Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Heiligmaking is 'n oefenprogram wat die hele res van jou lewe duur. Maar wat beteken dit om heilig te leef voor God? Dit is om afgesonder te wees van die wêreld, en al meer na die beeld van Jesus te verander. En dit is nie 'n straf nie; inteendeel, dis 'n vryheid wat jy met blydskap beleef omdat jy Hom liefhet!
SCOTT NA DIE SUIDPOOL (1)
Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Die seevaart van Engeland tot by Nieu-Zeeland
Dit was kaptein Robert Falcon Scott se lewensideaal om die eerste persoon te wees om die geografiese Suidpool te bereik. Hy was ook bewus van die Noorweër Roald Amunsen se planne om die Suidpool te probeer bereik. Scott was dus in ‘n wedloop met Amundsen. Hy moes egter al die uitgawes verbonde aan die ekspedisie dmv eie fondsinameling loods wat heelwat tyd geneem het en uiteindelik die oorsaak van sy agterstand was.
Amundsen se mikpunt was egter om eerste die Noordpool te bereik, maar berigte dat Robert Peary en Frederick Cook dit reeds reggekry het, het gemaak dat hy sy planne in die geheim verander het in ´n tog na die Suidpool. (Wie van Peary of Cook eerste by die Noordpool was – en of enigeen van hulle dit vermag het – is tot vandag toe 'n twispunt.) Daar word beweer dat Amundsen 'n skelm, professionele ontdekkingsreisiger was wat sy aanslag op die Suidpool geheim gehou en die vermetelheid gehad het om die Britte in hul Antarktiese gesagsgebied uit te daag – en met baie geluk en goeie weer gewen het.
Beide Scott en Amundsen het teen 1911 ondervinding van die arktiese gebiede gehad - Scott met sy eerste suidpoolpoging in 1902, waarin hy tot by 82ºS gevorder het; Amundsen met sy ontdekking van die Noordwestelike Deurvaart, noord van Groenland en Kanada.
Robert Huntford met sy boek The Last Place on Earth (1979), het egter baie skade aan die beeld van Scott aangerig met sy sogenaamde ontmaskering van 'n swak karakter, en in hierdie reeks gaan ons die ekspedisie saam met Scott deurmaak om self te ondek wat daar gebeur het.
Die bereiking van die Suidpool was by verre na nie Scott enigste doelwit nie; hy het ook ‘n ambisieuse wetenskaplike program beplan wat nog groter eise aan die ekspedisielede se liggaamskragte sou stel.
Onder die spanlede was dr Wilson as hoof van die wetenskaplike personeel, drie geoloë wat die gesteentes op die vasteland moes navors, en twee bioloë om ‘n studie van die dierelewe in die see tot op ‘n diepte van 500 meter te doen. Dr Simpson is as die hoof van die weerkundige en geomagnetiese program aangestel. Dan was daar ook gletserkundiges om die vorming van gletsers na te vors en mediese dokters om behalwe mediese behandeling van die personeel ook bakteriologiese en parasitologiese navorsing te doen. ‘n Kameraman en rolprentfotograaf wat belangrike opnames moes doen was ook deel van die span.
Die ekspedisie het uit 32 lede en 35 skeepsbemaninglede bestaan. Die ekspedisielede sal later in meer besonderhede bekend gestel word.
Uit die vier skepe wat oorweeg is, was die Terra Nova die mees geskikte skip hoewel dit reeds oud was. Heelwat herstel werk is gedoen om dit toe te rus om die strawwe onstuimige suid-Atlantiese seestorms te oorleef. Die skip het voldoende pakruimte gehad om alles wat saamgeneem moes word te kon huisves want ‘n basisgebou moes opgerig word waarin die ekspedisielede vir die volgende jare sou woon. Dit was ‘n seilskip sowel as ‘n stoomskip wat steenkool gebruik het om die stoom te maak.
Op 10 Junie 1910 het die seevaart begin maar het by Cardiff aangedoen waar 300 ton patente brandstof en 100 ton steenkool opgelaai is. Op 15 Junie is die seevaart voortgesit na Madeira. Hier is die vooraad steenkool weer aangevul. Die wetenskaplikes het gehelp om die voorrade reg te pak en geleer hoe die seile opgevou moes word.
Ná ‘n paar dae is die reis na Trinidad aangepak en op 26 Julie het hulle daar aangekom. Nadat die boot se anker laat sak is, is van die bemanning langs die kant laat afsak om die seegras aan die romp van die skip af te skuur. ‘n Aantal van die bemanning is toegelaat om die eiland te gaan verken en het selfs die kruin van 2000 voet uitgeklim.
Op 28 Julie is die vaart na Kaapstad voortgesit en weens die sterk winde wat geheers het kon die Terra Nova omtrent net met die seile vaar. Die onstuimige see het die skip baie gerol wat veroorsaak het dat water oor die dek gevloei het wat uitgeskep moes word. Die waterlek in die romp het baie water in die ruim laat inloop en vir ure aanmekaar moes dit uitgepomp word.
Op 15 Augustus het die Terra Nova by Simonstad ingevaar. Hier het die vlootdepartement werkspanne beskikbaar gestel om herstel- en ander werk te verrig om alles gereed te kry vir die vaart na Australië. ‘n Paar van die ekspedisielede het verlof vir ‘n paar dae gekry die omgewing van Kaapstad en binneland te verken en die gasvryheid van die mense ervaar. Een wou baie graag perdry en het die geleentheid terdeë geniet op ‘n plaas naby Simonstad. Kaptein Scott is Pretoria toe waar hy ‘n skenking van £500 ( R 1000 ) van die Regering ontvang het en ook £500 (R 1000) uit ander skenkings van die publiek.
Die seevaart na Melbourne was eintlik teleurstellend weens die afwesigheid van gunstige winde. Tydens die vaart is die ekspedisielede vertroud gemaak in die hantering van die hondesleë en die beplanning van die voorrade-depots op die roete na die suidpool.
‘n Propgram is opgestel vir die werk wat by die aankomsby die winterhoofkwartier gedoen moes word. Verder is die gewigte vir die vier sleë wat deur mense getrok sou word, bereken, en die sleë-tabelle met die gewigte van die toerusting, weeklike kos- en brandstoftolae met afgemete hoeveelhede van elke artikel in pannetjies of lepelgewyse, voorberei. Voorlopige datums is in die algemene plan neergeskrywe, daaglikse rantsoenlyste is opgestel, en die eerste seisoen se geselskap wat by die opslagplek moes bly, is gekies. Dit het daarop neergekom dat ’n duidelik verstaanbare handboek vir lede se leiding opgestel is, en elke lid van die ekspedisie kon dit raadpleeg. Selfs ’n plan van die hutte is vir die timmermanne beskikbaar gestel. Scott het deurgaans aan die hoof van al die beplanning gestaan.
Intussen was die seeliede besig met die voorbereiding van die toebehore van die slee. Hulle het kossakke vasgewerk, seiltenke en sleëtuie gemaak, bergklimtoue uitgerus, herstelsakke, rieme, lamppitbindings, en ander reisibenodighede vervaardig. Gran het die ski’s nagesien on hulle aan hul toekomstige eienaars toegesê; onderoffisier Evans het die naaldwerkuitrustings vir die twee kusgeselskappe voorberei, die kokke het die eet- en kookgereedskap bymekaar gekry, en onder die leiding van dr. Wilson het Levick en Atkinson die mediese toerusting bymekaar gekry en klein sjirurgiese toerustings vir die sleëgeselskappe ingerig. Teen die tyd dat ons in Melbourne aangekom het, het ons reeds baie bereik en het die manne reeds ’n begrip gehad van wat uiteindelik van hulle verwag sal word.
Die Terra Nova is na Lyttelton geneem waar dit in die droogdok geneem ten einde die lek in sy boeg te herstel. Die dekke, wat na die lang seereis baie water deurgelaat het, is toegestop en eendmossels wat ses duim lank was, is onder en langs die kante van die skip afgehaal. Terwyl hul in Nieu-Seeland was, is al die voorrade afgehaal, uitgesorteer en oorgelaai. Ten einde te verseker dat geen haakplekke sou ontstaan wanneer die Suidpool-basis opgerig word nie, is die hutte rofweg op ’n stuk kaal grond naby die Lytteltonse kaaie opgerig.
Die instrumente is weer reggestel en die yshuis is weer geïsoleer ten einde die 150 bevrore skaapkarkasse en die tien osse te berg, wat deur die Nieu-Seelandse boere aan ons geskenk is. Onder die voorkasteel en op die bodek van die Terra Nova is stalle ingerig, gereed om ons ponies te huisves, en talryke veranderinge en verbeterings is aangehring. Die skip is oorgelaai en allerlei minder nuttige toerusting, ligte seile en persoonlike bagasie is aan land gebring. Hulle het 464 ton kole ingelaai en die motorslee, die petrol -en die paraffien opgelaai.
Die ekspedisie het vier weke in Port Lyttelton deurgebring en dit was vier weke van harde werk en volmaakte geluk. Destyds het die vooruitsigte baierooskleurig gelyk en elke nuwe lid wat by die ekspedisie aangesluit het, is hartlik in die gesin van die Terra Nova verwelkom. In Lyttelton is 19 ponies uit Siberië en 34 sleehonde opgelaai. Hier het 3 nuwe lede by die ekspedisie aangesluit.
Op 25 November is van Lyttelton na Fort Chambers geseil. Terwyl die skip die hawehoof stadig verlaat, is die ekspedisie geweldig toegejuig. Orkeste het gespeel totdat die skip uit die hawe was en die meeste van die skepe het vaarwelboodskappe met vlae gesein en is hierop geantwoord. Hier is al die kole wat maar op die oorlaaide skip kon kom, opgelaai en uiteindelik op 29 November 1910 is die seevaart na Antarktika begin.
Vervolg...