Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons werk nie so hard op hierdie aarde om iets te besit nie; ons werk sodat ons iets kan word.
MET RYPERD EN MAUSER (18)
Dr JP Botha
(Lees reeks by Met Ryperd en Mauser)
BRAKSPRUIT
Die Engelse het intussen hul kamp rondom die werf op Brakspruit opgeslaan. In die huis was nog ‘n vrou met ‘n paar kindertjies wat toe geheel en al deur die vyand omring was.
Nadat die kommando’s van genl De la Rey en genl Liebenberg by ons magte aangesluit het, het ons planne beraam om die vyandelike kamp op Brakspruit te gaan oorrompel.
Ek was een van kmdt Van Tonder se adjudante en was dus teenwoordig toe generaal De la Rey aan Van Tonder kom bevele gee wat naastenby so gelui het: “Kommandant, laat jou manne bymekaarbring.”
Die burgers het orals op die bult in groepies verspreid gestaan. “Laat hulle vyf tree van mekaar af regstaan vir die aanval. Ek sal die kanonne hier agter julle op die bult laat bring om die laer te bestook. Ek gaan nou dadelik na Liebenberg om sy burgers ook reg te stel en as alles daar gereed is, sal ek die sein aan die kanonne gee om los te trek. Wag dan tot julle sien die perderuiters begin uit die kamp vlug en dan storm julle.
Met hierdie plan wou generaal De la Rey dat ons eers met ons grofgeskut die vyand op loop jaag voordat ons perdekommando met hulle begin afreken.
Ons het sy bevele gehoorsaam en alles in gereedheid gebring. Ons het die manne volgens voorskrif laat regstaan en staan toe op verdere bevele en wag.
Hier het ek die dag gesien dat ‘n mens ‘n voorgevoel van naderende onheil kon hê. Gert Roets van Pilansberg was nie juis ‘n bang man nie, maar toe ons die perde regstel, bemerk ek dat hy met sy muil agterbly. Ek vra hom toe waarom hy nie kom regstaan nie. Sy verskoning was dat sy muil kapot is. Maar hy het toe tog maar by die linie aangesluit.
Generaal De la Rey was nog nie eers by Liebenberg oorkant op die ander bult nie, toe kom generaal Kemp by Van Tonder en sê aan hom: “Jy moet na my kyk; as ek storm, dan kom jy.”
Ons ontvang dus nou weer nuwe bevele. Generaal Kemp was aan ons regterkant en generaal Liebenberg op ons linkervleuel. Kommandant Van Tonder was met ons kommando in die middel.
Skaars was generaal Kemp by sy manskappe terug of ek sê aan Van Tonder: “Kyk daar wat maak generaal Kemp!” Hy storm toe al, nog lank voordat die kanonne enigiets aan die Engelse kamp kon doen en voordat generaal Liebenberg se burgers gereed was.
Die Engelse was in besit van al die voordeligste stellings soos die woonhuis, die kraal en die spruit wat daar verbygeloop het.
Ons kom oor die kaal vlakte aangestorm en ek sien terloops dat die muil van Gert Roets eerder dwing om ons ander uit te loop en dit dus nie vir ons adjudante nodig was om hom aan te dryf nie, maar Gert lyk egter taamlik bleek.
Ons het onder volle bestoking van die vyand nader gejaag en naderhand afgespring, terwyl ons voor ons perde op die kaal veld gaan lê het om die Kakielaer te koeël. Hier het ons die vyand se bomme en koeëls ten minste vier uur lank verduur sonder om enige hulp van generaal Liebenberg se kant af te ontvang.
Waar ek en my maat Johannes Joubert gelê het, moes ons voortdurend onder ‘n pompom se bomme deurloop. Hierdie snelvuurkanon van die vyand het in die kraal, wat met hoë garingbome omsoom was, gestaan. Die pompom kon alleen deur die hek van die kraal skiet omdat die heining te hoog was en ons was vir hom net mooi reg onder skoot. Ons uiteindelike ontkoming was wonderbaarlik want weerskante van ons was naderhand amper geen perd of muil wat nog nie deur die bomme getref is nie, behalwe ons eie twee perde. Ons het egter noulettend gesorg dat ons perde nie dwars staan nie en het hulle telkens wanneer ‘n bomsarsie verby was, met die koppe na vore reggetrek. In hierdie posisie is so ‘n dier maar ‘n smal teiken wat nie sommer getref word nie.
Links langs ons tref die stukke van ‘n barstende bom ‘n jongman Fanie Viljoen in sy bene en skeur die vleis en senings daarvan pynlik oop. Kort daarna sien ek weer hoe ‘n bom vanuit die garingkraal ‘n entjie van ons af bars en Gert Roets in die nek tref. Hy was oombliklik dood.
Die burgers van generaal Kemp op die regtervleuel was teen hierdie tyd al ‘n goeie ent nader aan die Engelse as ons en hulle was net so onbeskut teen die vyandelike bomme. ‘n Aantal van sy burgers, waaronder my neef Willie Botha was wat vroeër by Suurfontein ontsnap het, was besig om ‘n aantal Engelse te oorrompel en te ontwapen. Willie sien dat een van die Kakies ‘n paar gawe skoene aan het en probeer inderhaas om dit in besit te kry onderwyl hy nog op sy perd sit en die Engelsman op die grond lê en koes teen sy eie makkers se koeëls. Die Tommie gaan sit regop en probeer om die skoene los te knoop, maar die riempies het van die oggenddou hard geword en voordat hy daarin slaag om hulle los te knoop, hoor hy al weer ‘n bom aankom en dan val hy gou-gou weer plat.
Willie skree dreigend op sy slagoffer, want hyself verkeer in nog groter gevaar. Toe roep die Engelsman wanhopig uit: “Give your knife!” Met behulp van Willie se knipmes, sny hy die riempies haastig deur, pluk die stewels uit en gooi dit vir hom!
Toe die son al byna onder was, hou ons aan albei kante op met veg. Dit was of selfs die vyand van die aanhoudende bombardement sat was. Die vrou wat in die plaashuis was, het later vertel dat die Engelse offisiere wat almal daar vergader was, op die punt gestaan het om oor te gee. Maar ons het natuurlik daar niks van geweet nie. Ons staan op, haak die teuels in die arm en lei die perde voort onderwyl ons loop en pyp stop om te rook. Alhoewel ons baie moeg was, het ons gesorg dat ons ‘n veilige afstand van die vyand af wegkom voordat ons gaan slaap het.
Ons het die volgende dag ons dooies tydens ‘n aanhoudende reën op een van die plase begrawe. Nieteenstaande die heftigheid van die vyandelike bombardement, het ons maar ses man verloor.
Daarna het ons verder getrek. Die middag saal ons op ‘n kaal bult af om die perde ‘n bietje te laat blaas. Daar kom toe ‘n burger aangery met ‘n swart perd in die hand. Dit blyk toe dat dit vk Andries Els se perd was wat hy tydens die geveg naby die garingboomkraal agtergelaat het nadat ‘n bomstuk die dier getref het. Die perd het daar oënskynlik dood gelê, maar nadat die slag verby was, het die burger hom daar springlewendig en sonder enige sigbare letsels aangetref en saamgebring!
Hier op die kaal bult waar ons afgesaal het, was geen flentertjie hout te kry nie. Maar ek het geweet hoe ons onder soortgelyke omstandighede vroeër in die Vrystaat, waar ek gebore is, ‘n vuurtjie aan die gang gemaak het. Ek maak toe ‘n gaatjie aan die kant van ‘n miershoop en ‘n holtetje bo-op vir my kampkatrolletjie. Ek kry darem ‘n paar droë stokkies en grassies bymekaar, plaas dit in die holte aan die kant van die miershoop en steek die boeletjie aan die brand.
My maats vra:”Wat doen jy nou?”
Ek sê: “Ek gaan nou kosmaak.”
Die miershoop self raak spoedig aan die brand, want die rysmiere het elke holtetjie en gangetjie met droë grasstukkies gevul. ‘n Mens verbaas jou vir die hitte wat bo uitkom en in ‘n ommesientjie kook die water. ‘n Rukkie daarna sien jy orals op die bult die rokies opkrul. Die klomp bosvelders het iets nuuts geleer!
Hiervandaan het ons verder getrek onderwyl die reën weer aanhoudend begin neersif. Laat die middag saal ons weer op ‘n plek af waar darem‘n bietje hout te kry was en ons was net besig om ons nat klere te droog toe die fluit weer vir opsaal blaas. Dit was in die jongste tyd ons gewoonte om nie te slaap waar die donker ons vang nie maar om nog ‘n hele entjie gedurende die nag te versit, ten einde die vyand te flous.
Ons trek in een van dié soort plaaspaaie wat net uit twee uitgetrapte strepies langs mekaar bestaan. Die pote van die lang rye perde omskep die waterplasse in die pad in ‘n papperige klei. Jou maat se perd langs jou spat die modder orals langs jou bene op en besmeer die hele een kant van jou lyf.
Daardie nag het ek en my maat nooit geslaap nie. Die veld waar ons uiteindelik ‘n lêplekkie gaan soek het, was net die ene water waar jy ook al in die donker rondvoel. Ons het sommer in die water gaan velling lê of lepel lê soos ons dit ook genoem het. Hans Joubert kon dit naderhand nie meer hou om met sy bene so krom te lê nie en het by my begin neul dat ons ‘n slag weer moes omdraai wat ek nou ten enemale nie wou doen nie. Al antwoord wat hy uit my kon kry was: “Ek steek nie my ander sy ook in die water nie!”
So het ons maar die heelnag wakker gelê totdat dit begin lig word het. Nadat die son deurgekom het, kon ons darem weer ons klere droogmaak en het die wêreld nie meer so stroef daar uitgesien nie.