Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons is so geneig om te verwag dat die lewe ons "regverdig" moet behandel. Die geheim van hierdie aardse lewe is nie om 'n goeie hand kaarte te ontvang nie maar defnitief om 'n slegte hand goed te kan speel. Maak die beste van wat jy het en wees dankbaar daarvoor!
DIE BOER: LEERLOOIER, SKOENMAKER
Dr JP Botha
Ons gaan nou Die boer as leerlooier en skoenmaker bekyk.
Die looikuip
As ‘n boer op ‘n plaas gekom het en hy het sy huis klaar gemaak, was een van die eerste dinge waarvoor hy moes sorg, die looikuip. Uit die looikuip moes die leer vir die skoene kom, maar ook die gelooide velle vir die klere wat hulle gedra het.
Die beste kuip is van ‘n kwaggavel gemaak en die tweede beste was ‘n blouwildebeesvel. Die vel word aan ‘n houtraam geheg wat weer op vier ingeplante paaltjies vaskom. Soms is ‘n hele paar kuipe gemaak, een vir looi en een om asyn in te maak.
Die looi van leer
In die kuip kom sterk kalkwater, waarin die vel geplaas word om die hare te laat afgaan. Daarna word die vel buite opgehang en die hare met ‘n mes afgestroop. Dan word die kalk uitgevars uit die vel deur dit lank in vars water te spoel. Daarna begin die looiery. Dit het met die blare van bergbas plaasgevind of met die wortels van elandsboontjies. Bergbasblare het leer gelooi wat lig was en elandsboontjie-wortels se leer was rooier. Indien die boer die rooi kleur wou uittrek, laat lê hy die vel in ‘n mengsel van appelboomblare. Die vel word dan so bleek soos gekoopte molsvel. Daarvan het hulle klere gemaak.
Met noukeurige werk by die looiery, waar die bas dikwels vervang is, is dun velle soos bokvelle en skaapvelle klaar gelooi in 15 dae. Beesvelle en wildebeesvelle het tot 30 dae gelê voordat hulle deurgelooi was.
Na die looi word die vel uitgestoot met die graaf en op ‘n klip geslaan tot die leer droog is. Dit word gedoen om die leer sag te laat bly.
Die riempieskoen sonder lees gemaak
As die pa vir sy seun ‘n paar draskoene wou maak, het hy ‘n stuk soolleer in die water gesit. As dit sag is, moes die seun sy voet daarop sit en dan meet pa die regte vorm en grootte sool af en sny dit uit. Dan meet hy oor die kind se voet hoe groot die twee stukke oorleer van die voor- en agterklap moes wees. Dit word met riempies van duikervel aan die sool vasgewerk en die skoene was klaar.
Hierdie velskoene het lekker gedra, al het hulle punte omgekrul. Die meisies se skoene was van dun velle en ‘n bietjie hoër gemaak. Daar is nooit kouse by die skoene gedra nie.
Die riempieskoen oor leeste gemaak
Volwassenes het vir hul skoenmakery leeste gebruik, wat hulle eers self moes maak. Die hout vir die leeste moes nie te hard wees nie. Wilgerhout is meesal gebruik. Dit is afgewerk met behulp van ‘n snymes, ‘n klein byltje en ‘n rasper. Toutjies is gebruik om op die voet en op die lees te meet hoeveel om op ‘n sekere plek nog afgeneem moes word. Die leeste is gewoonlik effens groter as die voete gemaak, want hulle het nie gehou van skoene wat te nou was en liddorings gedruk het nie. Die skoen, die sool, voor- en agterklap, is op en om die lees vasgesit en geheel en al vasgewerk en voltooi. As die skoene klaar is, moes hulle op die leeste goed droog word, om in goeie vorm te bly . Vir vroumense is die oorleer van dunner velle gemaak. As sy lief is vir swart skoene, het sy ‘n stukkie geroeste yster in asyn laat lê vir ‘n paar dae.. Die asyn het die bruin gelooide leer só swart gemaak dat dit geblink het.
Daar was geen spyker in die leer wat ‘n mens kon seermaak nie. Alleen onder die hak was daar ‘n dubbel sool. Die skoen was lekker sag en lig, maar het nie baie van water gehou nie want dan het die riempies gerek en losgegaan. Daarom het hulle later begin om skoene te maak deur skoenspykertjies te gebruik, maar dan moes daar ‘n binnesool wees. Die skoene het nou swaarder en stywer geword as die riempieskoene, maar het water beter verdra en was maklik om op die ysterlees te versool.
So het die oumense hulself voorsien van goedkoop, gemaklike skoeisel wat nie hul gerief of gesondheid benadeel het nie.