Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As Christen is daar vir jou 'n baie duidelike opdrag in die Woord:
"Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom; want mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat 'n gedaante van Godsaligheid het maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. " – II Tim 3.
DEELGENOTE VAN DIE GODDELIKE NATUUR
Hannes Ollewagen
2 Pet. 1:3-21
“IMMERS, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.”(:3&4).
Geroepe as deelgenote van die goddelike natuur. ’n Saak wat myns insiens deesdae in ons godsdiensoefening heeltemal verwaarloos word. Daar is soveel fokus op die een of die ander wat die mens moet doen om ’n vreugdevolle en voorspoedige lewe te kan lei en die seën van God te geniet. Die fokus op hoe om hierdie en daardie probleme as gelowiges te hanteer. Hoe hanteer ek die beproewing van ’n siekbed of die verlies van ’n geliefde? Hoe hanteer ek die uitdaging van opstandige en rebelse kinders? Hoe hanteer ek die hartseer en ellende van ’n egskeiding? Hoe hanteer ek eensaamheid? Hoe hanteer ek die beproewing wat deur droogte of swaar eknomiese toestande teweeggebring word? Hoe gemaak met die alledaagse uitdagings wat teweeggebring word deur roekelose en kinderagtige politici wat in die meeste lande ter wêreld aan stuur van sake staan?
Al hierdie dinge met die hooffokus om ons aardse geluk en voorspoed te herwin en/of te probeer verseker. En natuurlik kan ons met al hierdie dinge en soveel meer tot die hemeltroon van God nader wat ons met ons probleme kan en wil help. Maar ons moet ook daaraan dink dat al hierdie aardse dinge nie vir ons só belangrik raak dat dit ons verantwoordelikheid teenoor God en die fokus in ons geestelik lewe verdwerg nie.
Die vermaning uit 2 Petrus 1 herinner ons weer opnuut aan ons verantwoordelikheid om gedurig daarna te streef om die goddelike natuur deelagtig te word. Dit herinner ons daaraan om gedurig daarna te streef om in ons lewens al meer aan die beeld van God gelyk te word. Hiervan getuig die apostel Johannes ook in 1 Joh. 2:6. “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” En hierdie opdrag word in die woorde van 1 Petrus 1:14-16 ook vir ons uitdruklik en duidelik gestel. “Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, wat Ek is heilig.”
Enige mens wat met opregtheid erns maak met God en sy Woord voel natuurlik om met die nodige respek te stel dat dit tog nie vir ons moontlik is om soos God te wees nie. Daar is in die ganse heelal maar net Een soos Hy en daar sal nimmer nog Een wees wat gelykgestel kan word aan sy Seun wat in die vlees op aarde kom woon het en aan God se reg voldoen het. En daaroor hoef ons nie eers verder te praat nie, want dit is ’n uitgemaakte saak dat geen mens aan God se wese gelyk kan word nie. Maar dit is ook nie die opdrag wat Hy aan ons gee nie. Die opdrag is dat ons daarna moet streef om sy heiligheid deelagtig te word. En uit onsself, in ons vleeslike natuur is dít natuurlik ook vir ons onmoontlik. Maar deur die geloof in Christus en die kragtige werking van die Heilige Gees in ons lewens word die heiligmaking vir ons moontlik gemaak. “Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. Want God het – wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees – deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid.” (Rom. 8:2-4, 8-10).
Laat ek en u vandag ons lewens beoordeel in die helderheid van die lig van God se kragtige Woord om te sien hoeveel van sy goddelike natuur in ons lewens sigbaar is en hoeveel van ons sondige en vleeslike natuur nog die oorhand het. ’n Duidelike maatstaf hiervoor vind ons in Galasiërs 5:19-22. “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie. Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” En laat ons ons verbly dat ons die Een ken deur Wie se krag ons die tekortkominge wat daar nog in ons lewens is kan bestry en oorwin ten einde so sy goddelike natuur deelagtig te word.
Mag ons fokus in hierdie lewe ook toenemend raak om God te behaag en sy goddelike natuur deelagtig te word en minder om ons eie geluk en belang hier op aarde voorop te stel. Laat ons Hom dien en eer uit opregte liefde en na Hom soek omdat ons begeer om Hom in waarheid te ken sodat ons meer en meer sy heiligheid deelagtig mag raak eerder as wat ons Hom net wil ken as die Een deur Wie ons voorspoed en seën van tydelike aard probeer verseker. “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt. 6:31-33).A