Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Alles in ons land is bedorwe; politiek, kerk, kultuur, handel, ja, alles! Nêrens gaan dit beter as in die verlede nie. Dis die gevolg van die Christengrondwet wat met ʼn sekulêre een vervang is en die Tien Gebooie met ʼn Handves van menseregte! Dit laat ʼn mens aan die woorde van Ps.2 dink: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (:2,3). Suid-Afrika het met iets anders as die nag donker geword!
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (11)
Wanneer ‘n mens iets ongewoon of buitengewoon beplan, moet jy ook die gevolge in ag neem en ook daarvoor beplanning maak. Hoe meer jou voorgenome aksie ingrypend gaan wees in die status quo, hoe intensiewer moet die beplanning wees om die gevolge die hoof te bied.
Die ANC het nooit beplan om die land sodanig te regeer dat dit meer as ‘n paar jaar suksesvol kan voortbestaan nie. ‘n Mens kan lank redeneer of dit ‘n geval van ‘n onsuiwere invalshoek, doelbewuste korrupsie, bloot onbekwaamheid, of ‘n kombinasie van al drie hierdie faktore is.
Enige ekonoom of politikus sou kon toegee dat die wanbalans van die verlede herstel moes of kon word deur ‘n tydelike ontplooiïng van kaders – hoofsaaklik om hulle te vergoed vir hulle opoffering gedurende apartheid – met die klem op “tydelik”. Jy sou selfs verder kon gaan en Swart Ekonomiese Bemagtiging ‘n plekkie in die son gee, so ook Transformasie en Regstellende Aksie.
‘n Mens sou ‘n sekere bedrag uit die fiskus eenkant kon plaas om hierdie genoemde sake ‘n hupstoot te gee. Dit sou menslik wees om ‘n beperkte hoeveelheid werksgeleenthede te reserveer vir slim, opkomende swartmense, met die doel om hulle die geleentheid te gee om te leer, bekwaam te maak en uiteindelik ‘n produk te lewer, gelykstaande aan die toegewing. Die tydperk kon selfs verleng word, namate die hele poging sukses begin toon. Ongelukkig het dit nie so gewerk nie.
Alle tydelike toegewings is mettertyd uit klip gekap en in yster gegiet. Die ontplooiing van skynbaar briljante jong manne en vroue uit die agtergeblewe groepe het nie produksie gelewer nie, inteendeel is menige instansie bloot leeggesuig en uitgespoeg.
Hier en daar kon ‘n privaatmaatskappy die streng wetgewing ontkom deur slim skuiwergate te soek en kry, maar menige magtige korporasie het sy deure moes toemaak.
Die Semi-staatsinstellings is aanvanklik melkkoeie vir bemagtigdes, maar soos hulle leeggesuig word, sterf hulle ekonomiesgewys en word eerder parasiete wat op die belastingpoel teer.
Sommige reusemaatskappye besef betyds hulle moet inspraak kry by die regering, identifiseer potensiële invloedmakers en gee aan hulle miljarde rande se aandele. Hierdie verlies maak hulle op uit staatskontakte en boeties vir baantjies. Menige klein, medium en mikromaatskappye maak toe.
Die basiese loon word verhoog tot waar nog ander maatskappye hulle deure moet toemaak. Werkloosheid word ‘n al groeiende probleem en om hierdie probleem te ondervang, word die South African Social Security Agency (SASSA) in die lewe geroep om vir sommige werkloses ‘n basiese inkomste te skenk. Aanvanklik vir ouer mense, daarna vir kinders en uiteindelik vir meer as 50% van die land se inwoners. Die regering maak dan ook geen geheim daarvan nie dat hulle dit aan hierdie mense gee en indien hulle slae sou kry by die stembus, dit gestaak sal word. Bloot deur SASSA-uitbetalings, maak hulle dus staat op ‘n groot persentasie stemme.
Om toegang tot elektrisisteit te hê, is ‘n ander bonus en ‘n groot persentasie swartmense kry wettig of onwettig aansluiting tot Eskom-krag. Hierdie entiteit, net soos vele ander, word egter lamgelê deur korrupsie, wanbetaling, ‘n werksmag wat bykans 60% te groot is, en sabotasie.
Uiteindelik sit die instelling met meer as 500 miljard rand se skuld. Die buiteland raak taai oor lenings en die enigste plan wat die bankrot regering kan maak, is om geld (R254 miljard) by die Staatsdienspensioen te vat (7% daarvan) en aan Eskom te gee. Tog kan die opwekker nie gered word nie en die jare se verlamming weens genoemde faktore noop die bestuur om beurtkragfases geleidelik op te stoot, totdat fase 16 (geen krag) ‘n moontlikheid word.
Gedurende die 2023 begroting kondig die minister van finansies aan dat SASSA geleidelik afgeskaal en teen Maart 2024 gestaak gaan word.
Die mense wat gratis (en teen minimale bedrag) elektriese krag gekry het, wat elke maand kos koop met SASSA-geld en so deur die ANC gepaai word om vir hulle te stem, besef dat hulle eersdaags met niks gaan sit nie – nie kos, water of krag nie. Burgerlike opstand begin dreig. Die EFF maak misbruik van hierdie stygende ongelukkigheid.
Om hierdie opstand die hoof te bied en om verantwoordelikheid by die stembus te voorkom, is die regering se enigste opsie om self ‘n beheerde opstand te reël en dan met ‘n harde hakskeen in die grond te trap, krygswet af te kondig, die burgers te ontwapen en sodoende die stembus te systap en die mag oor te neem deur ‘n outokratiese militêr.
Soos ‘n man wat voorbrand maak, maar nie in beheer daarvan bly nie en uiteindelik sy hele plaas, huis en al, afbrand, so hits die regering ‘n opstand aan, met die doel om totalitêre beheer oor die land te kry. Sy nuutopgeleide Derde Mag, wat in Spanje as ‘n Vyfde Kolom bekend sou wees, is hopeloos te klein en al het hulle nuwe, gevorderde wapentuig, soos verskaf deur Rusland, word hulle gou deur die massa verswelg.
Die SAPD en SANW, wat met opset die afgelope dekades ontmagtig is deur ‘n tekort aan fondse, korrupsie en patetiese leierskap, kan ook nie die woedende, honger en onkeerbare gepeupel in bedwang hou nie. Dit ruk hande uit en onbeheerbare chaos neem oor.
*
“Hou asseblief stil, Max!”
Max bring die voertuig tot stilstand, terwyl Bella die deur aan haar kant oopmaak. Met moeite en sigbare pyn, klim sy uit die Isuzu.
“Waar gaan jy?”
Bella antwoord nie, maar kners op haar tande en loop agter ‘n doringbos in, waar sy ‘n half-verskuilde geweer uit ‘n dooie man se hande haal. Sy kry ook die beskikbare ammunisie uit sy sakke en as Max ook uitklim om te kom kyk wat sy doen, gee sy dit vir hom aan. Die geweer het nog bloed aan.
“Waarvoor is dit?”
“Ek gaan nooit, ooit weer weerloos wees en sonder ‘n wapen nie.”
*
‘n Diepe gevoel van verligting spoel oor Brian Nel. Die kolonel het woord gehou.
Die voorste voertuig, ‘n dubbelkajuit Toyota Land Cruiser, met ‘n sterk bosbreker aan die voorkant, rem, maar sodra dit sowat tagtig meter van Brian af is, versnel dit weer.
Brian wag effens verward tot die voertuig naby hom is, voordat die verskriklike besef wat gebeur, hom te binne skiet. Hy draai na sy linkerkant toe en probeer so vinnig moontlik padgee, maar dis te laat. Die voertuig tref hom met die regterkant, net bokant die heupe en hy rol om op die breë skouer van die pad. Die volgende voertuig, ‘n ouerige Land Rover 110, ry met albei wiele oor hom, voordat dit weer op die pad klim en aanry. Hy sien nie as die konvooi oor die bult verdwyn nie.