Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Omdat ‘n politieke beleid van inval of verdwyn geen oplossing bied nie, beskerm ‘n wyse leier altyd sy minderheidsgroepe. Vyf wolwe en een skaap kan tog nie om ‘n tafel gaan sit en stem wat hulle vir aandete wil hê nie!
VYF VOORLAAIERS EN 'N PANGEWEERTJIE
— die ware verhaal van Franie Robbertse se liefde vir sy vadertjie
Lees reeks by Jeughelde
In die vorige eeu het die wêreld rondom Rustenburg nog gewemel van wilde diere. Leeus, jakkalse en rooikatte was toe nog 'n plaag op al die plase. Ja-nee, 'n mens kan maar sê dat die omgewing 'n ware jagtersparadys was. Dit kon ook egter selfs 'n vermaarde jagter se dood beteken. Dit was veral die leeus wat maar gedurigdeur kom pla het — en ook nie net by die boere se veekrale nie. Gevalle waar 'n leeu of twee helder oordag by 'n nagmaaldiens opgedaag het, was geen vreemde verskynsel nie. Verbeel jou, terwyl 'n mens nog so sit, kom daar 'n touleier al skreeuende aangehardloop, "Maduma Tau!" ('n Leeu!)
Dit het nogal vir 'n bietjie opwinding gesorg, want die dienste was lank en daar was meer as genoeg helpers wat maar te bly was om bietjie bene te kon rek.
lets wat egter alles behalwe snaaks was, was die kere wanneer 'n leeu by een van die boere se spogosse kom kuier het. Soos die keer toe ou oom Franie Robbertse een oggend vroeg sy pyp met mening begin stop. "A-nee-a, so kan dit mos nie aangaan nie!" het hy hoogs ontsteld in sy baard gebrom.
"Wat's verkeerd, Vadertjie?" wil die klein Franie Robbertse weet. Hoewel Franie 'n broerskind van ou oom Franie is, het dié hom grootgemaak asof dit sy eie seun is. Ook die dat Franie sy reeds bejaarde oom "Vadertjie" noem. En klein Franie is nie net bietjie lief vir Vadertjie nie! "Nee jong, eergisteraand het 'n leeu een van my muilesels gevang en pas gisteraand 'n uitgegroeide os! Boetie, vandag gaan leeu se kind les opsê". Franie kry sommer hoendervleis toe hy sien hoe die rookdampe om sy oom se kop saambondel. Hy is darem baie bly dat hy nie vandag 'n leeu is nie!
Vinnig het oom Franie 'n leeujag gereël gehad en so skuins voor elfuur daardie selfde oggend stap die handjievol jagters die digte bosse in. Gelukkig het oom Franie nog vier mans van die buurplase opgekommandeer. Saam met sy eie is daar dus vyf stuks gewere onder hulle. O ja, plus die ligte pangeweertjie wat Franie by Vadertjie gekry het. Hoewel Franie slegs nege jaar oud is, glo oom Franie nie daarin om 'n kind op te piep nie en het Franie gevolglik geen moeite ondervind om die jag mee te maak nie.
So ver as wat hulle loop, luister Franie met gespitste ore na al die jagstories wat die mans vertel. Die een wil beter as die ander wees. Arme ou Franie hou maar styf vas aan die geweertjie wat hy eendag by Vadertjie present gekry het. Nou is hy eers dankbaar dat Vadertjie hom destyds al daarmee leer skiet het.
"Ja, ou seun, mens weet nooit wanneer jy die ding dalk mag nodig kry nie," was sy woorde nog ...
Maar vandag voel Vadertjie nie soos die ander lus vir praat nie. Inteendeel, dit lyk of hy al vinniger en vinniger begin stap. Die res moet behoorlik hul tree rek om by te bly.
Laat daardie middag, toe die son ál een is wat nog hard aan die gesels is, begin die honde al hoe onrustiger raak. Skielik steek die rifrug vas en begin saggies knor. Nekhare gerys ...
Die volgende oomblik trek 'n geel streep deur die lang olifantsgras — reguit in die rigting van die jagters wat byna-byna onverhoeds betrap is. Ou oom Franie, wat nog heeltyd voor was, is die naaste aan die gedierte. Skaars het hy sy voorlaaier gelig gehad, of leeu se gesig verskyn bokant die gras. Een, twee tree van hom af. Gevolglik wag hy nie 'n oomblik langer nie.
"Ka-dwa!" weergalm die skoot.
Dis raak! Die leeu rol 'n slag om. Dog, met 'n onaardse gebrul, kom vuilbaard vinnig weer orent. Met bloed wat rooi uit sy wond stroom, gluur hy Vadertjie woedend aan. Haat flits uit die vuilgeel oë, terwyl hy al sy spiere saamtrek om te spring.
Oom Franie weet wat kom en begin vinnig herlaai. Maar veels te stadig. Met 'n kragtige sprong beland die leeu rasend van pyn en woede met sy volle gewig reg bo-op die ou man. Die ander jagters het hulle na die val van die eerste skoot al uit die voete gemaak. Almal behalwe Franie ... en sy pangeweertjie. Sy liefde vir sy Vadertjie was veel groter as sy vrees vir die leeu. Vir oulaas kyk hy die vlugtende lafaards agterna. Van die grootpraters het nie een oorgebly nie! Dan, waar hy nog steeds wydsbeen oor Vadertjie staan, laat die leeu sy massiewe kop sak en begin ruik aan die vreemde prooi. Ou Vadertjie se dowwe kreune laat Franie vinnig besef dat hy nie kan staan en kyk hoe die leeu sy oom lewendig verorber nie.
Die leeu bepaal nou sy volle aandag aan sy vangs en dit gee Franie kans om stadiger nader te beweeg — versigtig, om nie die grommende leeu se aandag af te trek nie. Netnou los die leeu Vadertjie net daar en bespring hom — wat Franie Robbertse is — as hy op 'n droë takkie trap!
Toe Franie naby die leeu kom, mik hy na die dier se kop. Hy knyp sy oë styf toe en vou sy vinger om die sneller. Maar, o wee, se nou net hy skiet dalk vir arme Vadertjie raak? Doef-doef klop sy hart al vinniger. Al raad is dan maar om nog 'n tree of twee vorentoe te beweeg, steeds nader aan die mees gevreesde dier van die veld. Gelukkig staan hy half skuins agter die leeu waar dié hom nog nie gewaar het nie, maar mens weet nooit.. . Meteens lig die leeu sy kop. Franie verstyf onmiddellik. Maar dan sak die swaar kop weer — dit was net 'n nuuskierige kwevoël wat in 'n boom daar naby kom toeskouer speel.
Franie is nou so naby aan die leeu dat hy die roofdier se stank duidelik kan ruik. Met bewende arms druk die seun die pangeweer se loop vorentoe. Nog 'n klein entjie ... So ja, nou raak die bek van die loop feitlik teenaan vuilbaard se oor. Dan draai Franie sy kop weg, terwyl sy wysvinger al stywer en stywer om die sneller krul. "Dwa!" val die skoot van sy ligte pangeweer ...
Die onverwagse geknal van 'n geweerskoot laat die lafhartige voortvlugtendes vinnig na mekaar kyk waar hulle intussen onder 'n groot koelteboom versamel het.
"Help! Help!" hoor hulle die volgende oomblik 'n benoude seunsstem roep.
"Kom, kêrels!" se een en begin dadelik in die rigting van die geskree draf. Skoorvoetend val die ander agter hom in. Daar gekom, kan die mans nie hul oë glo nie. Daar lê die leeu: morsdood! Maar Franie skud hulle gou uit hul verwondering wakker.
"Gou, die leeu gaan Vadertjie doodlê!" roep hy benoud. Gou-gou het die sterk mans die dooie leeu van die ou man afgesleep. 'n Erg beseerde ou oom Franie word, sonder om verdere aandag aan die leeu te gee, twee-twee deur sy bure huis toe gedra.
"Dink jy hy gaan dit haal?" vra 'n draer saggies aan sy maat toe hul buurman erg begin yl.
"Vadertjie sal nie doodgaan nie. Hy sal nie! Hy sal nie!" spring Franie sy maat egter voor.
En hy was so wrintiewaar ook reg! Ou oom Franie Robbertse het die leeuaanval ná 'n lang en moeisame herstel tog oorleef. Hierna het Vadertjie, hoewel nou erg krom, geboë en half gebreklik, nog jare geleef. Niemand het egter ooit sy plaas verlaat voordat hy nie eers die volle verhaal van Franie se heldedaad tot in die fynste besonderhede moes aanhoor nie.
En Franie? Wel, as Vadertjie homself so begin regskuif vir die groot vertellery het Franie maar sy pangeweer gegryp en al fluitend veld toe gestap. Daar in die bosruigte van Rustenburg se kontrei, sou Franie Robberste nog menige leeu sy moses laat teëkom.
Die mense wat hom geken het, sou nog lank nie uitgepraat raak oor die keer toe die negejarige klein Franie sy geliefde Vadertjie se lewe van 'n gewisse leeudood gered het nie ...