Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons beproef word, moet ons God nie gedurig met verwytende vrae bestook nie. Soek eerder ‘n nuwe ontmoeting met Hom, ja, ‘n nuwe ervaring van sy teenwoordigheid en grootheid. Om God te midde van ons nood opnuut te vind, is een van die heerlikste winste wat beproewing kan oplewer.
HERSTEL VAN DIE VRYHEID VAN ONS VOLK
Frikkie Strauss
Hierdie skrywe handel oor die herstel van die vryheid van ons volk en die rol wat die Geloftevolk Koördineringskomitee (GKK) graag in hierdie proses wil speel.
Vreemde heerskappy
Ons volk, wat eers ‘n vrye volk in ons eie land onder ons eie regering was, verkeer tans onder vreemde heerskappy en die moeras van Afrika-ellende sal die uiteinde van hierdie toestand wees. Ons hoef egter nie daarin te berus nie, want vryheid is die Godgegewe reg van elke volk op aarde wat gewillig is om die offers te bring wat dit verg. God is in staat om dit aan ons te gee as ons ons plig doen in vertroue op Hom.
Vryheid ons plig
Waarom moet ons weer ‘n vrye volk word? Daar is twee kernredes daarvoor. Eerstens kan ons volk, die Geloftevolk, nie ons God onder ‘n heidense regering dien nie. Dit het ook gegeld vir Israel van ouds. Daarom het Hy sy volk, die Verbondsvolk, uit Egipteland uitgelei. Tweedens is die huidige politieke bedeling net met een doel ingestel en dit is om ons volk te vernietig. Daar is geen manier waarop ons as volk sal kan voortbestaan en vir ons kinders ‘n toekoms skep onder hierdie vreemde juk nie.
'n Man van kennis ontwikkel krag
Ons volk is egter totaal oningelig oor dit wat teen ons beplan word en ook waarop dit afstuur. Daarom is daar bykans geen vryheidsvisie en vryheidstrewe nie en gevolglik ook feitlik geen vryheidsaksies nie. Die GKK sien sy taak daarin om ‘n vryheidsvisie by ons volk te skep, die volk aan te spoor tot aksies vir die verwesenliking daarvan en om die volk toe te rus met kennis daartoe. Die GKK wil nie graag beweeg op terreine waarop ander volksorganisasies reeds opereer nie en wil dus hoofsaaklik ‘n kommunikasierol vervul. By die volksvergaderings van 2009 (Vegkop) en 2010 (Nampo Park) is daar besluit dat ‘n inligtingsnetwerk en ‘n volksdatabasis gevestig moet word om ons in staat te stel om ‘n omvattende kommunikasieveldtog van stapel te stuur ten einde die vryheidsideaal tot op grondvlak in die harte van ons volk in te dra. ‘n Wyse man is sterk en ‘n man van kennis ontwikkel krag, sê Salomo in Spreuke 24:5.
Waaroor wil ons graag met die volk kommunikeer?
- Ons wil graag ons volk daaraan herinner dat die God wat ons aanbid, Hy wat in die Bybel aan ons bekend gestel word, dieselfde God is wat Homself aan ons volk openbaar het by Vegkop, Bloedrivier en Majuba en dat ons met vertroue ons lotgevalle volkome in sy hande kan plaas.
- Ons wil ons volk daaraan herinner dat die geloftes waardeur ons aan Hom verbind is, die plig op ons lê om ons vryheid te herwin, ten einde ‘n eie, Godsgehoorsame regering uit ons geledere oor ons aan te stel.
- Ons wil ons volk herinner aan ons geskiedenis sodat hulle inspirasie kan put uit die moedige dade van manne en vroue waardeur ‘n toekoms vir ons geskep is, en sodat hulle daardeur tot ‘n ontdekking van hulle ware identiteit kan kom.
- Ons wil ons volk oortuig dat ons vryheid noodsaaklik, regverdigbaar en haalbaar is.
- Ons wil aan ons volk die nodige kennis verskaf om hulle in staat te stel om op ‘n doeltreffende wyse aan die vryheidstryd deel te neem.
Die GKK is aangewys om die besluite van die volksvergaderings van 2009 en 2010 uit te voer. Dit is op geen wyse aan enige politieke of kerklike groepering verbind nie en opereer heeltemal onafhanklik.
AS DIE HERE DIE HUIS NIE BOU NIE...
Die GKK beplan nie enige gewelddadige of ondergrondse bedrywighede nie. Ons sien die aanslag teen ons as ‘n sielkundige oorlog wat op die intellektuele vlak gevoer moet word. Verder pak ons dit aan in die diepe besef van die waarheid van die Woord: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou”.