Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gelowige volksleiers word deur die mag van die liefde en nie deur die liefde vir mag gedryf nie. Hulle grootheid word nie van kop tot tone gemeet nie, maar met ‘n maatband van die liefde om hul hart. ‘n Liefde vir mag loop al te dikwels op magsmisbruik uit. Vir baie het die plaaslike vryheidstryd nie om die bevryding van volksgenote gegaan nie, maar om despotiese mag te bekom.
MET RYPERD EN MAUSER (11)
Lees reeks by Met Ryperd en Mauser
Dr JP Botha
DIE VROUELAER
"Dog as ‘n man se broek al baie sleg was, was dit seker vir hom geregverdig om ‘n voordelige ruil met ‘n gevangene te maak, want net die volgende dag het dié al weer ‘n splinternuwe uitrusting ontvang. Ons moes noodgedwonge maar ons krygsgevangenes laat loop en dit was soms al te prettig om ‘n Kakie in ‘n ou gelapte broek met ‘n gehawende grootrand hoed te sien wegstap. Gewoonlik het hy self ook daaroor gelag."
Die wyk van veldkornet Roelf van Tonder, waaraan ek ook behoort het, het in die Rustenburgse distrik aan die grens tussen die blankes en die swartes gelê. Rooftogte en diefstal het dikwels plaasgevind, veral gedurende die oorlogsjare. Ook het die swartes nie geskroom om te moor ten einde hul strooptogte te laat slaag nie.
Daarom het ons klompie onder Van Tonder bevele ontvang om in hierdie buurt te bly om die huisgesinne so veel as moontlik teen die swartes se aanvalle te beskerm.
Alhoewel daar toe reeds ‘n groot getal vroue en kinders gevang en in die kampe gestop is, was daar darem nog oral families wat daarin geslaag het om die doodskampe vry te spring en nog op vrye voet te beweeg.
Wanneer ons ‘n naderende Engelse troepemag gewaar, trek ons hulle tegemoet en op elke plek waar ons ‘n strategies geskikte terrein raakloop, bestorm ons hulle en steek hulle onder die lood. Sodra hulle die Zeerustgrens bereik, pak daardie kommando’tjie hulle verder.
Dit het ook dikwels gebeur dat die swartes die vrouelaer aanval. Die vroue en jong kinders het gewoonlik met die koms van ‘n Engelse troepemag die onbewoonde boswêreld ingevlug en wanneer die Engelse verby is, weer huiswaarts gekeer. By sulke geleenthede moes ons kommando’tjie wakker loop om hulle te beskerm teen die swart gevaar.
Die hanskakies was deeglik bewus van die vroue se doen en late hier in die boswêreld en het die vyand op hoogte daarvan gehou en hulle aangeraai om ‘n afdeling troepe in die bosveld agter die vroue aan te stuur indien hulle ‘n ryk buit wil maak. Dit gebeur toe ook dat ‘n aansienlike troepemag van Rustenburg af deur die Bosveld trek en op ‘n sekere aand hul kamp langs die Toelanierivier opslaan. Ons was bewus van die Tommies se bosveldtog en het daardie selfde aand die bosse gepatrolleer want die vrouelaer was juis aan die vlug en ons wou seker maak dat die vyand nie in hulle rigting sou trek nie.
Vroeg die volgende oggend nader ons die rivier. Die wêreld lê daar baie gelyk en is baie ruig begroei met allerlei soorte doringbosse, sodat dit onmoontlik is om enige vyand op ‘n afstand te gewaar. Ons mikpunt was na ‘n streep los rantjies en toe ons op een van die koppies uitry, gewaar ons die groot vyandelike mag wat reg in ons rigting luierig aangery kom.
Ons Veldkornet laat die burgers dadelik posisie inneem en stuur vyftien man, waarvan ek een was, om in die bosse agter die vyand om te jaag en hulle dan van agter te bestook. Soos ek reeds gesê het, kon jy wanneer jy tussen die bosse ry, slegs ‘n paar tree ver sien en ons moes dus skat waar die vyand se agterhoede hulle naastenby bevind het. Dit blyk toe dat hulle in twee afsonderlike groepe agter mekaar op ‘n klein afstand van mekaar verwyder, getrek het. Maar ons ontdek dit eers toe ons ons draai te kort maak en mooi netjies tussen hulle inry.
Voordat hulle ons kon gewaar, want dit was baie ruig, begin ons hulle van agteraf lood oplê en die burgers in die rantjies se mausers begn saampraat. Die aanval was vir die Kakies só onverwags dat hulle in algehele verwarring geraak het.
Sommige val van hul perde af en bly in die hoë gras lê. Die res slaan op vlug en moes toe lelik les opsê om onder ons koeëls uit te kom. Die groep aan ons agterkant roep halt en sit verslae en toekyk. Hulle kon nie begryp wat aan die gang was nie.
Onderwyl ons warm besig was met veg, het ‘n Engelsman vanuit die hoë gras onder ‘n doringboompie op my maat Hans Joubert begin vuur. Sy perd was ongeleerd en hy was gewoonlik nie in staat om sonder hulp op die perd te kom nie. Daarom het hy nie saam met ons ander afgespring nie en vorm nou ‘n gawe skyf vir die Kakie in die gras, terwyl hy sy bes moes doen om die senuweeagtige perd tot bedaring te bring en dus nie kon terugskiet nie.
“Genant,” skree hy aan my, “skiet tog daardie vervlakste Engelsman; hy peper elke keer net so ‘n raps by my kop verby!” Onderwyl hy praat, sny daar weer ‘n koeël rakelings oor sy hoed.
“Waar is die Engelsman?” vra ek.
“Daar onder die klein doringboompie; toe maak gou man!”
Sonder om iemand onder die boompie raak te sien, want die gras was hoog, jaag ek haastig ‘n paar koeëls links en regs onder die boompie in. Toe was alles doodstil.
Ons hoor perdepote klap en meteens kom een van die agterste Engelse op ‘n galop om ‘n bos reg op ons afgery. Toe hy op ons is, merk hy eers dat ons Boere is en roep: “Oh, I made a mistake!” Hy steek toe maar getroos sy twee hande in die lug toe ons hom gevange neem.
Nadat die geveg verby was, het ons maar teruggegaan en nie veel moeite gedoen om vas te stel hoeveel van die vyand gesneuwel het nie. Maar my maat was nuuskierig om te weet wat van die Engelsman geword het wat hom amper sy lewe ontneem het. Hy gaan toe kyk en tref sy liggaam tussen die hoë gras onder die boompie aan. ‘n Ander burger, ‘n sekere Harmse, kom toe daar by en begin sy sakke te deursoek en haal onder andere ook ‘n paar sjielings daaruit. Ek sê toe vir Harmse om my een van die Engelsman se nuwe patroonbande af te haal, want myne was al baie sleg. Ek het nie daarvan gehou om aan ‘n gesneuwelde te raak nie. Ek het dit ook as ‘n vernedering beskou om iets meer van ‘n gewone Kakie te eis as sy perd, geweer en patrone. Gelukkig was dit gedurende die oorlog ook vir my nooit nodig nie, want ek kon darem die einde van die oorlog met my eie klere haal, wat ek in die grotte weggesteek het, alhoewel ek maar baie moes lap en heelmaak.
Dog as ‘n man se broek al baie sleg was, was dit seker vir hom geregverdig om ‘n voordelige ruil met ‘n gevangene te maak, want net die volgende dag het dié al weer ‘n splinternuwe uitrusting ontvang. Ons moes noodgedwonge maar ons krygsgevangenes laat loop en dit was soms al te prettig om ‘n Kakie in ‘n ou gelapte broek met ‘n gehawende grootrand hoed te sien wegstap. Gewoonlik het hy self ook daaroor gelag.
Hierdie nuwe patroonband is amper weer ‘n tweede keer van ‘n gesneuwelde se lyf afgehaal toe twee koeëls by die slag van Rooiwal my getref het en die hele band met bloed bevlek het.
Daarna trek ons kommando’tjie toe gou-gou van die koppie af tussen die bome in. ‘n Endjie verder gaan ons houtgerus lê en pypstop, terwyl die kêrels opgeruimd gesels en lag en grappe vertel. Na ‘n rukkie begin die Engelse die koppie wat ons verlaat het, met hul kanonne bombardeer. Dit het ‘n goeie drie uur aangehou, onderwyl ons maar ‘n hanetreetjie daarvandaan veilig lê en skerts!
Daarna het die Engelse hul beplande strooptog op die vrouelaer afgelas en na Rustenburg teruggekeer. Hulle het nie weer gewaag om in daardie ruie boswêreld in te dring nie.