Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe langer mens leef, hoe meer besef mens dat ons keuse in die lewe nooit tussen pyn en geen pyn is nie, maar wel 'n keuse tussen om slegs jou pyn te verduur of om dit positief te gebruik. En God met sy groot geduld en liefde, wys ons hoe om dit reg te kry.
WAAGHALSIGE AVONTURE
Lees reeks by Kordaatstukke uit die 2eVryheidsoorlog
Hierdie verhaal kom uit die boek Kommandant Danie Theron opgestel deur dr. J.H. Breytenbach.
"'n Paar van ons burgers skree dat die sinkgebou eintlik antwoord gee: 'The Boers rule! The Boers rule! The Boers ... rule ...!' Die kakies was skoon oorbluf. Die manne moes gedink het dit is 'n naderende Boeremag met bulderende kanonne."
Sowat twee weke het die korps gerus - 'n week by Mooiriviersoog op 'n beskutte, bosryke plek tussen 'n paar rante en, toe die wêreld daar te onveilig word, op 'n plaas agter die rante ten suid-ooste van die stasie Welverdiend. Daarna het die gees oor die rustelose Danie vaardig geword om nog eens skrik onder die kakies te gaan verwek. Eintlik het die korps - en veral die perde, wat baie afgewerk was - nog heelwat meer rus nodig gehad, maar die los praatjies van een van die Hollanderlede van die korps het 'n verdere verblyf in die rante onraadsaam gemaak. In 'n roes van windmakery het hy hul skuilplek in 'n nabygelee Jode-winkeltjie gaan verklap, en dit het Danie laat besluit om weer aktief te begin optree.
Gevolglik het hy sy laertjie verder suidwaarts, tot aan Loopspruit, versit; en op die 22ste het hy met tien man in die rigting van Krugersdorp vertrek. Op vir hom bekende terrein - die plaas van die Neethlings, waar eenmaal die dametjie gelewe het wat hy so innig liefgehad het - is afgesaal en gerus. Na alle waarskynlikheid het Danie van hierdie geleentheid gebruik gemaak om 'nbesoek aan sy geliefde se graf te bring. In alle geval, hy het die huismense versoek om op 29 Augustus namens hom 'n krans op die graf te lê. Na 'n aangename rus het die patrollie die volgende middag versit na Roodepoort, waar hulle omtrent half agt die aand aankom.
Die dorp wemel van die kakies, maar Danie steur hom nie daaraan nie en steek doodluiters deur na die huis van sy oom, die heer D.S. Theron, waar hy eers die kat uit die boom wil gaan kyk en ook 'n koppie koffie as versterking vir die inwendige mens wil gaan soek. Dit is begryplik dat die mense nie alleen doodverbaas nie, maar ook doodverskrik was om hom in lewende lywe te sien in 'n dorp wat letterlik besmet was met Engelse troepe. Hulle het hom baie ernstig gewaarsku, maar Danie het hom nie van stryk laat bring nie; hy het gekom om die Engelse 'n slag toe te dien en sou sy planne uitvoer. Nadat hy en sy manskappe die aandete genuttig het, het hulle teen nege-uur afskeid geneem van die Therons en hul tog voortgesit, reguit stasie toe. Aan sy manne het hy reeds vertel dat hy die stasie wil inneem en hulle haarfyn beduie hoe hulle hul moet gedra hier binne-in die leeu se bek.
Om vir kakies aangesien te word, ry hulle in netjiese gelid die straat op, twee-twee langs mekaar, presies soos die kakies doen. Naby die kerk gewaar hulle Engelse wagte wat hulself by 'n paar blikke gloeiende kole langs die straat verwarm. Nou word die groepie te perd meteens baie luidrugtig. Hulle gooi die Rooitaal lustig, en as hulle vlak voor die wagte kom, sê een hardop - natuurlik in Engels, sodat die wagte dit goed kan hoor: “Kyk, kerels, dit word laat. Kom ons ry op 'n galop!” Dadelik kry die perde die spore, en Danie en sy manne glip tussen die kakies deur sonder om die minste argwaan te wek. So doodnatuurlik het alles toe gegaan dat die wagte hulle nie eens om die wagwoord gevra het nie.
Digby die stasie word die perde aan 'n draadheining vasgemaak en stryk die tiental aan na 'n sinkgebou waar 'n klomp Engelse troepe deur die jingo's van die dorp op 'n dansparty onthaal word. Daar heers buitengewone vrolikheid - iets waaroor Danie baie bly is, want nou weet hy dat dit nie te moeilik sal gaan om sy planne by die stasiegebou uit te voer nie.
Die stasiemeester het net lelik op sy neus gekyk toe hy skielik deur 'n tiental Boere tot oorgawe gesommeer word, maar hy het dadelik besef dat weerstand hom niks sal baat nie, en het alle possakke en papiere oorhandig. Onderwyl Danie die brandkas deursnuffel, plaas sy manskappe dinamiet onder die spoorlyne en onder die stasiegebou. Dis 'n werk wat hulle verstaan, en binne 'n paar minute is die lonte aan die brand. Die Verkenners haas hulle nou na die sinkgebou en beset elke ingang en uitgang, want hulle wil sien wat die spul gaan doen as die ontploffings plaasvind. Toe hulle by die danssaal aankom, was die kakies en jingo's in 'n baie opgetoë stemming, los van litte en windmakerig - moenie praat nie!
Wat verder gebeur het, beskryf een van die persone wat die ekspedisie meegemaak het, genl. Wynand Malan, as volg:
"Meteens sing hulle uit volle bors: 'Rule Britannia...!' Dit smaak of die mure van die sinkgeboutjie na alle kante wil uitbult soos die lojale koorstemme dit kragtig uitgalm. In die verbeelding wieg hulle lieflik mee, en hulle moes min of meer daarlangs gesing het waar Brittanje oor see en waters heers en, wat geesdrif betref, juis op die spitse van die hoogste branders gery het, toe die eerste dinamietskoot lostrek en met 'n donderende geluid die aarde skud. Toe die eerste skoot slaan, klink dit nog: 'Britannia, Britannia rules the waves.!'
'But not the Boers!' skree 'n paar van ons. 'But not the Boers!' Daarop storm ons die saal binne.
'n Paar van ons burgers skree dat die sinkgebou eintlik antwoord gee: 'The Boers rule! The Boers rule! The Boers ... rule ...!'
Die kakies was skoon oorbluf. Die manne moes gedink het dit is 'n naderende Boeremag met bulderende kanonne. Hulle mag op die 'waves' kaatjie van die baan wees, maar die bietjie vaster aarde onder hul voete het die nag gedreig om te vergaan. Toe slaan die volgende skoot, en nog een, en nog een... Die verwarring vererger en die halsoorkop konsternasie wat daarna ontstaan het, was eenvoudig onbeskryflik.
Die 'ladies' was rasend, die ridders eweso. Alle hoflikheid en selfbeheersing was na die maan. Soos die verbouereerde vroumense rasend en skreeuend na die deure nael, val die mans oor mekaar in hul ywer om voor die dames by die deure te wees. Hoe dapper hulle van mening was om in die buitelug te veg, sou ek nie kan sê nie; maar binne die vier mure van die sinkgebou was hul blus skoon uit.
Meer vir die pret as iets anders het ons 'n paar maal geskreeu: 'Hands up ...! Hands up.!' Maar dit was soos water op 'n eend se rug. Daar was geen keer aan die verwarring nie. Die skok was te skielik en te groot. Elkeen was blind van die skrik en dink net aan selfbehoud en vlug. Dat daar Boere by die deure was en dat daar Boere tussen hulle was, het hulle besef, maar of hulle een van ons eintlik raakgesien het, is te betwyfel.
By die deure het die konsertgangers mekaar so verdruk dat hulle die deurgang volkome blokkeer het. Dit het 'n woeste gespook en gespartel afgegee. Hulle het mekaar letterlik vertrap. Wat sommige van die kakies betref, was dit meer 'heels up' as 'hands up'. Meer as een was so onklaar tussen die bondel in dat ons hulle aan die hakskene uitgetrek het, terug die saal in, om die dames 'n bietjie verligting te verskaf. Maar as jy hom laat los, peil hy maar weer bondel toe, kompleet soos 'n voetbalspeler in 'n los skrum.
Teen dié tyd het Britannia nie meer 'gerule' nie, en ons het die verskrikte boel daar gelaat, na ons perde gehardloop en voortgery met dieselfde pad terug waarlangs ons gekom het. Toe ons by die plek verby ry waar die wagte so pas tevore by die vuur gesit het, was die laaste een skoonveld. Dit moes hulle natuurlik duidelik geword het dat ons Boere was wat so astrant by hulle verbygery het, en toe die dinamietskote by die stasie losbulder, het hulle voet in die wind geslaan."
Sonder die minste moeilikheid het Danie en sy manskappe dieselfde nag nog uit Roodepoort ontsnap. Die volgende paar dae was hy dikwels slaags met Engelse troepe, wat alles in hul vermoë gedoen het om hom in die hande te kry. Gedurende een van die skermutselinge het 'n bom naby hom ontplof en 'n aantal gruisklippies in die lug geskop wat hom in sy gesig getref en verskeie ligte snywonde veroorsaak het. Ten gevolge van sy ontberinge het Danie ook 'n swaar verkoue opgedoen, dog dit alles het hom nie gekortwiek nie. Van nou af het hy hom veral op een saak toegelê, nl. om rekrute vir die burgermagte te werf. Hiertoe het hy hom gewend tot die geledere van die hope hendsoppers, wat rustig op hul plase gesit en kyk het hoe die stryd voortwoed, en ook tot die kringe van die politieke gevangenes wat, ofskoon oorspronklik meestal ook hendsoppers, vergrype teen die veroweraar begaan en om dié rede in Britse gevangenisse gesit het.
Laasgenoemdes sou, in teenstelling met die gewone hendsopper, ná die behandeling wat hulle aangedoen was, vrywillig attesteer; en die beste was dus om eerste onder hulle te gaan oes. Die vraag was net, hoe om hulle uit die tronke te haal; maar die Roodepoortse avontuur het die bloed sommer weer baie vinnig deur Danie se are laat bruis.
Met sonsondergang op 26 Augustus verlaat die korps hul laertjie, en teen nege-uur die aand doem daar skielik 'n paar flou verligte huise voor hulle op. Hulle is in die dorpie Vanwyksrust, of Kliprivier, 'n myl of tien ten suide van Johannesburg.
Fluisterend beveel Danie sy manne om, geweer in die hand en wyd uiteen gesprei, agter hom aan te ry, dog geen alarm te maak voordat hy die sein gee nie. In die vorm van 'n halfmaan sluip die kommandotjie aan op 'n groot swart gebou wat skerp teen die sterrehemel afgeteken staan. Dis die tronk op Vanwyksrust. Voor die gebou hou Danie stil en begin teen die paal opklouter om die telefoondraad te knip, dog een van sy manne, C.M. van der Westhuizen, oorreed hom om dit nie te doen nie, ter wille van die Afrikaners in die omgewing, aangesien die kakies dan hul huise sou afbrand. Danie gly teen die paal af en gee die sein om te storm. 'n Vinnige hoewegedreun en 'n gejuig uit die kele van sy krygers verbreek die stilte en ... die tronk is omsingel.
Soos rotte glip 'n aantal manne oor die muur, vat elke kakie wat hulle aantref, styf vas en begin die seldeure met koevoete, stukke yster en klippe te bestook. Intussen redekawel iemand met die tronkbewaarder, wat in sy kantoortjie onder 'n tralievenster weggekruip het, oor die sleutels. Die is egter spoedig nie meer nodig nie, want al die deure het binne weinige minute onder die geweld van die aanslag padgegee, en weldra weerklink dankbaar die lied van die vrye volk uit die keel van sowat sewentig manne op wat ter wille van die Afrikanersaak in die tronk gestop was.
Van die gevangenis gaan die korps na die goewermentskantoor, waar baie dokumente en 'n groot Union Jack met vreugde verbrand word. Die eienaar van 'n Jodewinkeltjie naasaan verkeer in doodse angs dat sy besittings netnou ook in ligte laaie sal staan en weet maar nie hoe om die lede van die korps tot vriend te hou nie. Van alles wat hy besit, stop hy hulle die hande vol.
As alles klaar is, roep Danie sy manskappe byeen en soek veertig van hulle, met goeie perde, uit om hom op 'n verdere avontuur te vergesel. Die res stuur hy, onder bevel van luit. Enslin, na die laer terug. Saam met hulle gaan die gevangenes, vir wie se vervoer hy 'n paar ligte trollies, met die nodige trekdiere, in die dorp gekommandeer het.
Met sy veertig uitgesoektes het Danie nou na Johannesburg se waterwerke vertrek, met die doel om dit te probeer vernietig. Die kakies het sy kommandotjie egter so he wig met 'n maxim bestook dat hy verplig was om na sy kamp, wat intussen na Jachtfontein verskuif was, terug te keer.
Hiervandaan het hy nou die huise van die hendsoppers besoek en hulle weer tot hul plig jeens hul wettige owerheid gedwing. In naam van die Transvaalse regering het hy hulle sonder veel om- haal van woorde opgekommandeer. Wie traag was om te gehoorsaam, het hy met sambok of ge- laaide geweer bietjie aangehelp totdat hulle weer hul plek in die veglinie volgestaan het.
Sy optrede het gou-gou vrugte gedra. Die Engelse het die hendsoppers nou as geheime vyande beskou en onder hulle begin vang om hulle maar liewers in veilige bewaring te hou. Tussen twee vure geplaas, het baie hendsoppers vrywillig by Theron se groepie kom aansluit!
Die opgekommandeerde hensoppers het nie altyd ewe getrou by die korps gebly nie. C.M. van der Westhuizen vertel dat twee van die kêrels op 'n dag weggeloop het. Dadelik het Danie hulle laat vang, en toe hy hulle in hande had, het hy nie sagkens met hulle gewerk nie. Hy het hulle hul baadjies laat uittrek en eiehandig vyftien houe met 'n stiegriem aan elkeen uitgedeel. ''As julle dan nie vaderlandsliefde het nie, dan sal ek dit vir julle inslaan," het hy gesê. En hy het daarin geslaag. Later het hierdie twee knape van die korps se dapperste vegsmanne geword.
Met sy nuwe rekrute - van wie hy verskeie ook aan ander kommando's afgestaan het - het Danie so 'n doring in die vlees van die Engelse geword dat hulle hul nou in alle erns daarop toegelê het om hom in hande te kry. Die kakies se byna daaglikse aanvalle op sy korps het nie die minste indruk op Danie se vermetele waaghalse gemaak nie. Die korps, ruim versterk en taamlik uitgerus, het hom besonder lewenskragtig gevoel en het geen Engelse aanslag ongestraf gelaat nie. Nadat hulle twee dae lank by Modderfontein die aanvalle van luit.-kol. Bradly se kolonnes verduur het, het hulle 'n aanslag op die waterwerke gedoen. Toe dit misluk, het hulle hul voorberei op 'n ander waaghalsige stuk sabotasie binne die Britse limes.
Die nuwe "onderneming" het sy oorsprong gehad in 'n versoek van die Hollanderlede van die korps dat Danie darem moes sorg dat hulle op 31 Augustus, die verjaardag van koningin Wilhelmina, iets sou hê om "Koninginnedag" behoorlik mee te vier. Danie het belowe en teen nege-uur die aand van die 30ste met 'n veertigtal vrywilligers in die rigting van Kliprivierstasie vertrek.
Hulle bereik die spoorlyn teen elfuur, skroef een van die spoorstawe los, begrawe ook nog 'n paar dinamietskote onder die lyn, om seker te maak, en gaan lê dan sowat 30 tree van die spoorbaan af en wag. 'n Uur gaan verby, twee uur, drie uur, maar alles bly donker daar op die slapende veld.
Eindelik, omstreeks drie-uur, fluister iemand: "Dit is hy!" Daar kan hulle die lig sien. Die spanning word al hoe groter, maar hulle roer nie. Honderd keer word die vraag gestel: "Sal dit goed afloop?" Daar sien hulle die ligte van die trein voor hulle. Hy kom met volle stoom aan. Daar word skaars nog asem gehaal; die harte klop in die kele. Nou is hy op die plek waar hy van die spoor moet loop. Nou, nou! Nog gebeur daar niks. Is dit dan hul neus verby? Nee, wag, daar's hy nou! Doef, doef, doef! hoor hulle die trein se wiele op die dwarslêers stamp.
"Hy is af! Hy is af!" roep almal tegelyk. Toe steek hulle hier van duskant af die trein onder die kleingeweervuur. Die groot swart gedaante sleep nog soos 'n reusagtige slang waarvan die rug lamgeslaan is, sowat 200 tree verder, en daar staan hy. Die geweervuur word gestaak. Dis doodstil. Net die gesis van die ketel se stoom kan gehoor word.
Theron roep in Engels uit en vra of hulle oorgee of nie. Elke Verkenner luister met gespitste ore na die antwoord. Uit die donker kom 'n benoude stem:
"We surrender!"
"Nou ja, kom dan uit!" skree Theron. Sowat 'n dertigtal kruip uit die trein. Hulle het reeds soveel gruwelstories gehoor aangaande Theron se "rowerbende" dat hulle hul beurse sommer uit die sakke haal om hul lewe mee af te koop. Danie verseker hulle egter dat hy nie hul geld wil hê nie en ook dat hulle spoedig weer vrygelaat sal word. Dan laat hy die dooies en gewondes verwyder. Hulle word in die agterste wa van die trein gelê, en dit word afgehaak en 'n hele ent teruggestoot. Dan begin die buitery.
'n Ooggetuie vertel daarvan: "Daar was 'n kleremaker op die trein met 'n groot besending klere wat hy na Pretoria toe moes bring vir die Engelse militêres. Hulle het hom gou gerus gestel dat hy nou nie meer verder moeite sou hê met die klomp goed nie, en dat hy maar vir lord Roberts sy geldjies kon gaan vra. Dan was daar ook besonder baie sjampanje op die trein. En daar was sigarette, tabak, sigare, o, van alles in oorvloed. Hulle het die arme tommies darem ook 'n hap in die pap gegee. Dit is nou koningin Wilhelmina se verjaardag. Dus kon hulle ook maar drink net soveel as wat hulle wou - op die gesondheid van die Koningin van die Nederlande. "En zij heten zich dat niet tweemaal zeggen." Hulle loop die drank storm, slaan die bottels se koppe af en begin drink dat dit 'n aardiglieid is. Dan roep hulle uit: 'God bless Wilhelmina! Long live De Wet!'." Party van die offisiere is so beskonke dat hulle heelwat geheime verklap.
As alles klaar is, word gloeiende kole uit die loko gehaal en oor die waens gestrooi, waarin ondertussen stukke seil geplaas is om maklik vlam te vat. Binne weinige minute staan alles in ligte laaie. Dan word 'n paar skote dinamiet in die lokomotief gelaai, en onderwyl die ou vuurwa in duisend skerwe die lug inspring, ry Danie en die syne oor die vlakte voort, met 'n ontsaglike buit aan klere, gewere, patrone en kos.
Dieselfde middag, net toe die korps, na 'n aangename rus van hul nagtelike werk, besig was om op te saal, verskyn daar skielik twee Engelse - 'n offisier en sy ordonnans - onder 'n wit vlag op die toneel. Hulle het gekom om die oorgawe van die korps te eis, aangesien genl. Botha met sy hele leër gekapituleer het en die korps nou die enigste Boere-eenheid was wat nog veg.
As hulle gemeen het om met die storie iets by Theron uit te rig, dan het hulle hul deeglik misgis. Die kaptein wou dadelik weet wie hulle gestuur het, en toe hulle verduidelik dat hulle sommer op eie houtjie gekom het - net om die korps 'n bietjie goeie raad te gee - het hy die tweetal onmiddellik gevange geneem.
Daardie aand het die korps afgesaal by die huis van 'n Britsgesinde hendsopper, wat dadelik sy skoonseun gestuur het om die kakies te gaan verwittig dat daar Boere op sy plaas is. Danie se manne het die knaap sien vertrek en hom daarvan vertel. Die kaptein het die hendsopper gaan uitvra, en die man het hom met 'n gerusstellende antwoord probeer paai. Theron was egter nie tevrede nie en het die hendsopper verseker dat indien die kakies deur sy toedoen van hul aanwesigheid in kennis gestel word, hy die hendsopper sou doodskiet en sy eiendom sou verwoes.
Die volgende oggend het pas aangebreek of twee Engelse offisiere onder 'n wit vlag daag op en eis dat die korps hom sonder meer moet oorgee, daar hy "totaal omsingel" is. Dit het op Danie net so min indruk gemaak as die vorige dag se eis om te kapituleer. Hy het reeds van daardie aand af 'n Engelse troepemag verwag en was dus daarvoor ingerig.
As die Engelse gereken het dat hulle die baasverkenner aan die slaap sou vang, dan het hulle hul lelik misgis. In 'n ommesientjie het hy sy klompie "omsingelaars” laat bestorm en uiteengeja. Hy het hul twee offisiere gevange gehou en alles wat hy wou weet, uit hulle gekry. Hulle was self blykbaar vies en het Danie sonder huiwering vertel dat die plaaseienaar se skoonseun hul aanwesigheid op die plaas aan die Engelse outoriteite op Heidelberg gaan verraai het.
Dit was vir Danie genoeg. Hy het die hendsopper 'n paar minute tyd gegee om sy dierbaarste besittinkies uit die woning te verwyder en toe die huis met alles daarin aan die vlamme ten prooi gegee.
(Mag ons in hierdie tyd net soos Danie geen genade betoon aan die verraaiers in ons volksgeledere nie...)