Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ek moes eers alles van my nietigheid leer ken voor ek die grootheid van my Skepper kon begryp.
SCOTT NA DIE SUIDPOOL (10)
Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Die Lentereis om Opslagplekke aan te lê
Hoe goed ’n ekspedisie ookal toegerus is, sal die noodsaaklikheid vir besondere reëlings en aanpassings ten einde arbeidsbesparende planne te bevorder en die straal van optrede uit te brei, altyd bestaan.
Die kort herfsreise is gevolglik onderneem ten einde die toerusting te toets, sowel as om hul ervaring omtrent sleereise te laat opdoen en om voorrade tot op die Ysbank te vervoer. En noudat Wilson nog meer kennis omtrent die moeilikhede waarmee hulle te doen sou kry, ingewin het, het Evans en sy matroosmaats die opdrag ontvang om die inspannendste voorbereidings vir die sleereis na die Suidpool te tref. Terwyl die een groep besig was om die sleë van handige bande te voorsien om die vragte styf genoeg vas te maak teen die onvermydelike stampe en die omslaan van die sleë, en ook tenkagtige toestelle van waterdigte seil op die sleë vasgebind het waarin die verskillende voedseleenhede gebêre kon word, het ’n ander groep manne ligte rottang- of laaghout-kiste aan die slee-eindes vasgebind waarin instrumente en breekbare goedere soos primusstowe en brandspiritusbottels vervoer kon word. Hierdie sleë was spesiaal aan die sorg van onderoffisier Evans toevertrou en sy amp was sy trots. In die grys oggendskemering het hy opgeruimd die voltooide sleë wat in spesiale groepies buite die hut vir inspeksie opgestel is, ondersoek.
Die meer algemene tipe slee was die soort van 12 voet wat van ligte olmhout met noteboomlopers vervaardig was. Daarop is laaghout-bakke vir die blikke paraffien (gewoonlik aan die voorkant), en die reedsgemelde ruim seiltenk vasgeheg, en agter alles was die langwerpige instrumentkas wat met ligte houtklampe omring is waarin die aluminium-koker geplaas is.
Al die sleë was van klein armstring-sjortoue wat op egte seemanswyse vasgemaak is, voorsien. Die doel van hierdie toue was om die trekspanning betreklik eweredig oor die struktuur van hierdie ligte maar wonderlik sterk sleë te versprei.
Onderwyl daar vordering met die toerus van die sleë gemaak is, het Bowers, bygestaan deur Cherry-Garrard, die rantsoene wat hy op uiters saaklike wyse geweeg en ingepak het, uitgesoek. Bowers het altyd genoeg helpers gehad, want hy het die slag gehad om altyd genoeg vrywilligers te vind vir enige doel waarvoor hy hulle nodig gehad het.
Teen 1 September moes Scott gevoel het dat geen deel van sy reisvoorbereidings onvolledig was nie, want die reistoerusting is deeglik en met aandag aan besonderhede nagesien.
Voordat die groot karavaan op die Poolreis vertrek het, is ’n lentereis beplan. Die doel sou wees om ’n klein opslagplek by Hoekkamp aan te lê en om algemene verkennerswerk te onderneem. As gevolg van die lae lentetemperature is geen diere op hierdie tog gebruik nie. Die rit is deur Gran, Forde en luit. Evans onderneem. Hulle het op ski’s vertrek en ’n swaar vrag van oor die seshonderd pond getrek. Hulle het van agtuur in die oggend tot nege-uur in die aand, met ’n kort pouse vir die middagete, gereis. Op die eerste dag van die reis het hulle twintig myl afgelê en teen die einde van die dagskof was ons op die Groot Ysbank. Met die moontlike uitsondering van die hoë platorand wat die ysbedekking van die groot Antarktiese bergreekse vorm, is die Ysbank met sy verlate eensaamheid bepaald die mees troostelose deel van die aarde se oppervlakte. Soos hulle later uit vergelykings kon vasstel, was die temperatuur hier, op ’n afstand van slegs twintig myl van die winterkwartier, 21 grade laer as op Kaap Evans.
Hulle was aldrie gretig om hul goed van hul taak te kwyt en hoewel die temperatuur op die kampplek 420 benede sero was, het hulle geen besonder groot ongerief ervaar voordat hulle nie ’n ysig-koue wind teenoor Kaap Armitage teëgekom het nie, wat as gevolg gehad het dat Forde se neus erg bevrore geraak het. Sodra hulle dit bemerk het, het hulle die slee vinnig afgelaai, tent opgeslaan, en terwyl Gran die aandete voorberei het, het Evans hitte op Forde se neus aangebring in ’n poging om die bevrore deel weer te laat herlewe.
Dit is onnodig om te sê dat die bytende lug hulle eetlus gewek het en was almal snoep na die geurige pemmikan. Hulle het op opgerolde slaapsakke gesit en hande oor die primusstoof verwarm, terwyl hulle gretig daarna uitgesien het dat die pemmikan moes kook, sodat hulle die heerlike kos in hulle liggame kon kry en terselfdertyd ’n bietjie warmer kon voel. Nadat hulle die pemmikan en beskuit geëet het, het die lekker kakao gevolg. Hierna het hulle die slaapsakke se bande losgemaak en dit oopgesprei. Weldra het hulle teen mekaar opgekrul gelê — om sodoende meer warmte te kry — en probeer om te slaap. Dog die termometer het tot 60° benede zero gedaal en dit het gevoel asof die koue hulle beetpak, veral aan die voete en in die lendene. Hulle het die heelnag gebewe en rondgewoel en die gebrek aan hitte veral in hulle rûe gevoel. Daardie nag het hulle feitlik niks geslaap nie en was bly toe dit dag word en hulle ontbyt kon voorberei.
Op die voormiddag van 9 September het hulle die ou voeropslagplek by Veiligheidskamp bereik en die bale hooi uitgegrawe. Die plek waar die voer begrawe was, het hulle versigtig aangemerk deur ’n groot swart vlag daaroor in te plant. Toe het hulle verder na Hoekkamp gereis. Omdat die uitgrawe van die voer soveel tyd in beslag geneem het, het hulle op die tweede dag slegs agt of nege myl afgelê. Namate hulle verder oor die Ysbank gevorder het, het dit gevoel asof die temperatuur daal, en daardie nag het die temperatuur 62° benede zero gedaal. Dit het daarop neergekom dat hulle nog meer sou bewe en selfs meer ongerief moes deurstaan, want nou het die vogtigheid van hulle liggame en hulle asems ys in die pels van die slaapsakke gevorm, veral by die kop, die heupe en die voete. Die aaklige ysklam gevoel van ’n mens se gesig teen die bevrore pels sal hulle seker nooit vergeet nie.
Ten spyte van die lae temperatuur het hulle op die tweede nag tog geslaap, want hulle was gedaan en hulle het in ’n sagte beswyming weggesink.
Op die derde dag van die reis het dit heelwat moeite gekos om die slee uit die harde sneeu los te kry, maar hulle was weldra weer op weg, soos gewildige perde wat slinger voor die vrag. Dit was ’n baie koue dag en hulle asems het ’n grys wasem in die helder, fris lug gevorm.
Aanvanklik was hulle gesigte, voete en vingers seer van die koue wat dwarsdeur gebyt het, maar namate die reis gevorder het, het die temperatuur gelukkig gestyg en teen die middaguur was dit maar net 30° benede zero. Na wat hul vroeër moes deurmaak, was dit warm genoeg.
Terwyl hulle voortgestap het, het hulle die mis waarmee die verre heuwels bedek was, van hul kruine sien ontvou en in stygende misgordyne sien terugrol totdat die mis uiteindelik weggevoer is en die lug wolkloos was. Die aaklige afwesigheid van lewe het vreemd aangedoen. Selfs hulle voete wat in hul sagte pelsskoene geklee was, het geen geluid hoegenaamd gemaak nie. Hulle moes nou voetslaan, want hulle kon nie meer die vrag, wat swaarder geword het van die toenemende gewig aan ys in die slaapsakke en op die sleetoerusting, op ski’s voortsleep nie.
Namate die dag gevorder het, het hulle teleurgesteld geraak, want die lug het betrokke geword en die wind het steeds sterker en sterker uit die W.S.W. met lae sneeuval gewaai. Teen 8.30 nm., toe dit al te donker was om behoorlik te sien, het hulle kamp opgeslaan. Teen die tyd dat hulle tent opgeslaan was, het ’n sterk sneeustorm hulle reeds oorval en teen tienuur was die kamp deeglik toegesneeu. Ten spyte van die loeiende wind was dit heeltemal warm in die tent en die temperatuur het dermate gestyg dat hulle heeltemal lekker geslaap het.
Die sneeustorm het dwarsdeur die nag aangehou, maar teen die volgende dag het die wind effe afgeneem en teen die agtermiddag het dit reeds so opgeklaar dat hulle weer kon vertrek. Hulle het in ’n bytende koue wind vertrek. Hulle het tot die aanbreek van die nag gereis en omtrent sewe-en-’n-half myl afgelê.
Nadat Evans die heelnag in sy slaapsak gelê en bewe het, het hulle om vyfuur opgestaan. Die koue was so verskriklik dat geeneen van hulle ’n oog toegemaak het nie en was glad nie verbaas toe hulle op die termometer merk dat die temperatuur 73.30 benede zero Fahrenheit was nie.
Hulle het ’n maaltyd gaargemaak en hulle toe voorberei om na Hoekkamp te soek. Evans het Observasie-heuwel, ’n bekende baken, gesien en die ligging daarvan en van ’n ander heuwel vasgestel. Hieruit kon hulle hul posisie vasstel. Daarna het hulle ’n entjie suidwaarts gereis, totdat hulle net die punt van die vlagpaal by Hoekkamp wat heeltemal onder die wintersneeu begrawe was, kon sien. Nadat hulle die kamp bereik het, is tent opgeslaan en die hele voormiddag aan die uitgrawing gewei. Die drie van hulle het ’n groot sneeuhoop gebou en hierop het hulle uiteindelik al hulle voorrade oorgepak op ’n wyse sodat hulle dit kon bereik.
Nadat die werk klaar was, het hulle tee gemaak en toe die terugreis na Hutpunt wat byna vyf-en-dertig myl daarvandaan was, begin. Behalwe die tydjies wat hulle sou eet, wou hulle hierdie afstand aflê sonder om kamp op te slaan, want hulle wou niks langer by Hoekkamp bly waar die wind sterk gewaai het en die temperatuur deurentyd 320 benede zero was, terwyl hulle met die grawery besig was nie. Dit was omtrent net soveel as wat verduur kon word. Nadat hulle vier myl op die terugreis afgelê het, het die wind feitlik gaan lê en om 10.30 is pemmikan en tee genuttig. Volgens hulle sleemeter was toe nege-en-’n-half myl afgelê. Middernag het hul weer vertrek. Hulle het volgens die sterre rigting gehou en daarin geslaag om op die regte koers te bly. Die warm tee se werking was wonderbaarlik en die ysige gevoel van vermoeienis is weereens deur ’n gevoel van lewenskrag en wakkerheid vervang.
Toe hulle weer vertrek, is ’n grootse suiderligspel aanskou en terwyl die slee, wat nou lig was, voortgesleep is, was die goudwit wimpels in die lug gesien slinger en dartel. Die lug was besonder helder en, was dit nie vir die koue wat hulle asems laat jaag het nie, sou hulle ewewel deur die land van die feë kon gereis het. Hulle skouers, lendene en voete was liggies oortrek met ys en hulle was ook met die onaangename ryp bedek wat hulle rûe, onderwyl hulle gekampeer het, van die tentwande afgeskuur het. Hulle het egter vol vertroue en stil voortgegaan. Die enigste geluide was die geswiep van die ski’s terwyl hulle deur die sagte, nuwe sneeu voortsnel. In die skynsel van die suiderligte het dinge vlymskerp, soos ná ’n sneeustorm, uitgestaan, en dit het gevoel asof die temperatuur nog laer as teen middernag gedaal het. Die brand van die ryp het ’n mens laat voel asof jou vingers gesny is, en gesigte was so verkluim dat hulle van die pyn wou terugdeins.
Hulle het as ’t ware onder die skaduwee van Erebus, die groot Antarktiese vulkaan, gereis en op hierdie onvergeetlike nag het die suiderligte ure aaneen geflikker. Al was daar geen ander rede nie, dan het die ligspel die reis die moeite werd gemaak. Eers daal vertikale ligskigte soos ’n vlammende elektriese waaier en daarna smelt al die skigte in ’n deursigtige, chroomkleurige gordyn ineen. Dit het om die beurt verdof en weer intenser geword en dan in ’n oogwink verdwyn. Maar dan breek nog vlammende ligte in ander dele van die firmament deur en ’n skimmegordyn van glinsterende elektriese violet bewe tussen die ligte en die sterre.
Geen wonder dat Wilson en Bowers gesê het dat die suiderligte aan hierdie, die suidekant, van Erebus baie beter en meer geskakeer is nie. Die aaklige heerlikheid van hierdie grootse toneel het almal met ’n huiweringwekkende gevoel vervul en terwyl hul toegekyk het, het hulle hul vermoeidheid en die koue vergeet.
Die suiderligte het ’n paar uur lank aangehou en eers met die eerste môreskemering verdwyn.
In die daglig het hulle die welbekende heuwels wat hulle winterkwartier omring, gesien en deur hierdie aanblik aangespoor, het hulle met vernude ywer voortgegaan.
Om 5 vm. het hulle ’n ligte ontbyt van beskuit en tee genuttig. Om sesuur het hulle weer vertrek en hulle het voortgereis totdat hulle kort voor 1 nm. die rand van die Groot Ysbank bereik het. Hulle het nie vir die middagete vertoef nie, maar reguit na Hutpunt wat om 3 nm. bereik was, aangedruk.
Hulle het vir ’n geweldige maaltyd voorberei en van 4 tot 5.30 aaneen geëet. Daarna het hulle die moontlikheid van deurdruk na die winterhoofkwartier by Kaap Evans — ’n verdere vyftien myl — bespreek.
Indien hulle toe vertrek het, sou hulle Kaap Evans teen 3 vm. maar nie vroeër nie, bereik het. Hulle het reeds dwarsdeur een nag gereis, en behalwe dat hulle Hoekkamp oopgegrawe het, het hulle ook nog byna vyf-en-dertig myl afgelê. Hulle het gemeen dat dit, na ’n dag se werk, darem genoeg was. Hulle het die hut dus vir die nag voorberei. Twee van hulle het teen omtrent sewe-uur gaan lê en heerlik geslaap. Gran het by die stoof bly sit. Sy slaapsak was so vreeslik vasgeys dat hy daar nog nie kon inkom nie. Teen omtrent 10 nm. het hy hulle wakker gemaak. Daar was nou nog kos — kakao en pap — en albei het vorentoe gesmaak. Evans onthou nog goed dat hy omtrent vier onse botter in elke bakkie pap gesit het en dat dit baie lekker was. Toe het hulle weer tot die oggend geslaap — ’n lang, warm, droomlose slaap.
Die reis na Kaap Evans oor die see-ys was maklik. Hulle het die hoofhut teen die aand bereik. Na die koue lentereis het dit vir hulle na ’n paleis gelyk.
Voorbereidings en Planne vir die Somer: Vervolg...