Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons vra God in ons gebede soos Hy ons geleer het dat ons vergeef sal word, soos diegene vergewe wat teen ons oortree – nie omdat ons in staat is om die skuld van 'n vergryp of belediging te vergewe nie – maar net dat ons toorn, haat en wraaksug vrywilliglik uit ons hart verband kan word.
1899: UITBREEK VAN 2e VRYHEIDS- OORLOG
Lees volledig by Kultuurdagboek
KULTUURDAGBOEK 11 OKTOBER
Twee politieke strewe, Britse Imperialisme en Afrikanernasionalisme, het teen die einde van die 19e eeu in Suid-Afrika gebots. Die Britse Imperialisme het die vereniging van die hele Suid-Afrika onder Britse gesag nagestreef. Die Afrikanernasionalisme het na die uitbouing van hul Republieke gestreef en wou nie deel van 'n verenigde Suid-Afrika onder Britse gesag wees nie. 'n Nuwe fase in die stryd breek in 1886 aan as duisende Britse onderdane na die goudvelde aan die Rand stroom.
Die Transvalers ag hulle bedreig en vereis 'n verblyf van 14 jaar om burgerskap te verkry. Die Britse onderdane, nooit van plan om van hulle burgerskap afstand te doen nie, eis seggenskap in die Republiek op grond daarvan dat hulle die meeste tot sy inkomste bygedra het.
In 1892 stig hulle die Transvaal National Union.
Die stryd loop uit op die sensasiewekkende Jameson-inval, wat in die laaste dae van 1895 plaasvind en misluk. Die ontevredenheid van die Uitlanders het in Brittanje weerklank gevind, en Chamberlain, Britse Minister van Kolonies, meen dat die Britse wêreldposisie alleen gehandhaaf kan word deur die kolonies nouer aan die moederland te bind. Alleen wanneer die hele Suid-Afrika onder Britse gesag staan sal die posisie daar volkome veilig wees.
Sir Alfred Milner, wat net soos Chamberlain oor die toestand gedink het, word goewerneur van die Kaap en Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika. Milner, in Mei 1897 gestuur, beskuldig in Maart 1898 die ZAR daarvan dat dit geen politieke regte wil verleen aan Britse onderdane nie. Die toestand raak gespanne. In Desember 1898 is 'n Britse onderdaan, Edgar, deur 'n konstabel in Johannesburg uit noodweer doodgeskiet. Die South African League, 'n politieke organisasie van die Britse Uitlanders, lê 'n versoekskrif aan koningin Victoria voor. Milner reageer deur daarop aan te dring dat die Britse regering hom moet inmeng omdat Transvaal die Britse posisie in Suid-Afrika ondermyn.
Pres MT Steyn, wat oorlog gevrees het, nooi pres SJP Kruger en Milner om die geskil in Bloemfontein te kom bespreek. Dit vind wel plaas. Op 31 Mei 1899 verklaar pres Kruger hom bereid om stemreg ná 'n verblyf van sewe jaar aan Uitlanders te verleen. Milner dring aan op 'n tydperk van vyf jaar, en die onderhandelings word beëindig.
Milner versoek die onmiddellike versterking van die Britse garnisoen in Suid-Afrika. Etlike duisende soldate is hierop na Suid-Afrika gestuur. Hulle is vlak by die grense van die twee Republieke saamgetrek naamlik by Mafeking en Kimberley, in die Kaapkolonie, en by Ladysmith en Dundee, in Natal.
Verdere onderhandelinge oor die stemregkwessie is gevoer, en Chamberlain se eise het die ZAR se onafhanklikheid duidelik in gevaar gestel, sodat Burgerkommando's teen die einde van September 1899 na die grense gestuur is. Op 9 Oktober 1899 is 'n ultimatum aan die Britse regering gerig om hulle troepe binne 48 uur van die grense terug te trek. Die eis is van die hand gewys en op 11 Oktober het die oorlog in Suid-Afrika begin.
Ons sal Paul Kruger se woorde altyd in herinnering roep toe hy verduidelik het waarom hierdie situasie ontstaan het: Van Brittanje het hy gesê: "Dit is nie stemreg wat hulle wil hê nie, dit is my land wat hulle wil hê!".
En hoe reg was hy nie!