Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Speel jy die lotto? Of doen jy besigheid op Sondae? Of dalk bly jy sommer saam met iemand sonder om God se seën in 'n huwelik te verkry het; of glo jy dat homoseksuele geregverdig voor ons HERE staan? Dalk dink jy dat aborsie nie verkeerd is nie? Die 'deugniete' in jou land wat al hierdie sondes gewettig het en wat jou hierdie afgode laat aanbid moet met die swaard doodgeslaan word, sê God, sodat jy weer sy Gebooie sal hou en Hom dien en Hy sy toorn van jou en jou volk sal wil afwend – Deut 13.
SCOTT NA DIE SUIDPOOL (8)
Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Voorbereidings vir die Winter
Binne veertien dae ná hulle terugkoms by Kaap Evans op 23 April, om presies te wees — het die son ons verlaat en sou dit vier eentonige maande agter die gesigseinder bly. Daar was natuurlik ’n aansienlike mate van skemerlig en selfs in die middel van die winter was daar op die middaguur ’n mate van grys lig in die noorde. Verskillende mense het, namate hulle in temperament van mekaar verskil, die winter op verskillende maniere die hoof gebied. Daar was manne onder hulle wat dit nie sou reggekry het om ’n tweede winter met ’n sprankie opgeruimdheid tegemoet te gaan nie, maar oor die algemeen het hulle hul goed gedra en toe die somer weer aangebreek het, was hulle weer die ene geesdrif. Dit het veral vir diegene gegeld wat gekies is om die groot reis na die suide te onderneem, selfs al was dit duidelik dat party lede hul leier slegs oor ’n klein deeltjie van die groot wit reis sou kon vergesel.
Gedurende die vier donker wintermaande het elk hom met sy besondere vak besiggehou en dit was toe dat dr. Wilson getoon het dat hy nie net ’n bekwame hoof van die wetenskaplike personeel was nie, maar ook ’n goeie vriend en maat van die uitvoerende lede, naamlik Bowers, Oates, Meares en Evans. Oom Bill was vir hulle ’n Salomo en hulle het hulle almal na hom om meegevoel en praktiese raad gewend. Na hom het die personeel, dit wil sê, die offisiere en die wetenskaplikes hulle gewend as daar moeilikhede tussen hulle ontstaan het — klein moeilikheidjies, soos ’n mens maar kan verwag gedurende die winter. Die matrose het hulle weer eerder tot Bowers, Oates en Evans gewend, want op hul konserwatiewe vlootmanier kon hulle dit maar nie kleinkry dat die hut nie ’n skip was nie en dat daar ander lede was wat, alhoewel hulle nooit onder die een of ander vorm van vloot- of militêre dissipline geresorteer het nie, tog ouer en meer ervare in die lewe was as jong manne soos Evans en Bowers. Nogtans het dinge baie goed verloop, en dit was dan ook wat ’n mens kon verwag het, as jy in aanmerking neem hoe sorgvuldig Scott sy personeel gekies het.
Indien Scott weer sou kon oorkies en indien hy uit die hele wêreld sou kon gekies het, kan ’n mens sonder aarseling sê dat hy weer vir Wilson sou kies om sy wetenskaplike personeel aan te voer en sy menslike naslaanwerk te wees. Van die belangrike lede van die ekspedisie was Wilson wat ouderdom betref die naaste aan Scott, en Wilson het ook op die suidelike sleereis in 1902—3 skouer aan skouer met Scott getrek.
Voordat van die persone waaruit die res van die geselskap bestaan het en van hulle delikate wetenskaplike werk op die basis vertel word, moet eers gemeld word dat Scott, met sy onblusbare energie, vier dae na sy reis na Kaap Evans weer na Hutpunt met Bowers, Crean en vyf nuwe kêrels vertrek het. Die reis het ’n tweeledige doel gehad, nl. om daardie buitepos van brandstof, liggewende materiaal, ens., te voorsien en om diegene wat vir bepaalde werk en pligte op Kaap Evans moes wees, daarheen terug te bring. Scott het met die roete waarlangs ons gekom het, teruggegaan, d.w.s. die 'Gletsertong— Kasteelrotsroete. Toe het hy die hondekneg by Meares gelaat om die honde daar op te pas. Lashly en Keohane moes die twee ponies oppas en in afrigting hou en Nelson en Forde moes leer om die strawwe winter die hoof te bied. Bowendien het hy Day op Hutpunt gelaat.
Hier was sy vernuftige vingers baie besig om die toestand van diegene wat daar gewoon het, te verlig. Day het in hierdie streek baie van Shackleton geleer en party het hom die bynaam "Handy Andy” gegee. Meares is nou as "Goewerneur van Hutpunt” aangestel. Om die waarheid te sê, hy en sy honde was hier daar beter aan toe as op Kaap Evans, want sy honde kon die groot, beskutte verandas, waarna reeds verwys is, gebruik, terwyl sodanige beskutting op Kaap Evans nie beskikbaar was nie. Scott was teen die 21e April by die hut terug. Hy het Meares uitdruklik beveel om nie toe te laat dat die ponies, James Pigg en Punch, na Kaap Evans vertrek voordat die hele reis nie in algehele veiligheid oor die see-ys kan afgelê word nie. Dit het daarop neergekom dat hulle drie weke of ’n maand sou moes wag en die "Goewerneur van Hutpunt” het nie voor die 13e Mei teruggekom nie en toe het hy met prag en praal met al die honde en die twee ponies in goeie kondisie sy intog gemaak. Sy geselskap was swart van die roet en die robbespek, hul winddigte klere was vetterig en het nie te aangenaam geruik nie. Hulle was ’n vuil maar gesonde en opgeruimde klomp.
Gedurende die eerste jaar het die self-registrerende instrumente in Simpson se hoek, of in die hutjie met sy magnetiese waarnemingspos ons ’n waardevolle rekord van die temperatuur, die barometerdruk, die krag van die wind en die rigting daarvan, die atmosferiese elektrisiteit, die sonskyn wanneer die son wel geskyn het, en die elemente van die aardse magnetisme gegee. Danksy Simpson het ons ook ondersoeke van die boonste luglae, suiderligwaarnemings, die atmosferiese optica en swaartekragsbepaling verkry en, verder, praktiese onderrig wat die verskillende slee-eenhede in staat gestel het om gegewens van weerkundige belang waar te neem en te versamel. Simpson se werk was veral by die basis gekonsentreer en sy daaruit volgende werk as natuur- en weerkundige het verhoed dat hy ’n aktiewe aandeel in ons sleereise kon neem. Toe hy in 1912 na Simla teruggeroep is, is sy werk op vaardige wyse voortgesit deur Wright, die Kanadese skeikundige, wat, die span na die suide vergesel het om ’n besondere studie van die ysstruktuur en gletservorming te maak.
Wright het die slaapbank bokant Simpson s’n bewoon. Wanneer hy nie met slee- en veldwerk besig was nie, het hy hom in die studie van die ys-natuurkunde, ’n betreklik nuwe vorm van wetenskaplike ondersoek, verdiep. Wright is oorspronklik aan die ekspedisie voorgestel deur Griffith Taylor. Scott, wat deur Wilson geadviseer is, was so gretig om die jong Kanadese skeikundige as lid van die wetenskaplike personeel te werf, dat die studie van die ysstruktuur en gletservorming vir Wright as ’t ware vervaardig is en sy wetenskap vir hom “versin' is. Hy het ysblomme wat in die see gevorm het, afgeneem, hy het vasgestel hoe lank die ys hierrond geneem het om vas te vries, bedenkings oor die dravermoë van die geliefde seeys gelug en sy verstand oor die algemeen ingespan op ’n manier wat die goedkeuring van Wilson en ons leier weggedra het. Wright was een van die sterkste lede van die ekspedisie en het ’n kragtige steun gehad. Hy het mooi foto’s van yskristalle verkry en het die ander met sy vaardigheid as navigator en sterrekundige verras.
Die volgende op die lys ná Wright en Simpson is Nelson en Day. Teddy Nelson, ons seebioloog, het albei winters op Kaap Evans deurgebring en hy het nie slegs biologiese werk gedoen nie maar ook die getye bestudeer. Sy hoek was aangenaam om na te kyk, met die ordelike ry emalje- en porseleinbakkies en skottels. Gedurende die wintermaande is gate in die see-ys gemaak. Hierin is sleepnette neergelaat waarin drywende organismes, ens., versamel is. Nelson het spesiale termometers van Duitse fabrikaat deur die gate in die ys laat sak om die seetemperatuur vas te stel en ook is omgekeerde bottels gebruik om daagliks monstertjies van die seewater te verkry.
Day, die motoringenieur, was vir die verligting met asetileen verantwoordelik. As werktuigkundige was hy wonderlik vaardig en boonop was hy ’n bedrewe timmerman. Die petrol, paraffien en spiritus voorrade was aan sy sorg toevertrou en hy was nooit vir ’n oomblik ledig nie.
Griffith Taylor en Debenham was albei Australiërs. Eersgenoemde was heel moontlik die geestigste lid van die ekspedisie en was hy — as die kunsaspek buite rekening gelaat word — die persoon wat die mees gevatte bydrae tot die South Polar Times gelewer het. Die South Polar Times was die wintertydskrif. Dit is pragtig met Wilson se waterverfskilderye en Ponting se foto’s geillustreer. Taylor se leuse was: "Voorwaarts, Australië!” En hiermee het hy beslis gehelp. Gaste was in die Ubduggerie altyd welkom, en dit het gelyk asof die bewoners daar ’n onuitputlike voorraad sigarette en goeie romans gehad het.
Debenham was bepaald die Ubdugs se kindermeid, dit wil sê, hy was die mins slordige maar dan was hy natuurlik ook die kleinste. In hierdie afskortinkie is die breedvoerigste dagboeke aangehou en daaruit is ten minste twee boeke gepubliseer. Gran het sy dagboek hoofsaaklik in Noors aangehou, maar in die ekspedisie is baie woorde versin wat geen Skandinawiese ekwivalente gehad het nie en, alhoewel sy verbeelding ryker as die van enige van ons was, het Gran daar nie in geslaag om hulle te vertaal nie.
Cherry-Garrard met Bowers het in hul hoek voorraadlyste, boeke en geheimsinnige sakke met stof vir die South Polar Times, speelgoed en wufse geskenke om ons tydens die fees van die hartjie van die winter en ander feeste te vermaak. In sekere opsigte was Bowers en Cherry-Garrard daar slegter aan toe as die ander, want hulle het die donkerste deel van die hut bewoon, en tog is in hierdie donker verblyfplek allerlei berekenings en baie ander goeie werk gedoen.
Oates se slaapplek het minder rommel as die van die ander bevat, want hy was die perdeboer en niks verder nie. Sy pligte het horn gevrywaar van die oormaat boeke, instrumente, skryfbehoeftes, monstertjies, kaarte en nugter weet wat nog. Die reserwetoerusting het hy in die saalkamer, ’n ruimte wat spesiaal vir die doel in die stalle ingerig is, aangehou en hier is hy deur die klein Russiese staljong, Anton, bygestaan wat gou baie erg vir sy hardwerkende en bedrewe baas geword het. Die twee manne wat so verskillend in voorkoms en karakter was, en so ver van mekaar verwyder in maatskaplike stand en nasionaliteit, het dwarsdeur die lang winternag skouer aan skouer in die stalle gewerk. In die dowwe kerslig wat die ponieskuiling verlig het, kon ’n mens Oates sien waar hy besig was om sy diere te roskam, hulle stal skoon te maak, hulle tuie oor aan te sit, en om die klein verbeterings aan te bring wat gedurig deur sy wakker, opmerksame blik gesnap is. In die verste hoek van sy stalle het hy ’n robbespekstoof gehad waar hy ys vir die ponies se drinkwater gesmelt het en semelpap vir sy ponies gekook het. Hier het hy dikwels gesit en Meares gehelp om hond-pemmikan uit robbevleis te maak. Hulle het omtrent 8 sentenaar van hierdie voedsame kos voorberei.
Meares en Atkinson se twee slaapbanke het geen oormaat aan wetenskaplike instru¬mente gehad nie, want, tensy hy besig was om hondetuie te maak, het Meares gewoonlik buite die hut gewerk.
Meares en Oates was boesemvriende en hulle twee, saam met Atkinson, Cherry-Garrard en Bowers is gesamentlik die Bunderlohg genoem..
Scott se heiligdom. Scott en die biblioteek het die een kant bewoon en luit.Evans en oom Bill die verste hoek waar die chronometers en die sleehorlosies gedurig aan die tik was. ’n Gewyde atmosfeer het hierdie deel aangekleef. Al die dinkwerk is hier gedoen, kaarte is geteken en sterrekundige waarnemings uitgewerk. Wilson het sy sketse by die „dinktafel” voltooi, die personeel daar te woord gestaan, en bokant sy slaapbank het hy ’n derde van die kusgeselskap se boekery gebêre. Aan die ander kant was twee gerieflike stellasiebeddens en die leier het ook ’n bed bo die opgeboude slaapbank waarop die meeste van die offisiere geslaap het, verkies. Hy het sy eie tafeltjie gehad wat met chic groen linoleum oorgetrek was en ook het hy ’n menigte rakkies gehad waarop hy sy pype, sigare, tabak en ander huisgode gebêre het. Hierdie deel was goed verlig en hoewel pelsmoffies,pelsskoene, sokkies, hoede en wolklere orals gehang het, het hierdie hoekie daar baie fatsoenlik uitgesien. Scott se ou uniformjas het gewoonlik op sy bed gelê. Onder sy bed het ’n baie goeie kleretas, simbool van die beskawing en van welgesteldheid, uitgeloer.
Die voorafgaande gee ’n goeie aanduiding van die groepering van die offisiere en indien ’n mens ’n antrasietstoof, ’n tafel van 12 vt. by 4 vt., ’n pianola, ’n grammofoon en ’n twintigtal stoele byvoeg, met ’n klein, rakagtige tafel wat tussen die donkerkamer en Simpson se hoek ingedruk is, dan is die beeld van die offisierskwartiere in die hut op Kaap Evans voltooi.
’n Afskorting van biskuitkiste en dergelike meer het die offisierkwartiere van die manskappe geskei. Hulle was daar baie goed aan toe. Elke matroos het ’n stellasiebed soortgelyk aan dié van kaptein Scott gehad — tensy hy natuurlik verkies het om self ’n slaapbank te bou, en dit het een of twee dan ook gedoen. Hulle het ’n tafel van 6 vt. by 4 vt. gehad en die kok het ’n tafel van 4 vt. in die vierkant tot sy beskikking gehad. Op geen vorige Pooleskspedisie was die manne al ooit so goed gehuisves nie.
Vervolg... Voorlopige Verkenningstogte