Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ongelowiges bevind hul dikwels in die put van die dood. So ook gelowiges soos koning Dawid in Ps.40. Gelukkig kyk gelowiges met ander oë na die put en weet dat hulle nie vir altyd daarin sal wees nie en dat God ook hul hulpgeroep sal hoor en die verlangde verlossing voorsien.
MET RYPERD EN MAUSER (13)
Lees reeks by Met Ryperd en Mauser
Dr JP Botha
OP OU BREEDT SE PLAAS
Op hierdie tydstip het ons klein perdekommando’tjie grotendeels uit jongmanne bestaan wat deur veldkornet Roelf van Tonder uitgesoek is om perde aan toe te ken wanneer daar perde beskikbaar was.
Vk Van Tonder was nie ‘n grootprater nie. As daar besluit word om ‘n Engelse kamp aan te val, kon die Generaal maar gerus wees dat Van Tonder op sy pos sou wees.
Soos reeds vroeër vermeld, was ons veldkornetskap se taak om die grens tussen ons mense en die swartes te bewaak. Dus kon ons nie deelneem aan al die gevegte wat in die Moot of te Hekpoort of op verskeie ander plekke plaasgevind het nie. Telkens het daar in ons eie wyk klein gevegte voorgekom wanneer ons met ‘n verbytrekkende Engelse troepeafdeling slaags raak. Dan probeer ons om hulle só besig te hou dat hulle nie in staat sou wees om patrollies uit te stuur om die omliggende plase kaal te stroop nie. Daar was nog altyd huisgesinne wat daarin geslaag het om die vyand te ontvlug. Hulle het hul toevlug tot die ruie klowe geneem, waar die vyand selde binnegedring het. My verloofde was een van die gelukkiges wat nog veilig rondgevlug het.
Op ‘n sekere dag kamp ons op die Hoëveld op ‘n plek wat ons sommer “Ou Breedt se plaas” genoem het, aan die grootpad wat van Krugersdorp na Koster loop. By dié geleentheid ontvang elke burger ‘n stuk beesvleis wat egter baie maer en seningrig was. Ons het onsself in ‘n verlate woonhuis tuisgemaak, wat alreeds deur die eienaars ontruim was. Een van ons sê toe dat die vleis só maer is dat jy dit teen die huis se muur kon vasgooi. Die ou mense het dikwels wanneer ‘n maer dier geslag word, gesê dat die vleis so maar is dat dit teen die muur sal vasklou.
Om te sien of dit werklik so is, neem Piet du Toit toe ‘n stuk vleis wat vir ‘n paar burgers bedoel was. Hy trap vas en gooi die vleis, wat seker nie minder as vyf kilogram geweeg het nie, teen die muur vas dat dit jou werklikwaar daar bly hang! Ons voedselvoorsiening was dikwels bitter ontoereikend.
Onderwyl ons hier op ou Breedt se plaas gestaan het, kom daar drie jong burgers van die Marico-kommando by ons aansluit. Hulle name was Johannes en Jacobus Joubert en Willie Barbie. Om een of ander rede is hulle van hul eie kommando weg, wie se aanvoerder toe by generaal De la Rey gaan kla en wou hê dat hy hulle weer moes terugstuur. Die Generaal se antwoord was dat so lank as wat ‘n man veg, dit nie vir hom saak maak by wie hy veg nie. So het die drie kêrels vir die duur van die oorlog by ons gebly.
Na ‘n paar dae trek ons terug in die rigting van Slypsteenkoppies naby Boons om ‘n Engelse troepemag wat ons vanaf Krugersdorp genader het, daar in te wag. Ons kommando onder generaal De la Rey neem toe posisie in aan die regterkant tussen die rantjies en die burgers van die ander offisiere aan die linkerkant.
Die Engelse mag het toe alreeds op ou Breedt se plaas aangekom waar hulle hul kamp opslaan. Daarna stuur hulle ‘n groot berede afdeling en ‘n paar kanonne in ons rigting uit. Ons lê hulle gereed en inwag, maar toe hulle nog veilig buite trefafstand van ons kleingeweervuur af was, roep hulle halt en stel hulle kanonne op ons en begin ons onder die bomme steek. Na ‘n rukkie sien hulle dat die kanonvuur geen uitwerking op ons het nie. Daarna stuur hulle twee groot afdelings perderuiters na weerskante toe uit in ‘n poging om ons te omsingel.
Die vyand het dikwels van hierdie taktiek gebruik gemaak om ons uit ons posisies te verdryf, want hulle was bewus van die feit dat ‘n Boer niks van vaskeer gehou het nie. Dit geluk die Engelse om langs ‘n wye omweg om ons heen te trek, waarop ons toe maar weer dadelik moes laat spat, want hulle was toe al amper om ons en in die nabyheid van uitstekende stellings in die rante. Ons kon nog net langs een opening reg voor ons ontvlug.
Generaal De la Rey gee aan ons korporaalskap bevel om die Engelse teë te hou totdat al die burgers uit is. Ons sou volgens hom weer bevele ontvang wanneer om ons stellings te verlaat.
Die Engelse trek in ‘n diep holte langs waar ons hulle nie kon sien nie, maar op ongeveer vierhonderd tree afstand van ons af begin hul koppe bokant die bultjie tevoorskyn kom. Ek raai die kêrels naby my aan om nie te skiet voordat daar nie eers ‘n hele aantal sigbaar is nie. Toe maak ons hiervandaan stukkend en ‘n hele paar makeer. Gou verdwyn die res weer agter die bult en die koeëls begin om ons heen te fluit.
Ons perde staan nie ver van ons af nie, veilig agter ‘n bankie. Meteens sien ek die manne begin opspring en na die perde toe hardloop. Ek skreeu aan hulle om terug te kom. Hulle draai om en ons begin weer om die vyand te bestook. Maar dit duur nie lank nie of byna al die kêrels spring weer op en slaan voet in die wind; selfs ons korporaal was besig om die rieme neer te lê! Net ek en Matthys Buitendag, ‘n dapper man sonder ‘n bang haar op sy kop bly agter. Ons voel toe baie vies vir die klomp papbroeke, want wat sou generaal De la Rey van ons dink as hy daarvan te hore kom?
Noodgedwonge moes ons twee toe ook maar die wyk neem en ons ry in die rigting voort waarin ons makkers gevlug het. Die Kakies skiet aanhoudend op ons, maar die koeëls fluit skadeloos bokant ons koppe verby onderwyl ons al op ‘n stappie voorttrippel om hulle te mislei. Hulle reken dat hulle koeëls te kort val en ons nie bereik nie en skuif die visiere nog hoër op.
Ons voel bekommerd oor die burgers wie se aftog ons moes dek. Hulle kon nog nie almal aan die omsingeling van die vyand ontsnap het nie, anders sou ons bevele ontvang het om ook die aftog te blaas.
Meteens hoor ons hoe ‘n vegtery reg voor ons aan die brand slaan. Die Kakies het die pad voor ons toegemaak en is nou besig om ‘n aantal burgers in ‘n nou poortjie tussen twee rantjjies voor te keer, maar hulle slaag tog daarin om een-een deur te jaag. Daar was toe geen tyd meer oor om te verkwis nie en ons jaag so al wat die twee perde kon doen om ook daar deur te kom. Die sarsies wat die Engelse op ons vuur, spoor ons perde tot nog groter haas aan, met die gevolg dat ons naelskraap deurbars en gelukkig heel anderkant uitkom.
Daarna tref ons ons kommando op Middelfontein aan, waar hulle afgesaal staan en ontdek dat hulle nie eers daarvan bewus was dat ons die heel tyd nog agter was nie. Ons sou tevergeefs gewag het op die teken wanneer om te laat spat. Ek en Buitendag was toe ook maar bly dat ons maats voet in die wind geslaan het. So het die ervaring my daardie dag geleer om nooit my veiligheid volkome aan ‘n ander se sorg toe te vertrou nie, maar om gereeld my eie oordeel te gebruik. Dit het die burgers onder kommandant Louw van Niekerk ook daardie dag gedoen. Kmdt Van Niekerk was ‘n dapper vegter, maar sy manskappe moes maar self die gevegsterrein dophou en hom waarsku wanneer die Engelse besig was om hulle te omsingel, want hyself sou dit nooit agtergekom het nie omdat al sy aandag net op die geveg voor hom gekonsentreer was en hy nooit daaraan gedink het om kort-kort vas te stel of die Engelse nog nie besig was om hulle te omsingel nie.
Twee van ons kêrels, Hennie Riekert, dieselfde man wat deur die Bagatlas by Derdepoort gevang en aan die Engelse uitgelewer is, en Flip du Preez is dié dag albei in hul bene gewond. Die Engelse het Du Preez se been afgeskiet, hom gevang en as krygsgevangene weggestuur.
Hier op Middelfontein moes ons klompie burgers onder Van Tonder en Van Heerden ‘n rukkie later ‘n Engelse troepemag kom aanval wat weer daar gekamp het met die doel om die omliggende landerye te verwoes. Ons is spesiaal uit ons wyk daarheen gestuur om te kyk of ons nie daarin kon slaag om die wêreld vir hulle so warm te maak dat hulle verplig sou wees om te trap nie.
Vroeg die oggend was ons gereed vir die aanval, maar die vyand se kamp was op ‘n baie moeilike terrein geleë, op ‘n oop vlakte aan die voet van ‘n rant. Ons moes ons perde bo-op die rant op die gelykte agterlaat en toe te voet langs die skuinste af die Engelse nader.
Onmiddellik nadat die vyand ons teen die berg gewaar het, begin hulle om ons te bombardeer. Baie van die bomme gaan vér bokant ons verby in die rigting van ons perde agter die rant.. Na ‘n paar uur het ons maar besluit om terug te trek, want op hierdie wyse kon ons geen hond haaraf maak nie en ons perde was in gevaar.
Op ons pad terug weer die rant uit, is Willem Doyle deur ‘n kartets uit ‘n barstende bom gewond.
Nadat ons agter die rant ‘n bietjie gaan asemskep het, trek ons langs ‘n groot omweg om die Engelse kamp om te kyk of ons hulle nie van die teenoorgestelde kant af beter kon bykom nie. Ons gewaar ‘n taamlike hoë bult wat tussen ons en die vyand lê en wat as bedekking kon dien om die vyand ongesiens te nader.
Skemerdonker die volgende oggend laat ons ons perde agter die bult staan en begin om ons doelwit te bekruip. Toe dit lig word, lê ons veilig op die bult in die hoë gras verskuil en begin om die vyand onder die lood te steek, want hierdie keer was ons naby genoeg vir kleingeweervuur.
Die vyand het ons natuurlik nie gesien kom nie omdat dit nog donker was, maar hulle begin nou ook in ons rigting te vuur. Uur na uur gaan verby, onderwyl ons maar aanhoudend die vyandelike kamp onder ons koeëls laat deurloop.
Langs my in die gras lê Frans Prinsloo. Meteens sny ‘n koeël onder sy elmboog deur op die plek waar dit op die grond rus. Sy baadjiemou was stukkend geruk, maar aan sy arm was daar geen skrapie nie.
“n Bietjie later vra Frans Prinsloo my of ek nie gou vir ons twee kon gaan koffie maak nie, want hy kon dit eenvoudig nie meer uithou van die dors nie. Ek kruip toe terug tot by die perde en maak ‘n keteltjie koringkoffie, sonder suiker of melk natuurlik. Nadat ek my eie dors geles het, was die keteltjie leeg en moes ek weer een vir hom kook. Daardie swart, bitter koringkoffie was die lekkerste wat ek nog in my lewe geproe het.
Teen sononder het ons op hande en voete deur die gras na ons perde toe teruggesluip en daar agter die bult eers geëet. Daarna het ons teruggetrek. Ons sending was ‘n sukses, want die volgende dag het die vyand getrap.