Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dit is wonderbaarlik wat God met 'n gebroke hart kan doen ... wanneer Hy al die stukkies kry.
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (10)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die regering het hulle hoop op die aangekondigde krygswet geplaas, met hulle Derde Mag om totale outoriteit te neem van die land, wat hulle aanvanklike plan was. Hulle het hulle egter misreken met die woede van die burgers, wat hierdie leër letterlik van die aarde weggevee het. Die laaste ding wat die regering wou hê is wet en ordeloosheid, waaroor hulle feitlik geen beheer sou hê nie.
Een groot deel van hulle plan het geslaag en dit is om deur die verval van alle stelsels, desperaatheid te skep en deur hulle polarisasie van rasse, ‘n burgerloorlog te veroorsaak.
Burgeroorloë het, met enkele uitsonderings, ‘n manier om baie lank uitgerek te word. Indien ‘n mens die Koreane as ‘n enkele etniese groep sou beskou, duur die burgeroorlog tussen die Suide en die Noorde daarvan reeds vir 70 jaar, aangesien ‘n amptelike vredesooreenkoms nog nooit bereik is nie.
Die Amerikaanse burgeroorlog het vir vyf bloedige jare, vanaf 1861 tot 1865 geduur. Die oorlog in Sarajevo, Kroasië en Herzegovina ook. ‘n Mens kan selfs so ver gaan as om te erken dat die inwoners van Oekraïne Russies is en dit in wese ‘n burgeroorlog is. Daar moet ook nie vergeet word dat ‘n kleinskaalse burgeroorlog reeds vir jare daar woed nie.
Miskien is een van die groot redes daarvoor dat anargie, in die eng betekenis daarvan, ‘n totale gebrek is aan orde en leiding, en daarom niemand om mee te onderhandel nie. Natuurlik sal strydende faksies mettertyd rondom ‘n leiersfiguur begin saamsnoer, maar dit neem tyd en onderlinge magstryde is algemeen.
‘n Verdere rede is die vrees vir uitwissing van die verloorder. Burgerloorloë is bitter, sonder genade en sonder om bes te gee, want die wenner staan nie onder beheer van ‘n instansie nie. Die enigste manier om te verseker dat jy nie selfs uitgewis gaan word nie, is om die vyand te verpletter.
Nicodemus begin die stres van die oorlog intens ervaar. Hy is uiteraard nie ‘n soldaat nie, maar slegs ‘n burgerlike wat weens omstandighede die verantwoordelikheid vir hierdie groep aanvaar het.
Ja, tot dusver het die meeste van die gevegte waarin hulle was in hulle guns afgeloop, maar steeds is daar deur die bykans vier jaar wat dit duur, baie van sy mense dood. Sommige as gevolg van die gevegte, ander weens siekte en natuurlik ook as gevolg van ander natuurlike oorsake. Die begraafplaas aan die Oostekant van die kamp is nou al groot en die eenvoudige houtkruise staan ingeryg.
Elke leier weet ook dat die volgende geveg, hetsy ‘n vinnige, beperkte skermutseling, of ‘n intense veldslag, verloor kan word en Nicodemus weet ook dat hulle in so ‘n geval geen genade kan verwag nie. Deur die jare het hulle nog elke maal aan die wenkant gebly, maar die wet van gemiddeldes kan hulle net sowel inhaal en dan is dit oor en verby. Hierdie wete knaag aan Nicodemus. Hy begin psigo-somatiese tekens ervaar van die stres, soos ‘n maagseer wat hom nooit werklik met rus laat nie, al drink hy drie maal per dag ‘n glas water met koeksoda in, ‘n kloppende hoofpyn aan die bokant van sy kop, skuins bokant sy regteroog, en deesdae sy regterhandpalm wat erg jeuk, veral onderkant sy duim.
Hy besef ook met ‘n skok dat hy ver aan die verkeerde kant van sestig is. Onder normale omstandighede sou dit nie saak gemaak het nie, indien hy elke aand ‘n rustige agt ure slaap kon inkry, nie kort-kort wakker gemaak sou wees om die een of ander krisis die hoof te bied nie, en natuurlik nie weet wat die vyand nou weer uitdink nie.
Nicodemus kry ‘n onwillekeurige trek om sy mond as hy ingedagte raak.
“Is dit ‘n private grap, of kan ons ook daarin deel?” vra Tamar wat sy mondhoeke sien beweeg, iets wat hy deesdae maar selde doen.
“Ek dink maar aan my eie dom-astrantheid. Toe ek die ou vrou van jou af weggehou het in die tronk, met die skerp punt van die besem, toe ek as dienspligkapelaan in onluste was, en nou onlangs, toe ek sommer, na Leoni se dood die berg ingevoeter het met ‘n punt twee-twee geweer en die skuldiges gaan soek het; die gevegte by Kranspoort en Matoks en nou meer onlangs hierdie verwaande knapie.”
Tamar kyk weg en staar ‘n ruk na die vuur.
“Jy het my nooit vertel wat van daardie Franse verslaggewersmeisie geword het nie. Die een vir wie jy aan die kant van die Buffel gehang het nie.”
“Heléne Tredoux? Sover ek weet het sy oor die Arabiese Lente gaan verslag gee. Sy het blykbaar nie weer teruggekom Frankryk toe nie.”
“Dink jy soms aan haar?”
“Nee, maar ek word soms gejaag deur die spoke van die manne wat ek daardie tyd geskiet het.”
Hy begin al meer en meer dink oor die dood. Iemand het lankal gesê ‘n man begin eers met die werklikheid van die dood kennis maak as jy dertig is en hy is nou meer as dubbeld so oud. Hy is nie bang vir die dood nie, inteendeel. Die afgelope jare het sy geloof inderdaad gegroei en, soos enige soldaat wat in lewensgevaar verkeer, het hy al vrede gemaak met die onbetwisbaarheid en onvermydelikheid van die dood.
Uiteraard, soos al dikwels opgemerk is, kry jy nie ‘n ateïs in ‘n loopgraaf nie. Nee, hy is nie bang om dood te gaan nie en soms sou hy selfs daarvoor verlang, maar wat van sy mense? Hy bid vir iemand wat die leiding by hom kan oorneem, nie net ‘n man of vrou wat kundig en intelligent is nie, maar wat ook sy mense sal liefhê soos hy hulle het.
Hy hoop ook om met waardigheid dood te gaan. Een van die grootste vrese wat hy gekoester het, nog voor hy met diensplig begin het, soveel jare gelede, was om nie privaatheid te hê as hy ‘n draai moes gaan loop nie. Hy hoop daarom sy dood kan vinnig wees en nie uitgerek nie, waar mense vir hom sal moet sorg.
*
Die volgende oggend is hy weg. Brian Nel het nie die kans gevat om een van die voertuie te neem nie, maar het ‘n rugsak gepak met genoeg kos en water vir ‘n week of tien dae se stap.
Hy is nog jonk en fiks, sterk gebou en vol selfvertroue. Hy het, soos sy natuur bepaal, die kans gesien om uit hierdie onhoudbare situasie wins te skep, amper soos Judas toe hy agterkom Jesus gaan nie ‘n aardse koninkryk daarstel nie.
Dit was nie moeilik om die owerhede in te lig aangaande die versteekte pistole nie, maar hy het nie rekening gehou met Bill se oplettendheid en intellek nie. Daarby het Bill die mensekennis waarmee hy ‘n magtige onderneming opgebou het en bo alles, ‘n amper paranoïese streep waar dit gaan oor mense met oë wat te na aan mekaar sit.
Brian wonder steeds waar die pistole versteek is. Hy het hulle immers met sy eie oë in die Hummer gesien.
Die probleem met afstandskat as jy ry, is dat dit baie nader lyk as wat dit in werklikheid is. Brian kom dit weldra agter.
*
Bella sien hoe Max die gebruikte ammunisie se leë doppies, wat op en langs die rots lê, waar dit geval het, versigtig weer in die leë ammunsiekassie bêre.
“Hoekom doen jy dit?”
“Hierdie doppies is skaars, en gaan in die volgende klompie maande of jare nog skaarser word. Ek hoop om een of ander tyd by iemand te kom wat ‘n herlaaistel het, en dan gaan ek doppies nodig hê.”
“En die ander goed, soos die voorkante en die kruit?”
“Jy vergeet van slagdoppies. Ek het tussen my pakgoed dryfmiddel – wat jy kruit noem – en punte of projektiele en ook die regte slagdoppies. Ek het net nie die laaistel gebring nie, want dit vat te veel plek.”
“Max, ek wil ook gewere hê, ‘n kort handgeweer en ‘n lang een.”
“Jy bedoel ‘n rewolwer of ‘n pistool en ‘n geweer?”
“Ja, dis wat ek bedoel.”
“Ons sal uitkyk daarvoor. Nou moet ons jou eers by iemand kry wat na jou voet kan kyk.”
Bella merk dat Max se hande effens bewe, hy is bleek en hy haal diep asem.
“Is daar iets fout? Het jy seer gekry, Max?”
Max haal nog ‘n diep asem en wag voor hy antwoord. Sy stem is skor en kom effens hortend.
“Nee, ek het nie seer gekry nie. Ek dink dis maar die skok van wat nou gebeur het. Ek het nog nooit vantevore iemand doodgemaak nie, Bella.”