Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Troos jou daaraan dat die aarde geen droefheid het wat die hemel nie kan genees nie.
SCOTT NA DIE SUIDPOOL (11)
Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Voorbereidings en Planne vir die Somer
Terwyl die lentegeselskap vir die aanlê van opslagplekke van die hoofkwartier weg was, het Scott op 15 September ’n klein sleegeselskap bestaande uit Bowers, seeman Evans en Simpson na die weste geneem. Hulle het meer as 150 geografiese myl afgelê en het eers ’n hoeveelheid voorrade vir Griffith Taylor se aanstaande westelike somerreis na Botterpunt vervoer.
Nadat die voedsel afgelaai was, het Scott met die Ferrargletser langs na Katedraalrotse gereis en wetenskaplike werk en opmetings gedoen. Hy kon vasstel dat die Ferrargletser 32 voet in sewe maande beweeg het. Hy het toe al met die gletser langs teruggekeer en sy reis oor die see-ys voortgesit. Hy het die kus tot in die vyfmyl-diepe baai wat as Nuwe Hawe bekend is, gevolg en vandaar na die buitekant in ’n noordoostelike rigting na Kaap Bernacchi en verby Marmerpunt waar hulle die afgebreekte punt van Gletsertong op die strand gevind het.
Nadat hulle hierdie ysmassa ondersoek het, het die geselskap verby Spykerpunt na Dunlop-eiland aangedruk. Hulle het langs die kus, ewewydig met die Piemontgletser wat deur Griffith Taylor na dr. Wilson vernoem is, aangedruk. Dunlop-eiland is deeglik ondersoek en die ondersoek het baie feite van buitengewone wetenskaplike belang aan die lig gebring.
Op 24 September het die sleespan op hul voetspore van Dunlop-eiland af na ’n kampplek naby Marmerpunt teruggekeer. Nadat hulle die nag naby die oorblyfsels van Gletsertong deurgebring het, het hulle ’n koers reguit na Kaap Evans ingeslaan en omtrent 1 vm. op 29 September daar aangekom.
Omdat hy hoofsaaklik op die see-ys en verweg van die ysige Ysbank gereis het, het Scott nie veel las van besonder lae temperature gehad nie, maar gedurende die twee dae voordat hy na die hoofkwartier teruggekeer het, het hy met ’n onaangename sneeustorm te doen gehad.
Afgesien van hierdie reis se waarde wat waarnemings van tegniese aard betref, het Scott baie inligting ingewin wat hy aan Griffith Tailor kon oordra en wat laasgenoemde vir sy eie baie belangrike reis goed te pas sou vind.
Na sy aankoms by die hut het Scott sy uitvoerige planne finaal afgerond. Hy het opdragte opgestel, sy korrespondensie in orde gekry, vir ingeval hy dalk, as gevolg van ’n vertraagde terugkeer, die Terra Nova sou misloop, en selfs het hy ’n spesiale brief geskrywe waarin hy daarop aandring dat luit Evans en Pennell tot die rang van Kommandeur bevorder behoort te word.
Dit was ongeveer toe dat hy ons die een na die ander ingeroep het om ons te vra om, indien ons kon, hom van die verpligting om ons vir ’n tweede seisoen te betaal, vry te stel. Die meeste van ons het die dokument onderteken, maar nie almal kon dit bekostig nie.
Almal wat daarby betrokke was, het nou geweet dat die algemene sketsplan vir die Poolreis as volg sou wees:
Die Motorgeselskap. — Day, Lashly, Hooper en lt. Evans sou die winterkwartier op omtrent 22 Oktober verlaat. Die twee motorsleë sou die brandstof en die voer vervoer.
Die Poniegeselskap. — Dit sou uit Scott, Wilson, Oates, Bowers, Cherry-Garrard, Atkinson, Wright, onderoffisier Evans en Keohane bestaan. Dit moes onafhanklik van die feit of die motors welslae sou behaal of nie, wees, moes ligte vragte oor kort afstande na Hoekkamp vervoer en volle vragte oor kort afstande na Een-ton-kamp, en volle afstande anderkant hierdie punt.
Die Hondespanne, wat later sou vertrek, moes by Een-ton-kamp by Scott aansluit.
Die eerste doelwit was om twaalf man met 43 weeklikse voedseleenhede (vier man per weeklikse eenheid) na die voet van die Beardmore-gletser te kry. Die voorneme was om die vooruitgeskowe eenheid (die Pool- geselskap bestaande uit vier man) met drie eenhede van vier man en 21 eenhede voedsel oor die vereiste afstand voort te help. Die voorgenome roete was die wat dan ook werklik tydens die gewigtige reis gekies is.
Al ons opdragte was duidelik en lank voor die aanvang van die reis na die suide het ons geweet wat van ons verwag word.
Nadat die planne en opdragte voltooi was, het ons ’n volle maand vir ons eie individuele werk oorgehad.
Luit. Evans het baie te doen gehad, hoofsaaklik saam met Debenham en gevolglik het hy, luit Evans en Gran op 23 September met ’n slee, ’n tent en ’n week se voedselvoorrade vertrek. Hulle wou hulle opnames voltooi en uitbrei en Debenham wou die geologiese gesteldheid van die gebied bestudeer.
Die reis was interessant maar nogal koud. Teodoliet- en meettafelwerk is nie vir ’n baie koue klimaat geskik nie. Hulle het aldrie lang werkskofte gehad. Hulle het tussen 5 en 6 vm. opgestaan en nie veel tyd met etes vermors nie.
Terwyl hulle landmeterswerk gedoen het, het hulle meesal op die see-ys gewerk en hulle tent daar opgeslaan. Op 2 Oktober, teen middernag, het ’n geweldig sneeuvlaag hulle tent getref. Omdat hulle van Wilson se ondervinding wis, het hulle dadelik uit hul slaapsakke gespring. Omdat hulle naby die land was, het Gran klippe op die hang van die rand bymekaar gemaak, terwyl luit Evans en Debenham so al wat hulle kon aan die tent gerem het, want anders sou die tent oor McMurdo-see-engte in die Ross-see gewaai het.
Uiteindelik was alles weer stil. Die tent was stewig deur die rotse wat rondom opgehoop is, vasgehou en hulle drie het in hulle slaapsakke gelê en snork.
Hulle het tot die volgende namiddag stil gelê. Die storm het toe bedaar en ’n mens kon ’n myl of wat ver sien. Hulle het gevolglik opgestaan en begin rondbeweeg. Toe dit lig genoeg was, het luit, Evans en Debenham weereens aan die werk gespring en Gran het na Kaap Evans vertrek om nog kos te gaan haal.
Hier moet gemeld word dat Gran maklik sestig pond gewig in ’n "rygsaek” (’n Noorse knapsak wat vir ski-loop en sleetrek gebruik word) kon dra, terwyl hy teen ’n snelheid op sy ski’s voortsnel wat die sweet by die beste van die ander laat aftap het.
Terwyl Debenham in die buurt van Turk se Kop was, het hy baie dinge wat vir die geoloog van belang is, gevind en was hy bly oor die inligting wat hulle hom kon verstrek. "Deb” was een van die ekspedisie se beste koks, en gevolglik was hulle, terwyl hy saam met lt. Evans en Gran was, daar goed aan toe.
Gran het altyd heelwat oor sy ervarings te vertel gehad en van al die lede van die ekspedisie het hy seker die lewendigste verbeelding gehad. Hy moes eintlik die leier van ’n rowerbende gewees het. Partymaal het sy verbeeldingryke vooruitsiendheid as gevolg gehad dat hy hom aan geringe vergrype teen die dissipline versondig het. Die volgende is ’n voorbeeld hiervan: Tydens die fees om die aanbreek van die middel van die winter te vier, het Gran, so teen die einde van die feesvierings, ’n ongeopende pintbottel met sjampanje opgemerk. Teen daardie tyd was die sjampanje reeds deur port en likeurs vervang. Versigtig het hy die sjampanjebottel na sy skoot vervoer, dit onder sy trui ingedruk en dit uiteindelik in sy slaapbank ingesmokkel, waar dit gebly het totdat hy die geleentheid sou hê om dit te drink.
Gran was te vrygewig om dit alleen uit te drink en te verstandig om dit onder te veel persone te verdeel — ’n pint is immers vir twee mense en niks meer nie, bedoel.
Terwyl hulle twee gedurende daardie lente in die buurt van Gletsertong met landmeterswerk besig was, moes hulle om die een of ander rede na Kaap Evans gaan. Die ski-loop na die kamp was straf en vir lt. Evans se kort bene was dit ’n groot inspanning om by die langbeen-skiloper te bly. Toe hulle weer in die landmeterskamp aangekom het, het lt. Evans gehyg en geblaas en uitgeput op sy slaapsak in die tent neergesyg. Hy het vir Gran gesê dat hulle eers moet teedrink voordat hulle weer begin werk en sy hand uitgesteek om die koker gereed te kry. Gran vra hom toe waarvan hy die allermeeste sou hou, en my antwoord was — ’n pint sjampanje.
Hy lag toe en vra vir lt. Evans hoeveel hy hom daarvoor sal betaal. Daarop antwoord lt. Evans: "vyf pond”, en laat sy moeë kop tussen sy knieë sak. Die Noor glip toe stil-stil by die tent uit en kom met die gesteelde bottel sjampanje terug. Lt. Evans het verras geglimlag en weldra was hulle druk besig om die sjampanje weer tot ’n vloeistof om te kook, want in die lae temperatuur het dit natuurlik kliphard verys. Nadat dit gesmelt het, het dit sy borrels verloor, maar selfs uit aluminium-sleebekers het dit soos nektar gesmaak en die sjampanje se skop was so groot dat hulle tot donker kon werk. Die vyf pond het lt. Evans nooit betaal nie, en wel omdat Gran ’n aandete aan die Hotel Grand in Christiana in die plek daarvan verkies het. Uit ’n geldelike oogpunt sou dit vir lt. Evans voordeliger gewees het om te betaal — maar dit is ’n ander verhaal wat niks met die bevrore Suide te doen het nie.
Op 13 Oktober het hulle die kusopname in McMurdosee-engte voltooi. Die weer was gewoonlik bedroef sleg, maar desnieteenstaande het hulle redelik goed met hulle werk gevorder. Na hulle terugkeer by die hut op Kaap Evans het hulle oorgenoeg in verband met die voorbereidings vir die reis na die Suidpool te doen gehad.
Lt. Evans se besondere werk het bestaan uit die stel van chronometers, naaldwerk, pakwerk, opbergwerk, die maak van sonnewysers en kalibreer-instrumente, en die voorbereiding van klein kaartjies wat oor ’n bamboesstok gerol kon word en in die instrumentkaste van die slee vervoer kon word.
Terwyl hy vir ’n foto deur Ponting reggestaan het, het die arme Clissold, ons kok, van ’n ysberg afgetuimel en as gevolg van die erge skudding wat hy opgedoen het, kon hy nie met die motorgeselskap, waarvoor Scott horn uitgewys het, saamgaan nie.
Ná die aandete op 17 Oktober het Day sy motors aangeskakel en temidde van geweldige opgewondenheid het hy die een motorslee tot by die see-ys afgebring. Dog, helaas, by die ysgordel het een van die agterste askaste lelik gebreek en was die motor op ’n afstand van dertig tree van die motorhuis af buite aksie. Die ander motor wou nie vat nie.
Van die 18de tot die 24ste Oktober was Day en Lashly besig om die stukkende motor te herstel en dit het hulle uitstekend reggekry, met die gevolg dat dit nie nodig was om die vertrekdatum van die pioniergeselskap met die motors uit te stel nie.
Omdat Meares en Dimitri op 15 Oktober van ’n vlugtige besoek na Hoekkamp en terug, met voorrade vir die opslagplekke was, het hulle alle inligting oor die toestand van die oppervlakte op die Groot Ysbank telefonies van Hutpunt verkry. Op hierdie reis het Meares se honde die sewentig myl heen en weer in ses-en-dertig uur, waarby hulle rustyd ingesluit was, afgelê.
Op 20 Oktober het Scott lt. Evans se opdragte aan hom oorhandig. Dit het as volg gelees:
Opdrag aan Motor geselskap:
Reis teen gerieflike snelheid na Hoekkamp, vandaar na Een-ton-kamp, en vandaar reg suid na breedtegraad 80 grade suid. Indien motors sukses blyk te wees: (i) Bring vorentoe van Hoekkamp 9 sakke voer, 1 sak oliekoek, maar maak seker dat ponievoer ongeskonde is, nl. 3 sak hawer, 1 sak oliekoek, 4 sak voer. Indien motors baie goed trek, kan u ook 9 kiste noodbeskuit saamneem. (ii) Neem verder na vorentoe uit Een-ton-kamp ook al die mensvoedsel en die brandstof in die opslagplek, nl. 7 eenhede voedsel in sakke, 4 kiste beskuit, 8 gelling paraffien, maar maak seker dat ponievoer ongeskonde is, nl., 5 sakke hawer, en laai tweede sak oliekoek wat u van Hoekkamp gebring het, af. Indien motors baie goed trek, kan u ook 2 of 3 bale voer saamneem.
Omdat dit van belang is dat ek die jongste nuus omtrent u welslae verneem, het ek reëlings getref dat ’n hondespan u spoor oor ’n bepaalde afstand sal volg.
Indien motors tydelik ingee, sal u tyd vir herstelwerk hê.
Indien motors onherstelbaar breek, neem voedsel vir 5 weke en 3 gelling olie op 10vt.-slee en hou met kort skofte suidwaarts aan. Tref reëlings so goed soos u kan dat ponies u vier skofte reg suid van Een-ton-kamp inhaal. Bring soveel mensvoedsel soos u met gemak kan dra van Een-ton-kamp af vorentoe, maar ek wil nie hê dat u enige lid van die geselskap moet uitput nie. Die doel is om die ponies, nadat u Een-ton-kamp verlaat het, so veel moontlik uit te spaar, maar u moet nie die gevaar loop dat u spore uitgewis en die poniegeselskap u misloop nie.
(geteken) R. F. SCOTT.
Op 23 Oktober het lt. Evans, vir ingeval hy na die vertrek van die Terra Nova na Kaap Evans sou terugkeer, die laaste briewe aan sy vrou en vriende geskrywe. Hulle het nou reeds besluit dat hulle weens onvermydelike omstandighede nog ’n winter daar sou moes oorbly en diegene wat moontlik sou oorbly het hierdie feit in hul briewe gemeld en die briewe aan Simpson se sorg toevertrou. Voordat lt. Evans met die motors vertrek het, het hy ook ’n tyd by sy leier deurgebring, en hy het lt. Evans gevra om al sy opdragte aan die verskillende geselskappe te lees.
Vervolg: opdragte aan offisiere...