NUUTSTE BYDRAES

Gedagtes vir elke dag

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Wat sê die Bybel oor menseregte?   Dis uiteraard nie ’n Bybelse begrip nie, maar ’n regsbegrip.   In die Bybel is daar geen woord wat regstreeks met regte vertaal kan word nie.   Die woord wat die naaste daaraan kom, is regsaak.   In Spreuke word koning Lemeul byvoorbeeld aangemoedig om vir die regsaak van ellendiges op te kom:  “Maak jou mond oop vir die stomme, vir die regsaak van almal wat wegkwyn” (Spr.32:8).

HERINNERINGE AAN DR HF VERWOERD (10)

Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd

MEER AS WERKGEWER

Willie Dyason

"Dr Verwoerd oor apartheid: 'Sê nou ek boer met mielies en jy boer met beeste. As jou beeste in die nag kom en my mielies opvreet, is daar mos moeilikheid, groot moeilikheid. Die mielies is weg en die beeste word vet. Nou is ons kwaaivriende. Maar as ons nou ooreenkom om 'n heining tussenin te sit kan ek mos voortgaan met my mielieplantery en jy met jou beeste, want hulle kan nie meer in die nag oorkom nie. Dan gee ek jou van my mielies vir voer, en jy gee vir my melk en ek koop by jou vleis. Dan is ons goeie bure en almal is tevrede. So is apart­heid: leef en laat leef. ' "

Mnr. W.A. Dyason het in Durban grootgeword en ná matriek by die verversingsafdeling van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens begin werk. Ná slegs sewe maande is hy bevorder tot senior kelner op die Durbanse lughawe. Op 11 April 1960 is hy as kelner op die persoonlike personeel van die Eerste Minister, dr. H.F. Verwoerd, na die Departement van die Eerste Minister gesekondeer. Op aanbeveling van dr. Verwoerd is hy in 1964 as hoof van die huishouding by die premierswoning Groote Schuur aangestel, 'n pos wat hy ook onder Eerste Minister John Vorster beklee het. Daarna het hy die staatsdiens vir die private sektor verruil. Van 1971 tot 1996 het hy die lughawerestaurant op Kimberley oorgeneem en bestuur.

Willie vertel:

EK WAS NET 19 jaar oud en bra onervare toe ek by dr. en mev. Verwoerd in diens getree het. So byna-byna het ek hierdie onvergeetlike ondervinding misgeloop. Toe die eerste oproep van hoofkantoor kom om te sê ek moet Johannesburg toe gaan vir 'n onderhoud, was my reaksie: "Nee dankie, ek wil nie weg uit Dur­ban nie." Gelukkig het my ma ingegryp. Sy was voorsitster van die Nasionale Party-tak in Umlazi. Sy sê vir my: "Weet jy wie is die Eerste Minister? Ek dink jy moet dit heroorweeg." En daar kry ek toe die pos.

Die eerste paar weke in Groote Schuur het ek harde bene gekou. Dit was vir my 'n totaal vreemde omgewing. Van die personeel wou weet wat is my kwalifikasies. Die tydelike kelner wie se plek ek kom inneem het, was nie baie gelukkig daaroor nie. Maar sjef Bosch het my onder sy vlerk geneem en mej. Annatjie Boshoff, mev. Verwoerd se sekretaresse, het gesê ek moet net vasbyt. Ek was baie gretig om te leer. Niks is vir my gesê nie, maar ek het my oë en ore oopgehou. As daar byvoorbeeld 'n skinkbord gepak word, dan maak ek gou 'n skets. Vir die eerste twee onthale het hulle my nie eers laat vorentoe gaan nie. Daardie eerste maand het ek, nadat ek aanvanklik aan hulle voorgestel is, nooit vir Doktor en Mevrou gesien nie.

Daarna het 'n nuwe wêreld vir my oopgegaan. Wat my van die begin af opgeval het, was Doktor en Mevrou se nederigheid en bedagsaamheid teenoor ons as personeel. Doktor het gewoonlik voor 'n onthaal na ons gekom en gesê hy is nou jammer, hy weet dit maak inbreuk op ons normale roetine, maar so en so 'n dinee moet nou ongelukkig hier plaasvind, by Groote Schuur of Libertas, dit kan nou nie anders nie. Die manier waarop hy sulke opdragte gegee het, was altyd diplomaties. Die gevolg was dat ons ons bes probeer het en as 'n span saamgewerk het om Doktor en Mevrou tevrede te stel. Ons het iets probeer teruggee van die gesindheid waarmee ons behandel is.

Van bedagsaamheid kan ek nog baie voorbeelde noem. Daar was vasgestelde etenstye. Ontbyt word soggens slaapkamer toe gebring. Halfelf is teetyd, nie twintig voor elf of elfuur nie, ongeag wie daar is. As jy bietjie laat is en daar is nog koue tee, goed en wel, maar daar word nie vars tee gemaak nie. Eenuur is dit tyd vir die hoofmaaltyd. As Doktor nie daar is nie, soos dikwels die geval was, moet Mevrou en die sekretaresse (eintlik maar 'n lid van die familie) solank begin. Doktor het opdrag gegee dat sy kos nie in die silwerskottels gehou moes word nie, maar in 'n bord uitgeskep moes word. Dan hou ons dit vir hom warm sodat die ander skottelgoed solank gewas kan word. Ons sou verkies het dat hy self skep maar hy het gesê dit sal hom help as ons dit doen, want dan kan hy vinniger eet en 'n paar minute langer rus voor die middag se parlementsitting. In daardie halfuur kon hy behoorlik ontspan, selfs 'n slapie inkry. Een rede vir die streng roetine, glo ek, was die feit dat hy die kombuispersoneel in ag wou neem. Hulle kon daarop reken dat hulle sekere tye van diens af was. As teetyd of etenstyd verby was en die sjef het dit nodig gevind, kon hy sonder onderbreking met die voorbereidings vir die volgende maaltyd begin. Daar was nie so iets soos onverwagte gaste nie. Mens het dikwels die gevoel gekry dat Doktor en Mevrou hulle by ons aangepas het, in plaas van andersom.

By Libertas in Pretoria het die jongste seun Wynand sy eie "laboratorium" in 'n agterkamer gehad en Doktor het soms gaan kyk wat daar aangaan. Dan moes Doktor deur die kombuis loop, maar hy het dit nooit gedoen sonder om eers te skakel nie - amper asof hy ons verlof vra! Doktor het natuurlik besef dat 'n onverwagte verskyning dalk verleentheid kon veroorsaak.

Met die heen en weer ryery tussen Pretoria en Kaapstad vir die parlementsitting het Doktor en sy gesin van 'n private spoorwegwa gebruik gemaak. Die geregte wat voorgesit is, het nie altyd met hom geakkordeer nie en daarom het ek later aangebied om die salon self te beman en die spyskaart op te stel soos hy gewoond was om te eet. Ek het dus die heen en weer reise verskeie kere meegemaak totdat ek later permanent aan Groote Schuur-premierswoning verbonde was. Wanneer ons op die Kaapstadse stasie aankom, klim almal af en daar is 'n groetery en mense wat die familie kom ontmoet. Doktor het nooit nagelaat om te vra of daar vervoer vir my gereël is nie. Verskeie kere was daar niks gereël nie en dan nooi hy my saam in die ampsmotor.

Ek onthou ook baie goed hoe dit gegaan het op ons vakansieritte in die Kruger-wildtuin saam met dr. Rocco Knobel en sy personeel. Gewoonlik was dit vier tot ses voertuie agtermekaar op daardie stofpaaie. Doktor-hulle ry voor en ons kom agterna. By elke stilhouplek word die volgorde verander sodat almal 'n gelyke kans kan kry om wild te sien. As daar iets is om te verduidelik, staan die voertuie langs mekaar en die boodskap word aan almal oorgedra.

Miskien die beste voorbeeld van dr. Verwoerd se deernis teenoor sy personeel, was die manier waarop hy my voorganger, mnr. Barkhuizen, behandel het. Mnr. Barkhuizen was al sedert dr. Malan se Eerste Ministerskap in beheer van die Groote Schuur-huishouding. Hy was 'n baie stiptelike en pligsgetroue mens, maar na 'n breinoperasie was hy nie meer ten volle in staat om sy werk te doen nie. Op dr. Verwoerd se aanbeveling is ek in die pos aangestel, eers waarnemend en later permanent. Normaalweg sou ek as kelner nie vir so 'n senior posisie in aanmerking gekom het nie.

Doktor het my laat roep en verduidelik dat hy mnr. Barkhuizen se gedwonge aftrede graag so lank as moontlik wil uitstel, want die man het nog klein kindertjies op skool en as hy aftree, sal hy die huis op Groote Schuur-landgoed moet ontruim. Doktor vra dus of ek hom asseblief kan akkommodeer en toelaat om nog kleinigheidjies in die huishouding waar te neem soos hy gewoond was. Dit het ons vir ongeveer 'n jaar lank gedoen. Mnr. Barkhuizen is later oorlede.

'n Tweede eienskap van dr. Verwoerd wat vir my uitstaande was, was dat hy respek afgedwing het omdat hy respek betoon het. Waardering is selfs teenoor die geringste werker betuig. Wanneer dr. Verwoerd die tweede helfte van die jaar in Pretoria was ná die parlementsitting, is die tuiniers by Libertas byvoorbeeld gereeld op 'n Kersparty getrakteer en bedank, en dit het hulle belangrik laat voel. Ek self was nie veel meer as 'n jong seun nie, maar ek is nooit anders aangespreek as "meneer Dyason" nie, ook deur dr. Verwoerd se kinders. Dit het vir my gewys dat Doktor ook my pos, soos sy eie, respekteer. Die enigste een op die personeel wat op haar voornaam genoem is, eintlik net as daar nie vreemde mense by is nie, was mej. Annatjie Boshoff; haar broer was getroud met Doktor en Mevrou se oudste dogter. Dokter het dit nooit gesê nie maar dit op 'n subtiele manier by ons tuisgebring dat ons almal saam die verantwoordelikheid dra om die waardigheid van die hoogste posisie in die land te handhaaf.

Die formele onthale wat ons in dr. Verwoerd se tyd aangebied het, was deftig en met groot sorg voorberei. Ons het die spyskaart opgestel met verskillende alternatiewe; twee soorte sop, drie voorgeregte, ensovoorts. Dit word vooraf aan Doktor voorgelê, sommer aan tafel, dan omkring hy sy keuse. Doktor kon vinnig besluit. Gehalte het die deurslag gegee. So ook met die tafelplanne. Doktor het bepaal wie word genooi en wie sit op watter plek sodat die geselskap kan vlot. Nooit meer as 32 gaste nie want Doktor wou aan elkeen persoonlike aandag gee. Doktor het altyd gesê jy kan nie reg laat geskied aan 'n groot groep mense nie, want hy wou rondbeweeg en met elkeen 'n praatjie aanknoop. Die kelners was formeel geklee, met strikdas en swaelstertbaadjie, en die tafelsilwer het geskitter. Ons was trots op ons tafel. Daar is 'n heildronk op die Staatspresident ingestel. Ná die ete het die mans en die dames gewoonlik 'n tydjie afsonderlik sosiaal verkeer, en daar is soms belangrike gesprekke gevoer. Ek is bevrees hierdie gebruik van 'n banket in volle gang het net ná dr. Verwoerd se tyd verval. Reuse-ont­hale is in 'n markiestent aangebied, een na die ander, en die gasheer het partykeer nie eers geweet wie almal teenwoordig is nie.

Dit het vir my nogal 'n interessante nadraai gehad. Met die opening van die parlement is daar elke jaar 'n spesiale ete in die parlementêre eetsaal gegee. Die verversingspersoneel was, net soos ek, van die Spoorweë gesekondeer, maar die meeste van hulle het meer senior range beklee. Die Spoorweë se verversingsafdeling was in daardie jare hoog aangeskryf. Om een of ander rede was dr. Verwoerd egter nie tevrede met die gehalte van die bediening nie. Daar is mos twee maniere om teen 'n muur regop te staan; jy hou die muur op, of die muur hou jou op, daardie soort van ding. Toe kry ek opdrag om van Groote Schuur te kom en bevel oor te neem. Ek was nie 'n populêre persoon nie, maar met dr. Verwoerd se gesag agter my het ek dit twee of drie jaar na mekaar gedoen. Dit wys maar net hoe gesteld dr. Verwoerd daarop was om hoë standaarde te stel en te handhaaf.

Doktor het 'n wonderlike vermoë gehad om met my deur sy oë en gesigsuitdrukking te kommunikeer. Wanneer ek die vertrek binnekom, of dit nou 'n kabinetsitting of 'n groot onthaal of 'n meer intieme geselskap was, het ek altyd probeer om Doktor se oog te vang. Dan het ek dadelik geweet of ek moet bedien, 'n bietjie moet terughou, of selfs aan 'n sekere persoon aandag gee. Laasgenoemde kon dalk beteken geen verdere drankies vir daardie persoon nie. Doktor het nie handgebare gebruik nie. Dit was baie meer subtiel. Hy kon selfs besig wees met 'n gesprek, dan het hy nog met sy oë gepraat. Doktor het die hele tyd geweet wat om die tafel of in die vertrek aangaan. Dit het my so 'n warm gevoel gegee toe ek die dag besef hoe goed ek hom begryp. Van sy kant het hy heel moontlik gedink, hier is 'n jong man wat ek na my hand kan leer.

Ek het baie dinge by dr. Verwoerd geleer wat ek nie by ander mense teengekom het nie. Dit is seker nie so belangrik nie, maar hy het my onder andere geleer hoe om wyn te proe. Ek het as kind 'n weersin in alkoholiese drank ontwikkel omdat ek gesien het wat dit aan mense doen; my pa het 'n private hotel bedryf. Kort na ek by hom begin het, het Doktor eendag vir my gesê dit is goed en wel om 'n afskaffer te wees, maar in my beroep moet ek vir gaste wyn kan aanbeveel, en dit kan ek nie doen as ek nie proe nie. Doktor het gewoonlik maar net by onthale 'n glasie wyn gedrink. Ook op Sondae met die kinders en hul gesinne by die familie-ete is 'n bottel wyn oopgemaak. Ek het toe geleer om, voor ek die bottel inbring, eers te proe of dit reg is.

Daar was ontspanne oomblikke waarin ons groot pret gehad het, soos die keer op die plasie oorkant die Vaalrivier by Stokkiesdraai. Doktor het my nogal leer ploeg. Ek het nog nooit tevore op 'n trekker gesit nie, en het nie geweet dat 'n mens daardie stang moes afdruk nie. So met die eerste twee rye het die skottels soos wiele oor die grond gehardloop. Doktor het toe nader gestaan en vir my gewys hoe dit gedoen moet word. Ek het seker drie uur lank met die skottelploeg geploeg. Toe ek daar afklim en die stof probeer afskud, het Doktor lekker gelag en gesê: "Kyk nou wat 'n vaal mannetjie kom hier oor die Vrystaatse vlaktes aangestap!"

Ek onthou ook die geleentheid in Maart 1965 toe Stokkiesdraai aan Doktor oorhandig is. Die plek is mos deur die twee koerantmaatskappye Dagbreekpers en Voortrekkerpers gekoop. Hulle wou dit aan hom skenk vir ontspanning as blyk van dankbaarheid vir sy diens aan land en volk. Die manne was almal daar, mnr. Marius Jooste, mnr. Du Toit van Die Transvaler, oom Kaalkop van der Merwe en ander wat ek nie onthou nie. Ons het hulle onthaal en daar is toesprake gemaak en toe kom Doktor aan die woord. Hy het hulle bedank en toe gesê hy kan nie so 'n groot geskenk aanneem nie. Hy wil dit baie graag benut maar na sy en Mevrou se dood moet dit teruggaan na die Pers. Uit die mense se reaksie het dit vir my gelyk of party van hulle skoon uit die veld geslaan was. Doktor het egter weereens gewys hoe belangrik hoe etiese standaarde vir hom was.

'n Paar jaar tevore het Doktor vir hom drie erwe op Bettysbaai, wat toe nog 'n verlate vakansieplek sonder elektrisiteit was, aangeskaf en daarop laat bou. Daarvan kan ek heelwat meer vertel as van Stokkiesdraai, want ek was dikwels oor naweke saam om vir die spyseniering te sorg. Ek onthou nog die heel eerste besoek toe ons senator M.EA. Malan se gaste was. Ons het in sy vakansiehuisie oornag en die volgende oggend het Doktor met groot entoesiasme die grondplan geskets van die huis waaroor hy die vorige nag lê en dink het as hy die erf sou koop, want hy was klaar verlief op die plek. Nadat die huis gebou is, het Doktor daarop aangedring dat ons die plaaslike winkeltjie moet ondersteun in plaas daarvan om al ons voorrade uit die Kaap saam te bring. Aanvanklik het die sjef en ek teengestribbel omdat 'n mens nie alles daar kon kry nie, maar Doktor se oplossing was dat ons 'n week vooruit moet bel en ons bestelling plaas, dan kan die winkeleienaar sy voorraad betyds aanvul. Eers baie jare later het ek besef hoe belangrik plaaslike ondersteuning is vir 'n klein onderneming wat probeer om 'n diens te lewer.

Ons het naweke op Bettysbaai nie net visgevang en vakansie gehou nie: daar was nog te veel te doen. Die personeel is vrywillig ingespan. Een Saterdagmiddag het ons saam met Doktor en Mevrou 75 boompies geplant. Mevrou het met twee draradio's daar aangekom, want ons was ver uitmekaar, en gesê: "Nou kan julle lekkerder werk met musiek."

Een naweek op Bettysbaai het ek die grootste flater van my loopbaan begaan. Doktor het gesê dit is nie nodig dat sjef Bosch en ek albei saam gaan nie, ons kan beurte maak. Ek het toe maar vinnig geleer kosmaak, altans 'n paar eenvoudige resepte. Die Vrydag sê die sjef hy sal dit vir my maklik maak. Alles is vooraf berei en ek moet net die maalvleis gaarmaak. Doktor het geëet en niks gesê nie, maar daardie nag word ek wakker met die besef dat ek kookolie in plaas van water by die vleis gegooi het. Eers lank daarna het ek Doktor daarvan vertel en verskoning gevra, toe sê hy net: "Dit was 'n bietjie anders as gewoonlik." Vir hom kon 'n mens feitlik enigiets voorsit, hy het nooit gekla nie. As die seuns, veral Hendrik, op Bettysbaai is word daar geduik, arikreukel en perlemoen uitgehaal en met geregte soos seegrasjellie geêksperimenteer; iets waarvan ek nog nooit in my lewe gehoor het nie. Dit was nie altyd suksesvol nie, maar Doktor het lustig saamgekou al is die skulpvis hoe taai.

Dr. en mev. Verwoerd het vir kilometers langs die see gaan stap. Die polisiemanne was veronderstel om hulle op te pas maar hulle kon nie bybly nie. Naderhand het dit 'n instelling geword, hier teen laat namiddag, om met die bakkie vooruit te ry en daar voor te gaan stelling inneem waar Doktor en Mevrou gewoonlik omdraai. Ander tye het Doktor en Mevrou ook ingehaak gestap in die tuine van Groote Schuur en Libertas. Ons het baie keer gedink daar word nou groot probleme opgelos. Dikwels as Doktor ná 'n wandeling na die groentetuine terugkom by die huis, het hy iets opgelet, of 'n voorstel gemaak. Sê maar hy sien daar is 'n rabarberbedding, dan vra hy waarom ons dit nie vir nagereg gebruik nie. Of hy rapporteer daar loop twee koeie rond, of die gras is te lank of te kort. Dit was asof die boer in hom te voorskyn kom.

Daar was baie tarentale en ook van die Japannese takbokke op Groote Schuur-landgoed. Hulle moes van tyd tot tyd uitgedun word en dan moet die sjef die vleis gaarmaak. Doktor het nogal daarvan gehou om so iets buitengewoons aan sy gaste voor te sit. Die tarentale was vir ons 'n pyniging want hulle is met donshael geskiet. Ons sukkel dan vir ure in die kombuis om die vleis skoon te kry en daar glip altyd 'n paar loodkoeëltjies deur. Die wildsvleis was 'n groot lekkerny, net vir spesiale geleenthede. Ek glo nie ons het meer as twee bokke in 'n seisoen geskiet nie want hulle was mak en mooi om te sien wei. Doktor was ook lief om eend op die spyskaart te hê vir groot etes. Dit was soms nogal 'n probleem om genoeg eend aan te koop sodat die porsies nie te klein is nie. Doktor en sy geselskap het eenkeer teruggekom van 'n visvangtog in Suidwes-Afrika met vrieskaste vol vis, te veel vir die huishouding. Doktor het toe begin uitdeel; hierdie minister kry soveel, daardie een soveel, en gaan maak 'n draai by die ouetehuise. Doktor was net so mededeelsaam as dit druiwetyd is; almal geniet daarvan uit Groote Schuur se wingerd, insluitende die veiligheidswagte en ander personeel. As die koeie te veel melk gee, was daar ook altyd iemand wat voorsien moes word. Omgekeerd het daar soms kaste perskes van die ander ministers se tuine of van die publiek gekom. Een tannie het die lekkerste mosbolletjies gebring, een van die min soorte soetgebak wat Doktor van gehou het. Dit is alles met groot waardering ontvang, en ons was almal bevoorreg om in die oorvloed te deel.

Vanweë my werk kon ek 'n kykie kry in die intiem huislike lewe van die Verwoerds. Dit was veral saans om nege-uur in Libertas as ek aan die sitkamerdeur klop om die skinkbord met tee in te bring. Dan lê Doktor gewoonlik op die rusbank met sy kop op Mevrou se skoot. Hulle luister na musiek oor die radio of wag vir die nuus. Doktor het soms geneurie en orent gekom as ek die skinkbord neersit. As daar van die kleinkinders is, lees hulle ouma 'n storie soos net sy dit kan doen: elke karakter met 'n ander stemtoon. Wynand, die jongste seun, is die enigste kind wat nog in die huis was en hy onderbreek dan sy huiswerk om te kom tee drink. Baie aande het ek soos 'n indringer gevoel en gewens ek hoef hulle nie te steur nie. Gelukkig het Mevrou self die tee geskink. Sondae na kerk het die kinders en kleinkinders wat in Pretoria is gewoonlik kom kuier en gebly vir 'n familie-ete. Dan het hulle oupa 'n tydjie met die kleintjies gespeel, soms buite op die grasperk. Die personeel het aangevoel hoeveel waarde hierdie samesyn vir Doktor en Mevrou het, op wie se skouers so 'n sware verantwoordelikheid rus. Vir geen oomblik het ons hulle dit misgun of gekla oor ekstra werk nie.

Een Sondag aan tafel het een van die kleinkinders aanhou neul om iets van daardie silwer stelletjies met mostert, sout en peper in die hande te kry. Pa het gesê nee en ma het gesê nee, maar dit help nie. Naderhand sien ek Oupa neem oor. Hy sê vir die knapie: "Kom, Oupa sal vir jou gee." Hy maak die bakkie oop, skep die mostert met 'n lepeltjie en laat die kind proe. Sy asem het byna weggeslaan. Oupa sê: "Mamma het met jou gepraat en Pappa het met jou gepraat en jy wou nie luister nie. Het jy nou geproe? Sal jy dit weer doen?" Einde van die storie.

Oor Doktor se optrede as spreker en politieke leier sal meer bevoegde persone kan getuig, maar miskien kan ek tog 'n paar belewenisse vermeld wat nie aan almal bekend is nie. Na aanleiding van iets wat gebeur het, het ek, in my naïwiteit, eendag vir hom gesê: "Doktor, dit lyk my die politiek is maar 'n vuil spel." Dit was die een keer wat ek gevoel het ek moes maar liewer stil gebly het. Doktor het my onmiddellik kortgeknip en gesê: "Nee, die politiek is nie vuil nie. As daar vuil spel is, is dit die spelers se skuld." Ek moes geweet het, vir hom was die politiek 'n hoë roeping.

Doktor het my saamgenooi na sy eerste belangrike politieke vergadering in Durban. Hy het geweet dat ek lanklaas my ouers gesien het en wou vir my die geleentheid skep. Hy het my ook soms gespot oor my Engelse provinsie, Natal, wat darem nou die lig begin sien. Toe ons by die stadsaal kom, sien ons daar is luidsprekers buite en die mense staan bankvas op Victoriaplein. Ek was verlig dat "my Engelse" darem nie vir Doktor sou teleurstel nie. Hy het 'n oorweldigende ontvangs geniet. Wat ek van die vergadering onthou, is dat daar aan die begin 'n vraesteller was wat hom in die rede wou val. Doktor het hom baie beleefd gevra om net 'n bietjie geduld te gebruik, dit is 'n onderwerp waarby hy netnou sal kom. Nadat die kwessie uitvoerig behandel is, het Doktor daardie persoon in die oë gekyk en gevra: "Vriend, is jy tevrede? Beantwoord dit jou vraag?" Doktor het geweet wat dit is om oogkontak met sy gehoor te hê. Hy het later 'n tweede besoek aan Durban gebring en is net so geesdriftig ontvang. Ek dink met die twee vergaderings het Doktor 'n deurbraak gemaak wat Engels- Afrikaanse verhoudings betref.

Elke jaar met die parlementsitting was die debat oor sir De Villiers Graaff se wantrouemosie 'n geleentheid wat Doktor aangegryp het, en 'n hoogtepunt. Ek onthou dat Mevrou of Annatjie een jaar aan tafel vir Doktor gevra het wat hy dink Graaff die mid­dag gaan sê. "Ag wat," het hy gesê, "dit sal maar weer hieroor en daaroor gaan," en dan het hy 'n paar punte opgenoem wat ons later besef het presies in die kol was. Doktor het Graaff gelees soos 'n boek.

Wanneer hy sy beleid aan swart mense verduidelik het, het Doktor graag fabels vertel. Een keer na Doktor teruggekom het van die Transkei, het hy vir ons die volgende een vertel. "Sê nou ek boer met mielies en jy boer met beeste. As jou beeste in die nag kom en my mielies opvreet, is daar mos moeilikheid, groot moeilikheid. Die mielies is weg en die beeste word vet. Nou is ons kwaaivriende. Maar as ons nou ooreenkom om 'n heining tussenin te sit kan ek mos voortgaan met my mielieplantery en jy met jou beeste, want hulle kan nie meer in die nag oorkom nie. Dan gee ek jou van my mielies vir voer, en jy gee vir my melk en ek koop by jou vleis. Dan is ons goeie bure en almal is tevrede. So is apart­heid: leef en laat leef."

In Pretoria was mnr. Gus Cluver van Die Transvaler gewoonlik die joernalis wat 'n verklaring of berig by dr. Verwoerd gekry het vir die volgende oggend se koerant. Een aand laat kom hy na my toe in Libertas met 'n probleem. Hy sê hy het 'n berig van Doktor ontvang maar daar is 'n paar woorde wat nie reg lyk nie en Doktor is nie tuis nie; kan hy dit vir my voorlees? Hy sê asseblief, die ding moet binne 'n halfuur drukker toe gaan en dit maak nie sin nie. Ongelukkig onthou ek nie die woorde nie, maar ek het gou gesien daar is twee moontlikhede. Ek sê toe vir hom as hy my raad wil hê, moet hy niks verander nie, hou dit net soos Doktor dit geformuleer het.

Die volgende dag bel hy my en sê: "Willie, ek is so bly ek het dit met jou bespreek. As ek my kop gevolg het, het dit 'n totaal ander betekenis gehad en dan was ek nou in die sop." Doktor het nie sommer 'n fout gemaak nie.

Doktor kon baie streng wees as dit oor 'n belangrike saak gaan. Die volgende staaltjie is eintlik vertroulik maar na al die jare kan dit seker nie meer kwaad doen as ek dit vertel nie. Dit wys maar net dat Doktor die leisels in die kabinet styf gehou het. Daar het dikwels kabinetsvergaderings in Groote Schuur plaasgevind en ek moes tee, koffie en sap bedien. Ek het dit so ongemerk as moontlik gedoen terwyl die werk voortgaan; ek het elke minister se smaak geken. Doktor het gesit en luister terwyl die Minister van Landbou 'n voorlegging maak waarin hy besig was om ses-syfer tonnemate aan te haal. Op 'n stadium het Doktor hom onderbreek en gesê: "Net 'n oomblikkie, is dit die getal wat u so pas genoem het?" Ek het so bietjie teruggestaan want daar was 'n beweging om die tafel. Doktor het vervolg: "Kan u dit beaam? Vroeër het u ons 'n ander syfer gegee." (En hy sê wat dit was.) "Die twee rym nie."

Die minister het gevroetel terwyl die Eerste Minister geduldig wag. Naderhand sê die minister: "Meneer die Voorsitter, u is reg."

Ek onthou nog baie duidelik dr. Verwoerd se antwoord aan hom. "Asseblief," het hy gesê, "as u na die kabinet toe kom, maak seker dat u feite reg is. U mors die kabinet se tyd, u mors die volk se tyd, die land se tyd." Dit was 'n behoorlike teregwysing.

As ek moet oordeel op grond van my ondervinding met die Departement Openbare Werke, het Doktor net so 'n streng ogie gehou oor staatsfinansies. In my tyd het ons probleme begin kry met die Groote Schuur-woning se dak wat lek. Groot dele moes vervang word, teen aansienlike koste, en die departement wou summier daarmee begin. Doktor het egter gesê: "Wys my u begroting. Dit kan nie sommer oorskry word nie. Die werk moet gedoen word, maar versprei dit oor vier jaar."

Dieselfde het gebeur toe ek gerapporteer het dat die Persiese matte in 'n erg verwaarloosde toestand is. Om dit behoorlik te laat herstel, moes die matte oorsee gestuur word en dit is 'n duur proses. Weer het Doktor ingegryp en gesorg dat dit oor 'n periode van twee jaar gedoen word. Doktor was nie suinig nie, maar spandabelheid kon hy nie veel nie.

'n Goeie voorbeeld was 'n sekere ministersvrou en haar pers bekleedsel. Ministers het sekere voorregte gehad wanneer hulle verhuis. Die woning is natuurlik nuut geverf en matte, gordyne en meubels kon vervang word. Die Departement Openbare Werke was daarvoor verantwoordelik en het gewoonlik die minister en sy vrou se wense uitgevoer. Maar daar was gevalle waar dit nie werklik nodig was nie omdat die bestaande ameublement feitlik nuut of in uitstekende toestand was. Dit was ook hier die geval, maar haar edelagbare het gevra dat die sitkamer se hele kleurskema na haar smaak verander word. Toe dr. Verwoerd dit agterkom, het hy besluit tot hier toe en nie verder nie. Nuwe regulasies is uitgevaardig en daarna is daar minder bestee om giere en grille te bevredig.

Snags was Doktor se telefoon na my woonplek deurgeskakel en ek het opdrag gehad om hom enige tyd wakker te maak as 'n minister met Doktor wou praat of as die een of ander krisis opduik; maak nie saak hoe laat nie. My pak klere het langs my bed gereed gelê en as dit nodig was om Doktor te roep, het ek gou aangetrek, tee gemaak en dit op 'n skinkbord na sy slaapkamer geneem. Dan word Doktor wakker en sê: "Nou maar goed, skakel die oproep deur." Ek wag dan by die skakelbord tot die gesprek verby is. Doktor sal dan skakel en sê hy is jammer dat ek gepla is, of dat hy my nou verder moet pla want die minister moet dringend na hom toe kom. As laasgenoemde gebeur, moet ek vinnig reëlings tref met die veiligheidswagte by die hek, die minister inwag, vir hom ook tee aanbied en vertoef totdat die besoek afgehandel is. Dit kon tot half-drie in die nag duur. Wat die inhoud van daardie nagtelike gesprekke was, weet ek nie meer nie. Die betrokke minister het wel partykeer oor die telefoon gesê waaroor dit gaan maar vanweë die vertrouensposisie waarin ek was, het ek dit onmiddellik uit my gedagte laat gaan. Van die persone wat ek onthou, was ministers Carel de Wet, Hilgard Muller en Jan de Klerk. Ek het so 'n vermoede dat dit soms gegaan het oor uitlatings wat op 'n openbare vergadering gemaak is, miskien op die ingewing van die oomblik, en wat dalk die volgende oggend deur die koerante uit verband geruk kon word. Hulle wou die Eerste Minister betyds inlig, 'n regstelling maak of verskoning vra.

Dr. Verwoerd se kollegas was terdeë daarvan bewus dat hy sy vinger op die pols het van alles wat in die land aangaan. Doktor het dit gedoen deur al die vernaamste koerante elke dag te lees, meestal in die bed voor hy gaan slaap. Soggens as ek die ontbyt inbring dan lê daar hierdie berg koerante langs die bed. Ek hoor nou nog Mevrou se woorde: "Pappa, mnr. Dyason moet dit nou weer optel," asof sy hom verwyt. Ek het dit met plesier gedoen. Die koerante, netjies opmekaar gestapel, moes vir drie maande in 'n spesiale stoorplek gebêre word voor ons dit mog weggooi. Wat my in hierdie verband die meeste verbaas het, was Doktor se uitstekende geheue. Hy sou byvoorbeeld skakel en sê hy soek na 'n berig van so twee tot drie maande tevore in Die Burger, dit kan een van drie datums wees. Jy kan maar gaan soek, daar is dit, tien teen een die middelste van die drie datums.

Die lewenswysheid wat ek in my ses en 'n half jaar saam met die Verwoerds opgedoen het, was vir my van onskatbare waarde. Deur sy voorbeeld het Doktor aan my getoon wat selfbeheer en naasteliefde is, hoe mens gesag kan uitoefen sonder om jouself te verhef, en wat ware leierskap beteken. Nooit het ek Doktor kwaad sien word of 'n verkeerde woord hoor uiter nie. Ten spyte van 'n formele aanspreekvorm en wedersydse respek, het ek baie dae meer gevoel soos 'n kind in die huis as 'n werknemer. Ek noem dit die goue jare van my lewe; dit was my voorreg om twee uitnemende mense te ken.

Opsoek na inligting?

  • BYBEL 1933/53-druk nou gratis

    Gelofteland is dankbaar om aan al ons lesers die 1933/53-uitgawe van die Bybel gratis te voorsien. Al wat u hoef te doen is om 'n e-pos na

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    te stuur met die versoek om die Bybel te ontvang, en ons sal dit aan u stuur.

     

    _____________________

     

     Laserskywe in stelle van 10 te koop

    VRYHEIDSBEDIENING

    Ds. Andre van den Berg werk sedert November 1990 weekliks met volksgenote in die gevangenis in Pretoria-Sentraal. Hy bied ʼn reeks laserskywe teen R200 (posgeld uitgesluit) per stel van 10 aan. Die opbrengs van hierdie verkope gaan vir Gevangenisbediening.

    Dit handel oor aktuele onderwerpe soos:

    1. Die lewe hiernamaals.
    2. Word verantwoordelik oud.
    3. Die pad na die ewigheid.
    4. Bied beproewing die hoof.
    5. Raad vir tieners.
    6. Gelowige kinderopvoeding.
    7. Oorwin depressie.
    8. Kikker jou huwelik op .
    9. Alle mense is nie gelyk nie.
    10. Homoseksualisme - ʼn gruwel vir God.

    Bestel by:

    E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Sel: 074 967 5187

    Bankbesonderhede:

    ABSA

    VRYHEIDSBEDIENING

    9062088855

    _______________

     

    Skryf in vir die gratis e-blad OORSIG EN REPLIEK

    'n Blad wat dmv verduidelikende agtergrond by die kern van ons volk se
    stryd uitkom.

    Kontak die redakteur by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Lees ons gereelde uittreksels daaruit hier op Gelofteland by OORSIG EN REPLIEK

    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________ 
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.

    Hierdie boek uit die pen van ds AE van den Berg, het in gedrukte vorm verskyn.  Dit bring helder perspektief oor rasseverskille en natuurlike skeiding wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte wat landsburgers van geestelike denke sal laat verander en van onregte en gewaande vryheid sal bevry.

    Sinvolle besluite in die lig van God se Woord, en onophoudelik gebed dat bevryding spoedig verwesenlik word, is noodsaaklik. Politiek is erns en harde werk wat wet en orde handhaaf en durf nie in eerlose hande gelaat te word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel.

    U kan hierdie boek bestel by ds A E van den Berg

    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com

    Prys: R50-00

     
  •                                                                        ______________

     

    BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    'n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD

    _______________

    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

                                                                           ________________

     

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    of skakel hom by 074 967 5187

    ________________

    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    _________________

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  •  

    DIE CHARISMATIESE GEVAAR
    Mense word so maklik deur dwaalleringe mislei. In hierdie boek word talle kwelvrae beantwoord.

VERGADERING-

PROSEDURES

(GRATIS)

Daar is min mense wat nog die waarde van 'n ordelike byeenkoms bedink en kan uitvoer. Sonder hierdie kennis en orde en gedissiplineerde toepassing daarvan sal 'n byeenkoms in wanorde verval en die doel van die vergadering nie bereik word nie. Die boekie kom handig te pas in alle omstandighede waar 'n vergadering van persone plaasvind, ongeag die sakelys of doel van die byeenkoms.

Klik hier om die boekie wat u op hoogte kan bring van korrekte vergaderingprosedures, gratis af te laai. Indien u van Windows 10 gebruik maak sal die inhoud outomaties onder die lêer "Downloads" geberg word en kan dit daar gehaal en gebêre word waar ookal dit maklik gevind kan word.

 

GRATIS E-BOEKE EN VERSBUNDELS OM AF TE LAAI:

 

As God volke aan hul eie lot oorlaat

Die waarheid oor ons volk en die Nuwe SA

Volksverraad geskryf deur adv. P.J. Pretorius

'n Oorblyfsel... deur genade alleen

Christen-Teokratiese Separatisme

Verse van Verset

Vreedsame Naasbestaan = Afsonderlike Ontwikkeling

No Ships in the Harbour

Ons heilsverhaal in die Ou Testament

Daniel

Evolusie - kan ek dit glo?

Petrus, die rots

Romeo en Juliet

Ester

Apokriewe - By modderpoele of suiwer fonteine?

Midsomernagdroom - Shakespeare in Afrikaans

Die Openbaring van Henog

Die Derde Tempel

Macbeth - Shakespeare in Afrikaans

Met ryperd en mauser

Goue strate het nie stof nie

Derdepoort

Die Laaste Pous

Josef

Rut

Drie Eeue van Onreg

Ons Geskiedenis

Engelse skandvlekke

Voortrekker-Pioniers in Oos-Transvaal

_______________

 

 

1919: VRYHEIDSDEPUTASIE KEER TERUG

1800: GRAAFF- REINETSE REBELLE GEVONNIS

1917: OOM JAPIE HELPMEKAAR

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

                                                                         __________________

 

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES

(Lees by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

                                                                         __________________                                                                  

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 994 gaste aanlyn