Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ware skoonheid sal jy eers kan raaksien wanneer dit reeds in jou hart is...
SCOTT NA DIE SUIDPOOL (14)
Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Op die Beardmore-Gletser en verder
Die bestyging van die Beardmore-gletser was bepaald die aangenaamste deel van hulle suidelike reis. Diegene wat dit oorlewe het, kan alleenlik aangename herinneringe aan hierdie genotvolle deel van ons sleereis hê. Uit ’n wetenskaplike oogpunt was dit beslis die interessantste streek waaroor hulle gereis het, en vir die nie-wetenskaplikes het dit elke dag iets interessants gebied, al was dit net wat betref die vorm, kleur en grootte van die rots- en-berge-soom, wat ’n geweldige verligting na die eentonige reis oor die Ysbank was.
Eers was daar Berg Hoop aan die laer kant van die gletser. Berg Hoop is ’n granietkoppie wat omtrent 280 voet hoog is. Die kruin is met swerfblokke bestrooi, wat daarop dui dat die gletserwerking vroeër veel groter in omvang was.
Sedert Hutpunt ses weke gelede verlaat is, was dit die eerste land wat hulle van naby verbygegaan het. Hulle het nou 150 myl gereis, en nou eers was daar iets om na te kyk, iets waarop die blik met verligting kon rus, na die verblindende wit uitgestrektheid van die Ysbank, met sy glinsterende skittering wat die oë so kan uitput. Hulle wis dat nou verborge en naakte ysskeure verwag kon word, en ook wis hulle dat hulle elke dag hoër sou styg, totdat hulle die kruin van die plato op ’n hoogte van 10,000 voet bereik het. Die Beardmore is omtrent 120 myl lank en van 10 tot 30 myl wyd. Hulle het geen geoloog by hulle gehad nie, maar monsters is deur Shackleton se geselskap en deur die eie mense, veral deur Scott se sleegeselskap na die Pool, versamel, wat genoegsame aanduiding van die geskiedenis van hierdie gedeelte van Antartika gee.
Op 10 Desember was die geselskap op die gletser, maar was nog nie uit die moeilikheid nie, want hulle moes nog moeisaam teen die steilte wat Shackleton die Suidelike Poort genoem het, uitsukkel. Hulle het ’n opslagplek van drie tien-voet-slee wat in goeie toestand was, gemaak. Hulle moes deur die terugkerende geselskappe gebruik word. Hulle het besef dat die klim teen die gletser af die slee sou beskadig.
Hulle was nou in drie spanne van vier georganiseer en het ’n vrag van 170 lb. per man getrek, en in hierdie formasie het hulle die opmars teen die gletser gedoen. Die spanne was as volg saamgestel:
1. — Scott. 2. - Evans (luit). 3. - Bowers.
Wilson. Atkinson. Cherry-Garrard.
Oates. Wright. Crean.
Evans (seeman). Lashly. Keohane.
Lt. Evans het die hondespanne by hulle gehou. Hulle het 600 lb. van hulle eie gewigte en die 200 lb. bruto-gewig wat by die Laer Gletser-opslagplek afgelaai sou word, getrek.
Die sagte sneeu het die sleepwerk baie moeilik gemaak en gedurende die agtermiddag het sy geselskap, wat op ski’s getrek het, agter geraak en hulle het die kamp ’n uur later bereik. Lt. Evans en Lashly het daagliks vir vyf weke lank in die slee getrek, en Atkinson en Wright het dit toe al ’n tydlank gedoen. Die volgende môre na die ontbyt het lt. Evans lank met kaptein Scott gesels. Hy was teleurgesteld dat hulle nie met die pas van die hoofgeselskap kon byhou nie, maar hy het daarop gewys dat hulle nie dieselfde werk as die hoofgeselskap kon doen nie. Die ander agt het die sleetuie maar pas op 10 Desember vir die eerste maal getrek. Scott het saamgestem, maar dit het gelyk asof hy bekommerd en ontevrede was. Maar, hoe dit ook al sy, hulle het die etensuur-kampplek die eerste van die drie sleë bereik.
Hulle vreugde was egter van korte duur, want na die ete het hulle maar bedroef-swak gevaar en Scott was baie teleurgesteld en ontevrede. Hy het blykbaar gedink dat Atkinson pootuit was. Wilson het gesê dat Wright uitgeput en Lashly moeg was. Albei het gedink dat lt. Evans nog niks makeer nie, maar hy het nietemin gevoel dat sy eenheid meer as hul regmatige deel moes doen en dat hulle nou as gevolg daarvan moes ly. Die opslagplek is in ’n opvallende posisie aangelê en daarna was Meares se werk voltooi. Hy en Dimitri het ’n ent met hulle saamgekom en toe het hulle teruggegaan, die lang, eensame terugreis oor die onherbergsame Ysbank aanvaar.
Ten einde hulle te help, het Meares en die Russiese hondejong verder suidwaarts gereis as waarvoor hul rantsoene voorsiening gemaak het, en op die reis van 450 myl noordwaarts na Kaap Evans het hulle verkies om een maaltyd per dag te ontbeer, eerder as om die voorrade in die opslagplekke uit te put. Op ’n Suidpoolse sleereis is dit ’n vreeslike saak om elke dag ’n hele maaltyd te ontbeer, en Meares se grootmoedigheid mag nie vergeet word nie.
Die opmars van Scott se manne teen die Beardmore-gletser is aansienlik vertraag deur die diep, nat sneeu wat in die laerliggende dele van die gletser saamgepak het. Al hygend en swetend kon hulle tot 13 Desember slegs 4 myl per dag aflê, en selfs toe was die sagte sneeu 18 duim diep. Op die veertiende het hulle ’n goeie 9 myl gevorder, maar dit het nogtans die uiterste inspanning vereis. Hulle het op ski’s voortgesukkel. Die aneroides het ’n styging van 500 voet per dag aangetoon. Sake het nou verbeter en uiteindelik het hulle die 84ste breedtegraad oorgesteek. Hul het nou omtrent 9 tot 10 myl per dag afgelê en moes net soveel uur reis om dit te kon doen. Die bergreekse was met heelwat sneeu bedek, maar die landskap is ook met opvallende rotsagtige dagsome afgewissel. Die temperatuur was baie hoog en hul het baie as gevolg daarvan gely, want die sneeu was soos digte sop en ons hulle daarin rondgespartel. Hulle het gehyg, gesweet en geswoeg, maar nietemin was hul deurgaans opgeruimd en het steeds probeer om hul bes te doen. Teen die laat namiddag, net toe die oppervlakte begin verbeter het dit hard begin sneeu. As gevolg hiervan was hulle verplig om vroeër as gewoonlik kamp op te slaan. Nadat kamp opgeslaan het, het hulle uitgereken dat hul 2500 voet bokant die Ysbank was. Die oppervlakte het daar nou beter begin uitsien, want ses duim van die oppervlakte was die harde blou ys, en die sneeu was redelik dig en geskik vir ski-loop.
Op 16 Desember was hul om vyfuur uit die slaapsakke en het om 7 vm. vertrek en tot die middag voortgereis. Toe is daar waarnemings gedoen en hoeke vasgestel. Die oppervlakte het tot 2 nm. redelik goed gebly en toe het dit om die een of ander onverklaarbare rede slegter geword. Hulle het 12 myl afgelê.
’n Hele paar van hulle het in ysskeure getrap, maar dit was niks ernstigs nie. Hulle het ’n hoogte van 3000 voet bereik en teen die einde van die dag was die weer volmaak. Vir die eerste maal sedert Hoekkamp verlaat is, het hulle gevoel dat die rantsoen genoegsaam was. Hulle het nou die "kruinrantsoen” begin gebruik. Dit het aansienlik meer vet bevat. Hier en daar het die sneeublindheid moeilikheid veroorsaak. Dit was hoofsaaklik daaraan te wyte dat hulle hul skermbrille verwyder het as hulle benewel geraak het. Dit was aan sweet in die hoë temperatuur te wyte. Die skermbrille, waarvoor Wilson verantwoordelik was, het uitstekende diens gelewer. Geel en oranjekleurige brille was gewild, maar party het groenes verkies. Namate verder gevorder is en hulle hul oë lang tye aaneen sonder bril vir die opruiming van ysskeure, ens., moes gebruik, is daar ontdek dat ’n dubbele lens die beste resultate gelewer het. Hierdie soort bril is dan ook gebruik telkens wanneer hulle vinnig kon reis en skermbrille kon gebruik.
Daar was ’n opvallende teenstelling tussen met en sonder bril. As ’n mens jou oranjekleurige sneeubril afgehaal het, was daar ’n vlammende ligsee wat jy skaars kon verduur. Die sneeublindheid kom nogal baie ooreen met die gewaarwording wat ’n mens ervaar as jy met oop oë oor ’n rokende vuur staan.
Sondag, 17 Desember het van die ander dae daarin verskil dat hulle in groot drukkingsribbels beland het. Die sleë is teen die ribbels uitgesleep en dan teen die anderkant afgegly. So het hulle gedurende die helfte van die voormiddag voortgegaan. Hulle het uitstekende sneeuspore aangehad en het nou die maklikste sedert ons die Beardmore-gletser aangedurf het, getrek. Omdat die somer reeds in volle swang was, het die meeste van die oppervlaktesneeu op die gletser verdwyn. Dit was te danke aan die heeldagse son, tesame met die vroeë somerwinde. Die beneweling van hulle brille het as gevolg gehad dat hul die ysskeure beswaarlik kon sien, en meer as eenmaal is daar in die skeure beland.
Die 17de en die 18de was die voorlopers van goeie en maklike skofte. Hulle het die opslagplek in die middel van die gletser op breedtegraad 84° 33' 6" S., lengtegraad 169° 22' 2” O. bereik en ’n halwe week se voorrade daar gelaat. Hulle het die baken van die opslagplek met ’n bamboes en ’n rooi vlag aangedui, sodat dit teen sowel die ys as die land sigbaar sou wees. Tot dusver is die opslagplekke slegs met behulp van swart vlae aangedui.
Uiteindelik was sowel die weer as die oppervlakte gunstig. Dit was nou sonnig, warm en die lug was helder. Niks het die vordering vertraag nie. Wilson het baie sketse op die Beardmore gemaak. Afgesien van die feit dat hulle wonderlike kunswerke was, het sy sketse ook baie met die landmetingswerk gehelp.
Die groot, glinsterende ysrivier is met donker graniet- en dolerietheuwels omsoom. Party was met sneeu bedek en ander was weer heeltemal naak, want hul steiltes het die wit kleed van hierdie bevrore streek afgeweer. Van die nuwe heuwels is opnames gemaak, die voorgebergtes is op die kaart aangebring en, waar Shackleton dit nie reeds gedoen het nie, is name ook verskaf. Hulle het natuurlik die hulp van Shackleton se kaarte, dagboeke en ondervinding gehad en dikwels oor Shackleton se reis gesels; hul was verbaas oor sy prestasie. Hulle het altyd volle rantsoene gehad — iets wat Shackleton se geselskap op hierdie stadium moes ontbeer. Na 17 Desember het die skofte van 13 tot 23 myl toegeneem.
Shackleton het die naam Koningin Alexandra-berge aan die geweldige gebergte ten weste van die Beardmore gegee. Die opvallendste piek is die "Wolkemaker”. Hy gee die hoogte daarvan as 9,971 voet aan. Nogal eienaardig, die een voet aan die einde, as ’n mens voor oë hou hoe moeilik dit is om hoogtes hierrond vas te stel! Die drie sekondêre reekse aan die suidwestelike uiterste van die Beardmore op byna 85° het hy Adams, Marshall en Wild genoem. Die berge is vernoem na sy drie maats op die verste reis na die suide. Ten einde ’n beeld te vorm van wat op die boonste helfte van die Beardmore gesien is, moet ’n mens jou ’n redelike reguit helling voorstel. Dit is die gletser. Behalwe op die plekke waar die son die sneeu gesmelt en die blou ys blootgelê het, is dit wit. Kyk ’n mens teen die gletser op, sien jy die oorhangende ysvalle en -versteuringe, met drie bergrûe wat soos eilande deur die ysplaat boor. Die versteuring kom hoofsaaklik aan die linkerkant (die oostekant) van die berg voor, en selfs waar dit nie opgebreek is nie, lyk die pad hier vreeslik steil. Die groot, wit pad teen die hang van die gletser af word hier en daar onderbreek op plekke waar takgletsers by die hoofgletser aansluit. Bokant die Wolkemaker is die gletser op etlike plekke lelik opgebreek — hoe lelik sou hulle nie voor die helfte van Januarie 1912 uitvind nie — maar hieroor weldra later. Aan die linkerkant (die suidooste) was ’n groot, breë ysrivier, die Mill-gletser, en so voorts.
Dit is ’n buitengewone land — geweldige sneeuwalle wat lyk soos groot golwe wat teen ’n kliphawehoof breek, het die laere kranse en die steiler hellings omring. Dan volg rooibruin rotse wat daar uitgekerf is deur gletsers wat lankal verdwyn het, en daar bokant, die rotsagtige kalksteen-, sandsteen- en dolerietgordels. ’n Paar rotsagtige puinkegels het bo die groot sneeuwalle verrys en op party plekke was net die blote puinkegels.
Op 20 Desember het Scott ná die aandete by die tent ingekom en gesê dat die eerste geselskap wat sou terugkeer, uit Atkinson (wat in bevel sou wees), Wright, Cherry-Garrard en Keohane sou bestaan en dat hulle ná die volgende dag se skof sou omdraai.
Almal het baie treurig gevoel, maar het lojaal in die besluit van ons leier berus. Daar is tot byna middernag gewerk om ’n afskrif van die roete en die rigting vir Wright te maak. Hiervolgens moes hy die koers op die terugreis hou.
Na ontbyt is die slee oorgelaai. Hierdie plek is die Bowegletser-opslagplek genoem — en dit was die aanvangspunt van die derde en die laaste stadium van die reis na die Pool. Hulle het Atkinson se geselskap vaarwel toegeroep en, nadat hulle die voedsel wat hulle vir die Poolgeselskap en die laaste bystandsgeselskap met hul slee teen die Beardmore-gletser opgebring het, afgelaai het, het hulle teen die gletser af vertrek. Atkinson en sy tentmaats moes nou ’n terugreis van 584 myl aflê. Hulle het Kersdag deurgebring deur geologiese monsters te versamel en op 28 Januarie het hulle Kaap Evans bereik. Hulle het siekte by wyse van ingewandsontsteking en ’n ligte skeurbuik gehad, maar die sorg en die mediese kennis van dr. Atkinson het hulle veilig deurgehelp.
Kaptein Scott en sy twee sleespanne het nou teen ’n gemiddelde snelheid van 15 myl per dag met vol vragte van 190 lb. per man aangedruk.
Aanvanklik het hulle ten einde die groot drukkingsribbels en ysstortings wat die weg na die suide versper het, te vermy, in ’n suidwestelike rigting gehou. Hulle het baie merkbaar begin styg en toe hul na ons mars teruggekyk het, het hul besef watter enorme bevrore valle oor die rug van die Beardmore strek. Met Scott se toestemming is daarop gewys dat dit Shackleton se Ysval genoem behoort te word. Toe daar by die aanvang van die skof teruggekyk word kon hulle die baken van die opslagplek, met ’n swart vlag wat aan ’n paar 10 voet-sleelopers vas was, oor ’n goeie drie myl nog sien. 'n Mens sou dit dus met die terugreis maklik kon raakloop. Die volgende dag het hulle vroeg vertrek en 8 myl voor die middagete afgeê. Hulle het tussen ysskeure so groot soos Regentstraat wat almal met die sneeu oorbrug was, beland.
Daar is oor hulle gesnel en niemand het ’n ernstige val belewe nie. Die gevaarlike deel is die rand van die sneeubrug en die oomblik as hulle op die brug trap of op die punt gestaan het om hom te verlaat, het hulle dikwels tot by die armholtes weggesak. Hulle het nou ook die bytende wind waarna Shackleton verwys, ervaar en die manne het dikwels aan bevrore neuse gely.
Kersaand was hulle 8000 voet bokant die Ysbank en het gedink dat hulle by die ysskeure en die drukkingsribbels verby was. Hulle het die koue op reis nou baie strawwer aangevoel as op die Beardmore.
Vervolg...