Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dit is wonderbaarlik wat God met 'n gebroke hart kan doen ... wanneer Hy al die stukkies kry.
WAAGHALSIGE AVONTURE (4)
Lees reeks by Kordaatstukke uit die 2eVryheidsoorlog
Warm ete vir ontbyt!
Daar was kos genoeg in die laertjie van die Verkennerkorps van Jack Hindon. Oor klere kon hulle ook nie kla nie, maar nogtans kon hulle nou nie maar gaan stil sit totdat die nood hulle weer daartoe sou dwing om 'n trein te gaan buit nie. Hulle was mos geen rowerbende nie. Hulle werk was om die kommunikasies van die Engelse afbreuk aan te doen, sodat die groot Boerekommando's wat in Oos-Transvaal saamgedruk was, ‘n bietjie kon asem skep; en kos of geen kos nie, hulle moes maar gedurig rantjie se kant toe staan om te sien of daar geen vernielingswerk op die lyn te doen was nie. Natuurlik het hulle ook na daardie vet slag met die drie treine dadelik weer begin dink aan ander treine. Inderdaad was daardie welgeslaagde poging 'n baie skerp prikkel om hulle aan te wakker.
Maar teen hierdie tyd het die Engelse ook al 'n bietjie ouer geword. Hulle het besef dat hulle nie maar onbepaald kon aanhou om weerlose treine in die hande van die Korps in te stuur nie. Om hierdie moeilikheid baas te raak, het hulle veral twee groot planne bedink. Noiraner een was die gepantserde treine wat hulle op byna elke stasie gereed gehou het vir onmiddellike diens. Hierdie treine was feitlik onaantasbaar. Daar was vir die Boere net een manier om met 'n gepantserde trein te werk te gaan, en dit was vlug. Dan was daar op kort afstande van mekaar af blokhuise. Snags het die wagte wat daarin opgestel was die wêreld deurgesnuffel met hul sterk soekligte, en bedags het geen Boer dit natuurlik gewaag om naby die spoor te kom nie. Dan het die Engelse ook nog die rydende spoorweg versterk. Patrollies het voortdurend langs die spoor gery om te kyk of daar niemand naby en of daar geen tekens van onraad te bespeur was nie.
Onder al hierdie planne om die lewe van die Verkenners enigermate interessant te maak, het Slegtkamp gedurig gedink aan dinamiet. Hy het planne vir 'n nuwe ekspedisie beraam, en daarvoor was die voorbereidings hewig aan die gang. 'n Mens kon nie maar net gou 'n ou geweer se tromp en kolf afsaag en dan wegry om te gaan treine opblaas nie. Die voorbereidings het veral daarin bestaan dat hulle die aanvalspunt baie sekuur moes uitkies en bespied, sodat hulle 'n helder begrip kon kry van die alledaagse beloop van sake op daardie punt. Slegtkamp en twee ander burgers was uit om so 'n plek te bespied. Hulle het gekom waar hulle kans gesien het om goeie werk te kan doen. Daar het hulle eers hul perde weggesteek en toe kort voor dagbreek naby die spoorlyn gaan lê. Wat hulle baie gou getref het, was dat die Engelse besonder op hul hoede was. Haas geen denkbare voorsorg is uitgelaat nie.
Toe die son opkom, was die ploegbaas op sy trollie besig om die lyn haarfyn na te gaan. Kort nadat hy verby was, kom daar 'n berede patrollie Engelse al langs die spoor aan. 'n Uurtjie later kom die trein, maar nog nie die eintlike trein nie. Dit was net 'n lokomotief met 'n paar waens wat heeltemal gepantser was en waarop kanonne gestaan het, gereed om potskerwe te saai oor die omgewing. A ja, dis nou al kanonne. Kleingeweertjies betaal nie meer nie. En toe al hierdie pligplegings verby was en die Engelse nou voor hul siel gesien het dat daar geen gevaar was nie, toe kom die vragtrein. So het die vurk in die hef gesteek.
Slegtkamp het genoeg gesien. Hy het teruggekruip na sy perd toe, maar moenie glo dat hy in die laer gaan rapporteer het dat die speletjie van treintjies omgooi nou op 'n einde was nie.
Toe hulle daardie agtermiddag by hulle maats aankom, vra Jack:
"Wel, en hoe lyk dit?"
Slegtkamp vertel hom toe alles wat hy gesien het en wei daarna verder oor die saak uit as volg:
"Het zal moeielijk gaan, doch het eenigste plan is het spoor te laden nadat de gepantserde trein vertrokken is. Het kan wel, en ik wil het ook wel wagen; maar ik moet erop kunnen rekenen, dat jelui mij niet in de steek laten als de vijand mij gewaar wordt; want als de Engelsen mij gevangen nemen, terwijl ik bezig ben het schot te plaatsen, kan ik gerust zeggen: nacht Nel, en zullen zij mij een kopje kleiner maken."
Slegtkamp het nie nagelaat om hulle die gevaarlike kant van die saak goed voor te hou nie. Hy was nooit roekeloos nie. By al sy waaghalsery was hy versigtig. Daarom kon hy soveel uitrig. Hy erken darem in sy dagboek dat hy Jack ten volle vertrou het en dat hy goed geweet het dat Jack hom nooit in die steek sou laat nie. Die gevolg van die spioentoggie en die verslag daaromtrent was dat hulle dit sou gaan waag.
Verraad was daar volop, en die twee leiers het besluit om voortaan alle sake alleen met mekaar te bespreek. Dan sou niemand van hul planne weet nie. En dis hierdie plan wat gedurende die verdere verloop van die oorlog hul behoud was. Selfs die mees bertroubare manne van die Korps het nooit eens geweet waar hulle die nag sou gaan slaap of wanneer daar 'n poging op 'n trein gemaak sou word nie.
Nog 'n paar dae het hulle gewag, en toe word daar eensklaps die bevel gegee dat hulle moes ry om daardie nag 'n trein te gaan probeer vang. Die Korps was nou al sestig man sterk. Daar was dus kragte genoeg om 'n taamlike treinwag te kan weerstaan en oorrompel wanneer hulle 'n trein wou neem. Soos gewoonlik het hulle skuiling gesoek onder die bome van 'n boereplaas; en daar was dan weer die gewone wag en wag tot die uiterste verveling toe. Die speletjie was nie juis baie verskillend van die vorige avontuurtjies nie, behalwe dat hulle nou moes wag totdat die trein wat hulle wou vat eers aan die kom was voordat hulle die skoot kon laai onder die spoorstaaf.
Hulle het gesorg dat alles honderd persent gereed was. Die stuk geweer wat hulle onder die staaf moes plaas, was gereed. Selfs die skoot was daarin gelaai. Dit moes nou nog net in posisie gelê word, en juis daarin het die avontuur bestaan. Toe begin die gewone stoet soos dit aldag daar verbygaan. Vooraan gaan daar eers 'n trollie, dan kom die ruiterpatrollie en daarna kom die gepantserde trein met sy kanonne. As hierdie hele stoet dan op byna plegtige wyse verby is, kom die trein in gewaande veiligheid agterna. Maar net toe die gepantserde trein mooi om die draai verdwyn het, spring Slegtkamp en Lucas van As uit hulle skuilplek uit en hardloop so vinnig as wat hul bene hulle kon dra na die plek toe wat hulle uitgekies het. Nou was daar nie tyd vir speletjies nie. Wat hulle wou doen, moes hulle gou doen en klaarkry. Hulle was moeg toe hulle by die spoor kom, want die entjie wat hulle moes hardloop, was 'n goeie agthonderd treë. Dit spreek vanself dat hulle onder al die haas taamlik bewerig moes gewees het. Maar dit het hulle tog geluk om die skoot mooi in posisie te bring; en hulle was ook skaars klaar toe hulle die rook van 'n naderende trein sien uitslaan. Nou moes hulle weer sorg dat hulle so gou as moontlik wegkom, sodat daar geen onraad gemerk kon word nie. Daar was ook geen tyd om die skoot onder die staaf behoorlik met los klippe te bedek soos gewoonlik nie. En hulle was ook nog nie vyftig tree van die plek af nie toe die trein om die draai aangestoom kom. En daar hardloop hulle op die kale veld van die spoor af weg. Dit sou baie agterdogtig gelyk het; maar gelukkig het hulle die teenwoordigheid van gees gehad om onmiddellik in die hoë gras plat te val.
Nou heers daar groot spanning. Hulle mag enige oomblik bespeur en doodgeskiet word. Dit sou dan ook die hele spul bederf. Maar dan was daar aan die ander kant die omstandigheid dat die mense in die trein nooit van die geringste gevaar kon droom nie. Watter gevaar kon daar nog bestaan nadat die spoor voor hulle so skoon gevee is? Trouens, daar kon aan hul manier van ry gesien word dat hulle geen gevaar vermoed het nie, want hulle jaag dol voort asof daar nog nooit sprake was van treinopblasings nie. Dit het ook nie meer as 'n paar sekondes geduur nie of hulle hoor net een geweldige ontploffing. Onmiddellik begin Slegtkamp en sy maat so sekuur as moontlik op die soldate wat uit die trein uitspring, te skiet. Die eerste paar skote het goeie werk gedoen, maar die klomp soldate het spoedig goeie posisies ingeneem agter die spoorlyn en begin nou met 'n hewige vuur op die twee burgers. Nou moet die ander burgers opdaag of nooit. Elke oomblik gaan nou tel.
Slegtkamp het egter nog nie getwyfel nie. Toe hy omkyk, sien hy sy krygsmakkers aangejaag kom in halwemaan-formasie, en die ponies en bossiekoppe lê oop soos hulle hardloop. Hindon het weer taktiek beoefen en het nie sy manskappe sommer een tou agter mekaar na die trein toe laat jaag nie. Hulle was mooi oop versprei, dus was daar minder gevaar dat die verliese aan die Verkenners se kant alte groot sou wees. Die vleuels van Hindon se manne het mooi om die Engelse posisie gesluit, en weldra bestook hulle die soldate van agter af en op die flanke. Net 'n rukkie en toe word die wit vlag gehys. Weer is daar 'n wapenfeit uitgevoer wat spreek van taktiek, vernuf en dapperheid. Daar het 'n paar Engelse gesneuwel en enige manskappe word met een offisier, kapt. Hilley, gevang.
Die lokomotief het nie verongeluk nie, want ondervinding het by hierdie tyd die Engelse ook al geleer om 'n bietjie versigtiger te wees. Hulle het nou gewoonlik twee trokke voor die lokomotief laat ry, sodat hulle in die lug kon vlieg as daar gevaar kom, terwyl die lokomotief dan onbeskadig gebly het. In hierdie geval was die voorste trokke gelaai met suiker, en dit het gelyk of dit daarlangs kwaai gekapok het soos die suiker oor die aarde gesaai was. Die buitery het fluks gegaan, maar nadat hulle genoeg gehad het, het hulle die trein net so laat staan en nie verbrand nie, want daar was gewondes en vroumense op. Hulle moes nou ook maar roer om weg te kom met hul swaar gelaaide perde, want hulle het net mooi begin terugval met die buit, toe daar vir die Engelse hulp opdaag.
Nou moes daar natuurlik gebruik gemaak word van die lekkernye wat hulle gebuit het, en daarom is hulle na die plaas toe van een van hulle manskappe, D. Grobler. Daar was nog vroumense op die plaas, en hulle het van die sout, koffie, suiker, ens., wat hulle gebuit het, aan die dames gegee om vir hulle almal saam 'n fees voor te berei. Dit was pret om die burgers hul nagereg te sien geniet, wat bestaan het uit mieliekoeke en klontjies suiker. Kaptein Hilley, die gevangene, het maar alte lekker deelgeneem aan die feesmaal. Hulle het hom net so goed behandel as wat hulle kon. Hy het 'n kamer gekry met 'n goeie bed en verder het hulle hom die beste van die etes gegee wat hulle gehad het. Toe hulle 'n bietjie besondere werk wou verrig waarby die teenwoordigheid van Hilley nie juis noodsaaklik was nie, het hulle hom weggestuur na 'n ander korporaalskap toe, maar die volgende dag het hy versoek om teruggebring te word na die Verkenners toe, omdat die behandeling by hulle so goed was.
Daar was nou 'n paar dae van rus vir hulle, en hierdie tydjie sou hulle nuttig gebruik om jong perde te leer. Dit sou in alle geval vermaaklike tydverdryf verskaf. Solank as wat die manskappe met die perdjies besig was, het Slegtkamp 'n plan uitgedink. Al weer dinamiet? Nee, wag. Hierdie slag het die anderkant van sy natuur die oorhand gekry. Selfsugtig was hy nooit. Hy het begin dink aan die arme klompie vroumense wat in die Banke aan die noordekant van die spoor was. Dit sou mos 'n gawe ding wees om vir hulle ook 'n bietjie eetware te gaan wegbring. Hy het dadelik twee maats, Scheepers en Klaassen, uitgekies om met hom saam met 'n kar oor die spoor te gaan en vir die behoeftige dames te gaan kos en klere wegbring. Die klere het hy ook op een van die treine gebuit. Dit was dringend noodsaaklik om die goedjies weg te bring, want party van die vroumense en meisiekinders het al feitlik nakend geloop. Hulle het inderdaad meisies teegekom wat skaam was om hul verskyning te maak weens gebrek aan klere. Party van die arme mense het selfs van bokseil vir hulle jurke gemaak.
Die plan was om tussen Pan en Middelburg oor te trek. Die reis is baie moedig aanvaar, maar dit het glad nie so gemaklik gegaan nie. Teen die middag kom hulle voor Groot-Olifantsrivier. Dit was in vloed, iets wat nie dikwels in die winter gebeur nie. Daar was geen ander uitweg nie as om maar uit te span en te wag totdat die water sou wegtrek. Teen die aand, toe hulle meen dat die water effens laer was, het hulle maar ingestoot. Maar ongelukkig het hulle hul misgis. Toe hulle 'n entjie in was, raak die grond weg onder die perde se pote. Die perde kon egter goed swem en hulle het veilig oorkant uitgekom. Die vrag wat hulle opgehad het, was egter heeltemal papnat. Die grootste vraagstuk is opgelewer deur die suiker, maar gelukkig het die natuur hulle te hulp gekom. Die sakkies nat suiker het heeltemal verys en was die volgende oggend kliphard.
Dit was ongeveer elf-uur toe hulle by die spoor aankom. Slegtkamp het vooruit gestap om eers alles te bespied. Daar was egter geen gevaar nie, en die volgende môre toe die son opkom, was hulle op Doringkop.
Na enige dae was hulle weer terug by die Korps, en dit het hulle opgeval dat hul Verkenners baie beter toegerus was as die burgers van ander kommando's. Behalwe die voorrade wat hulle van tyd tot tyd uit die treine gebuit het, was daar ook ander hulpmiddels om in die behoeftes van die Verkenners te voorsien. Hulle het 'n paar man gehad wat vir hulle geboer het. Die mense het geploeg en gesaai. Perdevoer en mielies het hulle nie ontbreek nie; en hulle het ook hul eie skoenmaker gehad. Hulle het ook self velle gelooi en rieme gebrei. In die somertyd het hulle in hul eie ketels perskebrandewyn gestook, en dit het sterk begin lyk of die klein gemeenskappie geheel en al selfonderhoudend was. Hulle het hoefspykers en naalde van telegraafdraad gemaak, en ander kleiner benodighede was nie altyd buite die bereik van die Korps nie. Wat hulle betref, kon die oorlog nog vir 'n onbepaalde tyd aanhou. Eintlik het die Engelse hulle gedurig voorsien van die nodige. As hulle 'n geweer of 'n saal kortkom, dan 'leen” hulle dit van die vyand. Vir die Mausers was daar geen ammunisie nie, maar die Engelse was so goed om aan hulle net soveel gewere en ammunisie te verskaf as wat hulle wou hê.
Nadat hulle 'n geruime tydjie so stil gelê en rus het, het hulle besluit om weer 'n treintjie te probeer plattrek. Dit het tog 'n bietjie afleiding verskaf en sou ook hul voorrade versterk. Spioene is uitgestuur om die geskikste aanvalspunte te bespied en hul terugkoms is met die grootste gretigheid afgewag. Hulle het reeds afgesien van die ou aanvalsplek naby Brugspruit. Dit is goeie taktiek om gedurig van aanvalsbeleid te verander en sodoende die vyand in die war te lei. Tusssen Balmoral en Bronkhorstspruit, waar die veld meer ranterig is, het hulle 'n plekkie ontdek wat hulle in die meeste opsigte bevredig het. Op sulke terreine soos hierdie maak die spoorlyn gewoonlik taamlik baie draaie. Dan is die kans om uit die oog van die vyand te kom daar ook baie gunstiger. Die plaas waar hulle sou gaan wegkruip totdat die trein aankom, was ongelukkig nie naby die spoor nie, maar sowat 'n myl en 'n half daarvandaan. Dit was egter nie onmoontlik om die afstandjie met die perde af te jaag nie, hoewel tog gevaarlik.
Hierdie keer was die mag van die Korps aansienlik versterk, want veldkt. P. Minnaar het hom met sy klompie manskappe by Hindon kom aansluit vir hierdie gebeurtenis. En nou was alles gereed vir die koms van die trein. Jack de Wit, 'n ou Middelburger, het die skoot gelaai. Die perde was weggesteek tussen die bome op die plaas. Die lang ure van wag en wag en wag het weer aangebreek. Naderhand breek die eerste skynsel van die dag op die oosterkim. Daar gebeur nog niks. Dit word ligter. Alles is stil en rustig. Die son kom op. Nog niks. Die spanning neem geleidelik toe. Ongeduld verander in wanhoop. Daar is seker maar geen treine vandag nie. Dis alles maar weer 'n mislukking. Maar ongeveer om agtuur hoor hulle 'n dowwe plofslag. Soos ape spring hulle in die saals. Nou is dit maar weer die ou soort reisiesjaery. Hulle kom op die hoogtetjie uit en elkeen kyk nuuskierig rond om te sien wat aan die gang is. Daar lê die trein met sy neus in die grond en blaas soos 'n groot swart draak wat gekwes is.
Nou gee elke Verkenner sy perd die teuels, maar so erg maklik gaan dit nie. Tussen hulle en die trein lê 'n goeie driehonderd tree, en meteens begroet die bemanning van die trein hulle met sout en peper. Onmiddellik ruk hulle soos een man hul perde om en jaag dwarsweg agter 'n klein hoogtetjie in om eers skuiling te soek en daar planne af te spreek. Hulle sou nou te voet die rantjie uitklim en dan op die trein begin skiet. Die plan was goed, maar hulle het spoedig uitgevind dat dit moeilik was om hul doelwit te sien, en hulle kon maar te goed gewaar dat hul vuur geen uitwerking het nie. Dan was daar naby nog 'n blokhuis wat hulle in die nagtelike duisternis nie gemerk het nie, en die bewoners van daardie onheilskrot het hulle alles behalwe vriendelik ontvang.
"Jack", sê Slegtkamp naderhand aan Hindon, "dit sal nie gaan nie. Die Engelse sal ons hier ophou totdat hulle versterking kry. Ons moet nou storm!" Jack het net dieselfde gedagte gekoester, en meteens spring die twee voormanne op hul perde. 'n Sewetal ander burgers volg hulle. Intussen sou Minnaar met sy mense die blokhuis aanval. Dan moes die ander manskappe van die Korps op die rantjie bly lê om met 'n taamlike fris geweervuur die Engelse besig te hou en so die aanvalle van die twee klompies te dek. Daar moes gesorg word vir veiligheid, want elke burger wat nou val, sal beteken dat daar vir goed een minder in die klein bende is. Maar die aanval het nie geslaag nie. So hewig was die teenstand dat hulle maar weer moes omruk en veiligheid soek agter die rantjie. En wat nou aangevang? Daar gaan lê totdat alles veilig is en dan maar so gou as moontlik probeer wegkom? Moenie glo nie! Dit was nie hul gewoonte nie.
"Jack," roep Slegtkamp weer toe hulle onder skoot uit was, "dit gaan nie. Ons moet probeer om te voet te gaan. As ons te perd is, dan sien hulle ons te gou."
"All right," antwoord Jack. Hulle laat die perde nou daar staan en spring te voet weg om die aanval te maak. En hierdie wapenfeit is so 'n moedige stuk werk dat dit nodig is dat die name van daardie dapper klompie manskappe hier vermeld word, sodat hul gedagtenis in ere kan gehou word. Hulle was: Jack Hindon, Koos Swart, Gert Scheepers, Jack de Wit, T. van Alphen, Jan Klaassen, Schalk van der Merwe, Lucas van As en Henri Slegtkamp. Hulle het versigtig agter bosse en klippe genader totdat hulle sowat vyftig tree van die trein af was. Die trein se bemanning het hulle nog nie gewaar nie, maar die blokhuis se soldate wel, en hulle het ook 'n hewige vuur op die dapper klompie afgestuur. Hulle wag 'n bietjie. Hulle moet nou storm en skiet. Daar val plotseling een van hulle neer. Dis Koos Swart. Hy is dodelik gewond. Jack Hindon neem hom in sy arms en tel hom 'n bietjie op om hom water te gee. Maar dit was reeds klaar met hom.
Nou word dit eers vir hulle duidelik hoe groot die gevaar werklik is. Terugval kon hulle glad nie. Die blokhuis se mense sou hulle heeltemal afsny. Hulle moes aanval! Nou vooruit of doodgeskiet, dis al! Binne enige oomblikke het Slegtkamp 'n aanvalsplan uitgedink. Hulle sou hardloop net so hard as wat hulle kon, dan sou hulle wegsak in die uitgrawings langs die lyn. As hulle eers daarin was, dan sou hulle onder die spoor deur 'n kolder kruip wat hulle in die oog gehad het. Dit sou hulle dan in 'n posisie bring om die Engelse wat agter die spoor lê, soos hulle vermoed het, op die flank aan te val. En hy het ook skaars die plan aan hulle meegedeel of hulle spring weg, hierdie keer nie weer gebukkend of huiwerend nie, maar regop oop en bloot in die vuur in. Dit was die werk van 'n paar sekondes om die sloot te bereik, en hulle spring byna almal gelyk daarin ... tussen die Kakies!
Vir een oomblik, maar net vir 'n baie kort oomblikkie, voel Slegtkamp heeltemal verlam. Maar meteens kom hy weer tot homself en hy roep uit:
"Skiet, kerels, skiet, of hulle het ons! Hendsop! Hendsop!!" Dit word woelig en bedrywig. Daar word geskree en geraas en geskiet en geslaan dat die aarde antwoord gee. Die Engelse lê daar in die sloot, ongeveer dertig man met drie offisiere en twintig swartes; maar gelukkig spring hulle op toe die paar Boere daar by hulle in die sloot inspring. Dit maak dat die ander burgers wat op die rantjie gelê het, hulle sien en dadelik geweldig op hulle begin skiet. Die geveggie was kort. So goed het die mense van die rantjie af gekorrel dat hulle die treinwag spoedig genoodsaak het om die wapens neer te gooi. Onderwyl skree Slegtkamp maar gedurig: '"Hendsop! Hendsop!” Maar hy erken self dat hy nooit die allerminste hoop gehad het om daar lewendig uit te kom nie. Hoeveel daar aan die kant van die vyand geval het, wis hy nie, maar hy het net een Engelse offisiertjie gesien wat 'n wond in die been gekry het.
Dit was nou die ander burgers op die rantjie se kans. Hulle spring dadelik in die saal en hier kom hulle. Elke kêrel sorg nou dat hy op die trein kom. En onderwyl hou die blokhuis se mense maar aan met skiet, want Minnaar het nie daarin geslaag om die blokhuis te oorval nie. Hy het self ook 'n man verloor. Die vuur uit die blokhuis uit was egter nie veel te vrees nie, want die treinbuiters en Engelse soldate was nou deurmekaar, en daar was net so 'n groot moontlikheid dat hulle hul eie mense sou platskiet. T. van Alphen het egter 'n skoot deur die arm gekry, maar Slegtkamp het hom op sy perd gehelp, sodat hy kon wegkom. Nog een, Thys Swart, is ook gewond. Die burgers wat by Minnaar se klompie geval het, was ene Bronkhorst.
Hulle het so vinnig as moontlik van die een plek na die ander beweeg, sodat dit vir die vyand onmoontlik was om uit te vind waar hulle eintlik was. Nadat hulle daar naby Bronkhorstspruit 'n trein platgetrek het, het hulle weer dadelik in 'n ooswaartse rigting getrek en hul laertjie opgeslaan op Bankfontein, naby Middelburg. Hulle het al weer 'n nuwe plek in die oog gehad waar hulle van plan was om 'n aanval op die spoorwegverkeer te maak. Dit was naby Uitkykstasie, waar die omgewing ook baie gunstig was. Hulle het weer op die gewone wyse te werk gegaan. So teen die dag het hulle verwag dat die gewone seremonies sou begin: eers 'n patrollie, dan die klein spoortrollie al op die lyn langs, en later natuurlik die trein.
Naby die spoor was 'n groot boomplaas. Hulle het in die woning intrek geneem en hul perde ook ingebring, sodat die Engelse patrollie niks sou kon gewaar nie. Toe dit begin lig word, kom die patrollie ook op sy tyd daar aan. Hulle kom reg op die woonhuis af, vermoedelik om vrugte te soek; en ... vrugte sou hulle kry. Al nader en nader kom die perderuiters. Slegtkamp en Oosterhuis en Verstappen hou hulle dop. Hulle is nou al net honderd tree van die huis af. Die offisier kom reguit na die voordeur toe. Die drie burgers gaan staan net om die hoekie van die voordeur die vroeë gaste en inwag. Naderhand is die manskappe vlakvoor die deur. Maar hulle moenie gesteur word nie. Dit sal alarm maak, en dan is die trein verlore. Daar kom die trollie ook al soos 'n klein duiweltjie op die spoor langs die skuinste af. Wat, het die kêrel tog 'n mooi perd! Laat hom maar afklim en binnekom.
Meteens knal daar 'n donderende skoot! Die drie burgers spring byna gelyk by die voordeur uit. Hulle gryp die perd aan die teuels. Die Engelsman laat sy geweer val. Onmiddellik word daar op ander lede van die patrollie gevuur. Een van hulle val gewond neer. Nou moet hulle gaan uitvind wat daar by die spoor gebeur het. Die knal was die dinamietskoot wat afgegaan het. Dis die trollie se werk daardie. Was die skoot dan nie behoorlik gestel nie? Hulle het gaan uitvind. Die vorige dag is daar aan die spoor gewerk, en die stawe was nog nie genoeg vasgesak nie. Gevolglik was die speling so groot dat selfs die ligte trollie die skoot maklik kon aftrap. Daar was 'n groot gat in die grond en 'n gedeelte van die staaf was uitgeskeur. Van die trollie het daar enkele splinters oorgebly. Vyf-en-sewentig tree van die plek waar die ontploffing plaasgevind het, het Slegtkamp 'n Engelsman gekry wat uitwendig blykbaar ongedeerd was maar inwendig vreeslike kneusings moes opgedoen het, want hy is kort daarna dood. Toe Slegtkamp by hom kom, vra hy of hy vir hom iets kan doen.
"Go to hell," antwoord die sterwende soldaat.
"Thank you," was Slegtkamp se repliek daar op.
Van die vier swartes wat die ploegbaas by hom gehad het, was een tagtig tree ver geslinger deur die geweld van die dinamietskoot; en van die ander drie het het hier en daar 'n paar ledemate rondgelê in die veld. Selfs vir die geharde Slegtkamp, wat al baie gesien het in die oorlogslewe, was dit 'n aaklige skouspel om te staan en aankyk.
Die plan om daardie dag 'n trein te buit, kon hulle maar vergeet, want alle kanse was nou verydel. Hulle het omgedraai na die Engelsman toe wat daardie oggend gewond is. Die arme kêrel het in die bloedige son gelê, en hulle het uit jammerte gaan takke afsny en 'n soort skerm oor hom gemaak sodat hy ten minste nie so in die hitte moes sterf nie. Die man was vreeslik beangs, en hulle het hom gevra wat dan die oorsaak van sy vrees was. Sy antwoord was dat hy vrees vir die gruwelike dood wat op hom wag, aangesien die Korps se manne hul gevangenes altyd lewendig begrawe! Watter gerugte moes die Engelse nie al versprei het aangaande die Verkennerskorps nie!
Toe die manskappe dit hoor, het hulle dadelik een van die gevangenes teruggestuur na die Engelse toe met die boodskap dat hulle 'n ambulans moes stuur om die gewonde man te haal en dat die Korps die omgewing daarlangs sou ontruim ten einde die redding van die gewonde man moontlik te maak.
Hulle is toe ewe kalm terug in die rigting van Bankfontein. Nadat hulle sowat 'n uur op die pad was, hoor hulle kanonskote. Hulle jaag teen die bult uit om te kan sien wat aangaan, en daar aanskou hulle iets pragtigs. Die Engelse was besig om die plek wat die burgers ontruim het, voortdurend met kanonne te bestook! En dit gebeur nadat hulle 'n boodskap gestuur het dat hulle sou retireer en nadat die Engelse hulle sien wegry het. Dit toon hoe min die Engelse die Verkenners vertrou het, en ook hoe bang hulle vir die klompie mense was.
Die ergste van die saak was dat die bombardement die hele dag so aangehou het. Hoe sou die arme gewonde Tommie dit deurgemaak het om daar onder die vuur van sy eie kanonne te lê en worstel met die dood? Enige dae later is Slegtkamp met rapporte oor die spoor, en toe hy daar by die werf verby ry, moes hy sien dat die hele woonhuis tot op die grond platgeskiet was deur die kanonne. Die opblaas van die ou spoortrolletjie is gewreek...
Gedurende die tye wanneer die Korps teruggetrek was en skynbaar stil gelê het, was daar tog nooit algehele doodsheid onder hulle nie. Die Korps het nooit geslaap nie. Elke nag was daar van sy manskappe besig. Partymaal was dit maar net patrollies spioene wat die omgewing opgeneem het om veiligheid te verseker. Dan weer het hulle taamlik bedrywig opgetree. Dit het dikwels gebeur dat hulle skote onder die spoor laai en dan wegry, net met die doel om die Engelse besig te hou en hulle die skrik op die lyf te ja of om hulle langsamerhand onder die indruk te bring dat die Verkenners nie meer aanvalle maak nadat hulle die treine verongeluk het nie.
Een nag het daar twee klein patrollies van vier manskappe elk uitgetrek en twee skote ver uitmekaar gelaai. Dit het groot onrus by die Engelse laat ontstaan. Waarom dan op twee plekke die spoor opblaas sonder om die treine aan te val? Daar kon maar net een motief wees: die Boerekommando's wou oor die spoor trek! Pragtige vindingrykheid! En dan word die ganse Engelse troepemag tussen daardie twee punte saamgetrek en die wêreld is in rep en roer. En al die tyd lê die klompie Verkenners doodstil en rus onder die bome van een of ander boereplaas; en die kommando's is onder in die Bosveld. Dis dan maar net agt man se werk. Die morele uitwerking op 'n groot leër is verbasend. Dit laat hulle onnodige bewegings maak. Dit bring onnodige spanning. Dit wek wantroue op in die inligtingsdiens en bring ander krygsplanne in verwarring.
Hierdie verhaal kom uit die boek Slegtkamp van Spioenkop deur Dirk Mostert.