike, soewereine internasionale staat geword het, waarvan die soewereiniteit alleen onderhewig is aan die beperking in artikel 4 van die konvensie vermeld. Soewereiniteit hoef nie noodwendig absoluut te wees nie. België is tog ’n soewereine internasionale staat, hoewel hy verbind is tot ’n toestand van permanente neutraliteit. Binne hierdie kategorie van state waarvan die soewereiniteit in een of ander bepaalde opsig beperk dog nieteenstaande onbetwisbaar is, val ook die S.A. Republiek. Ek sal later aantoon hoe hierdie posisie, wat ongetwyfeld die juiste is, standvastig deur die Regering van die S.A. Republiek gehandhaaf is.
Ek keer nou tot die historiese ontwikkeling terug.
KAPITALISTIESE JINGOÏSME: EERSTE PERIODE
In 1886 is goud in groot hoeveelhede in verskillende dele van die S.A. Republiek ontdek en met dié ontdekking het ons volk ’n nuwe tydperk van sy geskiedenis ingetree. Van ’n toestand van groot armoede sou die S.A. Republiek binne weinige jare ’n ryk en voorspoedige staat word, ’n land in alle opsigte geskik om die begerigheid van die kapitalis en die spekulant op te wek en aan te wakker. Binne weinige jare het die S.A. Republiek ’n eerste plek in die ry van die goudproduserende lande van die wêreld ingeneem. Die kaal veld van weleer is oordek met groot stede wat bevolk is met ’n klas van spekulante en nyweraars wat uit alle hoeke van die wêreld afkomstig was. Die Boere, tot hiertoe veeboere en jagters, is nou geroep om ’n taak op hulle te neem wat een van die moeilikste in die wêreld is, naamlik die behartiging van die administrasie en die bestuur van die groot delwersbevolking wat plotseling in die buitengewoonste omstandighede tussen hulle ontstaan het. En hoe het hulle hul van die taak gekwyt? Olive Schreiner sê in haar skitterende brosjure wat onlangs verskyn het, en waarin sy blyke gee van ’n dieper insig in die ware toestande van Suid-Afrika as enige ander skrywer oor hierdie wêrelddeel, die volgende:
,"Ons stel die vraag aan alle edelmoedige en regverdige mense, of hulle staatsliede of denkers is, of die klein republiek nie ons simpatie verdien nie, die simpatie wat mense met ’n verstandige gees besiel, aan almal skenk wat nuwe en ingewikkelde vraagstukke moet behandel waar vorige ondervinding van die mensdom geen weg aangetoon het nie — en of, as ons die onderwerp aanroer, dit nie nodig is dat die simpatie geskenk word in dig ruim, onpartydige en waarheidsoekende gees waarin menslikheid ons gebied om alle groot maatskaplike moeilikhede en vraagstukke te nader nie? Dit is soms gese dat wanneer ’n mens van die kruin van ’n heuwel neersien op die groot mynkamp van Johannesburg aan die voet, met sy bergehoe hope wit sand en afval, sy rokende mynskoorstene, met sy 70,000 Swartes en sy 80,000 manne en vroue, blank en gekleurd en van alle nasionaliteite wat binne ’n enkele paar jaar hier vergader het, op dieselfde plaas waar vyftien jaar gelede die Boerseun sy skape na die water geja en die Boervrou in die aand alleen in die huisdeur gesit het om na die ondergaan van die son te kyk, dat ons dan neersien op die wonderlikste skouspel op aarde. En wonderlik is dit voorwaar; maar as ons daarop neersien, kom die gedagte altyd by ons op van iets wat nog wonderliker is -— die wonderlike wyse naamlik waarop ’n klein volk van eenvoudige mense wat in vrede lewe in die land wat hulle liefhet, ver van die gewoel van stede en die omgang met ander mense, aan die moeilikhede van hul nuwe toestand die hoof gebied het; hoe hulle sonder onderrig in staatkunde of handleidings in die politiek hulself aangegord het om hierdie groot moeilikhede aan te pak en ernstig daarna gestreef het om hulle met ’n onbevooroordeelde gemoed te bowe te kom en ook grootliks daarin geslaag het.
"Niks anders as daardie wonderbaarlike en wonderlike instink vir staatkunde en die organisasie en inrigting van nuwe maatskaplike toestande wat as ’n gawe van die bloed skyn geêrf te word deur al die volke wat opgekom het in die klein deltas in die noordweste van die vasteland van Europa, maar vanwaar sowel die Engelse as die Hollandse mense gekom het, kon dit moontlik gemaak het nie. Ons sê nie dat die Transvaalse Republiek onder sy leidsliede en regeerders 'n Solon of ’n Lycurgus het nie, maar hy het tans onder die mense wat sy lot bestier, dapper en ernstige manne wat manmoedig en met diepe erns daarna streef om die groot vraagstukke waarmee hulle te kampe het in ’n ruim gees van menslikheid en regverdigheid aan te pak en op te los. En ons herhaal weer dat hulle gesterk behoort te word deur die opregte simpatie van alle ernstige en nadenkende mense, nie alleen in Afrika nie, maar ook in Engeland.”
In vergelyking met die delwerye van ander lande was die Witwatersrand seker die bes bestuurde myngebied in die wêreld. Dit is die byna eenparige getuienis van persone wat lang tye op die goudvelde van Kalifornië, Australië en Klondyke deurgebring het. Wat Suid-Afrika betref, is dit genoeg om alleen te wys op die diamantvelde van Griekwaland-Wes, wat regstreeks deur die Britse Regering beheer is en waar opstand, oproer, onbeskryflike onsekerheid en gevaar vir lewe en eiendom steeds aan die orde van die dag was. Ek heg hieraan ’n Bylae B, waaruit volgens die getuienis van mense wat dit met hul eie oe aanskou het, sal blyk wat ’n chaos op die diamantvelde onder Britse bestuur geheers het, ’n toestand wat by van die Witwatersrandse goudvelde soos die nag by die dag afsteek. Ek sal later terugkom op die administratiewe toestand van die goudvelde van die S.A. Republiek en wens tans stil te staan by die magte wat hulle op die diamantvelde van die Kaapkolonie ontwikkel en ’n nuwe faktor van verbasende belang in die Suid-Afrikaanse situasie teweeggebring het. Tot hiertoe het ons alleen die uitwerking van die Britse politiek gesien, soms meer en soms minder jingo- en anneksasiegesind, steeds gelei deur die handelsinstink van die volk, maar in ander opsigte was dit steeds ’n politiek wat van die standpunt van staatsbelang uitgegaan het.
Nou verskyn die faktor wat van nou af aan so ’n gewigvolle rol in die geskiedenis van Suid-Afrika sou speel — ek bedoel die kapitalisme. Die natuurlike ongelykheid van die mense vind uiting in die vele soorte invloede wat die een mens oor die ander kan besit en uitoefen; hierdie invloed kan van godsdienstige, sedelike, politieke of suiwer stoflike aard wees. Die laaste, die stoflike soort invloed, neem meestal die vorm aan van geld — die geldelike nexus, soos ’n Engelse skrywer dit uitgedruk het. ’n Buitengewone sametrekking van hierdie soort invloed lei tot die sogenaamde kapitalisme, net soos ’n buitengewone politieke invloed tot tirannie lei en ’n buitengewone sametrekking van godsdienstige invloed tot hierargiese despotisme lei. Die kapitalisme dreig in die laaste tyd om vir die mensheid net so gevaarlik te word as die politieke tirannie van die ou Oosterse wêreld en die godsdienstige tirannie van die middeleeue vir hul respektiewe tye was.
In ’n wereld vol ryk myne van alle soorte, soos in Suid-Afrika, spreek dit vanself dat die kapitalisme ’n groot en natuurlike rol te speel het. Ongelukkig het dit in Suid-Afrika van die begin af aan probeer om ver buite sy natuurlike grense te gaan: om politieke invloed te verwerf en daardeur alle ander vorms van mag en invloed aan hom en sy doelstellings diensbaar te maak. In hoeverre hy hierin geslaag het, bewys die feit dat Suid-Afrika tans op die rand van ’n afgrond staan en daarin verswelg kan word voordat die ink waarmee ek skryf, droog is.
Die gees van die Suid-Afrikaanse kapitalisme het sy inkarnasie gevind in die heer C. J. Rhodes, wat geweet het om dit sover te bring dat die mededingende en strydende belange op die diamantvelde in een groot korporasie geamalgameer is, aan die hoof waarvan hy self gestaan het. Hoewel hy miskien geen buitengewone aanleg vir die politiek gehad het nie, is hy onweerstaanbaar daarheen aangetrek, en hy het dit deur sy geldelike invloed, gepaard met ’n dubbele mate van die gewetensrekbaarheid van sy klas, later sover gebring dat hy die Eerste Minister van die Kaapkolonie geword het en deur die Afrikanerparty met al sy krag en eenheid gesteun is. Die Afrikaners van die Kaapkolonie het in hom geglo omdat hulle werklik deurdronge was van die groot noodsaaklikheid van samewerking en samesmelting van die blanke rasse in Suid-Afrika, en hy, as lojale Engelsman maar met die volle vertroue van die Koloniale Afrikanerdom, het vir hulle juis die aangewese persoon gelyk om hul ideaal te verwesenlik.
’n Diepdenkende toeskouer van hierdie broederskap van die Afrikanerdom en die kapitalisme kon voorspel het dat daar vroeër of later ’n breuk sou plaasvind. Die Afrikaner-politiek berus immers op ’n diepgewortelde en suiwer nasionale gevoel, op ’n vurige politieke oortuiging, wat hom nooit aan geldelike belange sal kan diensbaar maak nie.
Aan die ander kant was daar die sogenaamde jingoïsme — ’n vorm van partypolitiek sonder vaste oortuiging of werklike geloof wat hom besighou met die gebruik van groot woorde en die speel met skoonklinkende gedagtes en beginsels; ’n politiek wat gedurig gespeel het op die snare van eiebelang, van onregmatige toeeiening van andermansgoed en van die lus tot grootdoenery wat so diepgewortel is in die menslike natuur — ’n politiek per slot van rekening in lynregte stryd met die ware gees van die godsdiens, met die estetiese gevoel van die mensheid en met die gevoel van nederigheid en gematigdheid wat die natuurlike grondslag van alle sedelikheid uitmaak.
Hier was dus kans vir ’n blywende bondgenootskap: tussen die kapitalisme met sy groot materiële invloed, maar sonder verhewe idee en beginsels, aan die een kant, en die jingoïsme, arm, leeg, sielloos, maar met ’n ryk voorraad hoogdrawende idee en beginsels en selfsugtige neigings aan die ander kant. Die een was juis geskik om die ander aan te vul en daardeur ’n natuurlike verbintenis aan te gaan, wat tans oor die hele wêreld heen ’n bedreiging word vir die grootste en blywende belange van die mensheid. Daardie kapitalistiese jingoisme is die boom waarvan die arme Suid-Afrika vandag sulke wrange vrugte pluk.
Jingoïsme vervolg...