Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wat sê die Bybel oor menseregte? Dis uiteraard nie ’n Bybelse begrip nie, maar ’n regsbegrip. In die Bybel is daar geen woord wat regstreeks met regte vertaal kan word nie. Die woord wat die naaste daaraan kom, is regsaak. In Spreuke word koning Lemeul byvoorbeeld aangemoedig om vir die regsaak van ellendiges op te kom: “Maak jou mond oop vir die stomme, vir die regsaak van almal wat wegkwyn” (Spr.32:8).
MET RYPERD EN MAUSER (10)
Lees reeks by: Met Ryperd en Mauser
Dr JP Botha
DIE BEGIN VAN ONS VLIEËNDE KOMMANDO’S
Frans du Toit was toe ook noodgedwonge verplig om saam met sy Engelse vriende in die kamp, in die skuilings vir die Boere se koeëls weg te kruip. Sy huis was maar ongeveer vyf kilometer van die kamp af geleë en ek het gewens ek kon hom - en veral sy vrou - weer ontmoet om haar my perde en geweer te wys waarmee ek nou weer lustig teen hulle vriende veg. Ongelukkig kon ek nie die geleentheid kry nie deurdat ek skielik saam met veldkornet Van Tonder in die middel van die nag die kamp moes verlaat om hulp te gaan verleen aan president Steyn en generaal De Wet, wat deur ‘n vyandelike oormag gedwing is om noordwaarts te vlug.
Ons klompie onder veldkornet Van Tonder het die President en generaal De Wet by Olifantsnek ontmoet. Daarna is ons oor die nek in die rigting van Magaliesburg, totdat ons kontak met die Vrystaatse agterhoede op Middelfontein gemaak het.
Met die hulp van ander versterkende kommando’tjies het ons die vyand daar in so ‘n mate vertraag, dat die President en die Generaal ‘n taamlike voorsprong kon behaal. Daarna is ons voor die vyand uit en kom toe weer oor die nek terug, deur Rustenburg wat op hierdie tydstip weer deur die vyand ontruim was. Die volgende môre neem ons op Magatosnek posisie in om die Engelse wat van Koster se kant af kom, daar in te wag. Ons hou hulle daar die heeldag teë totdat die son haas wou ondergaan en kon toe nie langer daar vertoef nie weens die gevaar van omvleueling deur die vyand wat deur Olifantnek kom met die doel om die Vrystaatse kommando na Waterberg te agtervolg.
Dié nag trek ons uit die pad van die vyand uit, al langs die Krokodilrivier af in die rigting van Beestekraal, waar ons die volgende dag aankom. Na ‘n driedaagse rus, trek ons weer tot op Boshoek terug.
Hier het ons daardie aand ‘n baie prettige voorval beleef. By die burgers van veldkornet Van Heerden was ‘n kêrel wat baie lekker kon lag; hy kon vir die geringste aanleiding daartoe hom skoon kapot lag. Die ander manne het dikwels hierdie eienskap van hom misbruik.
Toevallig was daar dié aand ‘n klompie burgers van ‘n ander veldkornetskap wat met ons saamgetrek het wat, toe hulle van ons man hoor, beweer dat hulle een het wat nog lekkerder kon lag. Dadelik besluit ons om hul onderskeie lagvermoëns te toets. Ons bring ons kêrel en laat hom in die middel van die kring sit. Hulle bring hul man en laat hom teenoor ons s’n plaasneem.
Die twee “slagoffers” was effens uit die veld geslaan en wou weet wat aan die gang is, maar niemand sê iets nie. Hulle bekyk mekaar so onderlangs en een van die twee gee so ‘n senuweeagtige giggellaggie. Daarop was die gort gaar en dit was naderhand net een skaterende kommando. Die twee kruip heen en weer by mekaar op hande en voete verby en loer kort-kort so skuinsweg na mekaar, om dan weer opnuut in ‘n onbedaarlike lagbui los te bars. Jy kon dit eenvoudig nie hou nie. Al wat leef hou die mae vas en sommige kêrels rol magteloos in die gras rond. Dit was eenvoudig te snaaks om twee persone so skynbaar sonder oorsaak vir mekaar te sien lag. Hulle soebat ons naderhand smekend om die skouspel te staak, want hulle was só kapot dat hulle eenvoudig nie meer langer kon aanhou nie. As die vyand daardie aand onverwags op hierdie toneel afgekom het, sou hulle seker heerlik saamgelag het!
Intussen het ‘n gedeelte van die vyandelike magte wat die Vrystaatse kommando agtervolg het, te Swartruggens aangekom en die beleerde Engelse kamp daar ontset. Tooitjie (Frans du Toit), wat soos ek genoem het, ook daar teenwoordig was, het dit toe veiliger geag om vir die duur van die oorlog homself, sy vrou en kinders en al sy besittings onder die sorg van koningin Victoria en lord Roberts te stel. Hy het nou pal in die Engelse kamp gebly en het later aangebied om vir die vyand rapportryer te word. Dit gebeur toe dat ‘n paar Boereverkenners op ‘n sekere dag vanaf ‘n rantjie naby die pad van Koster na Swartruggens, vir Frans op ‘n trapfiets sien ry. Hulle het nie geweet wie dit was nie maar hulle kon aan sy kleredrag uitmaak dat dit ‘n vyandelike persoon moes wees. Hulle steek hom toe onder die lood totdat hy in volle vaart uit die gesig verdwyn het. Hy het glo die jaagtog volgehou totdat hy veilig binne die kamp was en hom toe deur die dokter laat ondersoek om vas te stel of hy nie moontlik gewond was nie, volgens ‘n burger wat as krygsgevangene in die kamp teenwoordig was.
Eers ‘n jaar of twee na die vrede het ek hom weer ontmoet. Miskien was dit vir ons altwee maar beter dat die ontmoeting nie eerder plaasgevind het nie, want teen hierdie tyd het die gemoedere nie meer so hoog geloop nie en kon ons reeds ons eie volksverraaiers met minder skryn in die binneste aansien.
Die mense wat in sy omgewing gewoon het, het hom na die oorlog skeef aangekyk, sodat hy nie meer daar tuis gevoel het nie. Daarna het hy sy plaas verkoop en ‘n stukkie goewermentsgrond in die bosveld gaan bewoon. Later was hy en oom Stoffel Wolhuter weer op Swartruggens bymekaar, waar hulle toe altwee van ouderdomspensioen moes lewe.
Dit was nou omstreeks Desember 1900. Op hierdie tydstip het die offisiere van ons magte van die Kommandant-Generaal bevele ontvang om nie meer sulke groot kommando’s bymekaar te hou nie. Die oorlog het nou sy guerrilla-stadium bereik en hiervandaan sou ons net “vlieënde kommando’tjies” gebruik, wat weens die beperkte ledetal daarvan, vlug oor die veld kon beweeg. Elke veldkornet moes na sy eie wyk teruggaan om die rondtrekkende Engelse afdelings, sodra hulle sy wyk nader, aan te val en sodoende hulle te verhinder om ‘n permanente kamp op te slaan, want vanuit hierdie kampe het hulle gewoonlik hul patrollies gestuur om die wyke te plunder. Dit moes ten alle koste verhoed word. Die vyand het toe gou geleer dat dit nie raadsaam was om te vêr van die hoofkamp af te dwaal nie.
Vanaf Rustenburg na Zeerust het twee hoofpaaie geloop: Die een het oor Magatosnek, Swartruggens en Groot Marico gegaan en die ander een oor Boshoek se nek na Brakkloof, Lindleyspoort en Riekertsdam, al langs die Klein Maricorivier na Zeerust toe.
Sodra ‘n Engelse troepemag met een van hierdie paaie langs trek, word die huisgesinne in daardie omgewing so gou moontlik in kennis gestel. Die wa word dan met die nodigste lewensmiddele volgelaai en daar word haastig uit die pad van die vyand gevlug totdat die veld weer veilig is. Alhoewel daar dan nie meer ‘n vark of ‘n hoender op die werf aangetref sal word nie, het die gesin tog nog hulle woning behou, sodat die vader of seun wat op kommando was, nog dikwels daar voedsel soos beskuit of ander nodige artikels kon gaan haal. Toe die Engelse egter agtergekom het dat die burgers in die veld op hierdie wyse van kos voorsien word, het hulle met hul brandstigting en konsentrasiekampe begin.
Later het elke korporaalskap ‘n kar met vier muile gehad om die burgers se kos te vervoer. ‘n Meul om ons graan te maal, het nie meer bestaan nie, maar indien ons genoeg mielies op die kar gehad het, was ons nie bekommerd nie, want by die eerste uitspanplek word die koffiemeuletjie gou aan die kar geskroef en nie lank daarna nie begin die pap te kook. So kon ons nog daagliks in ons nodigste voedselbehoefte voorsien.