Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die kern van Christelike liefde is nie ons onwilligheid om lief te hê nie, maar die vaste wete dat God óns liefhet.
DOOD,WAAR IS JOU ANGEL? (3)
Ds David Niebuhr
Lees reeks by Dood, waar is jou angel?
SELFMOORD (1)
Sekerlik een van die moeilikste gevalle in die lewe wat ‘n persoon mee gekonfronteer kan word. Hoe kan ek van hulp wees vir vriende, familie en my gemeenskap as hulle geraak word deur hierdie geweldige traumatiese dood van ‘n geliefde? Weereens wil ek begin om te kyk na wat ons glo en na wat die Bybel werklik sê oor selfmoord. Is dit wat ek oor die onderwerp glo 100% reg? Wil God nie juis my oë open vir ‘n waarheid wat ek nog nie ondersoek het nie? So, wat sê die Bybel daaroor? In die Bybel lees ons vyf keer van selfmoord, waar ses persone hulle lewens so verloor.
Die eerste geval waarna ons kyk, kry ons in Rigters 16:23-31. Hier lees ons van die dood van Simson. Simson, wat ná hy gevange geneem is deur die Filistyne, en sy oë uitgesny was, homself in die posisie bevind waar hy gebruik word vir die Filistyne se vermaak. Ons lees dat hy homself bevind tussen die twee pilare wat die gebou regop hou en hy roep tot God. Sy gebed is dat God hom tog weer die krag sal gee, sodat hy die Filistyne kan vernietig en self ook sterf. God verhoor sy gebed en baie Filistyne sterf, asook hyself.
Simson word nie veroordeel vir sy dood nie, maar eerder as ‘n held van die Jode beskryf. Daar staan nie geskrywe dat Simson in die hel brand vir sy selfmoord nie.
Tweede kyk ons na Koning Saul en sy swaarddraer, soos ons dit vind in beide 1 Samuel 31:1-13 en 1 Kronieke 10:1-14. Saul bevind hom in ‘n situasie waar hulle besig is om die aanval teen hulle te verloor. Sy seuns is reeds deur die vyand gedood en nou is hy die teiken van die boogskutters. Hy vra eers sy swaarddraer om hom dood te maak, voor hy lewend in die hande van sy vyand val. Maar wanneer die kneg weier, val hy in sy eie swaard. Toe die swaarddraer dit sien en besef sy koning is dood, doen hy dieselfde.
Weereens lees ons nie dat daar enige oordeel oor hulle uitgespreek word nie. Die derde geval vind ons in 2 Samuel 17:23. Hier lees ons van Agitofel, ‘n raadgewer aan Absalom. Ons sien dat Absalom nie na sy advies luister nie, en daarna vertrek hy terug huis toe, sorteer al sy sake uit, en neem sy eie lewe. Hy kon nie sy omstandighede hanteer nie, en sterf eerder.
In die vierde plek lees ons van Koning Simri. Koning vir slegs sewe dae. Hierdie koning van die Jode verneem dat sy mense besig is om die stad in te neem, om die dood van hulle vorige koning op hom te wreek. Hy vlug na ‘n veilige deel in sy paleis en brand dit af. So sterf hy aan sy eie hand. Daar word baie oor sy sonde gepraat, maar let op dat sy selfmoord nie genoem word nie.
Vyfde lees ons van Judas. Ons lees van sy dood in Mat. 27:3-10 en Handelinge 1:12-20. Ons lees van sy berou oor wat hy gedoen het. Ons vind hom waar hy probeer om die geld terug te gee en reg te maak wat hy verbrou het. Dan kom die besef dat hy dit nie kan regmaak nie. Hy het Jesus se doodstraf oor Hom gebring. Sy selfverwyt is so groot, dat hy homself eerder doodmaak as om daarmee saam te moet leef. So sterf Judas, hy wat Jesus verloën het. Tog spreek die gedeeltes nie ‘n oordeel uit en stel dit onteenseglik dat Judas nou in die Hel brand vir sy verraad nie. Dit sal my werklik nie verbaas as ek eendag vir Judas in die hemel sou sien nie. Sy berou oor sy sonde was baie groot, te groot om daarmee saam te leef. Ons weet nie of hy God om vergifnis gesmeek het en of God hom vergewe het nie. Dit sal ons slegs weet wanneer ons eendag in die hemel kom en self sien.
Hier het ons dan nou die vyf voorbeelde uit die Bybel gesien waar ses persone sterf. In elk van die gevalle is daar ‘n suksesvolle selfmoord, maar nie met enige veroordeling daarmee saam nie.
Ons lees ook van ‘n geval waar iemand baie depresief was en gewens het hy kon sy eie lewe neem. Ons sien darem dat in dié geval, die persoon nie gesterf het nie. In Job 7:15 lees ons en word dit vertaal in van die vertalings, dat Job sê hy soms begeer om homself te verwurg. Job, wat swaar kry en nie aldag weet waarheen om te vlug nie, oorweeg selfmoord. Hy is eenvoudig so platgeslaan dat hy nie meer weet of hy kans sien vir die lewe nie. Tog het God hom deur sy krisis gehelp.
Dan is daar ook die geval van ‘n assisteerde selfmoord. Abiméleg het in Rigters 9: 50-54 ‘n toring aangeval, waarin die inwoners van die stad geskuil het. ‘n Vrou het toe ‘n klip uit die toring op sy kop gegooi. Toe Abiméleg besef dat hy sterf het hy sy wapendraer geroep en gevra dat sy dienaar hom moet doodmaak, aangesien hy nie wou bekendstaan as die een wat deur ‘n vrou vermoor was nie. Vir hom sou dit ‘n vernedering wees om deur ‘n vrou doodgemaak te word. So het sy dienaar aan sy wens voldoen en Abiméleg sterf. Hier sien ons dat nog ‘n assisteerde selfmoord geskied in die geskiedeis van die Bybel. Weereens sien ons egter geen teken van oordeel oor die selfmoord self nie.
Laat ons dan nie verkeerd verstaan nie. Die Bybel stel dit duidelik dat selfmoord sonde is en dat dit nie aanvaarbaar is vir God nie. Jy mag nie jou hand aan jou eie lewe slaan nie. Dit laat ook soveel seer, pyn en verdriet agter wat jy kon voorkom het. Dit is en bly verkeerd om so iets te doen.
Maar, waar laat al hierdie inligting ons? Wat kan ons dan glo oor selfmoord, en hoe kan ek iemand help om dit te verstaan en daardeur te werk. Wat glo ek daaroor?
Een van die vrae wat 90% van die kere aan my gevra word by selfmoord gevalle is juis: “Is my geliefde nou in die hel?” Hoekom vra hulle dit? Juis omdat hulle nog altyd geglo het dat jy reguit hel toe gaan as jy sou selfmoord pleeg. Is wat hulle dan geglo het verkeerd?
Ek weet nie. As die Bybel dit onteenseglik gestel het dat almal wat selfmoord pleeg beslis in die hel se vuur sal opeindig, kon ek die vraag dalk makliker geantwoord het. Maar die Bybel doen dit nie. Inteendeel, nie in een van die gedeeltes wat oor selfmoord handel, stel die Bybel dit dat die persone nou vir ewig in die hel se vuur beland het vir hulle dade nie.
Ek het myself al by baie meer selfmoordtonele bevind, as wat ek kan probeer onthou. So ‘n groot hoeveelheid van mense wat nie meer kans gesien het vir die lewe nie. Maar weet jy wat het ek al so baie kere gevind op die tonele?
Dit is nie vreemd om die Bybel daar te vind nie. So baie van die selfmoordbriewe is juis in die Bybel gelos by die gedeelte wat die oorledene gelees het voor hulle dood. So baie briewe stel dit dat die oorledene by God gepleit het om genade en vergifnis. In die laaste oomblike voor die dood ingetree het, het hierdie mense God se aangesig gesoek. Waar is hulle dan nou?
Wat is dan die antwoord wat ek gee op die vraag of hulle geliefde nou in die hel is? My antwoord is as volg: “Ek weet nie en dit is nie vir ons om te besluit nie. Ons weet dat selfmoord verkeerd is in die oë van die Here, maar ons weet ook dat ons ‘n barmhartige God dien, ‘n God van liefde. Dit is nie vir die mens om te oordeel waar die afgestorwene hom/haar nou gaan bevind nie, maar die besluit lê by ons liefdevolle, genadige Vader. Al wat ek weet is dat ons ‘n God van liefde dien, en ons kan slegs ons geliefde aan Hom toevertrou, en ook weet dat God daar sal wees vir ons in hierdie tyd van beproewing.”
Dus, ek sien myself nie as God se gelyke nie en glo nie dat ek namens Hom kan besluit oor wie in die hemel mag kom, en wie nie. Ek lees in die Bybel van mense wat ook hulle eie lewens geneem het, maar lees nie van God se oordeel oor hulle nie. Ja, dit is verkeerd, maar wat God se besluit is, is juis dit. Dit is God se besluit alleen.
Selfmoord is sekerlik een van die moeilikste gevalle waar ‘n mens troos en hulp aan die geliefdes kan probeer bied. Die situasie is van so ‘n aard dat die algemene dinge wat mense altyd in die geval van dood sê nie van enige hulp is nie. Dinge soos: “Dit was sy/haar tyd gewees, God het hulle kom haal, God het gesien hoe swaar die persoon kry en hom/haar kom verlos, God het sy mooiste blom kom pluk, ...” Al hierdie trooswoorde help niks, want hierdie persoon het sy of haar eie lewe geneem, en dit was dus nie op die tyd gewees soos deur God bepaal nie. Ons weet ook nie vir ‘n feit waar daardie oorledene se siel hom/haarself bevind nie.
Een van die swaarste verwagtinge wat ons as mens in só ‘n geval op onsself sit, is die feit dat ons dink ons het die vermoë om die geliefdes wat nou in pyn en skok is te kan laat beter voel, of troos deur trooswoorde te gebruik wat hulle sal laat beter voel.
JY KAN NIE. Niks wat jy sê of doen kan hulle laat beter voel oor wat gebeur het nie. Moet liewer nie probeer nie want jy mag dalk net iets sê wat hulle meer seer en pyn sal bring. Hier is ‘n klassieke voorbeeld van vriendskap gee en daar wees vir die wat hulle geliefde verloor het. Hier is nie woorde om te help nie, maar wel ‘n skouer om op te huil en ‘n hand om vas te hou. Hier is waar ons koffie maak vir almal en die telefoon antwoord. Saam sit en huil en praat oor die goeie herinneringe. Hier is jou
teenwoordigheid van soveel meer waarde as enige leë woorde wat glad nie kan troos bring nie. Wees net daar vir hulle en verseker hulle dat jy hulle nie alleen sal los nie, maar saam met hulle die moeilike pad sal loop. As jy saam met hulle bid, bid dat God daar sal wees vir die geliefdes wat agtergebly het en nou meer as ooit, God se troos en hulp benodig. Bid dat hulle kalmte en vertroosting by God sal vind. Jy sal vind dat dit amper onmoontlik is om te bid vir die een wat oorlede is. Wat bid jy? Die oomblik toe daardie persoon gesterf het was sy lot geseël. Hy of sy het reeds óf God se genade ontvang, óf nie. Dit kan ons nie meer verander nie.
Hoekom pleeg mense selfmoord? Kom ons kyk na ‘n paar redes, en probeer verstaan hoekom mense sulke dinge doen, en wat ons dalk kan doen om so iets te verhoed...
Sekerlik die mees algemene rede is depressie. Depressie speel ook ‘n groot rol by meeste van die ander gevalle, waar die omstandighede van so ‘n aard is, dat die persoon juis verval in ‘n diep depressie. Dit is ook belangrik om te verstaan dat een van die mees algemene simptome van depressie juis selfmoordgedagtes, neigings en pogings is. Dit beteken dat indien iemand depressief voel, dit normaal is om aan selfmoord te dink en namate die depressie vererger, is die volgende simptoom dan ‘n selfmoordpoging. Dit mag suksesvol wees, of dalk nie. Selfmoord kan nie gesien word as resultaat van depressie nie, maar juis as ‘n simptoom daarvan wat dui op presies hoe ernstig die depressie juis is.
Sonder om direk na gevalle te verwys, en een spesifieke geval uit te lig, wil ek vir jou ‘n scenario skep wat beskrywend is van ‘n samevatting van verskeie soortgelyke gevalle wat ek reeds besoek het, om sodoende iets aan jou te openbaar wat ek beleef het op baie tonele wat ek reeds bygewoon het. Kom ons begin by tieners.
Die heel eerste selfmoord toneel wat ek moes hanteer, was dié van ‘n tiener. Dit is so dat ons leer watter tipe tieners juis die hoogste risikogroepe is, maar ek wil uit ondervinding met jou deel, watter tipes trauma in tieners se lewens hulle gedryf het tot sulke drastiese stappe. Die mees algemene tipe wat ek gevind het, is kinders uit gebroke huwelike waar veral groot spanning veroorsaak word deur die stryd wat die ouers met mekaar voer. Hier vind ons ‘n kind wat voel hy of sy word verskeur deur twee strydende partye, waar beide van hom of haar verwag om kant te kies, doelbewus of nie. Die kind voel vasgekeer tussen die twee ouers.
Die tweede mees algemene rede is liefdesteleurstellings. In ons dag en tyd is aanvaarding uiters belangrik vir tieners en verwerping is iets wat baie min van hulle al geleer het om te hanteer. Wanneer hulle hulself blootstel aan iemand wat hulle werklik glo hulle lief het, en dit werk nie uit nie, voel hulle dat hulle misluk het, en weet nie hoe om dit te hanteer nie. Te veel jong mense verloor hulle eie lewens juis om hierdie rede. Hulle kan eenvoudig nie sien hoe hulle kan aangaan met die lewe nadat hulle aan hierdie tipe pyn blootgestel was nie.
Dan kom ons by teleurstelling. Wanneer ‘n jongmens voel dat hy sy ouers, of geliefdes teleurgestel het, deur iets te doen wat moontlk krimineel was, dwelmverwant was, of selfs skoolprestasie gebonde was, verkies hulle soms eerder die dood as om die teleurstelling in hulle geliefdes se oë te moet aanskou. Soms maak ouers hulle daaraan skuldig om dinge te sê soos: “As jy nie hierdie mikpunt behaal nie, slaan ek jou dood...” Hierdie tipe selfverwyt het ek al van so baie ouers gehoor na die dood van ‘n kind. Of: “Moet liewer nie eers huistoe kom as...” Dan kom die kind dalk wel nie terug nie. Die vraag is dan, is dit omdat hulle gevrees het dat hulle werklik fisies aangerand sou word, of wou hulle net nie die teleurstelling op hulle ouers se gesigte sien nie? Dit is moeilik om presies te sê watter een waar is, en in watter geval watter een waar kon wees, want die antwoord is vir altyd verlore saam met die gestorwenes. Al wat agterbly is ouers met soveel verwyte. Hulle voel verantwoordelik en wens soms dat hulle maar liewer self ook kon sterf.
Die vierde tipe wat ek na wil kyk is die tieners wat óf ‘n hulp-roep wil uitstuur vir aandag en liefde, óf selfs net wil aandag soek. Onder dié groep vind ons soms ook die mense wat volgens my, per ongeluk selfmoord pleeg. Laat ek verduidelik. Ek het reeds met soveel jongmense gepraat wie selfmoord pogings gehad het, maar nie suksesvol was nie en wie vir my sê dat hulle nie regtig wou sterf nie. Al wat hulle wou hê is byvoorbeeld, dat ma en pa moet ophou baklei, dat ma en pa weer sal versoen, en nie deurgaan met die egskeiding nie, of, dat pa en ma sal sien hoe seer ek het of hoe seer hulle my maak. Ons kry ook dié wat aandag soek en dink dat hulle vir die kêrel of nooi wil wys dat hulle nie sonder hulle kan lewe nie, hulle sterf eerder as om sonder hulle te leef. Hulle doen dit dus slegs omdat hulle daarmee wil poog om die een wat hulle verloor het terug te probeer wen, of dalk, om die een wat hulle verloor het skuldig te laat voel oor wat aan hulle gedoen was. Soms kom dit vir my voor asof van hierdie selfmoord pogings wat wel suksesvol was, nooit bedoel was om tot die dood te lei nie, maar dat iets skeefgeloop het. Die persoon het gemaak of hy homself wou ophang, en die stoel waarop hy gestaan het se poot het gebreek... ‘n Tragiese einde aan ‘n poging om dalk aandag te probeer kry, of om hulp te roep.
Die vyfde tipe wat ek gevind het, is wat ek graag na wil verwys as aangeleerde selfmoordgedrag. Daar was voorvalle in van ons dorpe, nie te lank gelede nie, waar byvoorbeeld ‘n stil, teruggetrokke jong matriekseun selfmoord gepleeg het. Hierdie verwys weereens nie na ‘n geïsoleerde geval nie, want dit is algemeen gevind in ‘n paar areas. Skielik was die hele dorp in rep en roer oor die afsterwe van die jongman. Sy foto was op die koerante se voorblaaie, en almal het oor hom gepraat. Soos dit maar altyd gaan ná iemand se afsterwe het almal die oorlede seun so opgehef. Almal het gepraat oor hoe goeie seun hy was en hoe wonderlik hy was. Oornag het hierdie jong seun heldestatus bereik. Niemand durf mos sleg praat van die oorledene nie.
Niemand wil ander ontstel deur te sê dat wat hy gedoen het verkeerd en onaanvaarbaar was nie. Wat was die resultaat: Binne ‘n maand was daar nóg drie van sy skoolmaats wat ook selfmoord gepleeg het. As hy dit dan kon doen en almal sê hoe goed hy was en hoe wonderlik hy was, hoekom kan ek nie ook nie? As hy beroemd en bekendheid kan ontvang deur sy dood, dan kan ek ook mos, OF, as dit ‘n sosiaal aanvaarbare manier was vir hom om te ontvlug van sy probleme, dan is dit mos ‘n oplossing vir my probleme ook. Die resultaat... Meer lewens word beëindig.
Al wat ‘n ommekeer in die selfmoorde kon bring was om te begin uitpraat oor wat gebeur het en die jong mense te skool in die feit dat dit verkeerd is en NIE aanvaarbaar is nie. Ja, hulle vriend is weg, en hulle gaan hom mis, maar wat hy gedoen het was nie reg en nie die oplossing vir ‘n probleem nie. Ons moet so versigtig wees met hoe ons optree teenoor persone wat emosioneel geraak wees deur ‘n selfmoord. Ons moet hulle bystaan en ondersteun, sonder om die daad van selfmoord sonder doelbewuste intensies goed te praat.
Ook op dié punt vind ons so baie kere op selfmoord tonele dat selfmoord in die familie loop. Ouma het selfmoord gepleeg, die oom het selfmoord gepleeg en die pa ook. Nou het hierdie persoon net soos die vorige drie in die familie dit ook gedoen. Hoekom? Is dit in die gene? Of het dit ‘n aanvaarbare manier in die familie geword om weg te kom van jou probleme af as alles net te veel word. Ek bedoel, as dit reg was vir ouma, oom en pa, hoekom sal dit ook nie die regte oplossing vir my wees nie? Die familie is blootgestel aan selfmoord as ‘n aanvaarbare oplossing en dit is nie so maklik om die siklus te breek nie.
Dit dan die vyf mees algemene punte wat ek in my eie ondervinding gevind het, soms die grootste rol gespeel het onder tieners se selfmoorde. Daar is natuurlik ook ander faktore, soos ‘n gebrek aan ‘n toekomsvisie, en loobaan moontlikhede, seksuele molestering, mishandeling, emosionele en fisiese verwerping, swangerskap en so meer, maar hierdie is nie so prominent as die vorige vyf nie.
Die mees algemene maniere waarop tieners selfmoord pleeg is veral seuns wat hulle self sou skiet of ophang, en meisies wat hulle self ophang, of ‘n oordosis pille neem.
Selfmoord by volwassenes... vervolg