Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In hierdie nuwe jaar sal baie van ons een of ander vorm van pyn en lyding ervaar. Maar ons moet nie bang wees nie want God se liefdevolle hande rondom ons in pyn, help ons om die omstandighede met hoop en moed onder die oë te sien. Daar is geen angs, verlies of lyding van ons waarin God nie deel nie. Wanneer ons dan weet dat God altyd by ons is, selfs al val ons wêreld uitmekaar, sal ons die pyn kan verduur, sonder vrees, sonder angs, met moed en hoop.
'N EEU VAN ONREG (3)
Lees reeks by 'n Eeu van Onreg
Een Eeuw van Onrecht — A Century of Wrong, deur F. W. REITZ bied 'n helder beeld van Engeland se politiek van reeds voor die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika waar hulle die Boer se lewe hel gemaak het. Tans word ons volk weer net so verdruk, vermoor en ondergrawe en is hierdie geskrif weer baie aktueel. Dié weergawe is deur J.J. Blom in 1939 uit Nederlands in Afrikaans vertaal.
DIE SUID-AFRIKAANSE REPUBLIEK
"Maar nou moes ons sê dat ons nie meer tot Engeland kon spreek nie, omdat daar niemand was wat ons wou aanhoor nie. Met vertroue op die almagtige God van reg en geregtigheid het ons ons tot ’n skynbaar hopelose stryd aangegord in die oortuiging dat of ons oorwin en of ons sterf, die son van die vryheid in Suid-Afrika uit die morewolke sou verrys. Met God's almag het ons oorwin, en dit het gelyk of ons vryheid weer ’n tyd lank verseker was. Op Bronkhorstspruit, op Laingsnek, op Ingogo en op Amajuba het God ons die oorwinning gegee, hoewel in elkeen van hierdie veldslae die Britse troepe groter in aantal en beter bewapen was as ons."
Ons het reeds melding gemaak van die noodlottige einde van die Trichardt-trek. Die Trichardts het gevind dat Transvaal oorstroom is deur die krygsvolk van Moselekaats, koning van die Matabeles en vader van Lobengula. Die ander Swartstamme in Transvaal was sy honde.
Toe Moselekaats hoor van die naderende Trekkers het hy ’n impi gestuur om hulle te verdelg. Hulle het ’n aantal afgeskeie mense vermoor, dog die impi is op Vegkop deur die klein laertjie van Chari Cilliers verslaan. Hier het ook die Boerevroue hulle deur heldedade onderskei. Kort daarna het die Emigrante deur die Vaalrivier getrek en ná twee gevegte Moselekaats en sy barbare oor die Limpoporivier tot in Matabeleland verja. Na die anneksasie van Natal het Andries Pretorius ook na Transvaal gekom en daar rustig as aanvoerder geleef nieteenstaande die prys wat sir Harry Smith ná Boomplaats op sy hoof gestel het nie. En die Britse Resident in die Vrystaat, wat nou nog aan Engeland behoort het, moes aan die Engelse goewerneur skryf dat die lot van die Vrystaat van hierdie Pretorius afhang. Aan sy invloed was dit te danke dat Moshesh nie die Britse soldate verdelg het nie. In Engeland is besluit, soos die meer aangehaalde Froude sê, om die Afrikaners en die Swartes buite die grense met rus te laat, met die hoop daarby dat die Swartes die Afrikaners sou verdelg.
Die Koloniale Kantoor was dus bly, sê die Engelse parlementslid Molesworth, toe die goewerneur in 1851 van Andries Pretorius, kommandant-generaal van die Transvaalse Boere, ’n brief ontvang waarin hy namens sy volk aanbied om onderhandelings met die Britse Regering aan te knoop met die oog op ’n traktaat van vrede en vriendskap. Die prys op sy hoof gestel, is dadelik gekanselleer, en toe sir Harry Smith in oneer teruggeroep is, is goewerneur Cathcart deur graaf Grey uitgestuur om die onafhanklikheid van die Boere te erken. Die Aberdeen-ministerie wat onmiddellik opgevolg het, het deur sy woordvoerder in die Engelse Laerhuis verklaar: "Dit spyt ons dat hulle ooit oor Grootrivier getrek het. Lord Grey het dit gedoen terwille van sir Harry Smith en teen sy eie beterwete en beter insigte in, daar die Boere vyandig was teen die Britse heerskappy.” Hierdie politiek is byna eenparig deur die Britse Laerhuis bekragtig.
Daarop is Pretorius se voorstel aangeneem, en die twee assistent-hoëkommissarisse Hogge en Owen, met goewerneur Cathcart uitgestuur, het met die afgevaardigdes van die Boere ’n byeenkoms gehou ten gevolge waarvan die Sandrivierkonvensie deur die partye wedersyds onderteken is. In hierdie konvensie, soos ook in die latere Vrystaatse, is die Transvaalse Boere op die volledigste wyse teen inmenging of letsel van Engelse kant gewaarborg, nog met die naturelle noord van die Grootrivier, aan wie dit ook wedersyds verbied is om skietgoed te verskaf. Die Britse kommissarisse het verslag gedoen dat die erkenning van die onafhanklikheid van die Transvaalse Boere groot voordele meebring, daar dit hul vriendskap sou verseker, hul verbintenis met Moshesh sou verhinder en verseker dat geen slawerny sou bestaan nie en dat misdadigers uitgelewer sou word.
Op 13 Mei 1852 het sir George Cathcart, die goewerneur, in ’n proklamasie sy voldoening uitgespreek dat hy as een van die eerste dade van sy bestuur die Sandrivierkonvensie kon goedkeur. Op 24 Junie 1852 het ook die Britse Koloniale Sekretaris die konvensie goedgekeur.
Die Republiek het nou ’n konvensie besit wat, vir sover dit die voorwaardes betref het, hom skynbaar ’n rustige toekoms voorspel het. Die Republiek is behalwe in Engeland ook in Holland, Frankryk, Duitsland, België en veral deur die Verenigde State van Amerika, erken. Die Staatsekretaris van Amerika het op 19 November 1870 uit Washington aan pres. Pretorius geskryf en gesê dat sy regering die soewereiniteit van die Transvaalse Republiek hartlik erken en bereid sal wees alle maatreëls te tref wat daardeur vereis mag word.
Maar op die woord van Engeland selfs in ’n konvensie deur hom goedgekeur en onderteken, kon nie vertrou word nie. Toe diamante in die Vrystaat, nog geen sewentien jaar na die ondertekening van die konvensie, ontdek is, het Engeland aanspraak gemaak op ’n deel van die Transvaalse gebied wat gegrens het aan die deel van die Vrystaat wat hy reeds afgeneem het. Daar is tot arbitrasie oorgegaan. Die arbiters het verskil en die skeidsregter, goewerneur Keate van Natal, het teen Transvaal uitspraak gedoen. Toe het dit geblyk dat die Britse arbiter van die swart kaptein Waterboer twaalfduisend morge grond vir ’n appel en ’n ei gekoop het, en dat goewerneur Keate, in stryd met die konvensie, Waterboer reeds as ’n Britse onderdaan aangeneem het. Selfs dr. Moffat, wat geen vriend van die Boere was nie, het in ’n brief aan die Londense Times hierteen geprotesteer omdat die betrokke grond steeds aan Transvaal behoort het.
Dit was maar net een van die breuke van die konvensie. Toe die vierhonderdduisend gewere aan Swartes in Kimberley verkoop is, waarvan Cunynghame en Moodie getuie was, het Transvaal in 1872 by die Kaapse Hoë Kommissaris hewig protes aangeteken. Hy moes hom egter tevrede stel met ’n parmantige antwoord van sir Henry Barkly.
En om die kroon te span op al die skanddade van Engeland het hierop gevolg die anneksasie van Transvaal deur middel van Shepstone op 12 April 1874. Om die kroon op sy Suid-Afrikaanse konfederasie-politiek te sit, het lord Carnarvon Bartle Frere as goewerneur na die Kaap gestuur. Hy het ook Shepstone na Transvaal gestuur om die land te annekseer as die toestemming van die Volksraad of van die meerderheid van die inwoners verkry kon word. Die Volksraad het teen die anneksasie geprotesteer, die president het geprotesteer, en uit ’n moontlike agtduisend burgers het sesduisend-agthonderd geprotesteer; dog alles tevergeefs.
Biskop Colenso het verklaar dat: "The sly underhand way in which the Transvaal had been annexed, appears to me to be unworthy of the English name.”
Die Vrystaat het eweneens sy innigste spyt oor die anneksasie uitgespreek. Selfs Gladstone het sy spyt uitgedruk en erken dat in Transvaal Engeland in die posisie verkeer van die vrye onderdane van ’n koninkryk wat die vrye onderdane van ’n republiek gaan onderdruk en dwing om ’n burgerskap aan te neem wat hulle nie wil hênie, maar dit het alles niks gehelp nie.
Sir Garnet Wolseley het verklaar: "As long as the sun shines, the Transvaal will remain British territory,” en weer: "dat die Vaalrivier eerder terug na sy bron oor die Drakensberge sou loop voordat Engeland Transvaal sou afstaan.”
Shepstone se vernaamste redes vir die anneksasie was dat Transvaal Sekoekoenie nie kon oorwin nie, en verder dat die Zoeloes gedreig het om Transvaal te oorweldig. Wat Sekoekoenie betref, het hy kort tevore om vrede gesmeek, en hy is deur die Republiek met tweeduisend beeste beboet. En wat die Zoeloe-volk betref, is die dreigende gevaar nooit deur die Republiek gevoel nie. Vierhonderd burgers het in 1838 die Zoeloe-mag verbreek en in 1840 Panda, vader van Cetewayo, gekroon. Sir Bartle Frere het op 12 Januarie 1879 in ’n brief aan sir Robert Herbert erken dat dit vir hom vreemd was dat die Zoeloes Natal so lank ongehinderd gelaat het totdat hy uitgevind het dat die Zoeloes in die tyd van Dingaan totaal verslaan is deur die Boere. Kort voor die anneksasie het ’n klein afdeling Transvaalse burgers die opperhoof Umbeline tot in die hart van Zoeloeland agtervolg. Maar Colenso toon aan wat ’n bedrieglike stokperdjie die Zoeloe-moeilikheid was. Daar het etlike jare lank tussen Transvaal en die Zoeloes ’n geskil bestaan oor ’n strook grond op die grens wat sedert 1869 deur die burgers beset en bewoon was. Voor die anneksasie, toe Shepstone nog in Natal was, is hierdie kwessie na hom verwys en hy het duidelike uitspraak teen die Boere en ten gunste van die Zoeloes gegee. Daar kon dus geen rede vir ’n Zoeloe-aanval op Transvaal wees nie. Shepstone was egter skaars oorheerser van Transvaal, wat hy tot Engelse gebied verklaar het, of hy vind uit dat daar sulke sterk getuienis was vir die aanspraak van die Boere dat die Zoeloes geen eis ten opsigte van die betrokke grond gehad het nie. Die goewerneur van Natal, Bulwer, het ’n grenskommissie aangestel wat ten gunste van die Zoeloes uitspraak gedoen het; maar Shepstone het hewig teen hierdie uitspraak uitgevaar, en Bartle Frere en die hoë kommissaris het hom blindelings ’gevolg, met die gevolg dat Engeland ’n ultimatum aan die Zoeloes gestuur en die Zoeloe-oorlog daarop gevolg het, wat die Engelse naam in Suid-Afrika veel skade onder die naturelle berokken het.
Ons sien dus dat Shepstone se twee vernaamste redes van alle waarheid ontbloot was.
Dit was natuurlik vir die Staatsekretaris moeilik om sy opdrag "om te annekseer indien die meerderheid van die bevolking daarvoor is” te handhaaf teen die feit dat sesduisend- agthonderd uit die agtduisend burgers beswaar gemaak het; maar sonder dat die minste rede daartoe bestaan het, het sowel Shepstone as Carnarvon verklaar dat die naamtekeninge op die petisie teen die anneksasie onder dreigemente verkry was. Juis die teenoorgestelde was waar. Toe die vergadering op Pretoria gehou is om die petisie te teken, het Shepstone die kanonne op die byeen-vergaderde mense laat aanlê. En boonop het hy nog ’n proklamasie uitgereik waarin hy gedreig en gewaarsku het teen die ondertekening van die petisie.
Toe hierdie redes dus uit die veld geslaan is, moes hulle hul beroep op ’n voldonge feit. Carnarvon het gesê dat hy die afgevaardigdes slegs sou mislei as hy hulle enige hoop op teruggawe sou gee. Gladstone het dit herhaal deur te sê dat hy nie die koningin kon aanraai om haar soewereiniteit aan Transvaal te onttrek nie.
Toe daarop gewys is dat die anneksasie ’n growwe skending van die Sandrivier-traktaat is, het sir Bartle Frere in 1879 gesê dat as ’n mens na die Sandrivier-konvensie wil teruggaan, jy net so goed tot die Skepping kon teruggaan!
Dit moet hier ook nie vergeet word nie dat die grond wat ten gevolge van die Keate-beslissing in 1870 buite die grense van die Republiek geval het, nou deur Shepstone by Transvaal ingelyf is as grond wat aan Transvaal behoort.
Daar was ook nog ander dinge wat vir Transvaal onder ’n republikeinse bestuur verkeerd was, maar nou onder die Engelse bestuur volkome reg was. In die oorlog tussen die Republiek en Sekoekoenie het die Britse hoe kommissaris daarteen geprotesteer dat die Republiek in die bevegting van Sekoekoenie van Swazies en vrywilligers gebruik maak. Onder die Britse bestuur is hierdie oorlog voortgesit, eers met troepe, maar toe hulle deur die Swartes verslaan is, is ’n leër Swazies opgeroep en ook van vrywilligers gebruik gemaak. Hoeveel Swazies daar was, blyk uit die feit dat 500 Swazies gesneuwel het. Die gruweldade wat in daardie stryd deur die Swazie-helpers van die Engelse gepleeg is, is verskriklik.
Colenso, wat in die geleentheid was om te oordeel, sê van die gevolge van die anneksasie van die Republiek: "Die moeilikheid met Zoeloeland, en ook dié met Sekoekoenie, is die regstreekse gevolg van die ongelukkige anneksasie van Transvaal, wat ons tegemoet sou gekom het as ons nie van hul land soos ’n klomp vrybuiters besit geneem het nie, deels deur 'trickery’ en deels deur 'bullying’.” En op ’n ander plek sê hy: "En so het ons Transvaal geannekseer en die daad het as sy Nemesis die Zoeloe-moeilikheid meegebring.”
Dat die Britse Regering steeds die gedagte gekoester het om van die Zoeloes gebruik te maak om Transvaal te verdelg wanneer ’n geskikte geleentheid daartoe sou aanbreek, blyk uit ’n brief van sir Bartle Frere, destyds hoe kommissaris, aan generaal Ponsonby, waarin hy sê:
"Dit is ’n feit dat toe die Boere-republiek ’n mededinger en ’n half-vyandelike mag was, dit in Natal te swak was om die Zoeloes te paai, soos ’n mens met ’n mak wolf maak wat net die skape van die bure verslind. Ons het weliswaar steeds moenie gesê; maar nou dat altwee die kuddes aan ons behoort, voel ons ’n bietjie verleë as ons hulle nou moet afkeer.”
En weer in ’n brief aan sir Robert Herbert:
"Die Engelse was wel daartoe geneë om die Zoeloes teen die Boere te help. Dit was vir my ’n skok om uit te vind hoe na aan die wind die voorgangers van die teenswoordige Natalse bewind in die ondersteuning van die Zoeloes teen die Boere geseil het. John Dunn verklaar dat hy Zoeloes van gewere voorsien het met medewete van die regering. (Dus ook van hierdie kant ’n verbreking van die Sandrivier-konvensie.) Dit is ongetwyfeld dat in Natal die simpatie sterk aan die kant van die Zoeloes en teen die Boere was, en wat nog erger is, nou nog is.”
In sulke omstandighede dan het die anneksasie plaasgevind. Die Engelse het weer nie geskroom om van die hulp van Swartes teen die Boere gebruik te maak nie, soos op Boomplaats. En op alle maniere is getrag om dit tot die Britse volk te laat deurdring dat hier ’n groot onreg gepleeg is; maar selfs die hoë kommissaris wou dit nie insien nie, en onderwyl hy geluister het na die woorde wat uit ons bloeiende harte kom, het hy die wens uitgespreek dat hy artillerie met hom meegebring het om ons uitmekaar te ja, en hy het wanvoorstellings omtrent ons gedoen en ons aanhoudend beklad.
Ons het hoopvol gesê dat die volk glo dat as die koningin van Engeland en die Engelse volk weet dat in Transvaal ’n volk verdruk word, hulle dit nie sou gedoog nie. Maar nou moes ons sê dat ons nie meer tot Engeland kon spreek nie, omdat daar niemand was wat ons wou aanhoor nie. Met vertroue op die almagtige God van reg en geregtigheid het ons ons tot ’n skynbaar hopelose stryd aangegord in die oortuiging dat of ons oorwin en of ons sterf, die son van die vryheid in Suid-Afrika uit die morewolke sou verrys. Met God's almag het ons oorwin, en dit het gelyk of ons vryheid weer ’n tyd lank verseker was.
Op Bronkhorstspruit, op Laingsnek, op Ingogo en op Amajuba het God ons die oorwinning gegee, hoewel in elkeen van hierdie veldslae die Britse troepe groter in aantal en beter bewapen was as ons. Nadat hierdie oorwinnings nuwe krag aan ons argumente verleen het, het die Britse Regering, onder leiding van die onvergeetlike Gladstone, besluit om die anneksasie te vernietig en ons geskonde regte aan ons terug te gee.
Vervolg...