Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is net een beproefde raad teen eensaamheid – reik na ander uit. Daarmee slaan jy die duiwel vir ‘n ses! Satan wil hê dat jy in jou eensaamheid mure om jou moet bou. God wil hê dat jy eerder brûe na ander bou. ‘n Mens wat sy hart vir ander oopmaak, kan nooit eensaam wees nie.
MISLEIDENDE TAALKWESSIE
Johan Dorfling
Daar is kleiner Afrikaanse groepe wat probeer voorgee dat hulle 'n meerderheid is, en sogenaamde indiwidue wat na bewering Afrikaans in verskillende vorme vier en verken. Afrikaans se horisonne is glo wyd met 'n eiesoortige karakter soos elke mens se wortels in hierdie kontinent geanker is. Dan word verwys na mense uit alle vlakke, beroepe en kulture wat waarde aan Afrikaans bied. "Hierdie kontinent" is uiters verwarrend, want dit sluit lande soos Nigerië, Egipte, Ghana en ander in. Wat het hulle met Afrikaans te doen? Word na lug gegryp om gebrekkige argumente te probeer versterk?
Opvoedkundige en kulturele waarde van Afrikaans laat ons viervoet vassteek. Onder andere word Amanda Stone – die Khoi-Noi, Denver Breda, Witbooi (Nama-stamhoof), Oranjerivier-Afrikaans, en ander ingesluit. Kyk ons na sogenaamde ambassadeurs, word die deure van Afrikaans verder wyd oopgegooi om voorsiening vir volkvreemde woorde en uitdrukkings te maak. Beskermhere/‒vroue wat genoem word, oorskry die grense van volkekunde wat onteenseglik indruis teen die Afrikaner se aard en wesensbestaan. Die agtergronde van die beskermhere/‒vroue verskil breed van mekaar en hulle sienings is in botsing met die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans waaraan ons voorouers gewerk het en wat ons Afrikaners trots gemaak het.
'n Taal staan nie in afsondering van kultuur nie. Onder kultuur word verstaan ontasbare geestesgoedere soos onder meer godsdiens, taal, kunste en eiesoortige gewoontes van 'n volk wat nie met 'n maatstaf gemeet kan word nie. Volk beteken 'n eenderse groep mense met onder andere dieselfde geloof, kultuur, genetiese afkoms, geskiedkundige agtergrond, taal, en oorhoofse politieke strewes met die hoofdoel om wat eie aan die volk is, te beskerm en uit te bou. Die gelyksoortige groep mense wat in 'n bepaalde staatkundige of geestesopset woon, kan kleiner verskille openbaar, maar daar kan nie wyd uiteenlopende verskille in kultuur, taal, geloof en afkoms wees nie.
Vrysinniges wat geen waarde aan vaste beginsels heg nie, probeer klaarblyklik 'n taal, in hierdie geval Afrikaans, losmaak van die Afrikaner se eenheid as 'n afsonderlike volk. Taal alleen is slegs 'n skakel, wel 'n belangrike skakel, in enige volk se vaste beginsels om homself as 'n selfstandige familie te vestig. Deur die een skakel af te sonder of weg te neem, word die volk se bestaan vernietig. Vrysinniges wat taal as 'n instrument probeer gebruik om nie-Afrikaners in die Afrikanervolk te probeer intrek, is kortsigtige mense met volkvreemde harte.
Ja, daar is ander volkgroepe wie se moedertaal ook Afrikaans is, hoewel dit meer 'n wisselvorm is, byna soos Afrikaans uit Nederlands ontwikkel het. Kyk na die verskille tussen Nederlands en Afrikaans. Boodskappe doen (inkopies), vaak bedoelende dikwels, en verskoon is maar enkele verskille in betekenis. Al is ander groepe in Suid-Afrika se moedertaal suiwer Afrikaans, pas hulle kultuur en sienings nie by ons mense in nie, en dit doen groot skade aan ons beginsels. Die verskille in hulle lewensbestaan is hopeloos te groot om volkgenote van Afrikaners te wees. Hulle geskiedenis en ontwikkeling verskil hemelsbreed. Deur te probeer redeneer dat taal nie vermenging op ander gebiede insluit nie, is misleidende meedelings. Kommunisme is 'n goeie voorbeeld van onaanpasbaarheid en onaanvaarbaarheid wat tot geweldadige uitbarsting kom.
Die Engelse taal in Brittanje, Amerika en Australië verskil van mekaar, alhoewel daar wel ooreenkomste is. Tog is hulle begrippe en redenasies op ander gebiede op 'n heel ander vlak. Weer eens, taal kan nie afsonderlik uitgelig en van ander volkseie beskouings geskei word nie.
Hoe kan ons die versakers van ons volkstrewes uitken? Dit is nie moeilik nie. Elkeen moet oplet hoe hulle redeneer, met wanneer emosie (in plaas van wysheiddenke) hulle Afrikaanssprekendes probeer oortuig om met ander volkgroepe op grond van taal of kultuur saam te werk, met watter bedenklike radiostasies en koerante hulle probeer skakel en advertensie doen, en hoe hulle hul saak listig stel. Sommige organisasies probeer hulp uit die VSA kry, maar betaal daarvoor omdat hulle 'n Amerikaanse inslag in Suid-Afrika probeer vestig soos om apartheid te misken. Afrikaanse radiostasies is bekommerd oor hulle lisensies en loop daarom 'n krom pad. Koerante is mos bekend daarvoor dat hulle nie sterk standpunt teen 'n regering inneem nie.
Omroepers en joernaliste se mikpunt is om opspraak te verwek om sodoende verkope aan te moedig en gewildheid te probeer bekom. Deesdae volg hulle 'n Amerikaanse benadering omdat hulle hul heil daarin sien. Wat politiek betref gebeur daar blykbaar niks of weinig in die ander groot lande soos Duitsland, Japan, China, Spanje en ander nie, tensy die VSA daarby betrokke gemaak kan word. Afrikaanse nuusberigte is deurspek van Engelstalige aanhalings en strekkings ten koste van Afrikaans.
Enigeen wat oor volkgrense heen met lede van ander volke wil saamwerk om 'n taal soos Afrikaans verder te ontwikkel, is dwaas of kortsigtig. Afrikaans van ons volk se woordeskat en uitdrukkings word op hierdie manier buite ons kultuur afgetakel en dit is die pad tot algehele vernietiging. Die Bybel sal ook herskryf moet word. Let maar op, die deelnemers het nie Afrikanerharte wat volkseie betref nie.
'n Beroep op vrysinniges wat geen grense stel nie en nie Afrikanerbelange op die hart dra nie: Moenie ons volk probeer vernietig nie. Gooi julle kragte in by die Afrikanervolk sonder om ons aan die wêreld te probeer verkoop.