Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons moet onsself aanvaar soos ons is want dit is hoe God ons geskep het. Aanvaarding beteken dat jy waardevol is net soos jy is. Dit laat jou toe om die ware jy te wees. Jy word nie ingedwing in iemand anders se idee van wie jy werklik is nie. Dit beteken jou idees word ernstig opgeneem omdat dit jouself weerspieël. Jy kan praat oor hoe jy binnekant voel – en iemand gee werklik om. Ware selfaanvaarding word nie in die krag van prositiewe denke, kopspeletjies of sielkunde gevind nie; dit is 'n geloofsdaad wat deur die genade van God plaasvind.
MET RYPERD EN MAUSER (3)
(Lees reeks by Met Ryperd en Mauser)
GEVEGTE BY KROKODILPOEL
Dr JP Botha
"In die heetste van die geveg skree die Duitser vir sy artilleriste: 'Laag skiete, dat hullie kan lank vrekke!' ”
Op hierdie stadium was daar vir ons kommando’tjie op Derdepoort verder niks te doen nie. Ou kmdt Du Plessis se laer moes daar bly om ‘n moontlike inval in Transvaal deur die vyand vanuit hierdie rigting te verydel. Ons driehonderd burgers is toe weer terug na die laer van kmdt Pieter Daniël Swart.
Toe ons honderd vrywilligers by Mafeking gewerf is vir die aanval op die Bagatlas by Derdepoort, het die offisiere ons belowe sodra ons taak daar afgehandel sou wees, ons vir ‘n paar weke verlof sou kry. Almal gesels toe net hoe lekker dit sal wees om weer ‘n slag tuis te wees. Na ‘n paar dae se rus begin die burgers kmdt Dawid Louw oor ons beloofde verlof te pols. Sy antwoord was dat hy dit nie op eie houtjie kon toestaan nie, maar hy sou eers na Mafeking moes gaan om verdere bevele van die offisiere daar te ontvang. Ons moes maar intussen eers op Derdepoort bly tot hy terugkom. Hiervoor het ons nie kans gesien nie. Ons het vir hom gesê ons sien geen sin in ‘n nuttelose leeglêery solank as wat hy weg is nie.
Ons werk is tog hier afgehandel en ons is vas van plan om, sodra hy vertrek, ook in die pad te val Mafeking toe.
Die môre toe ons die laer verlaat, was daar maar omtrent twintig perderuiters met drie waens wat die moed gehad het om voet by stuk te hou. Ons ou Veldkornet wou dolgraag met ons saamgaan, maar as offisier sou sy oortreding baie groter as ons s’n wees en daarom moes hy ons maar staan en agternakyk.
By die eerste uitspanplek kom hy en ‘n sekere oom Johannes Coetzee egter by ons aangery en vertel dat hulle gestuur is om ons om te haal om weer terug te gaan. Ons sê toe dat as hulle nie gewillig is om met ons saam te gaan nie, ons hulle met geweld sou saamvat. Hulle willig toe in om ons te vergesel.
Oom Hansie was van kmdt Pieter Daniël se mense. ‘n Dag of wat later toe ons naby sy woning verbytrek, stuur ons hom huis toe met ‘n maand verlof!
Op Buurmansdrif stuur ons twee manne na die offisiere toe om ons saak aan hulle te gaan voorlê. Die volgende môre het ‘n paar van die offisiere ons kom besoek en na heelwat gepraat en nog meer beloftes het ons toe ingewillig om die volgende dag - dit was Nuwejaarsdag - weer terug te trek.
‘n Week of twee nadat ons weer in die laer by Krokodilpoel aangekom het, het van Gaberon se kant af ‘n gepantserde trein met troepe-afdeling een van die ruie koppies in besit geneem, sodat ons nou weer werk gehad het om te doen. Ons moes hulle verhinder om verder na Mafeking deur te trek.
Tussen ons laer en die Engelse het ‘n lang dwars rant gelê wat, as die Engelse hom in besit sou neem, hulle in staat sou stel om die veiligheid van ons laer te bedreig. Daarom het ons op ‘n paar plekke verskansings opgerig om die berg vir ons veilig te hou.
Hoog op die rant waar die berg aan die ruie Notwanierivier eindig, het ou kapt Von Dalwich vir die artillerie ‘n fort gebou met drie kanonne daarin.
Een maanligaand was ek met twaalf burgers in een van die skanse op wag. Ongeveer sestig tree van ons af was die volgende twaalf burgers verskans. Skielik hoor ons hoe die Engelse reg onderkant ons besig is om die rant uit te klouter. Die berg was aan hulle kant baie styl en ruig. Ons kon hulle nie sien voordat hulle op ongeveer ‘n veertig tree afstand op ‘n gelykte voor ons uitkom nie. Ons het met die ander burgers afgespreek om hulle so na as moontlik te laat kom. Die voorpunt wou al haas ons verskansing verbysteek toe die klompie mausers in ‘n hewige maar kort sarsie losbrand, waarna ons die vuur staak om eers te luister. Ons hoor net klippe stamp en rol en het nie weer gevuur nie want hulle was reeds oor die bank terug en veilig. Die volgende môre het daar in die onmiddellike nabyheid van die fortjie ‘n aantal hoede, patroonbande en gewere rondgelê en ook ‘n paar gesneuweldes.
‘n Week daarna het hulle ons gedurende die nag halfpad omsingel en reg onderkant ons langs ‘n spitskoppie ‘n kanon opgestel sodat hy veilig verskuil was agter die koppie vir die kanonne van ou Von Dalwich, maar vir ons mooi onder skoot gehad het.
Toe dit lig word het die burgers begin hout soek om koffie te maak en oral begin rondstaan. Meteens fluit die leemetford-koeëls oor ons koppe. Ons spring in ons verskansing. Die Engelse vuur die een sarsie na die ander en die kanon skiet dán oorheen en dán te kort.
Die fort het uit ‘n ronde hok van skaars drie voet hoog bestaan en daar was ook geen skietgate in nie. Ons moes dus bo-oor skiet. Soos ek reeds gesê het, kon die Engelse tot op ongeveer ‘n veertig tree afstand van ons af vorder sonder om gesien te word. As hul bolywe dus bokant die naaste gelyktetjie tevoorskyn kom, was daar nie kans om jou kop weg te steek nie, want elke man moes dan net doen wat hy kon om hulle van ons skans weg te hou.
Langs my hoor ek so tussen die gefluit van die koeëls deur ‘n benoude gesteun en sou toe sien dat een van die manne plat op die grond lê en kreun van angs. My eerste gedagte was dat hy miskien gewond kon wees, maar ‘n vlugtige ondersoek het aan die lig gebring dat dit niks anders was nie as skone vrees vir die vyand se koeëls. Ek pomp hom met die elmboog in die sy en sê hy moet ons help skiet, maar hy lê plat teen die grond en kreun en steun net al hoe harder!
Ons klompie moes die kop byna twee uur lank verdedig voordat die perdekommando van die laer af opgedaag het.
Intussen het ou Von Dalwich die bestoking van ons skanse deur die Engelse kanon agter die spitskoppie agtergekom en niks daarvan gehou nie. Alhoewel hy nie die kanon kon sien nie, het hy begin om dwarsoor die koppie ‘n paar bomme te gooi. Soos die geluk dit wou hê, was die derde hou ‘n voltreffer en kon ons dadelik al vryer asemhaal op die rant, want die Engelse kanon was stil!
Toe die Engelse die perdekommando gewaar, het hulle onmiddellik die ruie bosse in laat spat. ‘n Week later het hulle met drie kanonne wat hulle op verskillende posisies geplaas het, op ou Von Dalwich se fort losgetrek. Die bomme het so vinnig op hom neergereën dat dit gelyk het of hy nie sy kop sou kon uitsteek nie, laat staan nog terugskiet. Tog het hy daardie dag ‘n hele aantal bomme aan hulle teruggestuur.
Een nag ontvang ons berig dat die Engelse aan die kom is om ons laer en die fort van Von Dalwich aan te val. Daarop word oom Flippie van Vuuren met twintig man gestuur, waarvan ek een was, om naby die fort te gaan brandwag staan. Van Vuuren kies ongelukkig ‘n uiters ongeskikte en gevaarlike plek aan die voet van die rant, byna op die wal van die ruigbegroeide rivier. Dit sou vir die Engelse moontlik gewees het om langs die rivier op te kom en ons reeds lank vantevore op die knoppie te gewaar, terwyl ons niks van hulle sou geweet het voordat hulle twintig tree van ons af op die rivierwal uitklouter nie.
Die Veldkornet plaas twee kêrels op die wag en die res maak gereed om so lank te slaap. Hiervoor voel ek egter té ongerus en stap ‘n endjie opsy om seker te maak of alles pluis is.
Ons perde het in hierdie tyd aan ‘n nare hoessiekte gely - ‘n soort Nuwesiekte - wat die wêreld vir ons baie onveilig gemaak het, want kort-kort hoes een van hulle met ‘n geproes en geruk wat die stiebeuls en saalklappe laat rinkel, sodat jy hom vér in die stil naglug kon hoor.
‘n End bokant my teen die rant hoor ek ‘n klip omrol. Ek span my ore in. Na ‘n klein rukkie stilte rol daar weer een, kompleet soos wanneer voetgangers versigtig hul pad teen die berg in die donker voel.
Ek gaan roep vir Van Vuuren, waarop ons nog steeds die verdagte geluide hoor. Daarop wek ons al die kêrels om gereed te staan vir enige gebeurlikheid, want die algemene gedagte was dat die vyand besig was om ons suutjies te omsingel. Een van die manne slaap só vas dat, hoe ons hom ook al rondrol, ons nie daarin kon slaag om hom wakker te kry nie; hy snork maar veilig deur!
Gelukkig begin die dag na ‘n rukkie te breek. Ons gewaar in die skemer twee perde reg bokant ons teen die rant aan die wei - die oorsaak van al ons bekommernis. Ons perde moes almal saans in die laer wees, daarom het ons hulle geensins daar verwag nie.
Wanneer jy in die donker brandwag staan, was jou perd vir jou gewoonlik van onskatbare waarde, want lank voordat jy nog enige verdagte geluid kan hoor, draai hy al sy oortjies luisterend en gespanne na vore en dan weet jy dat hy reeds iets verdags gewaar het.
‘n Paar dae daarna het die vyand toe ‘n nagaanval op Von Dalwich se fort gemaak. Hy het gewoonlik maar taamlik growwe taal in hierdie omstandighede gebesig. In die heetste van die geveg skree hy vir sy artilleriste: “Laag skiete, dat hullie kan lank vrekke!”
Hulle moes seker hierdie bevel gehoorsaam het, want die volgende môre het daar werklik nog sewe Engelse gelê waarvan die bene afgeskiet was. Hierdie sewe afbeen Engelse het ons toe gebruik om vir Hennie Riekert wat by Derdepoort deur die Bagatlas gevang is en die sewentien vroue en kinders wat hulle weggevoer het, van die Engelse terug te ruil.
Genl Kemp was hierdie tyd ook by ons op Ramoutsa, Krokodilpoel, met ‘n klomp Krugersdorpers.
Een aand kry ek bevel om weer die skans op die kop met ‘n klompie van sy penkoppe te gaan bewaak. Dit het toe al die heeldag lank gereën. Die hok het ‘n ronde vorm gehad en sy muur was ongeveer ‘n meter hoog. Op die vloer het ‘n bolseil vir beskutting teen die reën gelê. Die klomp seuns het baie gou onder die seil verdwyn en soos sardientjies ingepak gelê. Ek het die indruk gekry dat hulle klaar gehensop het. Hulle grootste vrees was dat die Engelse hulle moontlik te vroeg kon kom steur. Twee van hulle wat ek laat wagstaan het, het vir my gesê toe ek by hulle die eerste rondte doen, dat hulle al driemaal afgelos moes gewees het! Ek het toe maar al om die rand van die seil langs die spulletjie begin wakkermaak om die wag te gaan aflos. Ek het nie een se naam geken nie en het toe maar sommer die bondel onder die seil van bo-af ‘n paar plukke gegee en gesê: “Haai man, kom staan wag!” Ek het van elkeen van hulle presies dieselfde antwoord gekry, plus ‘n paar knope daarby: “Ek hét al wag gestaan.”
Daarna gaan ek na die twee op wag en vra of hulle nie miskien twee van hul maters onder die bokseil kon gaan uithaal om hulle af te los nie. Na ‘n rukkie loop ek weer voel-voel in die stikdonker na die kant van die skans waar die wag moes wees. Dit reën toe nog een stryk deur en jy kon amper nie jou hand voor jou oë sien nie. My twee wagte was toe al reeds saam met al die ander onder die seil. Ek het my toe verder nie meer oor hulle bekommer nie, want dit was mos duidelik dat almal van hulle dapper manne was, wat glad nie bang was om gevang of doodgeskiet te word nie.
Ek het dié nag met die mauser in die hand op my voete bly staan. Die reën het hard in die donker neergestort en dit was onmoontlik om iemand te sien of te hoor naderkom. Maar gelukkig vir die klompie penkoppe het die Engelse hulle in hierdie stormagtige nag ook nie op die aanval gewaag nie. Hulle sou ook maar moeilik daarin geslaag het om ons skans raak te loop.