Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer alles van ons weggeneem word, behou ons die standhoudende troos: God se liefde – dit is onaantasbaar en ewig. Die mens wat daarin skuil, sal staande bly ongeag die storms om hom.
KOMMENTAAR SONDER GRENSE (11)
Die SAUK... en die storie daaragter
L J Bothma
1988
Lees reeks by Die SAUK... en die storie daaragter
Binnelandse beleid
Toe dr Verwoerd op 6 September 1966 vermoor is, het Suid-Afrika ’n duidelik omskrewe binnelandse beleid gehad. Hierdie beleid was gebou op die suiwer nasionale beginselbasis. Dit was die spil waarom beleidvoering in die breë gewentel het.
Dit het die ruimte afgebaken waarbinne alle ekonomiese subjekte vry kon beweeg. Dit het ongekende ekonomiese voorspoed oor die ganse Suider-Afrika gebring. Inderwaarheid was afsonderlike ontwikkeling nog in wording.
Alhoewel hierdie beleid Suid-Afrika die gramskap van sy vyande op die hals gehaal het, het Suid-Afrika onaantasbaar in die internasionale gemeenskap gestaan. Dit kon nie anders nie, aangesien die land een stel standaarde vir binne- en buitelandse beleid gehandhaaf het, spruitende vanuit die nasionale beginselbasis.
Dit was ’n muur waardeur die buiteland nie kon dring nie. Aan die ander kant het dit hoë eise aan leierskap gestel en was dit ’n toets vir staatsmanskap soos min. Dr Verwoerd het hom in hierdie taak by uitstek onderskei as ’n staatsman. Hy het, soos wat dit ’n goeie staatsman betaam, die respek van sy vyande
geniet en nie probeer om die wêreld se liefling te wees nie. Hy het sy eie mense eerste gestel. Diegene wat destyds saam met hom in die stryd was en wat vandag apartheid afgesweer het, kon ten tyde van sy dood nie durf sê dat sy beleid en leierskaponder verdenking was nie.
As mnr Botha en andere vandag apartheid afsweer, dan volg dit logies dat hulle nie kon bly staan op dit wat dr Verwoerd nagelaat het nie. As hulle dr Verwoerd destyds gelyk gegee het dat hy reg is, dan kan hulle mos nie nou sê hy was verkeerd nie. Dan is dit mos die leierskap en beleid van mnre John Vorster en P W Botha wat misluk het. Dit kan dan nie apartheid wees wat misluk het nie, dit is hul plaasvervangers vir apartheid, naamlik “wegbeweeg van diskriminasie” en “magsdeling”, wat misluk het.
Diegene wat die Verwoerd-beleid vandag tot mislukking doem, moet dan ook Suid-Afrika se vyande gelyk gee dat hulle al die jare reg was. ’n Mens het reg om te vra wat is die verskil tussen Peter Hain se ideale vir Suid-Afrika en mnr P W Botha se planne met die land. Beide voer ’n anti-apartheidsveldtog, Peter Hain vanuit Brittanje en mnr P W Botha vanuit die parlement. Wie is die naaste aan mekaar: dr Verwoerd en Peter Hain of mnr P W Botha en Peter Hain?
Diegene wat die Verwoerd-beleid verloën het, regverdig hulself deur te sê omstandighede het verander. Feit van die saak is dat dit juis hulle is wat die klimaat vir veranderende omstandighede gekweek het. Die ontleding van die ekonomiese en verdedigingsbeleid het mooi uitgewys hoe mnre Vorster en Botha presies dit gedoen het wat die land se vyande gevra het hulle moet doen. Hul buitelandse beleid is gebaseer op ander reëls as die binnelandse beleid. In totaal het dit alles daartoe meegewerk dat beleidvoering nie meer van binne na buite gerig was nie, maar nou van buite na binne bepaal word.
In die laaste instansie het dit nou nodig geword om nader te beweeg aan die sigbare aanpassings wat sedert die bewind van dr Verwoerd aan binnelandse beleid gemaak is uit hoofde van hierdie ommekeer in beleidformulering en beleidvoering. Die rol wat die SAUK in hierdie proses gespeel het kom dan veral duideliker na vore.
Die sportbeleid
Die sportbeleid van dr Verwoerd se opvolgers is die duidelikste voorbeeld wat aantoon hoe twee stelle reëls ten opsigte van binnelandse en buitelandse beleid toegepas is. Vandag geld die reëls wat van buite na binne toegepas is en wat die land se vyande vir hom opgestel het.
Mnr Vorster se standpunt was dat sportisolasie afgeweer moes word. Om dit te verseker het hy met ’n reeks toegewings begin. Eers is besluit om buitelandse deelname aan sport volledig te integreer. Daarmee wou hy probeer verhoed dat Suid-Afrika uit die Internasionale Olimpiese Komitee geskors word. Dit het niks gehelp nie. Al wat gebeur het, was dat hy dubbele standaarde gestel het in die aangesig van ’n uiters vyandige internasionale gemeenskap.
Die SAUK se standpunte oor sport is in 1972 duidelik deur die Korporasie uitgespel. Onder die opskrif “Sport en Toegewings” op 13 September 1972 is onder meer gesê.- ‘‘Diegene wat reken dat Suid-Afrika deelname aan internasionale sport kan bekom in ruil vir toegewings leef in ’n waan. Dit is nie die gemengde spanne wat die ekstremiste wil hê nie, dis die ondergang van die blanke.” Oor die plek van sport in die oorhoofse beleidvoering van die land het die SAUK die volgende gesê: ‘‘Sport in enige land ter wêreld is ondergeskik aan staatsbeleid - ook in Suid-Afrika. En geen land durf toegee aan ultimatums van ekstremiste dat hy sy beleid moet verander of die slagoffer word van betogings nie. So ’n oorgawe sou neerkom op die prysgawe van elke greintjie integriteit."
Hierdie standpunte was voorwaar suiwer, maar ongelukkig het dit net hier geëindig. Skaars ’n jaar daarna was die SAUK se reaksie op ’n gemengde sportspan een van tevredenheid en goedkeuring. Die SAUK het op 12 Julie 1973 gesê: ”... Suid-Afrika se veelvolkige atletiekspan en sy prestasies het die verbeelding aangegryp.” Van toe af was dit duidelik dat die SAUK gekies het om mee te doen aan ’n verwarring oor die implikasies en rol van geïntegreerde sport soos min. Daarom dan ook die keuse van die versagtende woord “veelvolkige” in plaas van “geïntegreerde”. Waar die SAUK ’n skamele jaar tevore nog die standpunt gehuldig het dat sportbeleid ondergeskik moet wees aan “staatsbeleid”, het die Korporasie nou skielik van standpunt verander en hom aangesluit by diegene wat glo dat sport en politiek geskei kan word.
Op dieselfde datum het die SAUK se kommentators bygevoeg dat daar “verblydende aanduidings” is dat sportmanne en sportadministrateurs “stappe doen om sport uit die politieke arena te hou".
“Veelvolkige sport” het verder ontplooi toe dr Piet Koornhof in Augustus 1973 aangekondig het dat ’n internasionale atletiekbyeenkoms die volgende jaar op "etniese grondslag" gehou sou word. Die SAUK het die publiek dadelik gepaai en gesê: ”...dat die nuwe reëling bloot ’n interimreël is tot tyd en wyl die tuislande onafhankik word." Dit was egter maar net die dun ent van die wig, want die uitsondering het spoedig die reël geword.
In Oktober dieselfde jaar is ’n visum aan die swart Amerikaanse tennisspeler Arthur Ashe toegestaan om hier te kom speel, nadat visums in 1970 en 1971 aan hom geweier is. Die SAUK se betekenisvolle reaksie op hierdie gebeure was die volgende:
“Deur sy aansoek om ’n visum toe te staan, het Pretoria bewys dat hy opreg is in sy begeerte om politiek en sport te skei. Daar is eweneens sonder twyfel bewys dat daar geen diskriminasie op grond van kleur teen buitelandse sportlui toegepas word nie.”
Dit het te kenne gegee dat sportbeleid op ’n totaal ander vlak, los van binnelandse beleid kan staan en dat Suid-Afrika se sportbeleid in die verlede diskriminerend was. Verder, as daar nie meer teen buitelandse sportlui gediskrimineer word nie, wat dan van diskriminasie teen binnelandse nie-blanke sportlui en wat dan van apartheid in die geheel? Daarom kan daar geen twyfel bestaan dat die kreet wat gelyktydig aangehef is dat die land moet "wegbeweeg van diskriminasie" eintlik "wegbeweeg van apartheid" sou moes beteken.
Die fynste denkbare taktiek is egter gebruik om hierdie gewaarwording in die kiem te smoor totdat die stadium uiteindelik bereik sou word waar dit in elk geval nie meer vir die publiek sou saak maak nie. So byvoorbeeld is ’n swarte, Peter Sehume - sportredakteur van The World — op die Britse televisie teenoor Peter Hain opgestel. Hy het gesê dat Hain “sewe jaar uit die tyd is oor Suid-Afrika" en dat swartes in Suid-Afrika geen erg aan die Hain-filosofie het om sportbande met Suid-Afrika te verbreek nie.
Op hierdie wyse is waarskynlik gepoog om ’n gevoel van solidariteit tussen wit en swart binne Suid-Afrika teen die “gemeenskaplike" sportveldtog te probeer kweek.
Dit sou egter gek wees om te dink dat swartes hulle sou inlaat by ’n sportbeleid wat gebaseer is op die beginsels van afsonderlike ontwikkeling. Omdat "veelvolkige sport" ’n verloëning van hierdie beginsels was, het swart sportlui dit goedgepraat omdat hulle gesien het waarheen hierdie pad loop. Die SAUK se kommentaar op mnr Sehume se verklarings het dit dan ook so bevestig. Daar is op 5 April 1974 gesê: ‘‘Waar mnr Sehume erken dat veelvolkigheid wel die kiem van vooruitgang dra, kan hy verseker wees dat dit sal groei en vrugte dra op voorwaarde dat dit nie ryp gedruk sal word nie." Die SAUK het hieroor uitgewei met die volgende betekenisvolle opmerkings: "Maar dit verg wysheid en versigtige beplanning. Die praktiese probleme wat wel bestaan, is net ’n paar dae gelede erken deur die besoekende Kleurlingkrieketspeler, Basil D’Oliveira. Hy het gesê dat dit ‘op hierdie stadium rampspoedig sal wees’ as Bantoe-krieketspelers op klubvlak in Suid-Afrika geïntegreer word.” Hieruit volg dit dat, terwyl die blankes onder die indruk gehou is dat sportintegrasie onskuldig is, die swartes terselfdertyd duidelik moes verstaan dat apartheid in die ban gedoen word.
Soos gesuggereer deur die SAUK aan mnre Sehume en D’Oliveira, het geïntegreerde sport op klubvlak dan ook daarna gevolg. Die opskrif van Nuuskommentaar op 24 September 1976 het gelui: ‘‘Veelvolkige sport op Klubvlak” en dit het 'n lang relaas bevat oor geïntegreerde sportsoorte. Daar is onder meer gesê:
‘‘Die bedrywighede onder sportlui, en wat gelei het tot die besluit van die Federale Raad van die regerende party, weerspieël ’n openbare mening wat heeltemal verander het van die van slegs enkele jare gelede.” Hieruit is dit duidelik dat beleid nou geformuleer is om die wense van sportlui binne Suid-Afrika ten goede te kom. Die orde is dus nou omgedraai deurdat “staatsbeleid” nou ondergeskik is aan sportbeleid. Niemand moes dit egter agterkom nie en daarom moes die verwarring oor die sportpolitiek so erg as moontlik wees. Die SAUK het byvoorbeeld in teenstelling met sy vroeëre standpunt oor die plek van sportbeleid, op 21 Mei 1976 die volgende kontrasterende stelling gemaak:
‘‘Suid-Afrika se standpunt was deurgaans dat sport ter wille van sport beoefen behoort te word en dat politiek gevolglik daaruit geweer moet word." Van sy kant af het mnr Vorster waarskynlik die beste bydrae tot doelbewuste verwarring gemaak deur na hierdie besluite van sy regering te verwys as die “derde dekade” van afsonderlike ontwikkeling. As in gedagte gehou word dat hy dit aan die klubs oorgelaat het om self oor geïntegreerde sport te besluit, dan volg dit dat sy "derde dekade" ’n era ingelui het waar beleid eintlik “buite” die parlement gemaak is.
Dit is gevolglik ook nodig om te wys wat alles in hierdie “derde dekade’’ van mnr Vorster aan apartheid verander is as direkte gevolg van die nuwe sportbeleid. Nie-blankes kon nie meer blanke hotelle en geriewe ontsê word nie. Om hierdie probleme te ondervang is besluit om eers permitte toe te ken aan hotelle en restourante. Daarna is “internasionale hotelle” geskep. Die volgende was “algemene permitte” en toe is alle beheer sommer afgeskaf.
Die les wat hieruit voortkom, is dat wanneer politiek uit sport gehou word, sport nie uit politiek gehou kan word nie.
In die "derde dekade" het Suid-Affika se vyande ook in ’n sterker posisie gekom as gevolg van die toegewings aan sportlui. Die SAUK moes dit self erken. Op 19 April 19 79 is onder meer gesê:
“Naïewe mense het geglo die agitasie sal end kry as ’n regverdige bedeling geskep word vir swart en bruin sportlui. Elke mislukte poging om sportlui oorsee te stuur of om hulle van oorsee hierheen te bring, skep nuwe geleenthede vir die propagandiste teen Suid-Afrika. Dit moedig die vyande in die buiteland aan en ontmoedig die mense tuis.” Op 4 September 1979 het die SAUK nog verder gegaan en gesê: “. . .dit gee aan mense soos Peter Hain die geleentheid om aan die wêreld te sê dat ons binnelandse sportreëlings alleen maar daarop ingestel is om buitelandse kompetisie te verseker, dit versterk hulle aanspraak dat buitelandse druk op Suid-Afrika om sy beleid te verander, suksesvol is en volgehou moet word.”
Die Suid-Afrikaanse regering en die SAUK kon in ’n groot mate daarin slaag om die blanke publiek oor sportbeleid te mislei, deur onder andere ook nuwe terminologie te skep, maar swartes en die buiteland kon nie daarmee geflous word nie. In die vroeë tagtigerjare het “veelrassige sport” byvoorbeeld die plek van “veelvolkige sport” ingeneem en daar is ook gesê dat sport nou “genormaliseer" word. Dit het reg in die hande van diegene gespeel wat ’n nuwe orde in die land wil sien. Hulle het bloot aangevoer dat indien geïntegreerde sport “normaal” is, dan is ’n nie-geïntegreerde samelewing abnormaal. Diegene wat gedink het binnelandse swart sportlui is om die bos gelei, is wreed ontnugter toe Kaiser Chiefs, Orlando Pirates en Marokka Swallows in 1982 geweier het om teen ’n oorsese sokkerspan te speel. Hul argument was dat daar nie normale sport in ’n abnormale samelewing kan wees nie. Dit was ’n vernietigende slag vir die terminologie-skeppers. Die SAUK se reaksie op hierdie gebeure was soos volg: "Die naakte waarheid moet dus in die gesig gestaar word, en dit is dat die normalisering van sport, nòg vreedsame politieke verandering, Suid-Afrika se hertoelating tot internasionale sport sal verseker.” Die kommentator kon net sowel gesê het apartheid is nie hervormbaar in die oë van die land se vyande nie. Die “derde dekade” van afsonderlike ontwikkeling het eerder ’n verskerpte aanslag teen die land uitgelok.
Vanaf 11 tot 12 Junie 1977 het die Statebondslande byvoorbeeld in die Gleneagles Hotel in Skotland byeengekom en ’n ooreenkoms onderteken dat kontak met Suid-Afrika onwenslik is solank die land "die verwerplike beleid van apartheid volg". In 1982 is hierdie ooreenkoms, wat later as die Gleneagles-ooreenkoms bekend geword het, uitgebrei. In 1981 het die Opperraad vir Sport in Afrika ’n swartlys-sportplan voorgestel en die Verenigde Volke het spoedig ’n swartlys gepubliseer met die name van sportmanne wat kontak met Suid-Afrika maak. Hierdie druk was baie suksesvol, want Suid-Afrika was aan die swig.
Op ’n tien-daagse mediakongres van die Suid-Affikaanse Rugbyraad in 1983 is byvoorbeeld openlik teenoor meer as 100 buitelandse joernaliste erken dat daar in die verlede “foute” gemaak is en dat daar “onnodige" beperkinge op die beoefening van sport deur alle rassegroepe was. Dit was betekenisvol in die sin dat die Botha-regering ook teenoor die buiteland erken het dat apartheid ’n fout was.
Die ironie van die sportbeleid wat deur dr Verwoerd se opvolgers gevoer is, is dat daar vandag weinig dinge kan wees wat meer abnormaal is as die land se internasionale sportbande. Dit ly ook geen twyfel nie dat geïntegreerde sport geïntegreerde politiek in die hand gewerk het. Dit het ’n onontbeerlike voedingsbron vir die linkse politiek in Suid-Afrika geword.
Steun vir afsonderlike ontwikkeling in die vroeë sewentigs
Die SAUK het gedurende die vroeë sewentigs voorbeelde wat op duidelike steun vir afsonderlike ontwikkeling gedui het, in sy Kommentaar gebruik.
Die interessantste van al hierdie voorbeelde was waarskynlik die een op 30 November 1973 oor ’n verklaring van volle steun vir afsonderlike ontwikkeling wat deur meer as ’n duisende akademici onderteken is. In die verklaring is dit onomwonde gestel dat afsonderlike ontwikkeling NIE strydig is met die Skrif nie.
Voorts het die verklaring die beleid se wetenskaplike gefundeerdheid onderskryf en “toenemende propaganda” dat hierdie beleid in die praktyk onuitvoerbaar is, verwerp. Die akademici wat die verklaring onderteken het, het ook onderneem om ’n ”aktiewe rol” te speel ter implementering van afsonderlike ontwikkeling teen ’n ‘ ‘versnelde tempo”. Wanneer ’n mens vandag om jou heen kyk, dan is die enigste gevolgtrekking wat gemaak kan word dat daar van hierdie verklaring niks tereg gekom het nie. Trouens, ’n groot gros van hierdie einste akademici reik deesdae verklarings uit waarin hulle die absolute teendeel van die 1973-standpunte onderskryf.
Dan was daar ook die voorbeeld genoem van die tuislande wat al hoe meer van hul inkomste uit eie bronne gegenereer het. Op 26 April 1972 het die SAUK berig: ‘‘In die geval van die Vendas kon 18 persent van hulle begroting reeds uit eie bronne gefinansier word, teenoor 8 persent van verlede jaar. In die geval van Transkei het die inkomste uit eie bronne die afgelope jaar verdubbel.” Daar was dus ’n duidelike neiging tot groter ekonomiese selfstandigheid in die tuislande te bemerk.
Voorts is daar ook twee duidelike strominge in die geledere van die swart politiek geïdentifiseer. Aan die een kant was daar leiers soos kaptein Lukas Mangope wat, net soos dr Verwoerd, die nasionale beginselbasis onderskryf het waardeur die volkseie voorop gestel word. Daarteenoor was daar ook iemand soos kaptein Buthelezi wat ”... nasionaliteit ondergeskik wil stel aan ’n superstruktuur waarin die bindingskrag ’n swart bewussyn is . . . aldus die SAUK. Op 13 Maart 1973 het die Korporasie die volgende voorbeelde gebruik om aan te toon watter steun die nasionale beginselsbasis in die tuislande het: "Net soos in die Transkei se twee verkiesings, waar die integrasieparty ’n swaar nekslag toegedien is deur die pro-apartheidsparty van hoofminister Matanzima, as in Bophuthatswana waar kaptein Mangope se pro-apartheidsparty 20 van die 24 setels verower het, net so duidelik het die Xhosas van Ciskei vandag van hulle laat hoor. Al twintig setels is gevul deur ondersteuners van die regeringsbeleid, en wat meer is, die enigste van die 63 kandidate wat ’n integrasionis was, het sy deposito verbeur.” Hierdie was onweerlegbare bewyse dat die swartes hulle volkseie bo swart bewussyn gekies het. Dr Verwoerd het dus suiwer gestaan in sy uitgangspunt om dieselfde vir sy eie mense op te eis. Swart nasionalisme moes net aangemoedig word ten koste van swart bewussyn.
Na ’n ontmoeting met mnr Vorster in 1973, het kaptein Buthelezi amnestie vir politieke gevangenes en swart politieke vlugtelinge geëis. Hy het ook die afskaffing van die bewysboekstelsel en die skepping van swart vakbonde geëis. Laasgenoemde eise is reeds nie meer nodig nie omdat die regering daaraan toegegee het en eersgenoemde eise word tot op hede deur kaptein Buthelezi gestel. Dit is ook die einste kaptein Buthelezi wat in 1974 gesê het KwaZulu is deel van Afrika en dat ontwikkelings in Afrika getoon het dat politieke partye onnodig is in ontwikkelende lande. Die SAUK se betekenisvolle reaksie op sy uitlatings was die volgende: “Die ironie van die saak is dat, terwyl kaptein Buthelezi die Zoeloes hulle demokratiese regte ontsê, hy horn voordoen as die voorstander van demokrasie in Suid-Afrika en 'n geïntegreerde politieke stelsel van magsdeling propageer. Sy argumente sal minstens ’n mate van geloofwaardigheid hê as hy demokrasie tuis toepas." Vandag is kaptein Buthelezi se argument egter geloofwaardig, want mnr P W Botha soebat hom om te kom deelneem aan ’n “geïntegreerde politieke stelsel van magsdeling’’.
Vandag propageer mnr P W Botha ’n breë Suid-Afrikanerskap wat ras- en kleurblind is en kaptein Buthelezi speel vanaf die openbare verhoë met dieselfde begrip. Albei verwerp Afrikanernasionalisme. Nou is die vraag dit: Hoe op aarde kon die Vorster- en Botha-regerings verwag dat swart nasionalisme oor swart bewussyn moes seëvier as hulle nie self ook bereid was om Afrikanernasionalisme te laat seëvier nie?
Vervolg...