Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Selfbejammering is gif vir jou gees en maak jou selfsugtig. Niks maak ‘n mens so eensaam as wanneer eie belange jou enigste belange word nie. En dis wat selfbejammering doen! Laat mense nooit van jou sê: “Wat ‘n selfsugte mens!” nie.
AFRIKAANS IS EIESOORTIG (2)
Lees reeks by AFRIKAANS IS EIESOORTIG
Johan Dorfling
Geen taal kan in 'n kits gebore word nie, maar kan in 'n kort tydjie afgebreek word. Waar 'n taal afgebreek word, verdwyn ook die volksuitdrukkings, kultuur, die geskiedenis raak verwaarloos en volksbewustheid verflou. Vyande van Afrikaans is tans juis besig met afbrekende politiek deur voor te gee dat hulle Afrikaans probeer bevorder terwyl hulle met listige strategie die teenoorgestelde probeer bereik. Die betekenis van gevestigde woorde word verdraai en met sogenaamde nuwe betekenisse vervang. Dit word so ongemerk as moontlik gedoen. Leerling is foutiewelik deur die Department van Nasionale Opvoeding met leerder vervang sonder dat die geleerdes besef dat dit aftakeling van Afrikaans is.
Ook probeer afbrekers al hoe meer erkenning vir Romaanse woorde verkry wat dan kwansuis nie Engels is nie. Tog begin sodanige woorde die Dietse karakter van Afrikaans oorheers. Dan noem hulle dit vooruitgang, uitbreiding van die taal, modernisering, meer in pas met eenvormigheid op internasionale gebied om makliker kommunikasie moontlik te maak. Dit is gewoonlik Afrikaners met internasionale harte. Diskriminasie (onderskeiding) word verdraai om onderdrukking te beteken en van volksregering word verkeerdelik meerderwaardigheid gemaak.
So 'n redenasie laat die weg oop om die volle woordeskatte van alle tale in die wêreld saam te voeg en dit as Afrikaans te beskou. Die ergste van alles is egter dat die gewone Afrikaanse (Dietse) woorde in onbruik verval en alleen die Romaanse of vreemde woorde gebruik word. Is dit taalverrykend? Vir my is dit ontaarding van Afrikaans.
Die wese van ‘n taal word dikwels nie ten volle besef nie. Dit gaan nie net oor die woordeskat nie, maar ‘n taal se waarde word ook weerspieël in sy geskiedenis, in volksuitdrukkings, in die kultuur waarin dit ontwikkel het en ook in trotse volksbewustheid. Daarom behoort ‘n regering wat byvoorbeeld nie ‘n Afrikaanse inslag het nie, nie die gesag te hê om die taal te beheer nie. Net soos geskiedenis deur verskillende volke vanuit verskillende hoeke beskou word, beskou hulle ook tale se betekenis verskillend.
Tans is dit die gebruik in staatsdepartemente en ander owerheidsliggame om die gebruik van vroulike vorme in Afrikaans af te skaf omdat dit die vertaling van soortgelyke Engelse woorde vergemaklik. Dit tas die aard van Afrikaans aan, miskien selfs doelbewus om taaltrots af te breek.
Een verskoning wat aangevoer word is dat dit kastig die vroue gelykstel aan die mans, wat natuurlik onwaar is. Vroue is gelyk aan mans, maar nou word daar nie erkenning aan hulle gegee nie. Op hierdie wyse word die vrou taalkundig eerder onderdruk terwyl hulle verdien om erkenning te kry.
Vroulike vorme soos sekretaresse, voorsitster, swemster, direktrise en redaktrise word vermy. Dan moet die vroulike geslag mos ook as menere aangespreek word om steekhoudend te wees. Daarenteen word aktrise en verpleegster nie met akteur en verpleër vervang nie. Dubbele standaarde! Waarom moet Afrikaans se aard verander word terwyl dit so mooi onderskei sonder om iemand te beledig of te benadeel. Hoekom moet Afrikaans verander word ten koste van ons eie pragtige gebruike en tradisie en taaleie? Hoekom moet ons vroue hulle aansien inboet?
Hoekom word van “me” gepraat as 'n damespersoon bedoel word. Dit is ook 'n aantasting van ons taaleie omdat ons gewoonlik nie in afkortings praat nie. Dan moet van “men” gepraat word as meneer bedoel word. Hoekom verskillend (afskeping) teenoor die dames? Om al hoe meer afkortings in Afrikaanse spreektaal in te bring, is juis aftakeling van dit wat eie aan die taal is.
Vroeër jare was Afrikaans as omgangstaal deurspek met Engelse woorde soos "bicycle, chemist, tyre, good-bye, okay, tailor, first-aid, heater" en nog baie ander woorde. Dit het sodanige afmetings aangeneem dat waar Afrikaanse kinders die eerste keer van fiets en apteek gehoor het, wou hulle hulself halfdood lag.
Toe kom die taalsuiweraars gedurende 1945 tot ongeveer 1960 en waarsku dat Afrikaans as 'n taal sal uitsterf as ons nie trots daarop is en dit suiwer praat nie. Gou het dit duidelik geword dat die taalsuiweraars 'n sterk saak gehad het. Hulle is eintlik wetenskaplikes wat net soos medici, teoloë en skeikundiges met 'n fyn taak besig is en juis op die voorpunt van ontwikkeling staan. Hulle het pragtige beskrywende woorde geskep teenoor vandag se traak-my-nie-agtige houding van aanvaar bloot leenwoorde omdat dit moeite is om skeppend te wees. Fiets en apteek het vinnig aanvaarbaar en verkieslik geword. Sonder die beginselvaste taalkundiges sal Afrikaans waarskynlik beland waar die Gaeliese taal vandag is.
Ek het gevind dat die Nederlanders woorde soos duikweg, moltrein, tuinslang, rolbal en kegelbal mooi beskrywend vind. Viertrek is mooi beskrywend eerder as die oorneem van vier-by-vier. Wat beteken vier-by-vier in elk geval? Alle (of meeste) bakkies het vier wiele en is nie vierkantig nie. Ek word redelik gereeld gevra om sodanige eie Afrikaanse beskrywings aan Nederlanders te stuur. Hulle vind ons beskrywende woorde interessant en minder ingewikkeld. Afrikaans is eenvoudiger as Nederlands.
Terloops, in die vorige aflewering is betoog dat die gebruik van SMS in Afrikaans afgekeur moet word. Nou blyk dit dat daar mense is wat nie weet wat SMS is nie. Dit is 'n letterwoord vir “Short Message Service”, dus Engels vir 'n diens of stelsel en nie vir berig of teks nie.