Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (14)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Julle is nie getroud, verloof nie en julle is nie ‘n saamwoonpaartjie nie, of hoe?”
“Nee. Hoekom vra jy?”
“Want ek sien hoe jy geïrriteerd is as ek met Bella praat”
“Jy maak wilde aannames.”
“Miskien, maar totdat julle amptelik ‘n paartjie is, is sy vryloop wild.”
“Hoe bedoel jy?”
“Ek bedoel ek kan met haar gesels en haar selfs die hof maak, soos die ou mense gesê het, is dit nie so nie?”
Max is heeltemal onkant gevang. Hy het nie besef dat sy wrewel teenoor Werner Calitz so duidelik is nie. Die hele gesprek laat hom ook half verslae, maar terselfdertyd besef hy dat die wig wat tussen hom en die man ingedryf is, onherwinbaar is.
Mettertyd sal dit op ‘n konflik uitloop, daarvan is hy seker. Daar is ‘n hele paar opsies oop, soos om Bella maar te laat gaan, om vir haar te veg en die bakleiery openlik te verklaar, haar eenkant te neem en sy liefde te verklaar en hoop sy voel dieselfde, of hy kan sy goed vat en loop. Dit kom nooit by hom op dat daar nog een moontlike uitkoms is nie.
*
Die strome mense in en om Soweto het nie ‘n homogene groep gevorm nie. Dis nie asof almal in een groot massa voortstu, moeilikheid maak, roof, steel en vermoor nie. Uiteraard is daar diegene in wie se wese dit is om onsimpatiek en moorddadig te wees, wie die afgelope jare die gevoel van woede en onderliggende geweld bloot onderdruk het. Dis hulle wat vir die ANC en EFF gestem het, met die hoop hulle kry ‘n vreetbeurt by die geldtrog. Nou dat dit duidelik is dat daarde tyd verby is, en is hulle verbitterd, kwaad en onvergenoegd.
Daar is swakkelinge, wat slegs met die grootste deel van ‘n groep sal saambeweeg, want daarin voel hulle veilig – solank iemand anders die leiding en besluite neem. Soos te verstane en verwag, is daar die intellektueel-gestremdes wat nie vir hulleself kan of wil dink nie en doen wat almal doen – as dit loop is, dan loop hulle. As daar geraas en gegil word, doen hulle dit ook. As daar gebreek, gebrand, geplunder en vermoor word, is hulle tevrede, sonder om aan die gevolge, gevoelens of enigiets te dink.
Daar was diegene wat sommer hulle eie mense aangeval, huise oopgebreek en geroof en gemoor het om self net buitekant begroet te wees met klippe, klappe, slaangoed en uiteindelik brandende buitebande om die bors. Die Dier veel nie aggressie teen sy eie nie.
Uit groot groepe het kleiner groepe afgesplinter en uit splinter groepe het groot groepe geamalgimeer. Soort soek selfs in sulke omstandighede hulle eie soort.
Spontaan tree leiers na vore en in hierdie geval is dit oor die algemeen die een wat die wreedste en ongevoeligste is, met die meeste geweld in sy psige. Natuurlik is daar ook die groepe wat gelei word deur intelligente manne en vroue, wat die geleentheid aangryp om persoonlike doelwitte, wat hulle van lank tevore gekoester het, maar tot dusver deur die wet gekeer is, tot uitvoering te bring.
Sommige – die meeste - groepe beweeg uit die township, na blanke en gegoede gebiede, maar daar is ook diegene wat in hulle wonings agterbly, te bang om die relatiewe veiligheid daarvan agter te laat. Dis hulle wat die gordyne dig hou, die lig donker en die vure dood.
Hulle hoop om die bietjie kos tot hulle beskikking uit te rek, totdat daar weer vrede en stabiliteit is, tot die wilde wreedheid uitgewoed is en die mense bedaar tot ‘n stabiele samelewing. Dit sou baie lank neem...
*
Aan die ander kant van die muntstuk is die mense wat die objek van geweldpleging is. Dis hulle wie se huise aangeval, geroof, gebrand en as vernietigde kluister vir hulle liggame word.
Natuurlik is die woonbuurtes die naaste aan Soweto, die eerste teikens. Soos ‘n tsunami wat alles meesleur, is dit die geweldsbrander wat uitbeweeg, maar stadigaan momentum verloor, totdat iets of iemand dit weer energie gee.
Diegene wat hulleself en hulle eie probeer beskerm sonder hulp, is gedoem tot ‘n kort, bloedige geveg.
Een mens alleen kan nie die hele tyd wakkerbly, al die vensters en deure bewaak en oral wees nie. Daar is egter hier en daar kolle waar buurmense reeds lankal hulle planne in plek het en versetgroepe vorm, hulle klompie huise of straatblokke georganiseer het in gevegsgroepe en vasstaan. Hulle sal saamstaan, saamskiet en saam baklei met alles tot hulle beskikking.
Die aanvallers sal moet besluit of dit die moeite werd is om hierdie groepe aan te vat en of die risiko te groot is. In meeste gevalle het hulle dan daar rondom beweeg op soek na sagter teikens.
Ook hier sal die groep homself vinnig skaar rondom die persoon wat die meeste beskerming sal bied, hetsy bestaande uniformdraers, oudsoldate, jagters of sommer net iemand wat insinktief weet hoe om leiding te neem in ‘n krisis. Inderdaad word die ou spreekwoord waar dat niemand ‘n kryger bemin nie, totdat die vyand by die stadspoorte is.
Diep skeidingslyne en grense word getrek tussen aggressors en terugbakleiers. Die man of vrou wat gister saam met of vir jou gewerk het, is nou jou grootste vyand, maar net so is die een wie jy in die verlede nie kon veel nie, tans jou vriend en bondgenoot.
Sommige hoop en maak reg vir ‘n kort konflik, waarin die buitewêreld gaan intree, maar ander besef dat hulle moet vasskop vir ‘n uitgerekte geveg. Laasgenoemde is ongelukkig korrek.
Net soos in ‘n georganiseerde boksgeveg reëls geld, maar nie in ‘n straatbakleiery nie, is daar wette, grootliks bepaal deur die Geneefse Konfensie, wat gehoorsaam moet word in ‘n verklaarde oorlog, maar in ‘n gedwonge burgeroorlog geld niks behalwe wen of verloor, jou lewe behou of dit prysgee, nie.
Vuilspel is iets wat na die tyd beoordeel sal word, wanneer die historici en die filosowe in gemak daaroor kan dink en besluit. Gedurende ‘n bloedige konflik op eie bodem geld slegs oorlewing – indien jy iemand aanval omdat jy brood soek, sal jy enigiets doen, selfs etiese en diep morele kodes oortree en as jy aan die ontvangkant is, is enigiets toelaatbaar om die gevaar af te weer.
*
Die reis deur Mali is lank, vervelig en grootliks sonder insident. In die luukse voertuie is daar lugreëling, sagte en goed-ontwerpte sitplekke, gemak en behoorlike vering. Die manne in die Hummers en die ouer ander voertuie is ongemaklik en warm, met humeure wat in toom gehou moet word. Die manne agter-op die MAN is moeg, seergery en uiters verveeld. Die enigste ligpunte is wanneer hulle kan stilhou vir kos of bene-rek en natuurlik laataand as hulle stilhou om te slaap. Mettertyd is almal keelvol vir sand en woestyn.
Uiteindelik, na byna 1000 kilometer, is hulle deur Timbuktu tot by die Ivoorkus. Weereens is die grenspos nie ‘n probleem nie en Bill is ‘n paar duisend dollar armer.
*
Een mens se held is ‘n ander se uitvaagsel. Dingaan was die vyand van die Voortrekkers, maar die held van die Zulu’s. Che Guevara is die ikoon van vryheidsvegters, maar nie van diegene wat behoudend is nie. Mandela die simbool van oorwinning vir die meeste swartmense, maar ‘n terroris in die oë van menige blanke.
Juan Mentz is niemand se held nie en die vyande wat hy maak, ken hom nie. Hy sou nooit kon sê waar dit begin het nie, miskien toe hy as kind van sy fiets afgery is deur ‘n taxi op pad huis toe, die vernedering wat hy moes verduur by die kafee, toe ‘n groepie tsotsi-tieners die sak met brood, melk en lekkergoed by hom afgeneem het, hom uitgedaag het om iets daaraan te doen, toe sy fiets uit die motorhuis gesteel is, toe hy as jong werkende man beroof is van sy selfoon, beursie en horlosie en hy vir minute lank in die bek van ‘n pistool moes kyk, die inbraak in sy woonstel – miskien nie net één van die gebeure nie, maar ‘n kombinasie van almal? Hy weet nie. Al wat hy weet is dat toe Eskom ingegee het, geweld uitgebreek het, roof en moord alledaags en die normaal geword het, het hy in sy element ingeloop.
Met geeneen van sy ouers wat nog leef nie, broers of susters waarvan hy weet nie, nie ‘n meisie, vriend of selfs hond nie, is hy die epitoom van enkeling. Dit pla hom glad nie.
Gewapen met ‘n ou Walther PPK in 7,65 millimeter en ‘n knaldemper aan die tromp, ‘n 30-06 Brno en ‘n pomp-aksie Winchester haelgeweer, van voet tot kroontjie aangetrek is donker kamoefleerdrag, sagte, duur stewels, ‘n goeie vastelem mes en niks om te verloor nie, beweeg hy van gebou na veld, parkeerterrein na park, van een na die ander skuilplek sluip hy.
Selfs die eerste maal was nie vir hom hartseer of traumaties nie. Inderwaarheid het hy geensins gehuiwer nie, maar ‘n opgewonde trilling deur sy lyf gevoel toe hy die man geskiet het. Hy het dit nie beplan nie, het nie op hom afgesluip nie, maar dit was bloot per toeval dat hy die ou raakgeloop het, amper gesig teen gesig. Die Walther, wat hy reeds in sy hande gedra het, was net so doeltreffend as wat hy gedink het.
Die volgende twee het in ‘n parkeerplek se kelder weggekruip en hy het hulle liggame net daar gelos. Hy het nooit dit eens oorweeg om die doppies op te tel nie, siende dat niemand iets daarmee kan doen nie.
Juan sou nooit aan homself dink as ‘n psigopaat nie. Miskien het hy die konsep van geestesversteuring verstaan, maar dit maak nie vir hom saak nie. Hy weet ook nie hoe lank hy hiermee sal kan volhou nie, voordat hy self om die lewe gebring sal word nie, maar dis ook nie vir hom van belang nie. Al wat hy weet is dat hy vir hierdie tyd gebore is en hy leef homself daarin uit.
Hy tel nie koppe nie, beroof selde die dooies, en ook net as daar ooglopende juwele of kos beskikbaar is. Hy is ook nie bang nie – daardie emosie het hy vir altyd weggebêre, indien dit ooit teenwoordig was. Hy weet daar is fout met hom, maar dit maak nie saak nie.