Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Elke ras wat toelaat dat sy bloed vermeng raak, verdien om ten gronde te gaan soos elke beskawing in die verlede wat van hul oorspronklike rassesamestelling afstand gedoen het en tot niet gegaan het. Hulle het geval omdat hulle dit wat vir hulle kosbaar moes wees, nie opgepas het nie.
MET RYPERD EN MAUSER (7)
(Lees reeks by Met Ryperd en Mauser)
VERRAAI EN ONTWAPEN
Dr JP Botha
Ons veldkornet, Johannes Eloff, wou nie die wa van Frans du Toit laat huis toe gaan nie want ons het hom baie nodig gehad om die voetgangers mee te vervoer.
Die môre toe die kommando per trein vertrek, lê ek weer plat met ‘n hewige kouekoors. By die walaer wou ek nie graag agterbly nie, maar my Veldkornet het dit raadsaam geag om my nie saam met die perdekommando te stuur nie. Hy het my verseker dat die walaer al met die spoor langs na Johannesburg sou trek, sodat ek dan weer die kans sou hê om by die perdekommando aan te sluit. Daarop het ek maar ingewillig om agter te bly - ook maar gelukkig vir my, want later het my maats wat daarby was my vertel dat dit die kragte van ‘n gesonder man geverg het om al die ontberings op pad vanaf Kliprivier na Pretoria te deurstaan. Sommige voetgangers moes naderhand van vermoeidheid hul kos en komberse agterlaat en kon uiteindelik selfs sonder hierdie las skaars meer van uitputting voortstrompel.
Toe ons walaer op Bloubank kom, wat vandag Magaliesburgstasie genoem word, roep die laerkommandant die burgers bymekaar en beveel dat hulle moes sorg dat elke wa so gou moontlik na sy bestemming geneem word. Ek het gelukkig van ‘n vriend ‘n bietjie medisyne teen die malaria gekry wat baie doeltreffend was en voel toe al weer taamlik fluks. Ek besluit toe om maat Frans du Toit se wa te gaan aflewer en sommer uit te vind hoe die wind daar waai. Ek vind hom tuis, maar in plaas van enige dankbaarheid dat hy weer sy eiendom onbeskadig terugontvang het, tref ek hom so boos aan vir die Veldkornet, omdat dié sy wa en osse so lank gebruik het, dat hy dreig om hom dood te skiet waar hulle mekaar weer ontmoet! Hy wou weet wanneer ek weer van plan is om na die kommando te gaan. Ek sê toe dat ek Maandagmôre vroeg weer wil vertrek. Dit was toe reeds Saterdagaand.
Maar Frans het ook ‘n ander vriend gehad, oom Stoffel Wolhuter, ‘n winkelier, wat tot so ver nog geen duim verroer het om die saak van die Boere te ondersteun nie. Sy twee karperde het hy by Frans kom wegsteek omdat hy bang was dat ons hulle sou kommandeer.
Daardie Saterdagnag het ek in Frans se huis geslaap. Vroeg die Sondagmôre kom Stoffel ook daar aangestap met - vir hom - die blye tyding dat Johannesburg en Pretoria deur die Engelse ingeneem is. Hy haal ‘n bottel drank uit die sak en sê: “Nou gaan ons twee snapse drink vir lord Roberts en ook twee vir Queen Victoria! Die Boere is te vrot om ‘n land te regeer. Van nou af sal ons geld in oorvloed hê.
Verbaas sit ek die twee en aanstaar. Kan hierdie nou werklik die waarheid wees? Kan nasate van stoere ou Voortrekkerhelde wat hierdie land met hul bloed gekoop het nou werklik só vals en ontrou aan eie volksaard wees dat hulle ‘n vreemde veroweraar met ope arms te verwelkom? Hierdie en ander vrae het aanhoudend deur my kop gemaal, terwyl ek hoogs ontuis in hierdie verraderlike geselskap begin voel het.
Dieselfde Sondag kom daar klompies-klompies burgers met die grootpad verby. Dit was die pad van Rustenburg na Zeerust en het nie ver van Frans se huis af verbygegaan nie. Ek loop hulle toe voor om te hoor waar die kommando’s is en waar hulle heengaan.
“Die kommando’s het ons in die berge naby Pretoria agtergelaat. Die offisiere kom nie verder as krygsraad hou nie en ons vrek van die honger! Ons kom haal kos.”
Gedurende die hele dag het daar kort-kort groepies ruiters verbygegaan. Ek het hulle gereeld gaan ondervra en ook deurgaans dieselfde antwoord ontvang. Ek besluit toe maar om eers ‘n paar dae hier te vertoef om te sien wat gaan gebeur.
My ouers woon twintig kilometer verder aan die grootpad na Zeerust en ek besluit om dan maar eers daarheen te gaan. Ek hou kajuitraad met myself en besluit om my geweer by Frans agter te laat, want ek was bang dat ek op pad Engelse kon raakloop en gevang en weggestuur kon word indien ek gewapen was. Ek het besef dat ek my geweer kon kwytraak deur dit agter te laat, maar ek het gehoop om weer een buit te maak wanneer die geleentheid hom sou voordoen.
Die heer Frans is vroeg die volgende oggend na oom Stoffel toe, wat vorentoe te Swartruggens aan die grootpad gewoon het, waar ek ook moes verbygaan. ‘n Rukkie nadat hy weg is, het ek ook in die pad geval. Oom Stoffel se huis was naby die rivier geleë. Die pad het hier deur ‘n drif met hoë walle aan weerskante gegaan. Toe ek in die drif kom, gewaar ek dat aan elke kant van die pad agter die walle ‘n paar Kakies my staan en inwag. Ek hou my doodluiters om voor te gee dat hul teenwoordigheid my nie hinder nie.
Ek ontdek toe verder dat ‘n klompie Kakies met hul perde agter die beskutting van oom Stoffel se winkel en woonhuis weggekruip het. In ‘n ommesientjie was ek omring deur die Engelse, vergesel deur my vriend Frans du Toit en oom Stoffel Wolhuter. “Watter vriendelike ontvangs!” het ek gedink, want blykbaar was ek hier die belangrkste persoon onder die groepie en my twee “vriende” het groot gretigheid aan die dag gelê om my aan die Engelse offisier voor te stel as dié Botha oor wie hulle so ewe met hom gepraat het.Baie gou het die offisier my vertel dat hy my perd vir sy troepe nodig het. Ek is gedwing om van hom afstand te doen en was nou ‘n voetganger.
“Waar is jou geweer?” vra die offisier.
“By meneer Du Toit,” antwoord ek. “Moet ek hom gaan haal?”
“Nee, ons sal hom laat haal,” was die antwoord.
Vriend Frans was nou al te gewillig om my geweer by sy huis vir die Engelse te gaan haal.
Intussen kom daar nog steeds groepies burgers aan wat wapen aflê, maar hulle behou almal hul perde. Dit was dus duidelik dat ek spesiale behandeling ontvang, ongetwyfeld weens my “vriendskap” met die heer Frans du Toit.
Kort daarna kom hy toe ook met my geweer daar aan, vergesel van sy vrou wat die begeerte nie kon weerstaan om saam te kom en hul mense te kom ontmoet na wie se koms hulle so lank uitgesien het nie.
Sodra sy my sien, sê sy: “En hoe lyk dit nou? Jy wou mos Engelse skiet! Kan jy nou nog Engelse skiet?”
Watter gevoel daar op hierdie oomblik in my binneste ontbrand het is moeilik om in woorde uit te druk. Op my versoek het die offisier my toegelaat om na my ouers se plaas te gaan. Hy het my ‘n pas gegee en beveel om binne die grense van die plaas te bly, anders sou ek gevang word.
Toe ek te voet oorkant die drif uitkom en al met die grootpad deur die dorpie aanstryk, kom Abraham Cloete, die onderwyser wat te Mafeking gesê het hoe dapper hy sy vaderland sou verdedig, by my verby. Toe hy my sien, steek hy vas en skree met ‘n stem waarin leedvermaak duidelik te bespeur was: “Hensop!”
Wat ek aan hom teruggeskree het, sal ek liewer verswyg. Hy was dus ook al tuis en baie in sy skik daaroor.
Tydens oom Stoffel se kuiertjie by Frans die Sondagmôre, het hy aan hom vertel dat die Engelse al van Saterdag af by hom is, ‘n feit wat hulle vir my weggesteek het, sodat hulle verraderlike planne met my, kon slaag. Daarom is hy die Maandagmôre so vroeg voor my uit om sy sakies te gaan reël.
Tydens die verwarring onder die burgers op Pretoria het daar ook veldkornette met klompies van hul manskappe huiswaarts gekeer, onder andere ook veldkornette R J van Tonder en Johannes Eloff. Hulle het berig ontvang dat die kommando’s wat in die rigting van Machadodorp gedryf is aan die terugkom was. Laasgenoemde Veldkornet het ‘n klompie van sy burgers in die geheim bymekaar geroep en ‘n dag vasgestel waarop hulle weer na die kommando’s sou terugkeer. Dog voordat hulle hul planne kon verwesenlik is hulle deur iemand verraai en het die vyand vir Eloff en ‘n paar van sy manne gevang. Hulle sou dus vir die verdere duur van die oorlog nie weer die voorreg geniet om op vaderlandse bodem te trap nie. Dit was nou ongeveer Juniemaand 1900.
‘n Week nadat ek te voet by ons huis aangekom het, was ek gelukkig genoeg om weer vir my ‘n perd te koop, want die ondervinding het my toe al reeds geleer dat ‘n voetganger vir ons in hierdie beweeglike stryd nie veel beteken het nie en dikwels allerhande ellendige ontberings moes deurmaak.
Die vyand het te Groot Marico en Swartruggens reeds kampe gehad en was derhalwe in staat om hierdie wyke goed te patrolleer. Hulle was bewus van die feit dat die Boere al weer besig was om nuwe militêre verset te organiseer en kommando’s te vorm. Daarom het hulle hul bes gedoen om die perde wat nog op die plase was in die hande te kry. Ek was maar pas ‘n week lank die trotse besitter van my tweede perd toe ‘n Engelse patrollie hom op die plaas uitsnuffel en ook annekseer. Ek was egter vasberade om my nie deur hierdie teëspoed en verlies van stryk te laat bring nie en het gereed gemaak om by die eerste geskikte geleentheid weer na die kommando’s te ontsnap.